Gorrel

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Dit het my ‘n rukkie gevat voordat ek by die PUK se gym gaan aansluit het. Ek is nou nie die mooiste, maerste meisie nie, so om enigsins tussen ‘n klomp bruingebrande-kuite-wat-bol-superfiks-gym-fanatiese-gesonde-leefstyl-bewuste-junkies vir die eerste keer op ‘n treadmill te klim, kan nogals vreesaanjaend wees...

Dit het my ‘n rukkie gevat om vir die eerste keer gym toe te gaan nadat ek aangesluit het. Ek het myself gemotiveer met, “om vir vet mense by die gym te lag is soos om vir pasiënte by die hospitaal te lag. Niemand sal vir my lag nie. Hulle sal my nie eers raaksien nie. Ek sal maar net stilletjies in en uit glip.” Een oggend het ek net die besluit geneem. Vandag is die dag. Nou is die oomblik.

Ek kyk op my horlosie. Die lang armpie raak-raak net so aan die twaalf en die kort enetjie mik vir die vyf. Dit neem my ‘n rukkie om te registreer hoe laat dit is. My boekesak bevat vier handboeke en ‘n hoop notaboeke. Ek loop tussen die SS en die amfi deur. My sak raak swaar. ‘n Ligte waterlagie vorm op my voorkop. Om my gaan alles net normaal aan, asof daar niks vreemd besig is om te gebeur nie. My franse vlegsel wat perfek volgens die koshuis se voorskrifte vir eerstejaars gedoen is, is so styf dat dit voel of ek my haargroei probeer versnel. Met my R80 PEP tekkies bekruip ek amper die gym se eerste draaihek. Ek vleg deur die ry studente wat ongeduldig voor die deur by die kitsbank staan en wag.

Die gym ruik vreemd; amper soos ‘n mengsel van vars sweet, skoonmaakmiddels en rubber. Die gangetjie is effens donker. Elke man wat verby my stap is gebou om te hou en elke dame is ten minste kop en skouers langer as ek. Geluide wat spreek van pyn, motivering, oorwinning en telleurstelling ego vanuit die muurbalbane se rigting agter my aan. Daar staan drie Griekse Gode by die hek aan die linkerkant en ‘n ligte uriene reuk vanaf die regterkant sê sommer duidelik wie se kleedkamers aan die ander kant is. Dis my beurt om deur die hek te gaan.

Skielik begin ek twyfel of my grootte 14 broek regtig so klein is. Hierdie gym draaihek diskrimineer teen enigiemand wat groter is as dit. En ek het nog my sak ook by my! Met ‘n effense gespook kom ek deur die hek. Ek is in die gym. Hierdie gym diskrimineer teen meisies met ‘n lae selfbeeld. Ek moet eers deur ‘n hele vertrek vol Johnny Bravo’s stap om by die treadmills uit te kom. My moed is klaar in my skoene en ek het nog nie eers begin nie!

Liewe Jesus het geweet wat ek nodig het en terwyl ek nog besig is om knoppies willekeurig te druk met die hoop dat die ding begin, stap een van my hartsvriendinne in die gym in. Goose is van dieselfde kaliber as ek. En dis haar eerste keer ook! Ten minste weet sy hoe die nagmerrie-masjien werk. Sy sit myne vir my aan en klim op die een langs my. 200m later het ek nou genoeg gehad! Goose se wange is bloedrooi. Ek dink sy het ook nou genoeg gehad. Net toe ons wil afklim, klim Apollo en Poseidon weerskante van ons op die treadmills. En Zeus klim op die roeimasjien voor ons. Net een kyk in Goose se rigting, toe weet ek: Ons gaan nie binnekort ophou nie! Elke keer wat ek voel dat ek wil opgee, kyk ek net in Zeus se rigting en een van sy onnatuurlike wit glimlagte is sommer genoeg om my spoed te verdubbel. Elke keer as ek my gesig wil trek van die pyn, sien ek net Apollo uit die hoek van my oog en dan smile ek sommer weer breed! Die Griekse Gode gee aan Goose ook sommer bonatuurlike krag. Sy lyk gedetermineerd. En sy snol! Ek het nie eers geweet sy het dit in haar nie. Ek dink nie dat sy het eers geweet sy het dit in haar nie.

So vyf kilometer later begin ek sterretjies sien. Ek dink ek het nou regtig genoeg gehad. Goose slat neer op die vloer langs die treadmill. Sy is spierwit in haar gesig. Zeus en sy trawante hou ook op sprint. Hulle is nie eers kort van asem nie. Ek maak asof ek nie vir Goose ken nie. Sy lyk soos ‘n oormoeg, hardkoppige kleuter wat daarop aandring om verder in die sandput te speel lank nadat dit eintlik slaaptyd was.

Ek drentel terug na die hek toe. My sak weeg ‘n ton! Ek kyk nie eers vir die Johnny Bravo’s langs my nie. Ek tree in die hek in en....

Op een of ander manier het ek dit reggekry om my bene tussen die hek en my boeksak te laat vassit. Ek kan nie vorentoe of agtertoe nie! Agter my bars Goose uit van die lag. Die gym-reuk vou sy vingers om my keel en ek begin weer sterrietjies sien. Dit voel of my eie digtheid minder is as dié van die beknopte spasie waarin ek myself nou bevind. Ek probeer spring. Niks. Ek probeer skuifel. Niks. Ek raak benoud! En Goose lê soos wat sy lag! Uit die op en aanmerkings wat my laer as erdwurm afskeidings laat voel, verneem ek dat ek het nou ‘n gehoor wat my spektakel aanskou. Die trane brand vlak in my oë.

“Jy wou my mos alleen gelos het!”

“Bra! Check daai cherry sit in die hek vas!”

“Ag shame, sy’s seker maar ‘n wannabe plus-size model.”

“Ek wil jou lyf in ‘n bikini sien!”

‘n Groot hand vat aan my skouer en ‘n stem wat klink soos Arabica koffie, heuning en ‘n kaggelvuur in die winter sê ‘n woord wat ek nie verstaan nie. My eie sinnelose hardop gebrabbel maak die woord onduidelik. Wag, dit is my naam. Die stem sê my naam! Ek bly stil en hou op met spartel. “Liz, klim bo-op die hek, dan sal ek hom draai.” Dit neem my ‘n rukkie om te registreer wat die stem sê. Ek is gehoorsaam. Die hek draai en toe daar genoeg spasie vir my is om uit te kom, tuimel ek gat-oor-kop in die gangetjie in. Dis net boeke wat waai en ‘n waterbottel wat rol, maar ek steur myself glad nie daaraan nie. Ek moet net hier wegkom!

Ek strompel reguit vorentoe in die kleedkamers in. As die aarde my tog net kon insluk! EK het lanklaas my naam so gat gemaak. My sitvlak maak sommer so doef-geluid soos wat ek op die vloer neerplak. Moedeloos en seer, begin ek stadig die vervlakse vlegsel wat my hare so trek losmaak. Ek kastai myself sover as wat ek gaan. Hardop. “Flippen Griekse Gode met met heuningwarm stemme en elendige hekke en Goose lag seker nou nog en jy sit hier en...” Iemand maak langs my keelskoon. Ek kyk op...

Apollo staan by die urinaal. Rooi vlamme kruip in sy nek op tot by sy alreeds skarlaken-ore. Ek sit versteen teen die muur – hierdie dag kan nie erger raak nie! Toe kom Zeus in met al my boeke in sy hande. Daardie stem wat my gered het behoort aan hom! “Liz, ek het gehoor toe jou vriendin jou naam gesê het. Hier is jou boeke, maar hierdie is die manskleedkamer. Die dameskleedkamer is net so entjie in die gang af.” Hy glimlag weer. Dis naby aan die mooiste ding wat ek nog ooit gesien het. Sy stem is sag en vertroostend. Daar is geen spot daarin nie; dit klink soos opregte omgee. Sy goudbruin oë spreek egter van ‘n ander storie. Ek voel nog kleiner. Apollo maak weer keelskoon. Ek besef die man se nood is dalk groot! Ek glimlag braaf (al loop die trane) en vat my boeke by die engel.

Om by daardie deur uit te stap was die moeilikste ding wat ek nog ooit moes doen. My skare het gejuig... Goose se trane het geloop soos wat sy gelag het. Poseidon het nonchalant teen die deur geleun met my waterbottel in sy hand. Die terg het ook vlak in daardie twee oseane waaruit sy oë bestaan, gelê, maar hy het genadiglik niks gesê nie.

Nodeloos om te sê, ek het maar by Virgin Active gaan aansluit vir die res van die jaar en later eers weer by die PUK gym; ‘n paar kilogramme ligter en spiere wat net-net harde werk begin wys. Die motivering het gebrand met die herinnering aan twee goudbruin oë en ‘n stem wat melodieë skep vir oakmoss en sandalwood om te harmoniseer.

Vandag is ek is (amper) ‘n bruingebrande-kuite-wat-bol-superfiks-gym-fanatiese-gesonde-leefstyl-bewuste-junkie. En ek geniet elke oomblik daarvan. Zeus wag vir my by die huis; ek het gat-oor-kop in sy hart ingetuimel. My dag van glorie was die moeite werd gewees.


Tot volgende keer...



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

gat-oor-kop
Lekker gelees en gegiggel. Knap gedaan
4 jaar 2 maande 3 dae 17 ure oud


Gym se hek uit
Wie sê nou nie, alles het 'n prys tot waardering
4 jaar 2 maande 5 dae 16 ure oud


Gat
UIT-flippieng-stekend gedoen! As daar 'n Gat-wenner was het ek jou bekroon!! Ek seg weer: FAN-bloemen-tasties geskryf!!!!
4 jaar 2 maande 5 dae 22 ure oud


Ano
Gat-oor-kop
Puik, dis die beste een ooit! Darem was dit gat-oor-kop en nie kop-in-gat nie :-D
4 jaar 2 maande 6 dae 2 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :

Van ons ander lede

As drome waar word

deur Evelyn van der Merwe

Sewentig gedigte wat ‘n buitengewone vrou se lewe beskryf. Sewentig boodskappe van lief en leed uit die pen van ‘n vrou wat op die harde manier geleer het om meer as die gewone teenslae van die lewe te hanteer, om sterker te word en uiteindelik om sterk te wéés – nie net vir haarself nie, maar ook vir die mense rondom haar.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar