Gorrel

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Almal van ons leer lesse in die verloop van die lewe. Sommige lesse is hard en duidelik uiteengesit en na afloop van gebeure kan jy terugsit en vir jouself sê: “Dit was ‘n (duur) les wat ek geleer het. Volgende keer sal ek van beter weet.” Of iemand anders sê: “Laat dit nou vir jou ‘n les wees.” Ander lesse is meer subtiel van aard - maande of moontlik jare na afloop van gebeure is daar ‘n klein stemmetjie in jou binneste wat terugverwys na gebeure wat jou hierdie spesifieke ding geleer het.

So ‘n subtiele les het ek as 10-jarige dogtertjie een sonnige Saterdagoggend in een van Pretoria se voorstede geleer.

Na maande van beraadslaging, beplanning en begroting uitwerk, is daar besluit dat die Schoemans ‘n swembad gaan kry. Nee, ons gaan nie een laat bou nie, ons gaan dit self bou! Daar is uitgemeet, afgetree en somme gemaak. Uiteindelik is merkertjies in die gras ingeplant waar die swembad hom gaan bevind. Daar is met die bure gekoukus en breedvoerig verduidelik waarom die gesamentlike sementmuur vir ‘n dag of twee uitmekaargehaal gaan word.

Groot uitbundigheid het my oorval toe die massiewe voorlaaier ‘n paar dae later langs ons huis verbyry na ons agterplaas toe. Ek het probeer tel hoeveel grawe grond dit in een hap opskep, maar het tot die slotsom gekom dat dit verskriklik baie werk en tyd spaar. Toe die stof laat die Saterdagmiddag gaan lê, is die sementmuur herbou en die volgende naweek is met die volgende fase van die projek begin.

Met hulp het my pa die wande van die swembad met grawe gelyk gemaak. Na ontelbare kruiwaens grond was die reghoekige gat waterpas en soos my pa dit wou hê. Dit het al na ‘n swembad begin lyk. Die volgende fase was die bou van die mure en vloer met bakstene soos ‘n mens ‘n huis sou bou. Dit het ‘n ewigheid geneem en die eerste lentebloeiseltjies het hulle verskyning begin maak.

My pa het opgewonde aangekondig dat hulle vorder. Die volgende Saterdag sou ’n sementmenger-vragmotor sement in die geboude gat kom gooi. Dan word dit alles gepleister totdat dit waterpas is. Daarna die wit swembadsement (soos ek dit genoem het) en afronding – teëltjies teen die boonste rande, plaveisel rondom die swembad, ‘n heining, ‘n pomp ...

Saterdagoggend het aangebreek en die Schoemans was vroeër as gewoonlik uit die vere. “Hulle het belowe hulle kom vroeg”, het my pa aangekondig. Daar is op en af langs die gat geloop en die harde handewerk is bewonder. Die son het begin warmer word en later het ek in die skadu van die groot lukwartboom gaan sit. My pa het die besigheid geskakel om te vra hoe laat hulle ‘vroeg’ dan nou is. Die boodskap was dat die sementmenger al lankal uitgestuur is en ure gelede by ons moes wees.

“Kom ons gaan soek die sementmenger”, het my ma voorgestel. Ek het roerloos langs haar bly staan. “Dis ‘n plan”, sê my pa, “Katinka kan jou help. Dit is belangrik dat die vragmotor nog vroeg vanoggend hier uitkom. As hulle te lank draai, gaan ons nie klaarkry voor donker nie.”

Ons het in die motor gespring en in een van die hoofstrate in ‘n groot voorstad in Pretoria koers gekies. My ma het haar goeddeurdagte plan vir my uitgelê: “Ek kyk voor en agter en jy kyk op en af in die dwarsstrate”. My mond het oopgegaan, maar daar het geen woord uitgekom nie. Ek het myself ekstra regop getrek op die voorste sitplek en soos ‘n meerkat heen-en-weer begin kyk. Dit was die eerste deel van haar plan. Die tweede deel was dat, wanneer ons ‘n sementmenger sien, my ma dit sou volg tot by ‘n rooi verkeerslig - waarna ek uitspring, die bestuurder vra of hy oppad is na Vygiesingel toe en dan weer terugspring in die motor, alles voor die verkeerslig groen slaan. Die gedagte dat iemand wat ons ken, ons sal sien, het nie eers by my opgekom nie, want die plan wat ek moes uitvoer, was opsigself al ontstellend genoeg.

Hoe op aarde gaan ons ooit ‘n sementmenger tussen al hierdie motors en vragmotors sien? Teen die sewende sementmenger ongeveer ‘n uur en ‘n half later, was ek ‘n gesoute sementmenger-soeker. Dit was vir my so normaal soos eet en slaap: wag tot die motor tot stilstand kom, spring uit, hardloop voor om die motor, staan op my tone by die bestuurder se deur en probeer sy aandag trek, skree vir hom die gevraagde en beduie in die hardloop terug vir my ma of ons suksesvol was of nie.

Weet jy hoeveel sementmengers is op ‘n Saterdagoggend in Pretoria se strate – en dan nog net aan die Noordekant van die Magaliesberg? “Ons tyd raak min!”, het my ma ontsteld uitgeroep. Teen die agtste sementmenger het die man opgewonde beduie dat hy wel op soek is na Vygiestraat en op mý beurt het ek weer opgewonde vir my ma beduie. “Waarom vrá hy nie net vir iemand die pad nie?”, het ek gewonder. Die vragmotor met die malende maag het ons agtervolg tot by die geboude gat. “Dit is hoekom my ouers sulke bog aanvang – want dit wérk”, het ek moedeloos gedink.

Baie jare later besef ek dat hoop en deursettingsvermoë ‘n gedugte span maak. Wanneer jy hierdie twee eienskappe saamgooi, word daar ‘n moontlikheid gebore wat vroeër nie bestaan het nie. Met hierdie twee eienskappe word die onmoontlike moontlik, selfs al lyk dit hoe belaglik.

Vir die van julle wat wonder ... Ja, die swembad is ‘n paar weke later voltooi en ons het dit terdeë geniet. Die enigste letsel wat ek oorgehou het, is dat, wanneer ek vandag ‘n sementmenger sien ry, ek onwillekeurig wonder waarheen dit oppad is...



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :

Van ons ander lede

Die Lady en die Leeu

deur Rachelle du Bois

Sy is een keer gevang, maar nou is sý die jagter met die prooi in háár visier



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar