Gorrel

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Weet jy wat my die viesste in gemaak het, toe ek ‘n jong seun in my vaal ou Karoodorpie was? Die oliekuiwe van Johannesburg! Jaaa…., hulle het mos byna elke Desembervakansie kom maak en breek soos hulle wil onder ons dorp se meisiekinders! Nou kyk, ek, en meeste van my maats, was nou nie juis “oilpaintings” of Adoniste nie. Haartjies was maar vaal gebleik deur die Karoo se fel son, voete skurf van kaalvoet loop en bruin gebrand van heeldag se voëltjies en hase jag in die dorpsmeent.

Ons was nie baie opgetrek met meisies nie. Nee, as een van die mooi meisies naaaby my sou kom, het ek begin stotter nog vóórdat die arme kind daaraan gedink het om iets vir my te sê! Hulle het ons so by so net altyd uit die hoogte aangekyk en gemaak of ons nie bestaan nie. Maar, toe die tyd van die rooi hakskeentjies kom, het ons begin loer na die meisies, ons vaal kuiwe platgekam, sodat dit gelyk het asof ‘n koei oor ons koppe gelek het, en selfs skoene en sokkies begin dra! Dog was dit was pure verniet! Vaal was ons maar vaal! Ons kon dit net nie regkry om soos die menere in die tydskrifte te lyk nie.

En toe kom die Joh’burgers. Twee broers. Hulle kom kuier met die Desember skoolvakansie vir hul ouma op ons dorp. Twee regte “ducktails,” met noupyp klinknaelbroeke, stywe hempies, en hoëhak skoene. Pikswart oliekuiwe, agteroor gekam, glimmend in die Karooson. En die dorp se meisies swymel! Hulle draai soos heuningbye om ‘n blom. Ek staar dié verskynsel stom aan en my maats toon tekens van agressie, en moet ek hulle tot bedaring bring om nie die twee narre te lyf te gaan nie. Wie weet hoeveel messe dra hulle nie in hul sakke nie!

Toe bedink ek ‘n plan. Ons maak maats met die twee gomtorre, en kom heelwat te wete oor hul leefstyl daar doer in Sodom en Gomorra. Hulle spog met hul vermoëns in byna al wat ‘n buitelugaktiwiteit is, hulle boks, stoei, speel krieket en neem deel aan atletiek. Baie indrukwekkend. Behalwe donkiery. (Alhoewel hulle glo gereeld saam met hulle se pappie Saterdae perdewedrenne toe gaan, en woon ook ‘n ryskool by) Die uitdaging word toe gerig: Ons kan beter donkie ry as julle! Oliekuiwe aanvaar die uitdaging en ons skud hand. Saterdag, wanneer Outa Willem sy donkies gelos het in die donkiekamp, sal die wedstryd beslis word! Die een wat die langste op ‘n donkie se rug kan bly, is die wenner.

Saterdagmiddag, toe Outa Willem temerige gesange sing in sy kerk, druk ons die vier donkies vas in ‘n hoek van die donkiekamp. Die reëls wat ons vasgestel het vir dié kompetisie is, dat Neef Pieter tyd sal hou met sy stophorlosie, om te bepaal wie die langste bo bly. Ons sal een man op ‘n slag ry. Oliekuif, die oudste, is eerste aan die beurt. Ons ander hou die donkie vas, sodat hy kan opklim, met Langdaantjie agter by die stertkant. Nét vóór ons die donkie laat los, pluk Langdaantjie die terpentynlappie uit sy hempsak. ‘n Vinnige smeer onder donkie se stert, en daar gaat hy! Van die brand onder sy stert, bokspring donkie so gevaarlik dat Oliekuif met ‘n boog deur die lug trek, en kop eerste in die turf getrapte grond beland! Die kuif asvaal van die stof en grond, kyk hy verdwaas om hom rond. Kleinboet Oliekuif storm nader om hulp te verleen, maar beland onder donkie se steeds skoppende hoewe, en bly lê half katswink in die donkiemis.

Slap gelag, sleep ons die twee Joh’burgers aan hul broekspype buite gevaar. Einde van die wedstryd. Oliekuiwe blaas die aftog. En laat ons meisies met rus!



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

japies
wat n lekker storie het dit baie geniet
3 jaar 11 maande 1 dag 13 ure oud


Japies
Ai man, ek het alweer heerlik gelees. Jy is gans te skaar met jou stories
3 jaar 11 maande 1 dag 22 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :

Van ons ander lede

ENGELE EN ROWERS

deur Piet Schoombie

Vier-en-twintig lekker lees kortverhale, sketse en artikels oor uiteenlopende temas en situasies.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar