Gorrel

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Alhoewel ek nooit twee-been kinders gebaar het nie, het ek wel 2 kinders. Net soos met menskinders, is my harerige kinders alles in my lewe. Hulle kom eerste. Hulle het my ewige trou en liefde, net soos wat ek hulle s’n het.

My oudste se naam is Cleo en sy is ‘n geel Labrador. Die jongste se naam is Jessie en sy is ‘n brindle Staffie. Die twee weet nie hulle is honde nie, en sal heel moontlik geskok wees as hulle dit sou uitvind. In hulle eie oë is hulle net harerige kinders wat nie klere dra nie.

As Cleo ‘n mens-kind was, sou sy die een wees wat haar skoolskoene by die skool sou vergeet. Sy sou party middae 3 ure nadat die skool gesluit het by die huis kom, omdat dinge langs die pad haar aandag afgetrek het. Cleo is altyd gelukkig. Vir haar is die lewe voorwaar ‘n lied. Etenstyd is die beste tyd van die dag en sy het geen fiemies nie. Jy kan haar enige iets gee om te eet en jy kan haar 20 keer per dag voer – sy is altyd honger. Sy is nou al 13 jaar oud en aan die einde van haar lewe, maar nog net so ‘n platjie soos die eerste dag wat sy by my kom bly het. As jy, byvoorbeeld, op ‘n stoel sit waarop sy wil sit, sal sy vreeslik by die hek gaan blaf. Sodra jy dan uitgaan om te gaan kyk wat aangaan, hardloop sy terug en gaan sit op die stoel, met ‘n groot glimlag op haar gesig.

Op 42kg is Cleo ‘n saggeaarde reus van ‘n Labrador. Elke mens wat kom kuier, kom kuier net vir haar. Maar dit het nou al 3 keer gebeur dat ek besef het sy sal alles doen om my lewe te beskerm. Drie keer het dit gebeur dat iemand op my eiendom gekom het, en sy kon sien dat my rug na hulle gedraai was. Dit het geklink soos ‘n leeu wat brul, en die volgende oomblik was die verskillende persone op hulle rug, met Cleo wat oor hulle staan. Die een was ‘n buurman vir wie sy baie lief is, maar hy het die fout gemaak om oor die heining te klim terwyl ek in die tuin gewerk het. Sy het nog nooit mens of dier gebyt nie, maar daardie brul en die groot tande wat vir jou grom, laat jou twee keer dink om kwaad te doen op ons erf.

Jessie is ‘n tipiese jongste kind. As sy ‘n menskind was sou sy stres oor haar toetspunte al kry sy nooit minder as 90% nie. Haar huiswerk sou altyd 2 dae vroeg klaar gewees het. Sy sou nooit laat wees vir enige iets nie. Reëls is baie belangrik vir Jessie. Sy het nog net ‘n hegte band gevorm met 3 mense en alle ander word beoordeel aan die hoeveelheid aandag wat hulle aan haar gee. Jy kan glad nie hard praat met haar of selfs met iemand anders in die huis raas nie. Dit lyk asof haar hart breek. Jy kan Jessie nie omkoop met eetgoed nie. Sy eet net wanneer sy honger is, en sy sal net eet waarvoor sy lus is. As sy, byvoorbeeld, nie lus is vir biltong nie, dan weier sy om dit te eet. Sy sal 2 dae sonder kos gaan as jy nie vir haar iets gee waarvan sy hou nie. Daarby gesê, sy is baie lief vir droë hondekos. Sedert die dag wat sy haar intrek geneem het – op net 5 wekies oud – kan jy maar haar bord kos voor haar neer sit, sy sit nie haar mond daaraan totdat jy vir haar gesê het sy mag maar eet nie. Ek weet nie waar sy dit geleer het nie – beslis nie by Cleo nie. Cleo se kos is op nog voordat Jessie begin eet, en dan sit sy met ‘n lang gesig en hartseer oë en kyk na Jessie se bord, asof sy 3 dae laas kos gehad het. Jessie wil ook elke dag groente hê. Dit het my ‘n rukkie geneem om uit te werk, want al is hulle my kinders, het hulle nooit leer Afrikaans praat nie.

Jess is my sielsgenoot. Sy weet presies wat ek dink en hoe ek voel. Soos ek, is sy ‘n kreatuur van gewoonte. Elke ding het sy plek en elke dag het sy dinge. Sy weet dat as ek sekere skoene aantrek, gaan ek werk toe, en gaan ek eers laatmiddag terug kom huis toe. Dan sak die ore terug en ek word met beskuldigende oë aangestaar. Ander skoene is meer gemaklik en is vir winkel toe gaan. Dan weet sy ekkom heelwat gouer terug, maar dis nogsteeds nie lekker nie. Die beste skoene is die plakkies of die pantoffels. Plakkies is vir tuinwerk of veldjie toe gaan – en dan weet sy sy gaan saam. Dit gaan gewoonlik gepaard met groot opgewondenheid en ‘n geblaf. Op ‘n manier vertel sy dan vir Cleo wat voorlê vir die dag, en Cleo raak net so opgewonde. Die pantoffels beteken ons bly vandag binne. Dan stap sy tv-kamer toe en gaan lê op die ruglening van die bank en maak seker dat geen skollies of katte naby die huis kom nie. Skollies en katte is ewe sleg en kry dieselfde behandeling.

Jess is ‘n saggeaarde meisietjie – klein en fyn en ‘n regte dametjie. Maar toe sy by ons kom bly het was dit ‘n ander storie. Sy was een van 9 babas en die ma was te jonk om kleintjies te hê, so hulle is baie vroeg van hulle ma af weggeneem. En sy was baie klein. Ons moes ‘n katbandjie met ‘n klokkie om haar nek sit. Maar hardegat! Op daardie stadium was daar 2 groot honde op die werf, en sy het kans gesien vir hulle altwee. Cleo was toe so 7 maande oud en het gedink die nuwe byvoegsel was die mooiste dingetjie wat sy nog gesien het. Sy het gedink ons het vir haar haar eie troeteldier gekoop. Cleo het vir Jessie rond gedra en heeldag met haar gespeel – soos wat sy vandag nog doen met al haar speelgoed.

My twee meisiekinders is alles in hulle ma se lewe. Met hulle verskillende persoonlikhede maak hulle elke dag vol liefde en geluk. Ek vertel elke dag vir hulle hoe lief ek vir hulle is en hoe bevoorreg ek is om sulke pragtige, slim kinders te hê. Iemand het eendag vir my gevra hoe ek dit reggekry het om die honde so mooi te leer, en die antwoord is eenvoudig: hulle het my so mooi geleer.

Voordat ek klaar maak, moet ek net een staaltjie van Jessie deel. Dit was baie maklik om vir Cleo te leer om nie haar toilet in die huis te doen nie. Binne 3 weke was sy heeltemal geleer en het ons geen glipsies in die huis gehad nie. Maar kleine Jess was nie so maklik nie. Alhoewel sy geweet het wat verkeerd was, het ons tot op 2 jaar nog partykeer glipsies in die huis gekry. Ek besluit toe om te maak soos wat jy met menskinders maak. Sy kry niks om te drink na 8uur in die aand nie en sy word uitgevat om te gaan piepie net voor sy gaan slaap. En wanneer ek haar dan in haar bed toe maak, vertel ek haar sy moet onthou om nie in die huis te piepie nie. Soggens vroeg dan stamp hulle teen die gangdeur en moes een van ons vir hulle gaan opmaak. Dan spring beide op die bed en raak dit ‘n yslike gestoei vir ‘n paar minute. Daarna gaan doen ek en Jessie “piepie-patrol”. Ons stap dan na al die plekkies waar sy gewoonlik ‘n glipsie kry. Julle moes die ou gesiggie sien. Sy kon nooit onthou of sy wel ‘n glipsie gehad het nie, so die stert word tussen die bene ingetrek en die ore is plat teen die kop wat amper op die grond sleep. En as daar dan geen glipsies is nie, klap ek hande en vertel vir haar hoe soet sy is en ek gee haar ‘n soen op haar voorkop. Dit het so 3 maande aangehou en ons het nooit weer glipsies gehad nie. Nou is Jessie al 13 jaar oud, en nog elke keer sedert sy 2 was, kry ek ‘n soen wanneer ek toilet toe gaan. Sodra ek gaan sit, staan sy teen my bene op en dan moet ek my gesig af buk sodat ek ‘n nat soen kan kry, want ek piepie nie op die vloer nie.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Harerige kinders
Dankie Z. Ja, ek noem hulle my kinders, maar ek glo 'n hond is 'n hond. Hulle word nie klere aangetrek nie en hulle eet meestal hondekos. Maar soos kinders, kom hulle eerste in my lewe en word op die meubels toe gelaat.
6 jaar 9 maande 2 weke 2 dae 19 ure oud


Z
Toe ek die storie begin lees en sien dit gaan oor honde wat kinders gemaak word, wou ek nie verder lees nie. Maar tog het jou vertelling my so geboei dat ek aanhou lees het.
En ek het daarvan gehou. Jy vertel die storie met speserye en kruie en laat regtig jou meisiekinders op twee bene voor my op en af paradeer. Goed gedoen.
6 jaar 9 maande 2 weke 2 dae 20 ure oud



Tong in die kies

deur Delene de Wet

My menswees: my blydskap, humor, nostalgie, ironie, walging en poppies uit pram gooi, en ja, natuurlik ook vuurwarm liefde in die vorm van kortverhale, gedigte, monoloë en briewe. Die boek is 'n gesprek met jou, die leser, want op die einde van die dag is ons eintlik almal besig met dieselfde avontuur in die soeke na oorlewing.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar