Gorrel

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Groot Geeste sê goete en hulle dink nie aan wat die invloed van sy woorde, baie jare later, op iemand sal uitoefen nie.
Só ‘n man was Erich Fromm. Hy is nie lank terug oorlede nie. In 1980, op 80 jarige leeftyd.
Hy was ‘n Duitsgebore Amerikaanse sielkundige en humanis. Op ‘n stadium kom hy uit met ‘n ding wat my persoonlik raak.
Wat my, nou in my Herfs jare, deurmekaar maak. En ook nie net nou nie, maar nog altyd maak dit my kop staan.
Die man, die Erich sê, ek is volwasse en my vrou, die liefde in my lewe en ook my kinders, is onvolwasse.
Ja, dit is wat hy sê. Ek het hom nooit persoonlik geken nie, uit die aard. Maar ek het al van sy vele wyshede raak gelees. Een van die wyshede kom nou na my kant toe.

Ek sit hier in die koelte en skil pampoene.
Nee, ek is nie van my trollie af nie. Dit is my opgelegde werk. My taak vir die familie. Hulle koop by die sak, aartappels, uie, kool, pampoene, wortels, bone. Die lys is lank. Hulle koop alles in groot maat indien ek dit nie kan produseer nie.
“Pa, daar is bietjie groente by die huis, sal pa vir my skil asseblief?”
Sien wat ek bedoel? Sonder betaling is dit my mooi gevraagde opdrag.
“Pa, sal pa dit sommer in pakkies sit, ek sal dit vanaand optel.”
Nou kom my storie beter uit.
Dink jouself in. Hierdie sak pampoene. Ek moet dit skil. Ek moet dit opsny, in blokkies vir kook, in dun lang skywe vir in die oond bak, in....alles volgens die voorskrif. Ek moet dit netjies in sakkies sit, vakuum verseël, in groter sakke sit vir die vervoer, alles netjies.
Wat kry ek?

Sy loop nou en dan by my verby. My Liefde. Ek kyk haar verby stap. Ek kyk haar lyf. Sy is soos ek, ook al by die jare. Net met ‘n verskil. Sy pas haarself op.
Ek sien en my oë is tevrede. Terwyl ek nog hier op die Aarde is, is sy myne. Dit is vir haar wat ek hierdie pampoene skil. Sy gaan dit vir die kinders uit deel. Ek moet my taak goed doen. Sy check my.

Nou waar kom Erich Fromm se wysheid in?
Luister wat het hy gesê. Hy sê:
“Volwasse liefde sê: ‘Ek het jou nodig, omdat ek jou liefhet’.
Onvolwasse liefde sê: ‘ Ek het jou lief omdat ek jou nodig het.”

As ek haar nou so aankyk, en ek dink aan ons lewe saam, is Erich reg. Ek het haar regtig nodig. Ek het haar lief. Ek het haar waaragtig baie lief.
Dus is ek mooi volwasse.
Nou kom dit by die pampoene. Het sy my lief omdat sy my nodig het? Het die kinders my lief omdat hulle my nodig het?
Is die lot van hulle dan nou onvolwasse?

Wat het deur die Erich se kop gegaan toe hy hierdie wysheid kwyt geraak het?

...........................................................
Ek verwys: Die Groot Aanhalings Boek.
George Claassen, Piet Muller en Morkel van Tonder.




Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Wie sal weet?
Ek dink iewers het die man geweier om iets te doen, toe het die familie hulle gaaie gewip vir hom en nie met hom gepraat nie, toe besluit hy hulle het hom net lief as hy iets doen....
Oom Willem, regtig nogal iets om aan te dink. Ek is net bang dit gaan my bybly tot op die baie ryp ouderdom.
8 jaar 4 maande 3 weke 2 dae 14 ure oud


Die mooi van 'n pad saam in liefde...
Ai sneeuwolf, jy weet hoe om jou lesers se aandag te hou, jou vertellings is altyd so lewendig en lê so baie na aan die hart, mooiste herinneringe inderdaad!
8 jaar 5 maande 6 dae 7 ure oud


=)
pampoen skil is moeilik... maar as dit gedoen word vir die liefde van jou lewe... enigetyd..lol.
8 jaar 5 maande 6 dae 20 ure oud


Pampoen-gedoente
Erich Fromm het glad niks gese dat mans volwasse en vroue onvolwasse is nie Sneeuwolf! Jy "highjack" hierdie ene lekker om seksistiese voordeel te trek uit die pampoen skillery (ha-ha) - die "onvolwasse" manier van liefhe verwys na "needy & dependent", wat ons vroue soms voorgee om die manklike ego te streel. Wil julle dan nie "sterk en nodig" voel nie?
Hoe ookal, hierdie stukkie lees lekker tong-in-die kies of is dit pampoen-skiller-thriller?

Groetnis

S
8 jaar 5 maande 6 dae 20 ure oud


Volwassenheid?
Dié skrywe het ook my verstand se wieletjies aan die rol gesit. Die vrou is uit Adam se rib geskep, sou sy minder volwasse hieroor wees, siende sy aan sy sy en nie uit sy bene of iets dergeliks geskape was nie? Dis 'n wonderlike hulp vir die vrou en om 'n man tee te kom wat so behulpsaam is...ek was so gelukkig om so 'n man ook te hê, asook sulke seuns en dit wys ons almal in die gesin saamloop as een, langs mekaar deur elke plig wat in 'n huishouding, almal gedink het net die vrou sn was! Bravo sneeuwolf, vir hierdie gorrelstuk, dis met groot waardering dat ek hier lees en ek glo jou liefde strek ook veel verder as om net hoof van die huis en vroulief se wederhelfte te wees...dis julle gesametntlike koninkryk hier op aarde en ek sien volwassenheid oral in jou woorde vir jou geliefde...weet nie hoe Erich geleef het nie, maar ek stem nie saam met hom nie dat net mans volwaase is nie, waar die moeder eintlik die huisbouer en die man die voorsiener is nie.
8 jaar 5 maande 6 dae 21 ure oud


Wyse man
Ek dink dit was 'n wyse man daardie. Wat hy sê maak sin. Maar ek hou ook van jou laaste vraag - Wat het deur die Erich se kop gegaan toe hy hierdie wysheid kwyt geraak het? Goeie vraag. Dankie vir hierdie stukkie, dit laat mens dink...
8 jaar 5 maande 6 dae 22 ure oud


Fiddler on teh roof.
Dit laat my dink aan die toneel uit die ou fliek Fiddler on the roof, toe Topol die aand in die bed vir sy vrou gevra het of sy hom lief het. Sy antwoord toe dat sy al jare lank alles in die huis vir hom doen,hom versorg, ens. Toe sy stilbly, vra hy: "Maar het jy my lief?"

Ns. Wederhelf skil ook vir my pampoen, want die skille is te hard vir my. En ek WAARDEER dit!
8 jaar 5 maande 1 week 7 ure oud


Wyse man
Oom Wolfie, jy moet nou nie die kinders hier bysleep nie, dis 'n ding tussen jou en die tannie. Lag!
Persoonlik dink ek jy "brag" sommer 'n bietjie.(Sneeuwolfstyl)
8 jaar 5 maande 1 week 7 ure oud


pragstuk
Hierdie mooi woorde wat ek so lekker onder die kombers voor my kaggeltjie sit en afsluk met 'n koffietjie het my nou eers in trane gehad en toe laat wonder.Dit is so opreg geskryf dat dit die hart opwarm van pure liefde en met soveel liefde in daai hart van jou het hulle jou beslis nodig omdat jy vir hulle so lief is.Ek geniet altyd jou stories, maar los nie altyd kommentaar nie, maar hierdie een was vanaand vir my baie spesiaal!Baie dankie vir die deel.
8 jaar 5 maande 1 week 9 ure oud


Pampoen
(Tong in die kies) skoenmaker, hou jou by jou leus. Dit is defnitief iets waarin jy baie goed is en glo my, ek weet sy waardeer dit. Baie goed uitgedruk.
8 jaar 5 maande 1 week 10 ure oud


O
Ja nee ou sneeuwolf .... minstens weet jy mooi waar jy staan in jou herfsjare, pampoene ten spyt :-)
8 jaar 5 maande 1 week 10 ure oud


rex
Wyse woorde ...
Sy vra jou om dit te doen, omdat jy dit so goed doen. Herinneringe word so gebou. Hulle gaan jou so onthou, al skillende, met baie liefde en groot waardering!
8 jaar 5 maande 1 week 11 ure oud


*
Homo homini lupus - die mens is sy eie wolf.
8 jaar 5 maande 1 week 12 ure oud


Wyse Manne
Is ek nou ook deurmekaar?! As ek hom so baie lief het, het ek hom nodig. Om by my te wees. As ek hom so nodig het, het ek hom lief. Dis hoekom ek hom by my wil he. Party dae is dit meer nodig. Ander dae is dit sommer onnodig oorbodig lief. Toe ons jonk was, was dit net verlief. Later eers het dit lief geword. Toe het ek hom meer vir sommige goed nodig gehad en minder vir ander. Nou is dit minder vir sommige goed en meer vir ander. Ek dink die twee trek gelyk, lief en nodig.
8 jaar 5 maande 1 week 13 ure oud


Pampoene-skil
Die ene Erich moes seker ook pampoene skil - of iets dergliks!
So het ons mekaar lief en nodig, nodig en lief, maar ek veronderstel dit wissel darem gewoonlik af in volgorde. Baie oulik 'gegorrel' in lekker gemaklike praat-taal.

Groete!
Maritha

Ns: Kry nou sooo lus vir Skoonma se pampoen met onbetaamlik baie (te veel) botter en suiker - net soos sy dit kan maak!
8 jaar 5 maande 1 week 13 ure oud



Katarsis

deur http://www.woes.co.za/

Katarsis, ’n versameling gedigte deur 3 skrywers, tribalmoon, Berg en Chenél Pieterse-Boyle in Afrikaans, bevat ’n uiteenlopende versameling gedigte wat ’n ryk diversiteit van temas en denke byeenbring.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar