Gorrel

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

"Mens moet joy kry uit die klein goedjies," sê Veltie vir my terwyl ons in die bed sit en koffie drink. Ek knik my kop instemmend terwyl ek die aroma van die eerste oggendkoffie inadem, maar my binnehart is onrustig. Dis moeilik om die klein goedjies raak te sien as die groter prentjie skeefgetrek is met kantoorpolitiek, konflik en beker op beker swart koffie om die verstand te probeer helder hou terwyl jy die lysie van die dag probeer korter maak.
"Die koffie is lekker," is al wat ek uitkry. Ek deel nie graag my stresse met my vrou nie. Sy vat kenmerkend aan my knie, gee 'n klein drukkie met die slanke vingers wat van dag een af my hart laat bollemakiesie slaan het en staan op. Dis half sewe. Sy het ook lysies om te doen.
Deesdae wag ek bietjie langer voordat ek kantoor toe piekel. Die laatlam soek sy pa in die oggende. Sal jy jou dít verbeel? Ek geniet sy oggend brabbelgeselsies en sy maniertjies. Ons sal vingers tel. Een, twee, agtien! En wanneer hy agtien sê, kyk hy vir my ondeund aan en wag dat ek moet lag. Ek doen. Al maal my agterkop met dinge wat gedoen moet word, slagvelde wat voorlê, opwindende goed wat ons ontwikkel en elke ander grootmens ding waaroor my kommerkoppie hom mee kan vermoei. Onvermydelik sal ons pa-seun oomblik lei tot:"Pappa, aaipep." Die aaipep (i-pad") word aangegee sodat ons Paw Patrol kan kyk. Met karaktername soos Rubble, Marshall, Sky (Kaai) en Rocky, is dit nie moeilik om te sien dat die jongman tien teen een ook gaan bry nie. Hubble, Hockey, Kaai, agtien!
Later daardie dag ry ons 'n entjie. Ons sit en trek vir mekaar gesigte in die truspieëltjie. Hy, mooi vasgegespe in sy karstoeltjie en ek, agter die Chev se stuurwiel. Ek draai af van die teerpad op 'n sinkplaatpaadjie wat nog nooit teer geproe het nie. Ilandré begin dadelik met sy stem speel oor die hobbelrige terrein. Die hoë en lae note skud saam met ons die kar vol. Sy entoesiasme suig my in om saam te speel. Ons praat met mekaar in stampstemme en skaterlag vir wat by ons monde uitkom.
Gisteraand hoor ek hoe lag my veertienjarige en die baba in die huis. Lehan is 'n hanswors van nature en speel graag. Sy boetie skrou van lekker kry en my hart begin saam lag. Die klein goedjies.
'n Glas rooi wyn wat jy ophou in die lig en kyk hoe die geurvolle kleure jou roep om te proe. Die sterk aroma van die eerste koffie in die oggend. Die stoute whatsapp van jou vrou af terwyl jy in 'n vergadering sit. Die kinderlike entoesiasme van hobbelstemme op 'n sinkplaatpad. Skaaptjoppie met 'n ou vetjie aan. Die klap wat 'n gholfbal maak as dit uit die middel van die sweet spot weergalm. Klein goedjies.
Ek sien gisteraand dat een van my vriendinne haar seun op 'n skooltoer VSA toe stuur. Sy het baie opgeoffer om dit te kan doen. Twee gepakte tassies in die foto. Reg vir die groot trek. Ek weet sy het êrens 'n lekkerny versteek. Klein goedjies.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

die klein goedjies
Jip dit is daardie klein goedjies wat die lewe die moeite werd maak ... heerlik gelees
3 jaar 10 maande 5 dae 13 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :

Van ons ander lede

Lelani

deur Rachelle du Bois

Lelani Botha bestuur die eksklusiewe boetiek op die dorp. Sy is beeldskoon, stylvol en kunstig. Maar sy dra swaar aan ‘n geheim waarvan niemand weet nie. Tot hul botanis buurman Leon Postma haar eendag betrap in ‘n situasie wat sy nie langer kan wegsteek nie. Hy weet nou baie meer as wat enige ander mens van haar weet en sy verkwalik hom daarvoor. Hy het geen reg om te weet nie. Sy is pragtig, vurig en wantrouig. En sy is in Leon Postma se lyf, in sy kop en sy bloed. Hy sal vir haar ʼn brug oor die water bou wat haar na hom toe sal bring. Of so hoop hy. Maar Lelani bied hewig weerstand teen haar groeiende aangetrokkenheid tot Leon. Sal sy toegee aan die man wat soos ʼn koors in haar binneste kom intrek het? Sal sy uiteindelik die brug na hom toe oorsteek?



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar