Gorrel

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Forum Spook
My vingers beweeg vlugtig oor die sleutelbord van my rekenaar. Alles is so stil hier in Forum. Net drie van ons wat af en toe ‘n draai hier kom maak. Ek, Ans soos almal my ken, Jan en Ano. ‘n Koue rilling beweeg stadig teen my ruggraat af. My liggaam raak yskoud, vrees kom lê vlak naby my hart. ‘n Donker swewende beweging laat my vingers stil raak op die sleutelbord.

Ysblokkies versteen die bloed in my are. My hare staan een vir een orent. My verstand sê vir my om te hardloop, maar my bene wil niks weet nie. Slegs met ysere wil dwing ek myself tot kalmte. Stadig kom ek orent. Draai om. Dan sien ek dit....
‘n Bloedstollende gil weergalm deur die kuberruimte. Voor my staan ‘n figuur. Al wat ek sien is ‘n gesig bedek met ‘n swart gewaad. In haar hand ‘n klein tuinvurkie. Bloed drup stadig van die tande op die vloer. Ek wil vlug. Draai om net om te besef my rekenaar en sleutelbord keer my. Ek is vasgevang in ‘nkuberoorlog.
Beangs kyk ek rond. Iewers moet hier uitkoms wees. Weg van hierdie wese wat my bedreig. Skreeu gaan nie help nie. Ek is alleen op die plaas in hierdie kasarm van 'n huis. My oog val op die ornamentele lantern se flikkerende vlammetjie. Instinktief gryp ek en gooi. Dit spat aan stukke voor die wese se voete. Die olie spat op haar klere en slaan aan die brand. Met haar aandag momenteel afgetrek, storm ek by haar verby net om nog 'n wese in die gang te gewaar! Dawerend slaan ek die badkamerdeur agter my toe. Ruk die gordyn voor die venster af, stamp die venster oop en kruip deur. Op dieselfde oomblik spat die badkamerdeur oop. My motor! Ek hol , maar besef met 'n skok die sleutels lê in die huis. Waarheen nou? Terug in die huis. Hulle sal my mos hier buite soek.
Beangs staan ek daar langs die motor. Besef dat ek nou net weggehardloop het van my rekenaar af. Hoe is dit moontlik dat die kuber ruimte dan in my huis hier op die plaas kan lewe kry? Ek hoor ‘n geskuifel. Stadig sak ek agter die motor se neus in. Versigtig loer ek onder die motor deur. Ek sien hoe die daar bloed op die grond drup, sover die kuber wese beweeg. Of is dit ‘nkuber wese? Gaan hier dalk regtig iets ongehoords op die plaas aan. Ek besef ek moet hardloop. Die wese is baie na aan my. Met die opvliegslag draai ek om en hardloop. My voet hak aan iets vas. Met ‘n harde slag slaan ek op die grond neer. Ek kyk op, net om vas in die bebloede gesig van . . .
‘nGrynsende gesig van iets wat soos ‘n mens lyk, of is dit iets uit die buitenste ruimte? Twee oogkaste met niks in nie, behalwe vuurtongetjies wat vurig daarin dans. ‘n Neus soos ‘n omgekeerde sekel, die skerp punt na bo. By oopgesperde mond met sy omkrul lippe, speel ‘n slangagtige tong in en uit. Op elmboë en hakskene beur ek agteruit. Ek vat ‘n groterige klip raak. Ek gooi met al my mag en krag, reg binne in daardie oopgesperde mond in. Dit laat die ding steier. Dit gee my genoeg kans om op te spring om blindelings weg te hardloop, die nag in. My voet haak aan iets vas en ek ploeg ‘n voor deur die aarde. Doodstil lê ek en luister. Ek hoor, ek hoor...
Die geklaag van iets wat soos ‘n ongedierte klink wat beseer is. Net een voet kom hard op die aarde te lande, die ander een sleep langdradig agterna. Ek hoor die ongedierte stadig nader kom. Hier gaan ek nie bly lê om deur ‘n verwonde buitenste ruimte vermorsel te word nie. Ek kom stadig orent. My oë nou gewoond aan die maanlig en die skaduwees voor my,wat ‘n gil net betyds oor my lippe smoor. Voor my in ‘n boom hang sy, haar oë pop soos pekinees hondjie s’n uit. Haar mond hang skeef oop. Die ergste van alles is haar uit pop oë lag vir my, uit haar keel kom ‘n roggel lag. Ek wag nie ‘n oomblik langer nie. Blitsig beweeg ek weg van die onmenslike gedrog en die roggelende vrou wat in die boom hang.
As ek net kan weet waarheen om te vlug. Maak nie saak waarheen ek hardloop nie, sy is net oral. Wag, laat ek net eers kalm word. Laat my dink. ‘nKuberwese is sy beslis. Maar wat soek sy hier, juis hier by my? Dan tref dit my. Sy het op Forum gesien dat ek kla oor die onwelkome besoekers vanuit die buitenste ruimte. Natuurlik in haar verwronge breins wil sy my en al die ander Forum-lesers ‘n les leer. Sy voel bedreigd omdat ons in haar ruimte oortree. Altans, ek dink dis hoe sy redeneer. Wat gaan sy doen as sy my in daardie kloue van haar het? Daar moet iets wees waarvoor sy bang is. Ek het dit, ek het dit!! Ek moet eenvoudig terug by my rekenaar in die huis kom. Dalk, net dalk as ek die “delete” knoppie kan druk..
Ek draai om. Ek wil terug gaan huis toe. Ek wil so gou as moontlik by my rekenaar kom. Ek word gestuit in my spore. Voor my staan die verwronge wese met die bebloede vurk wat darem meer bloed afdrup nie. Hy lig sy hand met die vurk in. Uit sy oë straal haat en die lus om dood te maak. Ek vlieg om hardloop my amper vas in die uitpeul oog vrou, ek vlieg in ‘n ander rigting in. Ek besef dit is weg van die huis af. Ek moet by die huis kom, al moet ek dan met ‘n ompad daar kom. Ek vries in my eie spore vas. Voor my is ‘n geëlektrifiseerde heining! Weer vlieg ek om, net om beide die monsteragtige gedrogte weerskante van my te sien. Ek besluit om by die tuinvurk gedrog verby te hardloop. Hy is immers die stadige een. Met die vaart van ‘n atleet skiet ek vorentoe. Ek kan sien uit die hoek van my oog dat ek hulle verras het. Ek hardloop soos nog nooit te vore reguit huis toe. ‘n Pyn skiet in my enkel op as ek skeef trap. Vir die hoeveelste keer hierdie aand slaan ek soos ‘n dooie os neer. My enkel pyn so dat dit swart word voor my. Ek voel hoe my liggaam stadig slap word. Dan hoor en sien ek niks meer nie.
Stadig, baie stadig maak ek na ‘n leeftyd weer my oë oop. My enkel pyn asof dit betaal word. Net betyds stol ek ‘n kreun in my keel. Ek is te bang om ‘n geluid te maak of te roer. Meteens word ek van twee dinge bewus. Die twee gedrogte staan reg langs my. Solank ek nie roer of beweeg nie, kan hulle my nie sien nie! Teen my hand voel ek die gestelde slagyster wat ek net die vorige dag daar gestel het om die muishonde wat my hoenders opvreet, mee te vang. Dis met ‘n lang ketting aan ‘n pen in die grond geanker. ‘n Plan neem vorm in my gedagtes aan. As ek blitsvinnig die yster om haar enkel kan laat toe-klap, is sy geanker. Hy is heelwat stadiger as sy. Met my verswikte enkel en al sal ek al hinkende op een been steeds van hom af kan wegkom. Sweetdruppels, van beide pyn en vrees, tap van my voorkop af. Dis nou af nooit! Met ‘n bloedstollende gil slaan ek die slagyster stewig om haar enkel vas. Ek spring soos ‘n wafferse Paul Nash van ouds op.Ek mik vir die myl onder 10 sekondes op slegs een been. Die tydelike verwarring wat ek onder die twee gedrogte veroorsaak, gee my ‘n stewige voorsprong op hom. Sy is te dom om die slagyster om haar been los te maak. Dan hardloop ek myself, in die donker maanlose nag, moerdersnersers toe vas teen die kraalmuur. Tyd vir selfbejammering is daar net nie. Ek moet by my rekenaar kom. Skielik is daar geen aarde meer onder my een voet nie. Ek sweef vlieg deur die lug. Met ‘n sieklike slag slaan ek die grond sowat 10 meter verder op die bodem van die diep sloot. Snikkend, vol pyn bly ek net daar lê. Wat kan nog verkeerd gaan!!!
Die roggel en geskuifel kom al nader. Blitsig trek ek die belt uit my broek uit. Bind dit stewig om my enkel. Iewers het ek gehoor dit help. Die pyn verlig effens. Ek spring op en hardloop huis se kant toe. Van ver af gewaar ek dat die huis anders lyk. Maar die ligte is so aanloklik dat ek aanhou hardloop so vinnig as ek kan. Wanneer ek die kring van die ligte betree, wat tot diep in die bosse skyn, steek ek in my spore vas. Voor my staan ‘n jakkals. Agge nee!! Dit ook nog. Ek kan sweer hy grynslag vir my. Ek sien hoe elke spier in sy liggaam verstyf. Sy agterlyf sak stadig, sy voorbene trek styf dan sak die voorlyf in ‘n sprong aksie. . .
Daar staan ek. Tussen die duiwel en die diep blou see. Agter my die gedrog en voor my... ‘n honger, dol besete jakkals! Dalk.... maar daar is nie kans om te dink nie. Met ‘n grom diep uit sy keel spring die jakkals. Ek maak my oë toe en wag. ‘n Helse kabaal bars agter my los. Jakkals het nie na my gemik nie, maar na die gedrog agter my! Die gedrog gil van pyn want jakkals het sy slagtande stewig in sy skouer vas geslaan. Skielik kry ek lewe. Vanself begin my bene hardloop. Dis nou of nooit. So ‘n kans kry ek nie weer nie. Ek bars by die huis in. Sien aan die onderpunt van die gang my rekenaar op die lessenaar. Binne sekondes kan hierdie nagmerrie verby wees. Ek is by die rekenaar. Net daardie knoppie druk. Op hierdie uiters kritieke oomblik besluit EVKOM in sy wysheid egter dis nou tyd vir beurt krag!!!
Alles verdonker om my. Selfs die maan het agter ‘n wolk in geskuif. Ek kan niks voor my sien nie. Maar ek kan hoor. Die roggel lag kom al nader na my toe. Die jakkals het die gedrog met die sleep been en bebloede vurk bygedam, maar die vrou met die tou om haar nek en uitpeul oë is nog daar. Ek weet ek moet nou iets drasties doen. In die hangkas wegkruip. Soos blits is ek agter die lang jasse in my hangkas in. Ek wag. Ek haal nie eens asem nie. Maar hierdie uitpeul oog vrou klink vir my kan ruik. Die kas se deur gaan stadig oop. Die ou kas se skarniere skreeu net so stadig met die oopmaakslag. Ek wil flou val van geen asemhaling nie. Stadig, baie stadig steek daar iets tussen die donker jasse in en word hulle weggetrek. Voor my kan ek n vuurpoel in twee ronde uitpeul oë sien. Ek kan nie die gil keer wat deur my keel glip nie. Dit is dan . . .
Dis dan wat ek die kannetjie lugverfrisser op die rakkie agter die jasse gewaar. Vrees gee my spoed. Met een haal gryp ek, ruk die doppie af en spuit sonder om te mik, reg in daardie vuurpoel. Een hengse ontploffing laat die huis tot in sy fondamente ruk en skud. Haar kop het soos ‘n ryp granaat oopgebars!! Een minder om van te vlug, flits dit deur my brein. Ongelukkig het die lawaai die ander gedrog daar buite se aandag getrek. Ek hoor onrusbarend hoe hy met een voet hard stamp teen die grond om die ander een nader te sleep.Die gedrog kom die kamer binne. Dapper wag ek hy my in. Ek het mos nou ‘n wapen. Ek wag met bewende bene tot hy sowat twee treë van my af is. Ek lig die kannetjie en spuiiiiit. Maar niks gebeur nie! Weereens gee vrees my krag en spoed. Vergete is my verswikte enkel. Ek skop vas teen die muur agter my. Met vuiste wat soos ‘n windpomp se wiel in ‘n sikloon waai, bars ek by hom verby. By die agterdeur sien ek die kan petrol wat ek vanoggend daar vergeet het. Wat as ek al hardlopende ‘n sirkel petrol om hom uitgooi en aan die brand steek...
Ek neem die drom en gaan sit agter ‘n digte struik en wag vir die gedrog om uit die huis te kom. Ek val amper van my eie voete af as ek sien die gedrog en ‘n afkop vrou kom by die deur uitgestrompel. Die gedrog het haar aan die hand en lei haar saam met hom. Ek kom vinnig tot besinning en wag tot hulle mooi in ‘n oop kol is. Dit is dan wanneer ek die petrol neem en stadig maar seker ‘n kring petrol om hulle in die dooie gras ‘n straaltjie reg rondom hulle gooi. Ek neem die aansteker uit my sak en trek, en trek, en trek, dan vat die aansteker vlam. Die twee gedrogte kom reg op my afgestrompel. Die petrol vat dadelik vlam en vorm vinniger as wat ek verwag het ‘n groot vuur regrondom die twee gedrogte. Ek staan vinnig terug. Tevrede oor my handewerk. Dit neem ‘n hele rukkie voor ek omdraai en begin hol. Daardie twee gedrogte loop deur daardie helse vuur sonder om ‘n vlammetjie aan hulle klere oor te hou!
Daar moet iets wees wat hierdie gedrogte van die gras af kan maak. Maar wat? As ek net iewers ‘n bietjie kan rus, maar die twee goed is erger as twee snuffelhonde. Ek sal net eenvoudig by my rekenaar moet kom om daardie “delete” knoppie te druk. Lyk my dis al uitweg. Baie stadig, uiters versigtig en sonder ‘n geluid begin ek in die rigting van die huis te sluip. Gelukkig is al die ligte in die huis dood a.g.v. die beurtkrag. Ek moet net versigtig wees dat ek nie teen die maanlig af geëts word nie. Stadig sak ek op my knieë en begin voel, voel in die donke die gang af kruip. My hart spring amper by my keel uit wanneer iets aan my raak! Karolus kat, waar kom jy uit die bloute vandaan? Ek versteen. Die twee wesens staan voor my in die gang!! Sonder om te dink, gryp ek vir Karolus en gooi hom op hulle. ‘nOnaardse kabaal bars los. Karolus mieaauw verwoed terwyl hy gelyktydig sy naels in die manlike gedrog se oogbanke vasslaan. ‘n Straal katte urine spuit reg in die oop gat op die vrou se skouers, waar haar nek en kop was. Kat- urine en haar bloed meng klaarblyklik nie baie goed nie. Soos ‘n os slaan sy neer. Sy bly doodstil lê. Intussen laat Karolus ook nie op hom wag nie. Met sy voorpootnaels stewig in die man se oogbanke ge-anker, sy agterpootnaels in die man se tong.Hy byt hy ook vir die vale aan die man se neus. Die man roggel, skree en gil. Karolus klou vir al wat hy werd is. Elke oomblik is goud werd. Ek nael vir die studeerkamer en die rekenaar. Gelukkig is my rekenaar gekoppel aan ‘n UPS kragbron. My rekenaar kan dus ‘n hele paar uur hardloop voordat hy geaffekteer word deur die beurtkrag. Ek storm op die rekenaar af. As ek net betyds die “delete” knoppie kan druk. Ek gryp die sleutelbord op dieselfde oomblik wat ‘n helse slag my tussen die skouers tref . . .
Op ‘n plaas in die Noordwes sit ek en lag. Ek was in verbinding met Jan deur middel van “Skype” Foei tog, die man is regtig moeg as hy so sê. Hy het so waarlik voor die rekenaar aan die slaap geraak, maar die goed wat die arme man kwyt geraak het. My hardop gewonder of daar spoke in Forum ronddwaal het hom regtig geraak. Hy het nou glad die sleutelbord in sy hande en wil sy rekenaar daarmee slaan. Ek skreeu op hom so hard ek kan. Met ‘n skok kom daardie sleutelbord tot stilstand net voor dit die skerm van die rekenaar tref. Die skok op Jan se gesig om te sien dit is my gesig wat op die rekenaar pryk en nie die van afkop vrou nie is skreeu snaaks. Maar dat daar spoke in Forum ronddwaal. Dit is ‘n uitgemaakte saak.
©JAN VAN DER MERWE
©ANS BOTHA



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

spook
Al het julle twee moes spook om hierdie te voltooi, dis 'n riller van 'n treffer. Knap gedaan.
4 jaar 1 maand 3 weke 1 dag 7 ure oud


spook
Dankie Jan dat jy my uitdaging aangeneem het en saam met my geskryf het. Sonder jou sou ek nooit 'n spookstorie kon skryf nie. Dit was 'n avontuur gewees.
4 jaar 1 maand 3 weke 1 dag 23 ure oud


spook
wat n riller, tot my nekhare het regop gestaan
4 jaar 1 maand 3 weke 3 dae oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :

Van ons ander lede

BEGRAFNIS OF VERASSING - Wat se die Skrif daarvan?

deur Spannie

Hierdie baie kontroversiele vraag van ons tyd rakende die hantering van die menslike liggaam na afsterwe word onomwonde en baie duidelik aan hand van die Skrif en geskiedkundige bronne uiteengesit in hierdie volledige studiestuk. Liggaamsverbranding is baie duidelik 'n suiwer heidense gebruik en streng verbied in die Woord. Vloeiend geskryf, met baie interessante gegewens uit die geskiedenis van ons tyd is hierdie 'n boek wat mens moeilik neersit na jy begin lees het. 'n Moet vir elke ernstige gelowige van ons tyd.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar