Gorrel

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Ek sien deesdae baie kommentaar hier op Woes en ook verskeie nuus-werwe waar mense kla dat mense nie meer manier het nie. Het ons al gedink dat hulle dalk nie maniere geleer is nie? Ek raak nou ook oud genoeg om kommentaar te kan lewer op die “jeug van vandag”, en ek sien mos hoe vriende en familie se kinders groot word. Ek wil maar net sê dat ek alles wat ek weet by my ouers geleer het. En gelukkig het ek die geleentheid gehad om my pa op sy sterfbed daarvoor te bedank.

Dit is ‘n ouer se verantwoordelikheid om ‘n kind te leer om “asseblief” en “dankie” te sê. En as hy dit nie mooi doen nie, dan kan hy nie daardie koekie kry nie. So maklik soos dit. Jy hoef nie eens pak te gee nie. Jy moet hom leer om sy elmboë van die tafel af te hou; om met ‘n toe mond te kou; om nie sleepvoettend te loop nie (my grootste irritasie). Jy snuif nooit! Sy moenie met ‘n selfoon aan tafel sit nie, want dit word afgevat. Is dit nie dalk net makliker as die kind op die selfoon is nie – want dan hoef jy nie met haar te praat nie?

My ouers het my geleer jy dra nie ‘n rooi pantie onder ‘n wit broek nie; jy dra ‘n onderrok wanneer jou rok effens deurskyn; jy gaan nie uit sonder skoene nie; jou onderklere steek nie uit nie (!!); en jy kam jou hare. Jy gooi nie lekkergoed papiere op die grond nie, en jy gaan sit jou glas in die wasbak wanneer jy klaar koeldrank gedrink het. Jy eet nie lekkers en koekies tien minute voor ete nie; en jy sit nie in groot mense se geselskap nie. “Jy tel nie tande nie!” En net omdat een van jou ooms soos ‘n matroos praat, gee dit jou nie die reg om te vloek nie. Al hou jy nie van jou tannie nie, is sy ‘n grootmens en sal as sulks respekteer word. Ek het nie “rond geneuk” as jongmeisie nie, want ek was bang dat my pa “my gatvelle sou aftrek” – dit was ‘n groter bedreiging as ‘n swangerskap.

Kinders ken nie meer die oudtydse gediggies en liedjies nie, want niemand het hulle dit geleer nie. Dit is ons verantwoordelikheid om dit van geslag tot geslag oor te dra. Hulle ken ook nie die speletjies wat ons ouers, en ons, gespeel het nie. Maar het jy jou kinders geleer om kennetjie te speel? Tolletjie-brei? Nee, dis mos makliker as hulle voor die tv sit, want dan is hulle stil en onder jou voete uit.

My pa was baie lief vir motor bestuur, en ‘n gunsteling tydverdryf was om op ‘n Sondag, na kerk, ‘n piekniekmandjie te pak en dan ry ons net. Vir my wat karsiek kry, was dit natuurlik die laaste ding wat ek wou hoor wanneer ek uit die kerk kom, en baie Sondae het ek in die kerk sit en bid dat my pa te moeg sou wees om te gaan ry. Wat ek egter die meeste onthou van al daardie (eindelose) ritte, was die goed wat ons geleer het. Ons ouers het bekende landmerke aan ons uitgewys en die storie daaragter vertel. Ons het geleer van die verskillende bome en blomme langs die pad, en ons verstom omdat my ouers al die liedjies op die radio se woorde geken het. Dit was altyd ‘n groot lekkerte om dan iewers onder ‘n groot denneboom te stop en piekniek te hou. Vir ons kinders was die dennesade wat ons uit die dennebolle gehaal het nog lekkerder as ma se kos. Ken jou kinders dit?

My pa het my ook geleer om hard te werk vir alles wat ek wou hê – die les waarvoor ek die dankbaarste is. “Kannie is al lankal dood van kruiwa stoot”. Ek weet ek kan alles doen – miskien nie so goed of so vinnig soos die ou wat dit professioneel doen nie, maar as ek hard probeer, kan ek dit ook doen. So het ek al blomme gedoen vir ‘n troue, ‘n trourok gemaak, en self my waskamer se vloere geteël.

Ek is geleer jy vat nie ‘n ander ou se goed nie: nie sy pen of sy pensioen nie. Dit is steel en dit is verkeerd. Jy betaal jou belasting, jou tv-lisensie en jou boetes. Ek het respek vir my medemense en diere geleer – en die meeste van als: vir myself. Ek het ook dankbaarheid geleer vir alles wat ek het. Ek het geleer jy help ander waar daar hulp nodig is, want daar is altyd iemand wat minder het as jy.

Voordat almal dink ek kom uit die oude doos en het groot geword voordat die binnebrand enjin uitgevind is: ek is 47. Dankie ma en pa!



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Maniere
Stem saam!!! Asseblief en dankie kan baie doen!
6 jaar 10 maande 1 week 20 ure oud


Ek is bly
Jy het darem goeie maniere :-)
6 jaar 10 maande 1 week 20 ure oud


Maniere
Staande applous vir jou Jeanette. Die hartseer deesdae is dat van die ouer gardes ook die woorde asseblief en dankie vergeet het, dan ys ek as ek dink hoe die persoon se kinders reageer met betrekking tot respek, dissipline en net gewone, algemene maniere.
6 jaar 10 maande 1 week 21 ure oud



Gister se Onthou

deur borrels

ek pluk 'n klompie letters van 'n laning woord-bome af dan bou ek 'n vers daarmee die trand daarvan soms bietjie laf maar die woorde van die verse kom diep hier uit my hart dit skets die liefde van die lewe soms met pienk en soms met swart



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar