Die probleem het reeds begin as kind. Op nege-jarige leeftyd het ek een aand in my slaap 'n epileptiese aanval gekry. Dit was veroorsaak, so dink hulle, aan 'n tekort aan suurstof. Twee van my broers ek het 'n bed gedeel en ek as die jongste moes in die middel slaap. So het toe gekom dat ek een aand amper versmoor het.
Dit was egter nie die einde nie. In daardie dae (en selfs nou nog) was dit beskou as iets om nie oor te praat of te noem nie. Daar het 'n stigma aan gekleef en baie het geglo dat dit oordraagbaar is. Dus was die optrede van mense en veral die kinders baie wreed en ongevoelig.
Dit het my baie in opstand laat kom teen alles en almal wat dan ook veroorsaak het dat ek meer teruggetrokke geraak het. Aan die anderkant het ek die miskonsepsie gehad dat drank my sal help om in te pas by die ander jongmans. In 'n mate het dit wel gehelp, maar dit was meer in my dronkenskap as iets anders want dan het ek nie omgegee oor twak nie.
Sielkundig het dit my baie geaffekteer. Ek het my vergryp, gelukkig nie aan verdowingsmiddels nie, en vandag is ek 'n alkoholis. Al drink ek vir baie jare nie meer nie sal ek een bly tot ek sterf.
Die ommeswaai het gekom toe ek in 'n kliniek opgeneem is vir die waarneming. 'n Sielkundige met 'n dik bril, 'n bleddie sout . . . (ek sal eerder nie die volle woord gebruik nie, dit was ons benaming vir 'n Engelsman). Die ou het my bly bombardeer met vrae en nogmaals vrae.
Eendag, in my opstandigheid, sê ek toe vir die fokken ou om sy bek te hou sodat ek kan praat. Verder laat ek hom toe ook verstaan dat ek gaan praat en dat hy gaan luister. Die verstandhouding was dat ek alles gaan uitpak wat my pla en dat ek nie weer daaroor sal praat nie. Dit het ek toe gedoen ook en na ons gesprek het ek myself uit geboek en besluit dat ek nie weer daar sal beland nie
Die resultaat, daar het 'n groot ommeswaai in my uitkyk op die lewe gekom.
Nadat ek met hom gepraat het (en hier kom die les wat ek geleer het), het ek besluit dat die dinge nou in die verlede is en dat ek weier om verder met myself en my Here daaroor te baklei. DAT EK MY PROBLEEM AANVAAR! Dat ek die beste gaan maak daarvan en dat ek dit nooit as 'n verskoning in enige opsig sal gebruik nie.
Deur my probleem te aanvaar, het 'n ander mens na vore gekom. Ek was en is nie meer skaam om te sê ek kry epilepsie nie, ook nie om te erken dat ek 'n alkoholis is nie. Dit is swakhede in en van my samestelling as mens. Ek glo daar is 'n rede vir dit en dat dit 'n doel dien, miskien nie vir my nie maar dalk vir iemand anders om my.
Dus wat ek probeer om te sê is dat enige probleem oorkom kan word deur dit te AANVAAR vir wat dit is en die beste van 'n swak saak te maak. Dit is nie altyd maklik nie maar dit help om dit te verwerk en te oorwin.
Maar dan ook, 'n mens moet werk daaraan en dit volhou anders is dit nutteloos. Neem besluite wat positief is en bly daarby.
Neem asseblief die mense om jou in aanmerking, hulle het ook hulle geheime en probleme wat ons nie van weet nie. Ons aksies as mense kan hulle lewens verwoes, veral die van kinders. Dit affekteer hulle vir die res van hulle lewens. Dit weet ek baie goed, al het ek my probleme aanvaar affekteer dit my nou nog en moet ek by tye hard praat met myself.
Lees ander gorrelstukke deur Amaspoke Spoke
E-pos my as kommentaar gelewer word
Rapporteer foute/ongewenste inligting rakende die gorrelstuk
Stuur e-pos aan vriende aangaande hierdie gorrelstuk
Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae
FIKTIEWE VERHAAL WAT DIE ONGELYKHEDE VAN ONS VERLEDE EN HEDE BLOOTLê.
Baie dankie