Gorrel

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Die lewe is nooit sonder vrae nie.
Daar is egter een groot vraag.
ʼn Vraag sonder antwoord.
Hoekom weet ander mense voordat jy weet?
Of
Hoekom weet mense, maar hulle vertel jou nie.
Geheime? Klein geheimpies?
My Ouma is oorlede. Tragies oorlede.
Aan klein geheimpies.
Ek wil nie dood gaan nie. Nie een van die manne wil doodgaan nie.
Ons het egter ʼn geheim (Gehad?)

Hans Dons.
Hans Dons boer met ganse. Hy pluk ganse. Dons. Regte dons vir kussings, ‘duvets’, mediese matrasse, baie aanwendinge.
Hans Dons het ʼn seun. Ek het ook ʼn seun.
Die seuns se visie lê wyd. Baie wyd. Hulle het aspirasies. Toekoms visie. Hulle wil studeer. Nie hier nie. Ons Instellings se naam en roem val plat.
Die Politiek laat dit plat val.

Dit reën. Ek gaan brood koop by die Portugees. Die Portugees staan in die deur. Hy raas met ʼn swart jong man. Hy draai om en loop rasend terug in die winkel.
Ek vra die jong man:
“Wat is fout?”
“Ek soek die plastiek !”
“Hoekom?”
“Ek loop by die Universaty. My boek word nat.”
Hy wys my die boek. Ek sien ʼn Croxly Exercise boek. Ek vat die boek. Daar is op ʼn paar bladsye geskribbel.
“Vir wat leer jy ?”
“B com. Auditor.”
“Hoeveel jaar is jy nou ?”
“ Second year.”
Ek gee hom sy boek terug. Ek skud net my kop.

My seun en Hans Dons se seun wil Engeland toe gaan. Hulle wil daar gaan studeer.
My seun gaan Ingenieurswese doen en Hans se seun gaan vir ‘Blacksmit’
Hulle het saam gebly. Goedkoop in ʼn gaatjie.
My seun studeer. Gert Dons studeer nie. Hy kom van die plaas af. Die stad het baie liggies. Die kroeë het genoeg bier. Die meisies het lang bene.
Hierdie dinge kos meer geld. Elke dan en wan skryf Gert vir sy pa:
“Liewe pa. Dit gaan goed. Die leerwerk is baie. Die kursus kos geld. Stuur nog geld, asseblief.”
Hans Dons stuur geld. Hy vertel my gereeld hoe duur is dit om ʼn ware ‘Blacksmit’ te word.
Gert het wel by die Tegniese Kollege ingeskryf. So nou en dan bietjie kennis in die werkswinkel opgedoen, maar meer uitgesien na die plesiertjies van die lewe.
My seun skryf vir my, ek vra hom hoe dit gaan met Gert Dons. Hy skinder by my. Gert studeer nie juis nie. Gert geniet die stadslewe

Hans kom kuier so nou en dan vir my. Dan gaan die gesprek na die seuns se kant toe. Dit is vir my ʼn moeilike situasie. ‘n Situasie waar ek van dinge weet maar ek kan nie vir Hans vertel nie.
Sien jy nou waarvan ek praat?
Ek weet van Gert waarvan hyself nie weet nie. Ek weet voordat hy weet. Om die waarheid te sê, al die manne weet wat Gert nie weet nie.
Ons is vriende. Ons is eintlik maats. Ons is egter ook maar net mense. Ons praat met mekaar. Ons vertel net nie vir Gert nie. Nie nou nie.

Op ʼn dag, nooi ek al die manne. Die seisoen was mooi. Die vrugte son ryp en vet geswel van die suiker. Die ketel het sy werk gedoen.
Dit is proe dag. Al die manne se tonge is lekker los. Hulle is vrolik. Dit is net Gert. Gert is nie baie lekker nie. Hy kyk sy beker net so aan, draai dit in die rondte om die mampoertjie bietjie suurstof te gee, en sluk net so bietjie vir bietjie.
Rooi Koos breek die ys:
“Willem, ek hoor jou seun is klaar met sy studies.”
“Ja Koos, hy kom huis toe. Hy het klaar ʼn werk hier gekry. Glo vir my, dit het my baie geld gekos.”
Ek sien Hans lig sy beker, gooi sy kop agter oor en ledig dit agter in sy keelgat. Hy vee sy mond met die rug hand af en sê:
“Ja, ek vir Gert ook maar laat kom. Ek kan nie meer by bly nie. Ek reken hy het nou genoeg geleer van yster.”
Tom Scrooge, suinige Tom sien ʼn opening:
“ Hans, wat is nou die eerste ding wat Gert vir jou moet maak wanneer hy hier aankom?”
“Tom, my byl is gedaan. Ek wil ʼn goeie byl hê. Gert moet dit vir my maak.”
Die manne kyk net só na mekaar, maar praat nie verder nie. Ek swaai die gesprek dadelik in ʼn ander rigting. Ons almal weet. Hier kom ʼn ding.

Hans Dons se oproep het ʼn geruis onder die manne veroorsaak. Hy het ons almal gebel en spoggerig genooi na die vertoning. Ons kan maar Saterdag kom bystaan en kyk hoe werk ʼn opgeleide ‘Blacksmit’. Gert gaan ons wys hoe word ʼn regte staal byl gemaak.

Ek is eerste daar. Hans staan by die vuur. In die vuur lê ʼn stuk yster. Die blaasbalk se vuur gloei witwarm. In sy hand het Hans die sestien pond hamer.
Die manne is almal daar. Hulle staan so in ʼn halfmaan. Almal is in spanning, afwagting om te sien hoe gaan Gert die byl maak.

Gert is groot meneer:
“Pa, sodra die yster so kersie rooi is, gaan ek dit op die aambeeld sit. Sien pa hierdie kolletjie, - hy wys so na die middel van die aambeeld - Dit is waar pa kyk en slaan. Presies net daar, Ek sal die yster hanteer en draai. Pa moet net slaan. Pa moenie speel nie. Pa moet hard slaan. Ek sal draai en swaai.”
Ek kyk so na Rooi Koos en knip oog vir hom. Ons weet almal, Hans Dons is nie juis fiks nie. Om met ganse te boer is nie eintlik werk nie. Hans is ook eintlik ʼn bier drinker. Sy oorhang pens wys dit.

Gert, groot doenerige Gert gee die woord:
“Raait pa, staan reg. Slaan nou net waar ek gewys het. Moenie ophou slaan nie, die yster word gou koud.”
Gert vat die twee lang tange, lig die rooiwarm yster uit die kole en hou dit op die aambeeld.
Hans trek weg. Hy lig die hamer hoog en slaan. Hans werk soos ʼn masjien. Hy slaan hou vir hou. Gert hou met die tange. Hy swaai en draai die yster op die aambeeld. Die blitsende yster vonke spat tot teen ons. Ons staan effe verder weg.
Die rooi van die yster verdwyn stadig. Gert sit dit terug in die vuur. Hans gooi nog ʼn klompie kole op die vuur, vat die lap en vee die sweet van sy voorkop af.
Die manne kyk vir mekaar.

Die yster is mooi reg. Gert vat met die tange en hou dit op die aambeeld. Hans lig die swaar hamer en slaat. Hans slaat raak. Gert draai en swaai.
Ons manne kyk. Ons sien die yster word platter. Gert swaai en draai. Hans se sweet val op die grond.
Ek hoor so ʼn ligte roggel uit Hans se bors. Ek weet. Die nikotien van die Boxer tabak wat hy rook, kom nou los.
“ Pa, “ en Gert hou sy hand op “ stop ʼn bietjie, eers weer warm maak.”
Ek kyk die yster só. Ek weet hoe lyk ʼn byl. Dit wat op die kole lê, lyk nie of dit in ʼn byl verander nie.
Die manne kyk vir mekaar. Ek weet. Hulle sien ook wat ek sien.

Hans sit op sy hoog stoeltjie. Sy hare is nat van die sweet. Sy bors beweeg op en af van die swaar asem haal.
Hans is te vrede. Sy seun is opgelei. Hy weet wat hy doen.
“Staan reg, pa, ons kom aan. Hy sal nou, nou vorm kry.”
Gert het die yster op die aambeeld. Die nuwe kole het gewerk. Die yster is mooi rooi . Hans slaan soos ʼn masjien. Die sweet spat tot teen ons. Gert draai en swaai.

Ons kyk. Ons sien. Die yster word platter en platter.
Ons sien ook, arme Hans raak klaar. Sy bors roggel. Sy arms word lam. Hy is papnat van die sweet.
Gert verhef sy stem:
“Pa, slaan pa, slaan harder.”
Hans slaan. Ek sien dit lyk of sy bene wil knak.
Gert is nou in ekstase:
“Pa, slaan die ding. Hel hom pa, dit lyk my hy wil ʼn graaf word!”



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Z
He he he, so blikslaerse byl wat wil graaf wees! Puik
8 jaar 7 maande 2 weke 6 dae oud


Maak my 'n byl
Jaaa! my kind , maak dan maar 'n graaf maar dit is 'n duur graaf die
8 jaar 7 maande 3 weke 7 ure oud



Treë na Innerlike Genesing

deur Leonard John Holmes

Hoe werk mens deur die verlies van ’n geliefde? Hoe hanteer jy die depressie, haat en selfverwyte op ’n jong ouderdom? Hoe vind jy God as jy Hom nog nooit persoonlik geken het nie?



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar