Gorrel

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Goeie dag almal,
Vir die wat my nog nie ken nie wil ek eers myself aan u voorstel.
Ek is Nonnie , ʼn goudkleurige Labrador en ek is die hoof waghond op ons plaas Voorspoed in die Noord Kaap, naby Hopetown. Ek is baas hier want ek beskerm my baas en die nooi. Die werkers weet ek is kwaai want hulle lol nie met my nie. Ek het julle mos vertel dat hulle net nie daarvan hou as ek my ding op die grasperk doen nie want hulle moet dit elke oggend optel. My baas het gesê as hy eendag in ʼn landmyn trap is ek “tickets”. Ek weet nie juis wat dit beteken nie, maar ek dink dis groot moeilikheid vir my seker. Hy is baie kwaai met my want hy sê die nooi bederf my tot in die afgrond. Sy laat my toe om in die huis te kom, soos gisteraand. Toe hy my sien sê hy, hy kan nie eers 7de Laan in vrede kyk nie. Maar die nooi sê dis koud buite en honde kry ook koud. Dan gaan lê ek by haar voete.
Gedurende Junie maand het my baas ʼn hartaanval gehad. Hy het daarna nooit heeltemal herstel nie, en drie weke gelede het hy skielik weer baie siek geword en is hospitaal toe. Die dokter sê hy was amper dood. Dit was baie amper. Honde kan ook huil en ek het baie gehuil, al is hy so kwaai met my. Dit sou nie dieselfde gewees het as hy nie weer terug gekom het nie. Een van die werkers het ook gehuil toe hulle die dag ry Bloemfontein toe. Die nooi het baie mooi na hom gekyk. Sy was elke dag by hom vir die 10 dae wat hy in die hospitaal was, en hier by die huis moet hy luister wat sy sê. Sy het vir hom ʼn kierie gegee en gesê sy wil hom nooit sonder die kierie sien nie. Hulle dogter Carin het ook gesê dit sal onverantwoordelik wees as hy dit nie gebruik nie. Ek weet nie wat daardie groot woord beteken nie, maar dit klink ernstig. Na die siekte het hy baie lomp geword en val baie maklik as sy voete aan iets haak. Hy het eenkeer so hard geval dat sy kop gebloei het en moes hy steke kry. Nou help die kierie dat hy nie so maklik val nie. Ek dink hy is skaam vir die kierie. Hy sê kieries is vir oumense. Toe lag die nooi want hy is al 80, en dis mos al oud. Maar hy wil nog boer en luister nie mooi na die nooi nie.
Ek kry baie raas. Soos gisteraand. Daar was ʼn ystervark wat die blombolle in die nooi se tuin probeer uitgrawe het en ek het vir hom geblaf, baie. Toe maak die baas die deur oop en raas met my. Hy het nie die ystervark gesien nie anders sou hy bly gewees het. Ek het eenkeer met ʼn ystervark gestoei toe steek daar penne in my gesig. Dit was baie seer. maar toe trek die baas die penne uit. Hy het lekker gelag toe hy my sien. Nou blaf ek net vir hulle. Ek laat my nie twee keer vang nie.
Ons gaan een van die dae dorp toe trek. Ek wonder wat gaan dan gebeur. Die baas sê ek sal die bure hinder as ek so baie blaf. Maar ek moet mos blaf om die skelms weg te hou. Die nooi sê sy trek nie sonder my nie, so ek is veilig. Hier blaf ek vir die dassies in die randjie, en die ganse as hulle op die werf kom. Die katte verjaag ek ook elke dag. Hulle is bang vir my. Hier is ook baie tarentale en meerkatte wat ek gereeld jaag. Maar ek is lief vir die hanslammers. Hulle is te oulik.
Dis etenstyd en ek moet nou eers my kos gaan beskerm, anders eet die katte dit. Volgende keer vertel ek julle van my baas se probleme met ongediertes hier op die plaas.
Hartlike hondegroete aan julle almal by Woes , en ek hoop julle lees lekker aan my briewe.
Nonnie.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Aan Nonnie
Liewe kollega,
ek ken jou smart en vreug, want ek moet op netsulkes oppas wie jy.
Hete, wat sou uit hulle word as ons te sterwe moet kom?
Hopeloos opgeskeep.
Noordlandse groete van Lara.
5 jaar 4 maande 3 weke 1 dag 18 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :

Van ons ander lede

Die Storie agter die Storie

deur Christo Nel

'n Bybelse dagboek waarmee jy in 'n halfjaar se tyd dwarsdeur die hele Nuwe Testament, sy verhaal en "nuwe wyn-waarhede" kan werk.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar