Gorrel

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Dis baie maklik om daar voor die tv te sit en te sê dis baie moeilik om iemand te ontmoet. Daar is nie meer goeie mans beskikbaar nie. Dis so moeilik!

Ek wil jou vertel: Bollie! Dis baie bleddie maklik om niemand te ontmoet nie. Dis baie maklik om saans huis toe te gaan en jou sweetpak aan te trek en voor die tv te gaan sit met koffie en beskuit. Dis hoekom daar nie iemand spesiaal in jou lewe is nie.

Na 24 jaar se getroude lewe het ek besluit om onmiddelik nuwe mense te ontmoet. Ek is oor en oor gewaarsku daar is nie goeie mans beskikbaar nie. Mans het net een ding op die brein. Pasop vir moordenaars en malles. Om nie eens te praat van al die siektes wat deesdae rondloop nie. Maar ek het gaan sit en dink. Daar is soveel miljoen mense in Suid Afrika, waarvan omtrent die helfte manlik is. En omtrent een derde van hulle is darem seker oor 40. Wil jy nou vir my vertel hulle kan almal geklassifiseer word as getroud, gay, moordenaars, verkragters, en/of siek? Nee man, dis mos nie moontlik nie.

Ek is 47, lankal nie meer 22 nie. Die lyf is nie meer so vaartbelyn nie. Die oë is omring deur plooie. Die haarkleur kom uit ‘n boksie. So jy voel nie jou beste nie, en dis nog moeiliker om jouself bekend te stel aan nuwe mense. Dis baie makliker om jou sweetpak aan te trek (wat lekker los om die middellyf sit) en vanaand na CSI op die tv te kyk.

Ek kan vandag getuig dat daar baie goeie mans daar buite is. Wonderlike mans wat net soos jy by die huis sit. Partykeer is dit nog moeiliker vir mans, want hulle is die mense wat tradisioneel die eerste skuif moet maak. Nadat jy ‘n paar keer daardie eerste skuif probeer het, en dit het nie gewerk nie, dan gee jy ook maar op en sit liewer rustig by die huis.

Vergeet ‘n bietjie van daardie lysie van jou van hoe ‘n perfekte man moet lyk. Is dit regtig so belangrik dat hy ‘n sekere bedrag in sy bankrekening moet hê, of wil jy liewer iemand hê wat jou so styf vas druk dat jy amper nie kan asem kry nie? Vergeet van die feit dat hy Brad Pitt se oë en George Clooney se hare moet hê. Die perfekte man is die een wat perfek is vir jou, nie vir Angelina Jolie nie.

My perfekte man lyk toe glad nie soos wat ek verwag het nie. Hy is ‘n yslike groot Engelsman met ‘n wilde rooi baard. Ek wou ‘n goeie Afrikaanse boerseun gehad het. Hy is ook 7 jaar jonger as ek, en ek het gedroom van daardie ouer man met die grys rondom die slape, met oë wat al ‘n bietjie sleg is, sodat ek kan jonger lyk. Hy verdien nie ‘n groot salaris nie, maar hy is al lank in ‘n stabiele werk wat hy baie geniet. Ek wou iemand hê wat kon skryf en dig, maar hy is disleksies. Hy kan nie langarm dans nie en verstaan nie Afrikaanse musiek nie. Maar hy gee die lekkerste drukkies. Elke groet gaan gepaard met 3 soene. Hy is altyd aan my kant (na ‘n egskeiding is dit seker die belangrikste eienskap in ‘n nuwe liefde). En hy is baie lief vir my hondekinders. Ons wou altwee net vriende wees, maar het redelik gou besef dat ons baie meer vir mekaar gaan beteken.

So aan al die enkellopende dames: moenie so lui wees nie, trek jou mooiste rok aan en gaan geniet vanaand. Of gaan sit sommer vandag nog jou profiel op soveel “dating websites” as wat jy kan (dis waar ek my Engelsman ontmoet het). En hou op om na die verpakking te kyk. Kyk ‘n slag na die man aan die binnekant. Gee elke ou wat jy ontmoet ten minste 2 kanse. Jy sal verbaas wees hoeveel goeie mans daar is.

NS: En dis bleddie lekker dat mans partykeer “net een ding op die brein het”. He he!!



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Dames
Ditsem, dis omtrent tyd dat iemand die waarheid prontuit praat. Geluk vir julle, groot Ingelsmanne is 'n geskenk van die Here af, glo my!
6 jaar 9 maande 6 dae 9 ure oud


Aan die dames
Ek het jou skrywe baie geniet, dis so eerlik en opbeurend- geluk vir julle saam!
6 jaar 9 maande 1 week 17 ure oud


:-))
Baie lekker gelees. Kan nou net nie jou raad volg nie, want ek is nie enkellopend nie, maar die raad klink goed...
6 jaar 9 maande 1 week 1 dag 7 ure oud


-
Daardie "dating websites" is vreeslik gevaarlik! Ek sal weet, het my liefie daar ontmoet. HE HE HE HE
6 jaar 9 maande 1 week 1 dag 13 ure oud



Maanvrug

deur Maangodin

Die, nou al berugte, eerste erotiese Afrikaanse roman.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar