Gorrel

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Februarie maand.
In ons huis kalender is Februarie, naas die Kersfees tien dae, die mees uitstaande maand.
Eintlik begin dit al die 29 Januarie – die versjaarsdae. Daarna loop dit:
4,17, 25 en stop by 28. Die res se verjaarsdae en ander herdenkings, is darem redelik vêr van mekaar verwyderd, en die finansiële herstel kan maklik plaasvind.
Om die kersie op Februarie se koek te sit, is dit dan nog Jool ook. Dus, koppel ons die hele lot saam vir die eerste naweek in Februarie omdat hier nog al die jare elke jaar een of ander kind, familielid, vriend kennis op die PUK is, wat blommetjies moet vou en optog sierwaens moet versier en ook geliefde kuier familie het wat vir die na-week moet eet en slaap.
Daardie eerste week en na-week is dus ʼn kuier fees, tot en met die Sondag.
Reëls is reëls. Sondag oggend, na ʼn heerlike ontbyt, moet almal waai. Ek ken hierdie paaie van die dood tussen Potch en die Noorde / Suide. Weste en of Ooste.
Ry liewer baie vroeg en kom veilig tuis.

Die skielike stilte hang soos ʼn sagte wolk oor die erf en die huis lyk eensaam in sy leeg wees.
Rustig stap ek deur vir die wegkruip glas of koppie langs ʼn stoel, skuif hier, plaas daar terug en skud stoelkussings reg om die lyf van die laaste sittende gas te verwyder.
Vroutjie gaan na haar grootste helpende hand en die twee spring aan die werk:
Die wasmasjien en sy.

Met alle tekens van ʼn woelige week uitgewis, bly nog net oor, die wag...
Die wag tot die laaste oproep of sms met die woorde:
“Veilig tuis en dankie vir alles.”

Met my foon in my sak, kierie in die hand, word die wag, my stap om die blok en gesels met wie ook al in sy tuin rond dwaal.
Die straat loop dood teen ʼn meenthuis kompleks. Ek sien hom van vêr af; Oom Piet Boom.
Hy is vanjaar 88 jaar jonk, hy is die opsigter van die plek. Hy kry juis sy naam omdat hy alewig snoei en knip aan die bome en ek moet dit wegry.
Oom Piet sit onder ʼn groot Olien op die bankie. Ek sluit aan, hy skuif op om vir my ook plek te maak, ons groet oor en weer en ek sien die Bybel in sy hand.
Oom Piet was besig om op hierdie Sondag oggend sy Bybel te lees. Ek sien hy het dit al goed gelees.
Ek reik uit en hy gee die Bybel aan. Ek sien van die agter blaaie is al weg. Die Olien blaartjie steek uit, as merk waar hy besig is om te lees.
“Oom Piet, kan jy dan nog hierdie klein geskryf lees?”
“Dit begin nou sukkel Willem, die regter oog is nog reg, maar die ander een wil nie meer nie.”
Ek wil nie kyk nie en vra dus:
“Oom Piet, en waar lees jy nou?”
“Ek was besig met Markus; Ek het bekende goed daar raak gelees maar toe kom ek op die Moslems af en ek los Markus uit.”

Die Bybel is nie eintlik my vak gebied nie, maar dit wat oom Piet aanraak, dit tiekel my en ek vra:
“Hoe bedoel jy nou van die Moslems oom Piet?”
“Daardie hande was man, dit is mos Moslem goed, ons Christene was mos nie hande nie!”

Ek sit die Bybel terug op sy skoot en krap waar dit nie jeuk nie:
“Oom Piet, moet ons nie kyk vir ʼn Bybel met groter skrif nie?”
Ek sien dieselfde reaksie. My oupa se reaksie, enige ou mens se reaksie. Ou mense strip baie maklik as dit by hulle sentiment en waarde kom:
“Los my Bybel uit. Dit is nog die eerste vertaling en dit is reg!”
Ek dink net dit is die Kerk se plig om te sien dat die oues van dae goeie Bybels het.
Ek weet nie hoekom Kerk altyd soos ʼn padversperring voor my opduik nie.
Oom Piet se leeftyd, wen sy pensioen.
Oom Piet, soos meeste van die ander inwoners, is sonder vervoer.
Is alles in die lewe dan dieselfde?
Droog die geld op, verval alle voordele en bystand?

Deur die hele proses, sien ek Oom Piet se bo arm onder die kortmou hemp. Ek sien die satyn velletjie is heel weg geskeur maar die wond is darem droog.
Ek swaai weg van sy kwaad en vra:
“Oom Piet, nou die arm?” En ek lig sy mou en kyk beter.
“Jong, dit is my lus vir koekies. Ek kyk die blik met koekies hoog op die rak al vir ʼn paar dae uit. Ek is mos verbied – die suiker sien.
My geluk kom toe die vrou winkel toe stap. Ek trek twee stoele nader. Een om op te leun en die ander een om op te klim. Dit het nie gewerk nie. Daar hoog begin ek bewe en ek neuk af tussen die stoele in.
Die bediende wat die stoepe vee het my kom optel.”

Ek besluit om die storie te verander en wil weet van die kinders. Ek neem aan dat oom Piet hulp van die kinders kry.
”Oom Piet, ek weet van jou vier kinders, maar vertel my, hoeveel klein kinders is daar nou?”
“Willem, hulle sal nie meer word want twee van my kinders is al met pensioen. Maar laat ek kyk:”
En oom Piet strek die maer vingertjies uit en begin tel:
“Dis nou Hendrina; Sy het ... “ en oom Piet druk die vingertjie tot buig toe en noem:
”Dis Kleinpiet ... Sussa ... en ...”” Ek hoor nie. Oom Piet tel ook nie meer nie. Ons aandag word weggetrek deur sy geskuifel.
Ons kyk op. Ek het hom al gesien, maar nie ontmoet nie.
Ek kyk vir oom Piet. Hy sien my kyk en verstaan.
Terwyl hy voetjie-voetjie en armpie skud-armpie skud, nader slak. Noem oom Piet:
“Dis ou Dup. Afgetrede Predikant, nou al 99 jaar jonk en sy kop is weg.”

Ek skuif op om vir Oom Dup plek te maak en ons drie sit die bankie vol.
Oom Dup groet nie, wys net met die bewe armpie na die hoek van die meenthuis en sê sag:
“Sy kom nou-nou.”

Ek kyk na oom Piet en hy gooi net so ʼn weggooi arm en begin weer by die kinders:
“Hendrina het twee ... en dan is daar Grootkoos ...”
Ek onthou hy wou netnou verder tel en ek breek sy rede:
“Oom Piet, het Hendrina net die seun en dogter?”
Oom Piet stop, dink ʼn bietjie en val by hom terwyl hy weer die vingertjies buig. En terwyl oom Dup die bewe arm lig en na die hoek wys en meer druk om nader te skuif asof hy plek maak en sê: “Sy kom nou-nou”, stamp oom Piet vir my aandag en bevestig Hendrina het een dogter en twee seuns.
Oom Piet gaan dadelik aan met JanPaul. Hy buig die eerste vinger en noem:
“Ek kan nie die dogter se naam onthou nie maar sy het nog ʼn boetie ook. Janpaul het dus twee kinders. En ek herinner oom Piet aan Grootkoos; Ons was nog laaste by Grootkoos.
En oom Piet skud sy handjie op die uitvee manier en oom Dup kom in met: “Sy kom nou-nou” en hy buig skuinsweg asof hy agter sy bewe beduie wil aankyk hoe vêr sy is. Ek gryp want dit lyk hy gaan val.
En oom Piet protesteer:
“Die man maak my deurmekaar ..., dit is Grootkoos wat drie kinders het, Rentia was nie só gelukkig nie, sy het:” En terwyl die vingertjies buig en ek weet hy het nou vir Janpaul uitgelaat, raak oom Dup ernstig en wil opstaan met sy:
“Sy kom nou-nou ...”
Ek ek sien hy buig te vêr vorentoe en keer sy opstaan met my skouer en ek kyk vir oom Piet en vra:
“Kan ek haar nie maar gaan haal nie, oom?”

Oom Piet kyk net op sy vingers en ek sien hy begin van heel voor af maar met sy mond prewel hy:
“Dit is sy oorlede vrou, hy wag al tien jaar vir haar.”

© Willie F van Tonder
2012/02/08



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Los my Bybel
Inderdaad! Dit is mooi vertel. Gee maar vir Oop Piet Blom 'n vergrootglas persent.
8 jaar 11 maande 2 weke 6 dae 14 ure oud


Siele
Bravo! Applous vir jou! Pragtig! Pragtig oorvertel! 'n Raak-aan-my-hart storie.
8 jaar 11 maande 3 weke 4 dae 18 ure oud



AFGODE

deur Piet Schoombie

Die aangrypende verhaal van 'n weeskind se stryd en strewe in 'n kinderhuis.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar