Gorrel

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende


Dit was só duidelik dat ek eintlik gewek is.
Helder wakker, my oë gevryf, ’n tweede keer gekyk, net seker gemaak; Dit was net ’n droom.

Nagdonker.
Dit lyk of dit effe gereën het. Die pikswart teerpad met dubbel witstreep maak ’n draai. Los klippe lê die wêreld vol bestrooi oor die pad.
Die groot passasiersbus lê op sy kant. Van die wiele aan die bo-kant draai-draai nog van die momentum.
Die hele toneel is omhul in ’n swanger stilte.
Eenkant lê die motorfiets op die sy met die liggaam van die bestuurder stil verskrompelend, op ’n hopie in die pad.
Sy valhelm rol-rol stadig na die kant van die pad

Ek sien die toneel voor my geestesoog duidelik. Ek kan dit nie verklaar nie. Sulke nagmerries is nie deel van my lewe nie. Dit het wel al baie kere in die verlede gebeur dat ek ʼn voorval raak droom.
Dat ek iets vooruit kan voel; Dit of dat, gaan gebeur.
Dit raak egter nie my lewe nie.

Ek het weer aan die slaap geraak en word gewek deur die lui van ’n foon.
Dit is Vroulief se foon, en ek hoor haar vakerige antwoord.
Buite begin die oggendstond met ondersteuning van die honderde voëls in die tuin se gesang, die nag verdryf.
Aan haar manier van praat, hoor ek sy praat met ons seun.

................................................

Hy het op die horison verskyn
Van wie weet waar, uit die mis, net verskyn.
ʼn Besondere persoon.
Saam met my seun by ’n plek begin werk as elektrisiën, maar ’n besondere bekwame elektrisiën.

Musiek is integrale deel van my familie se lewe. Elkeen van die kinders is ’n meester van ’n instrument.

Let wel.
Daar is twee soorte musikante.
Die een is besonders in die sin, hy kan op gehoor speel. Soms verskeie instrumente op gehoor speel. Die massa se voete laat jeuk. By die massa besondere agting afdwing. Heerlike musiek vir die massa maak.
Die ander een is tegnies; Hoog akademies in die instrument, musiekgeskiedenis, skryf van musiek, alles, opgelei met dekades van intensiewe opleiding agter die rug. Skryf eers die note neer, kan klanke uitken, hoor ’n verkeerde noot op veertien myl, het die oor vir ware musiek, stap uit die grootste ‘meester’ se opvoering:
“Hy weet niks van musiek af nie!”

Dus; Kritikus by uitstek.
Dit is my drie kinders – in hulle binnekamers.

Om die partytjie egter aan die gang te sit, kan hulle ook maar die instrumente slaan en die voete laat jeuk.
Vrolikheid is ’n instelling, ’n reël, ’n tradisie.
Sommer net gemaklike partytjie hou, ongeorganiseerd, pretensieloos.

Só daag hy op met ’n stel tromme in my seun se musiek ateljee.
“Pa, ontmoet vir Yster, Yster de Villiers. Hy is van hier af die perkussie man.”

Yster se aansluiting bring vernuwing in die populêre manier van partytjie musiek maak.
Saam word liedjies geskryf, gedigte getoonset en gespeel by talle geleenthede, samekomste en feeste.

Weerlê my stelling:

Alle ware kunstenaars het een of ander afwyking!
Afwykings soos:
Maniese sensitiwiteit.
Maniese obsessies
Totale afwesigheid van stabiliteit in enige opsig.
Eindelose onbereikbare drome.
Baie min deursettings vermoë.
En nog vele meer waarvoor ek nie die regte benaming het nie, maar wat ek binne minute in sy oë sal diagnoseer.
Maar meeste is met die kop te doen.
Dan die klassieke : “Eie ek!”
Ek is die beste. Net ek ken van. Net ek weet van. Net ek....., want ek is die meester....
Hierdie dinge maak dit half onmoontlik vir ’n groep musikante om bymekaar te bly, mekaar te ondersteun en die groepsverband te handhaaf en behou.

Elkeen is ’n Kunstenaar op sy eie, met ’n wil, keuse, emosie, neiging, afwyking, bate, laste en frustrasie, waaraan geen salf te smeer is nie.

Daarom is ek onsettend dankbaar dat ek wel ’n paar opnames in bewaring het van oorspronklike eie werke.


Ek kry my sessies met Yster in. Ek lees sy oë. Ek lees sy kop. Ek het rede vir my ontleding. Ek het rede vir my nuuskierigheid. Die man is ’n kunstenaar by uitstek maar het ’n kopfout.

Trom spelers sal verstaan; Yster slaan slegs ‘rim shots’.
In leke taal, hy slaan nie die vel van die trom nie, maar wel die yster band wat die vel om die trom vastrek.

Ek maak trom stokke. Ek maak dit presisie op die draaibank en weeg dit met ’n sensitiewe skaal, só sensitief, dit kan die gewig van een haar op jou kop weeg.
Trom spelers is ontsettend sensitief en krities oor die stokke waarmee hulle speel.


Wat ek wil vertel, is my verontwaardiging omdat Yster die stokke wat ek met sóveel sorg maak, flenters neuk op die staal rand van die tromme.

Ek diagnoseer ingehoue, opgekropte emosie – woede.
Suiwer, baar, rou, onvergeeflik, sy hele gemoed, hele wese, tot barstens toe gevul met...
Woede!

.........................................

Ek sluit aan by Woes. Ek sit ook maar nes al die ander, dit wat deur my kop gaan, op papier.
Dan blaai ek deur Woes en ek lees.
Ek sien die bydraes wat die bydraers indien, Ek sien dit as ’n verhaal wat hy wil vertel.
Baie kere kom die boodskap nie tot my deur nie, dan wonder ek wat dit is wat die skrywer genoodsaak het om te skryf.
Om swart op wit te verewig dit wat in sy gemoed omgaan.

My oog vang ’n bydraer se skrywersnaam.
Bydraers kies hul skrywersname met voorbedagte rade.
Ek kou aan hierdie bydraer se naam, skuif dit soos ’n pruimpie van kies na kies, spuug die suur sous uit en wonder, antwoordloos, steeds.
Ek lees die gedig en sonder om te kan verklaar, is dit asof ek ’n koppeling kry

Om ’n braaivleis vuur een aand, terwyl die res van die feesgangers hulle ding doen, sit ek en hy alleen en ek steek die sweer oop en die etter vloei uit.
Die ou-ou storie.
Goeie huwelik. Drie pragtige kinders. Uitstekende besigheid en sy vrou se kop haak finansieel heeltemal uit.
Hy het die grond waarop sy loop aanbid en haar vrye teuels gegee.
Die uiteinde was bankrotskap.

Wat werklik gebeur het, weet ek nie presies nie. Ek weet net hy het met sy drie kinders hier beland en sy persoonlike lewe het op die ashoop gebly.

Ek wou nie verder krap aan die wond nie en ’n stilte daal tussen ons neer.
Ongevraagd en uit die bloute, noem hy Woes en van my bydraes en vra waarom ek nie my hand aan gedigte ook sit nie.
Ek het die belangstelling en navraag nie verwag nie en antwoord sy vraag met ’n teen vraag.
“Yster, kuier jy dan ook op Woes?”

Hy antwoord my nie dadelik nie. Ek sien die stokkie in sy hand en sy krap-krap in die kole .
Sy stem kom asof van baie vêr af; Sy oë op die stokkie wat met die kole speel:
“Willem, ek kan nie ophou huil nie.
Ek kan nie vrede in my hart kry nie.
Ek het al ’n paar keer op Woes gehuil.
Soms klim ek op my motorfiets, vat die lang pad en spoed my woede, hartseer en verlies in ’n geveg met die wind, weer en natuur uit.

My onverstaanbaarheid oor die weë van die lewe.

Ons het daarna baie gesprekke gevoer oor die lewe, oor skryf, oor dit wat met die lewende taal bereik kan word.

..........................................

Ek hoor aan vroulief se stem haar ontsteltenis.
Ek wag dat sy moet afsluit en wag vir die verduideliking.
Dit maak my regop sit op die bed.
Ek sien die simboliek van my droom duidelik voor my afspeel..

Die Reisiger het laasnag in sy slaap op sy laaste reis vertrek.
Hy was jonk, net oor die 40. Hartaanval.

Woestelinge kan nie sterf nie. Hulle pass net uit.
Want hulle laat agter.
Hulle laat agter vir ons om aan te kou.
Hulle vreugde, verdriet, eensaamheid en verlies.

Die geskrewe woord is ’n onbreekbare band.
Vir my persoonlik en ook vir Woes, het ’n baie seldsame Roos net geknak

Hy laat egter drie steggies van hartseer, versugting en woede agter:
My vriend
As jy maar weet
Wat.

My dank aan Willem van Woes.
Woes is die Web Werf met die onverganklike.
Aan jou, Die Reisiger, voorspoed en alle heil.
Dit was ’n eer om jou te ken en uit jou onpeilbare dieptes te leer en te put.

In naam: Jean de Villiers.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

ROOS
Diep, baie baie diep! Pragtig geskryf ou Wolfie!
8 jaar 6 maande 6 dae 6 ure oud


'n Roos het beknak
So gevoelvol oorgedra! "Hulle laat agter vir ons om aan te kou." - hier laat jy ook 'n pragtige erfenis na.
8 jaar 6 maande 1 week 5 dae 12 ure oud


Roos
Ruk ons t'rug na nou toe.
Waardeer, bemin, Sè DIT. NOU.
8 jaar 6 maande 1 week 5 dae 13 ure oud


'n Roos val
Baie hartseer nuus op 'n gevoelvolle wyse oorgebring, Willie!
8 jaar 6 maande 2 weke 2 ure oud


-
Wat 'n hartseer, maar wonderlike manier om sy "legacy" te herdenk met jou skrywe.

8 jaar 6 maande 2 weke 1 dag 7 ure oud


Tragies
Die lewe Willie is soms nie lekker nie! Dankie vir jou raakvat skrywe en diep menslike vertelling.
8 jaar 6 maande 2 weke 1 dag 9 ure oud



Voedsel vir die Siel

deur Snuffelgids

Hierdie digbundel is Voedsel vir die Siel. Dit bevat elke emosie se leemtes en na die lees voed dit jou tot in die dieptes van jou siel. Geen emosionele leemtes sal ooit weer kop uit steek nie.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar