Gorrel

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Dit is alombekend dat ʼn troeteldier die beste manier is om vir ʼn kind verantwoordelikheid te leer. Dit is ook alombekend dat dit ʼn kind ʼn rukkie neem om verantwoordelikheid te leer.

As laerskoolkind het ek ʼn groot vistenk met guppies in gehad. Kleinsus het ʼn mannetjieskat, genaamd “Bella”, gehad. Kleinboet het ʼn hamster, genaamd “Kuiken”, gehad. En dan was daar later Kuiken II, Kuiken III en ons het onlangs vir Kuiken IV begrawe...

Die moeilikste deel van “verantwoordelikheid” wat jy moontlik vir ʼn seuntjie kan leer, is dat ʼn mens nie met ʼn hamster op dieselfde wyse kan speel as wat jy met jou speelgoed speel nie. Kuiken I het per ongeluk in Bella se pens beland terwyl die drie maatjies Jagertjie gespeel het. En daar was trane. Kuiken II het in die speelgoedkas omgekom. En daar was trane. Kuiken III het ongelukkig nie die wasmasjien se siklusse oorleef in Sakkelaan se broeksak nie. En daar was trane.

Op die dag wat Kuiken IV by die Van Rensburg-gesin aangesluit het, is daar ernstig bosberaad gehou. Hierdie was nou die laaste een. Sakkelaan het land en sand belowe dat hy mooi na sy nuwe maatjie sal kyk; Kuiken IV sal elke dag vars kos en water kry, die hok sal elke drie tot vier dae skoongemaak word en die aandag sal saggies gegee word. Alles het goed verloop... vir so ses maande lank. Kuiken IV was spekvet en gesond, die pelsie het net soveel soos die kleinman se ogies geblink en almal was gelukkig. Ons het al begin om na Kuiken IV te verwys as Kanniedood.

Die 10de Januarie het ons Sakkelaan se tiende verjaarsdag gevier. Dit was natuurlik ʼn groot aangeleentheid en hy is bederf met so groot skaalmodel Hummer waarvan die deurtjies kan oop- en toemaak. Langs die swembad is daar so lang stuk plaveisel van om en by 20 meter wat perfek is vir die toetsrit van die nuwe speelding, maar almal weet tog dat geen voertuig sonder ʼn bestuurder kan ry nie...

Eers was dit so klein, groen soldaatjie, maar hy was nie die regte grootte vir die kajuit nie en sy geweer was die heeltyd in die pad. Volgende aan die beurt was ʼn groot tor, maar dié het ʼn lawaai op die enjin veroorsaak! Êrens langs die pad het Kuiken IV die bestuurder geword, maar dit het so suutjies gebeur dat niemand die res van die dag se gebeure gesien kom het nie.

Kuiken IV het natuurlik moeg geraak vir op-en-af en gejaag oor die plaveisel en het ʼn manier gesoek om te ontsnap. Ongelukkig was dit ʼn dobbelspel wat die brawe klein vegtertjie sy lewe gekos het. Albei die regterkantste wiel het oor sy ou pensie gery voordat Sakkelaan kon remme aanslaan.

Daar was gelukkig nie bloed betrokke nie. Die galante klein renjaertjie het nog vol moed probeer om te beweeg. Elke beweginkie het egter piepgeluidjies veroorsaak wat ʼn mens se hart sommer so op ʼn knop getrek het. Die lyding het nie lank geduur nie en Kuiken IV het sy laaste asempie uitgeblaas terwyl hy, nat van sy maatjie se trane, in twee vreeslike vuil handjies gelê het wat hom tot die einde toe so lomp-lomp gestreel het.

Die lewelose lyfie is deur ʼn snikkende seuntjie in die mooiste stukkie lap toegedraai; Afrika motiewe om te pas by die omgewing wat Kuiken IV vir so kort tydjie sy tuiste genoem het. Pappa het Sakkelaan gehelp om ʼn klein gemerkte graffie, in die tuin naby sy gunsteling speelplek, voor te berei. Dit was ʼn grou dag in die Van Rensburg-huis.

Laatmiddag het ons almal bymekaar gekom, gedress en gepress, vir die teraardebestelling van Kuiken IV. Sakkelaan het stadig uit die huis gestap gekom met die klein pakkie in sy hande. Ons was nie presies seker hoe om die situasie te hanteer nie, so elkeen het maar ʼn hartseer masker opgesit en gestaan en rondvroetel. Sakkelaan het besluit dat die begrafnis is nie dramaties genoeg nie en so 10 meter van ons af in sy mooiste engelstemmetjie (wat natuurlik nog nie gebreek het nie) begin sing.

Tum-tem-te-daaaaam! Tum-tem-te-daaaaaaaaaaaaaaaaam!

Ons neem maar aan dat dit veronderstel was om die dodemars te wees, maar toe daardie betraande gesiggie doodernstig lostrek met die troumars, het nie een van ons geweet waar om ons koppe in te druk nie en net Pappa kon sy hartseer masker ophou. Vir die res van die kort begrafnis het elkeen betrokke stip na sy eie voete gestaar. Almal was te bang om die somber oomblik te vernietig deur te lag.

Dis nou bietjie meer as ʼn maand later en Sakkelaan het nog nie weer vir ʼn nuwe hamster gevra nie. Ons dink hy het nou besef wat dit beteken om verantwoordelik te wees vir ʼn troeteldier. Natuurlik het nog niemand ʼn woord gesê oor die troumars nie. Ek het in stilte besluit dat ek eendag met Canon in D in die kerk sal instap; die troumars het maar nou so ʼn effense hartseer klankie.

Maar ai, tot volgende keer...



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Ano
Dramaties
hehehe, te dierbaar. Hartseer ook, maar steeds dierbaar. Siestog ja - al die ou Kuikens wat ook hier in ons erf begrawe le. Die seuns speel maar net so effens rowwer as die meisies en hul Kuikens se dae is beslis korter.
4 jaar 3 maande 2 dae 2 ure oud


Tja, Lissie
Laat nie op jou wag nie.
GvT
4 jaar 3 maande 2 dae 22 ure oud



Inge

deur Rachelle du Bois

Inge Bergh is ‘n suksesvolle sakevrou. Sy besit en bestuur haar eie teetuin in die Bergh Kwekery. Sy is gelukkig en tevrede solank sy net genoeg tyd kry om te verdwyn na haar spesiale hoekie by die fontein. Tot haar skok en ontnugtering vind sy een aand iemand anders daar. By haar plek. Wat soek die stil en teruggetrokke buurman, André Grobler, snags in hulle tuin by haar fontein? Hoekom is hy hier waar sy is, nag na nag? En hoekom kan sy nie wegbly nie – wat is dit wat haar snags hierheen bring, net om hom hier te kry? Sal sy ooit verstaan wat dit is wat hom dryf? Sal sy kan verklaar hoekom sy aan die bewe gaan by die blote gedagte aan die aantreklike man met die versluierde oë?



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar