Gorrel

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Hierdie is nou sommer net so vir die wil weet . . .

My resep - soos seker maar hoe dit moet wees, is:
Een gewig vrug
Een gewig suiker
Vir Jem en in hierdie geval is dit Appelkoos.

Terloops:
Konfyt / jem . . . wat is die verskil ?
Een fyner as die ander (?)

Raait, wat ek doen :
(Die hele proses van wat ek alles aanvang, moet ek uitspel anders mag jy vrae vraag om my eintlike vraag waar en korrek te kan antwoord.)

Ek pluk die vrugte self met behulp van die self-staan-leer – om hoog by te kom.
Die baie hoog vrugte se tak trek ek nader met my kierie se haak.
Een in die skottel
Een in die kies.
Die pit is my oefen – om dit met ‘n akrobatiese tong-spel akkuraat uit te kan skiet na die volgende teiken-appelkoos.
(Met een oog, want die ander oog is gerig op nig Hester oor die beton heining waar sy wasgoed was in die waskom op die draad tafeltjie en ek gee veral aandag aan die ritme van haar skouers en heupe.)
Ek spoel die geplukte vrugte skoon in die badskottel
-
Normaalweg kom daar altyd sand en ander snaakse afwas goete af en lê op die boom van die skottel.

Dan
soek ek uit
sny uit die hael merke
sny in kwarte
verwyder pitte
Dan
Lê ek in vir drie tot vier ure -
Laag op laag – kilogram vir kilogram –
Een laag vrug –
Een laag suiker
Sit op die deksel
Vir die vrugte om suiker te trek en te verkleur na hemels oranje.
Dan -
loop help ek vir nig Hester haar wasgoed uithang vir geen ander rede as om die vrugte kans te gee om privaat sulle se ding te doen.

Na die wag tydperk, seg ek plegtig dankie vir nig Hester, groet haar met die hand en loop start ek vir Big Jim want ek kook graag op die bottel alles wat gebottel moet word en ek hou die hitte laag:
Ek doen vier kilogram op ‘n slag en nou vra ek my vraag:
Wanneer al die suiker opgelos is, verlaat nig Hester en wat daar aangaan my gedagtes en bepaal ek my by wat hier aangaan.
Gas vereis die kok se volle aandag.

Hou ek die hitte laag, verskyn minder skuim op die kooksel
Jaag ek die hitte effe aan . . .
Moenie verwar nie!
Ek praat nou nie van nig Hester nie – sy is nou (vir die oomblik) vergete. Ek praat van die appelkoos jem en die skuim op die kooksel.

Met laag hitte is die skuim heelwat minder maar dieper oranje – amper na geel se kant toe.
Met hoog hitte moet ek haar in toom hou . . .
Demmit, askuus, ek verwar nou tussen die twee.
Ek verstel:
Met hoger hitte is die skuim op die jem heelwat meer en ligter – amper wit van kleur.
Nou my vraag:
Hoekom skitter sulke ligte vog uitslag op haar voorkop . . .

Demmit – skuus. Ek weet nie hoekom dwaal my gedagtes in die laaste tyd so nie.
Die skuim op die jem –
Wat is dit?
Al koel dit af, bly dit skuim en dit is soet dit proe soos granaat en is vogtig en sy hou haar mond altyd effe oop as sy soen . . .

Sorry, my stem raak weg maar ek wil tog weet
Hoekom is die skuim minder by laag hitte en meer by hoger hitte en hoekom hou dit op later soos ek dit wegsoen en sy my om die lyf omarm en so styf teen haar vasdruk en die sag van haar liggaam en die warm . . .

Ek het teen die ingewing besluit om die skuim oor my honde se pap te sit en maar dit liewer in die wegloop laat afspoel.
Raait:
Kwapie, hierdie is vir jou:
Die skuim hou op na ‘n rukkie en dan is die vrugte skoon. Wat is die chemie van die skuim?

Die beste is:
My dogter Marlene kom vir ‘n hare kleur en bring vir my ‘n kop flitsie want ek sukkel met die masjiene om die garing deur te kry met die sien.

Hulle kom aangestap onder die bome deur en moet mooi trap want die appelkose val al af en van hier af lyk sy soos ‘n pregnant fairy wat dans tussen die mat van appelkose en sy is uit asem:
“Pa, hoekom te donner het julle so baie bome geplant?”
“Kinta, vir koelte in die somer vir die honde. Honde kan koue vat net nie hitte nie. En ek het nie gevra dat die bome so welig moet dra nie!”

Weet julle dat bome lewe het?
Bome het speels en goed en kwaad want as ek loop moet ek koes-koes loop want elkeen doen sy bes om my raak te gooi met een van sy vrugte!

Later sit ek op my stoel en sy kook en roer en skep skuim en bottel en my jop is; hou die proppe met kook water warm en spoel die afvee lappie skoon en hou die glasies vol Backsberg se semi soet - en net daar is dit daai sewende minuut en dit is stilte, totale stilte en sy stop haar doen en sy kyk vir my en ek kyk vir haar en die groot klok in die hoek iewers in die stille huis slaan kwart voor drie en terwyl die dawerende melodie die nagstilte verbreek en aankondig; dit is nou drie ure voor Sonop en sy ‘n moeg gaap met haar rughand versteek en haar mooi blou - haar ouma Hugo van Upington se amandel oë - vernou effe en daai oë die vra:
“Hoekom doen ons dit?”

Ek het die anderdag daaroor geskryf – Fobies
Die kaste is vol.
Die bokse is vol
Maar as ons ‘n vrug sien, moet dit bottel toe gaan . . .
Ons ry elke jaar kilometers agter vrugte aan en koop dit by die kratte vol.

“Wat dan van ons droom?”

Droom?
Om eendag daar vêr . . . iewers in daardie verre toekoms as ons oud is, met ‘n karavaan en 4x4 te reis van streek na streek en in klein pikante botteltjies, vrugte en eetware van die streek en seisoen te bottel en as kietse en luukse, en spesiale te smous aan mense en in nuts winkelkies en dan op so ‘n manier ons oudword dae te slyt.

Dit is ‘n droom om na uit te sien.

Willie
2014/11/24



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Jem
Oeee jy laat die manne se koppe draai! Is Konfyt nie maar die Afr vir jem nie? Ek kan nie die ander vrae antwoord nie, maar daai jem...dit eet ek sommer sonder antwoorde.

Moenie ophou droom nie, maar maak nou 'n plan!
5 jaar 4 maande 2 weke 1 dag 7 ure oud


Jem - my oop vraag
Oom Toom,
Ek geniet jou skrywes altyd.
By jou slot/afsluiting betoog oor Djem, bring ek nie mooi die kluitjie by die oor nie.
Let wel die word kluitjie en nie kloutjie nie - verstopping - oor verstopping
want
Die confiture woord wat jy betoog vat my na my jongensjare terug:

Sy was mooi. Sy was pragtig. Sy was wild en romanties.
Maar
Sy was Ingels.

Ek het nogtans gevorder. Heel goed gevorder
Tot binne in die kamer
En toe vorder ek verder
Maar
Ek steier terug en verwyt
"You Bastard, I thought you is an woman but nou I confiture you'r a man!

5 jaar 4 maande 2 weke 1 dag 11 ure oud


DEFINISIE VAN jÊM
Doerie tyd toe die wêreld-expo in Brüssel was, het die KOO-mense die afslag gekry om ek-weet-nie-hoeveel miljoen klein buksies MARMELADE vir al die hotels en B & B's se ontbyt te kook. Groot was die jolyt in die land: Ons kan dit doen! Soveel soorte as ons wil en kan.
En so is MARMALADE in alle vorms uit alle sitrusvrugte gemaak, jellie, repies, blokkies, Valencia, pampelmoes,... Alles!
Ongelukkig het die Belge en die Boere aanmekaar verbygepraat: MARMELADE beteken KONFYT, en MARMALADE beteken MAMMALYT
So het die Suid-Afrikaners +- vyftig jaar gelede veroorsaak dat die Europeers vandag nie mehr MARMELADE mag sê nie, want MARMALADE is 'n registreerde woord wat slegs op sitruskonfyt betrekking het, dus kan die woord MARMELADE verwarrend wees.
Na 'n halwe eeu het die Engländers dit in die Europese Unie deurgeset dat die definisie wet word. Óns moet nou ,Konfitüre' (Of in dialek ,G'sälz') sê behalwe as dit sitrusinhoud het.
Die Ingelse hoef nie anders te praat nie (,Have some confiture, my dear')(?), hulle sê soos voorheen daartoe ,djêm'.
GvT
5 jaar 4 maande 2 weke 1 dag 18 ure oud


***
Ja-nee, Wolfman, dis maar moeilik om te fokus op die jem met nig Hester aan die oorkant :))

Ons het ook laas week appelkooskonfyt gekook. 8kg Kleinkarroo rooiwang sonder 'n merkie aan -- met die mikrogolf gemaak. Min skuim, maar het baie aandag nodig. Ek sny net in twee.
5 jaar 4 maande 2 weke 2 dae 1 uur oud


Appelkoosjem
As die skuim om nig Hester se mond staan.....agge, ek bedoel...hoe nou weer?
5 jaar 4 maande 2 weke 2 dae 6 ure oud



Weerkaatsing van my hart

deur Elzabe Young Heyns

'n Mens se hart gaan deur seisoene, net soos 'n mens dit elke dag buite ervaar. Een dag is dit somer, die volgende dalk winter. 'n Storm en miskien dan weer 'n sonskyndag. Almal het van tyd tot tyd nodig om jou hart oop te breek, die gevoelns en emosies vry te laat en te ontleed; en dan ... gevul te word met die bevryding en aanvaarding van omstandighede en situasies in jou lewe.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar