Gorrel

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

22 Sept. 2013

Liewe Baas en Nooi

Ek wil myself voorstel. Ek is die nuutste toevoeging tot die Smith familie. My naam is Nonnie, en ek is ʼn Labrador. Ek is goudkleurig en baie mooi, al sê ek dit self.

Ek is op Jacobsdal gebore en toe het daardie mense my aan die Smitte van die plaas Voorspoed verkoop. Ek was nogal duur. Ek bly lekker hier. Ek doen baie dinge. Ek is baie lief daarvoor om my kosbak te kou. Ek sien Baas Kobus hou nie daarvan nie, maar dit is tog te lekker vir my. Ek het al twee plastiek emmers en ‘n gieter stukkend gekou. Ek het gedink ek presteer, maar dit lyk nie vir my die baas sien dit so nie. Ek dra ook ons komberse rond op die grasperk.. Hulle tel dit elke oggend op en sit dit weer op die plek waar dit was. Ek blaf nog nie veel nie want ek weet nie wanneer is ek veronderstel om te blaf nie. Daarom blaf ek maar vir die katte. Toe ek hier kom en die eerste keer vir die katte blaf het hulle weggehardloop. Maar nou sien ek hulle kyk my net so aan en bly sit. As ek nader gaan en in hulle ore probeer blaf wys hulle hul naels vir my en probeer my krap. Een het dit reggekry, nou is ek maar versigtig.

Verder bring ek my tyd deur om die voëltjies te jaag. Of enige iets anders wat beweeg, soos die kalwers in die oggend as hulle dit verby bring stal toe. Ek terg ook vir die ander hond , Sjiewas. Sy is snaaks, sy loop so mank en gaan sit so bietjies-bietjies. Dit lyk asof Baas Kobus en die nooi jammer vir haar is oor sy oud is. Ek weet nie hoekom nie. Maar ek gaan een van die dae die baas van die plaas wees. Ek gaan my blaf baie oefen. Ook my knor. Dit sal vreeswekkend wees.

Ek het raas gekry toe ek die Baas se braaihout uit die sak gekrap en op die grasperk rond gedra het. Waarom hy kwaad was weet ek nie. Ek het hom met sulke klein-hondjie oë gekyk, so asof ek wou huil, toe is hy nie meer kwaad nie. Maar wat hy niks van hou nie is wanneer ek ʼn sekere ding op sy grasperk doen. Dan roep hy die werkers om dit met ʼn graaf op te tel. Hy wil nie self nie. Maar ek hou van die grasperk. Daarom doen ek dit daar. Vanoggend het ek gehoor hy praat van “die bleddie hond”.

Ek gaan by my baas se dogter Carin bly as my mense in September by hulle ander dogter Linda gaan kuier in die Kaap. Carin hou van my, maar Kevin sê ek is Boelie-kos. Wat beteken dit? Boelie is hulle Bulldog .Ek sal seker lekker daar speel met my baas se kleinkinders. Daar is ook groot grasperke waar ek kan baljaar en ook die ding op kan doen wat my Baas so ontstel.

Eendag het die nooi my na die Veearts geneem vir inspuitings. Met die terugkom sê die Veearts ek moet agter in die bakkie ry want ek sal dalk kots, wat dit ook al beteken. Hy het die venster so effens oop gelos. Toe ons so ʼn ent gery het besluit ek, ek wil voor sit en skuif toe die venster met my neus oop en spring uit. Maar sjoe, ek het hard geval. My wind was skoon uit. My Nooi het in die spieël gekyk en sien toe ek is nie meer agter in nie, en hou toe stil. Ek het uit die gras gekom en na haar geloop. Sy was baie bly om my te sien en het my toe voor toegelaat. Toe ons by die huis kom sien die Baas ek het twee hopies goed vir hom agter in die bakkie gelos. Hy was ontsteld en het gesê ek sal in die volgende 100 jaar nie weer in sy bakkie ry nie, hoekom verstaan ek nie. Hy het weer die “bleddie hond” woorde gebruik ook.

Daar was jagters hier wat Springbok geskiet en ʼn hele hoop bene en koppe hier gelos het. Ek het te lekker baljaar met dit en het dit oor die grasperk gestrooi.. Die Baas het vanoggend vir Jan gesê om op te ruim. Jan het my so snaaks gekyk, asof ek dit nie moes gedoen het nie. Hulle sal moet oppas, ek gaan regeer hier sodra ek groot is en dan mag hulle nie meer so na my kyk nie.

Julle moet ook hier kom kuier, ek weet ek sal van julle hou, ons is mos nou familie. Ek weet net nie of julle sal toelaat dat ek op die bed by julle slaap nie. Maar dit sal baie lekker wees. My baas wil dit ongelukkig nie toelaat nie. Hy sê honde hoort buite.

Met hartlike hondegroete


Nonnie.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

:-))
Ek het die een baie geniet!
Perfekte dagboek van 'n slim jong hond..
5 jaar 9 maande 2 weke 5 dae 5 ure oud


--
Ek kan myself nie 'n dag voorstel sonder my honde nie. Dis g'n my verbeelding nie maar wanneer ek die dag laf voel dan voel hulle net so, wanneer ek die dag af voel dan hang daai ore behoorlik hoor!

Nonnie se brief is !Beautiful! Dankie dat jy dit met ons Woesters gedeel het.
6 jaar 3 maande 4 ure oud


Nonnie
Man ek het nou so lekker aan Nonnie se brief gelees ek kon sweer ek het 'n hondestem hoor praat. Sy gaan nog 'n ereplek op die werf inneem.
6 jaar 4 maande 4 weke 1 dag 7 ure oud


Ano
Nonnie
Dit klink so heerlik bekend! :-) en tog so baie lekker om 'n jong hond met te veel energie te wees. Mag julle soveel vreugde uit haar put soos wat Guppy vir my bring. Elke dag saam met haar bly 'n avontuur, of sal ek se, never a dull moment!
6 jaar 5 maande 1 dag 9 ure oud


Tja, liewe Nonnie
taamlik presies so het ek baie dinge gesien. Maar tot jy baas van die plaas is, is 'n lang trek na vore.

Jy't natuurlik iemand nodig wat bietjie ouer en en ervare is om jou dinge by te bring, touwys te maak. Soos by my en Sjerrie. Miskien is Boelie die regte vir jou. Laat weet hoe dit gaan wanneer jy van die Boelievakansie terugkom - AS jy van die Boelievakansie terugkom.

As ek kan, help ek jou met raad maar nie daad nie. Ek's mos al lankal dood. Dit maak nie saak nie want ons is anders as die mense, en ons kom oor ander paaie in verbinding. As laaste wou ek net sê: bly altyd voor in die span: Jy moet die hele klomp aan jou leisel agterna TREK, anders gaan jy in die mengelmoes versak.

Ore styf hoor,
Ounooi Lara
6 jaar 5 maande 2 dae 6 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :

Van ons ander lede

vir koeitjies en kalfies

deur Doret Johnstone-Robertson

'n Lekkerleesboek met kort stories vol liefde, spesiaal vir vrouens en kinders.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar