Gorrel

Titel: Ai Malie
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Ai Malie. 'n Vrou uit een stuk. 'n Vrou uit 'n duisend. Oud, grys, altyd kaalvoet. Baster Boesman, kleurling en wat nog. Winter en somer, nooit met 'n skoen aan 'n voet. Klein van postuur, net so wyd as wat sy lank was. Deur rumatiek krom getrekte vingers en hande, wat vir net mooi niks terug gestaan het nie. Flink, rats en raakvat, tenspyte van daai ronde, potsierlike liggaampie. 'n Tweede ma vir my.
Ai Malie was daar op Bonnievale, op die plaas, in die distrik Angora, my ma, Moekie, se regterhand op Maandae en Dinsdae. Niemand kon so skoon bleik, was en stryk soos Ai Malie nie. Sy het net geweet hoe. Wonderlike, lieflike ou mens was sy gewees.
Skerp met die tong. Menige dag het sy vir my as klein seuntjie, met daai tong geslaan dat ek doer gaan lê, as ek stout of onnutsig was.
Ai Malie se skoonseun, Mampas, het saam met Boelie, my pa, gewerk. Eendag vertel Boelie iets vir Moekie wat Mampas vir hom vertel het. "Baas, Baas Hennerik," val Ai Malie hom in die rede, "Djy moenie alle gloe wat daai satanskjend vi djou vetellie. Hy met sy hare wat metta els agtestevoer in sy kop ingeplant is! Hy issie kjend vaanie satanse duiwel en hy lieg vi djou!"
Onthou ek vir Ai Malie, die Maandag toe sy asvaal en stokflou by ons huis aankom. Sondag Guy Fawks gewees. In haar eenvoud het sy nie van sulke goed geweet nie. Toe die eerste klappers begin skiet en klap, het sy haar kreupel seun op haar krom rug gelaai, en hom die heuwels in ge-abba. Sy het geglo dis die "Ingelse" wat weer ons land binneval! Die heel nag het sy met haar seun in die heuwels geskuil teen die inval.
Sal ek ooit die dag vergeet toe die plaasdam se wal breek. Visse by die honderde spoel in die sloot af. Ai Malie gryp heel teen haar manier van doen, sonder toestemming, my ma se groot blou ennemel kom. Daai kort, krom beentjies van haar, maal soos twee windmeule in die wind, soos sy hol. Sy skep daai kom vol met vis, sit dit op haar kop, en kom met 'n tevrede glimlag aangestap. Haar voete gly, sy val en jy sien net vis waai!! Vinniger as blits spring sy op en begin weer skep. "Djirre noi," skree sy vir Moekie, "dis kos, onverdiende kos uit ose Djirre se heilige hanne, os kanni dami mosi! Os moet skep solank Hy sjee!!!!"
Ons het weggetrek en vir baie jare nie weer vir Ai Malie gesien nie. Nadat ek getroud is, was ek weer eenkeer op Bonnievale en het begin navraag doen. Na baie sukkel en soek, spoor ek vir Ai Malie op waar sy in die "touwnship" by een van haar kinders bly.
Oor die 100 jaar oud en stok blind sit sy in haar kamertjie.
"Ai Malie?" "Djirre, Hentie my kjend, issit rerig djy?" Met trane van blydskap wat oor haar wange stroom, strompel sy, onsiende vorentoe. "Dankie Djirre, Djy het wee my witkindjie vi my ko wys!" Sy omhels my, druk my. En ek? Ek huil soos 'n baba, so dankbaar dat ek die moeite gedoen het. Nog eenkeer daarna het ek weer vir Ai Malie gesien.
Ai Malie, dankie dat ek jou kon ken. Dankie, sommer net dankie vir alles. Rus sag en geniet elke oomblik, tot in alle ewigheid, saam met jou liewe "Djirre" vir Wie jy so ontsettend lief was.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Ai Malie
Mooi storie,so goed vertel... Mens leer so baie by sulke sout-van-die-aarde mense... Vir ewig 'n verlies vir die samelewing as hulle groet hier!
3 jaar 10 maande 6 dae 12 ure oud


***
Pragtige storie, Jan, en so mooi geskryf en aangebied -- wonderlike leesstof, dankie.
3 jaar 10 maande 2 weke 4 dae 17 ure oud


Ai
Lekker gelees! En sy was reg,ja. Ons moet skep terwyl Hy sjee. Soveel lesse kan ons leer by mense soos Ai Malie. Mense van die aarde en g'n pretences nie. Wel gedaan!!!
3 jaar 10 maande 2 weke 4 dae 21 ure oud


ai
Jan, wat n great storie my liewe mens. Het dit sooo geniet. Baie dankie
3 jaar 10 maande 2 weke 5 dae 3 ure oud


Aia
Vandag is hul egter nie meer volop nie. Leke gelees Jan dankie.
3 jaar 10 maande 2 weke 5 dae 14 ure oud


.
Ek moes nou trane sluk.
Dis pragtig geskryf.
3 jaar 10 maande 2 weke 6 dae 1 uur oud


Oe dis 'n pragtige storie!
Dankie Jan!
3 jaar 10 maande 2 weke 6 dae 7 ure oud


ai malie
Jan dankie vir hierdie lekker lees een. ek geniet dit regtig gate uit
3 jaar 10 maande 2 weke 6 dae 7 ure oud


Ai Malie
Wat 'n heerlike bydrae, Jan. Ek het nou regtig lekker gelees. Dis mense soos sy wat ons lewens verryk...stel jou nou voor daar was nooit 'n Ai Malie in jou lewe nie :-)
3 jaar 10 maande 2 weke 6 dae 10 ure oud


Ano
Ai Malie
Awh! Dis pragtig. Jip, as dit pap of visse reen, moet jy maar skep :-D
3 jaar 10 maande 2 weke 6 dae 13 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :

Van ons ander lede

Die Besoeking

deur Kobus van Eden

DIE BESOEKING handel oor 'n Gideonsbende wat die plaasmoorde begin wreek. Hul sukses is verstommend! Gou staan Koos Gerade bekend as die Bloedwreker en sy manskappe as 'die hel.'



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar