Gorrel

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Goeie dag aan al my vriende by Woes.

Ek wou al eerder skryf, maar hier het so baie dinge gebeur dat ek net nie daarby uitgekom het nie. Ja, ons honde is mos ook besig, net soos mense. Net anders besig.
Ek was so bly toe Lara van Oom Toom vir my geskryf het. Sjoe, dit het omtrent my dag gemaak om te weet daar is honde-woesters wat van my weet. Ons honde verstaan mekaar. Ek het ook vir Guppie van oom Ano ontmoet.

Dit was omtrent ʼn gewoel die laaste tyd. Die oubaas het uiteindelik besluit om dorp toe trek. Maar dit was nou vir jou ʼn yslike taak hoor. Ek het elke dag gesien hoe hulle pak, en pak, en pak. Dit wou net nie einde kry nie. En Kla! Julle sal nie glo hoe het die oubaas gekla oor al die gemors wat hulle opgegaar het nie. Hy sê aanhoudend vir die nooi dat as mens iets in ses maande se tyd nie nodig het nie moet dit weggegooi word. Sy stem nie saam nie. Sy bêre alles. Toe hy haar ʼn stukkende blompot wys wat in die spens was sê sy dit was dan so ʼn mooi potjie. Hy het maar net sy kop geskud. Maar intussen het hy maar net so baie gemors gehad. Hy het gepak vir ʼn vale. Hy het sy horlosie versameling in teekaste verpak. Hy is baie heilig op hulle. Ek het alles dopgehou en besef daar gaan nog lang trane gehuil word oor die trekkery na die dorp.
Ek en Jamie het angstig gewag vir die trek om te gebeur want ons het nog nie die huis op die dorp gesien nie. Maar dit het gelyk of die pakkery net nie end kan kry nie. Ons het maar op die grasperk gelê en dinge dopgehou. Kort-kort gaan haal die baas nog ʼn karton, en dan brom hy van “geen einde aan al die gemors nie”
En toe uiteindelik hoor ek die vervoerwa kom die volgende dag. Ek het omtrent nie geslaap nie van opgewondenheid. Ek het vir oulaas vir die springhase en ystervarke wat snags kom wei geblaf en dit baie geniet. Hulle sal seker bly wees as ek weg is want ek het hulle baie gehinder as hulle in die tuin wou kom eet.

Dit het omtrent die hele oggend gevat om die vragmotor en die sleepwa te laai. Die oubaas het vir die wat laai gesê hy voeter die een wat sy goed verniel. Toe hulle klaar is wonder ek waar gaan hulle ons laai, die trok is dan al vol. En dit was nie lank nie toe ry hulle. Die nooi het na ons gekom en gesê ons moet soet wees. Sy het gehuil. Die volgende oomblik ry hulle ook met die kar en die bakkie, en al twee is ook vol gelaai. Ek en Jamie het verslae staan en kyk, ons kon nie verstaan nie. Wat dan van ons, trek ons dan nie saam nie? Toe huil ons ook.

Ons was vir drie dae alleen op die plaas. Die werkers het vir ons kos en water gegee, ook melk as hulle in die oggend klaar gemelk het. Maar ons het baie verlang na ons mense. En die derde dag sien ons skielik die bakkie aankom. Sjoe, maar ons was bly. Ons het op en af gespring van blydskap en baie geblaf. Die oubaas wou my agter in tel, maar ek spring toe sommer self in. Ek was te bang hulle ry weer sonder ons. Eers het hulle twee lank na alles om die werf staan en kyk. Ek het hulle jammer gekry want ek kon sien hulle neem swaar afskeid. Ons ook.

Toe ons by die dorp kom sien ons die eerste keer die huis met ʼn muur rondom. Sjoe, maar dit lyk anders as die plaas. Hulle maak toe die hek oop en ry in. Ek laat mos nie op my wag nie en toe hy die bakkie agter oopmaak spring ek uit en hardloop na die nooi toe. En woeps, daar val ek in die swembad, en ek kan nie swem nie. Die oubaas sê ek is te vet om te swem want die nooi gee my te veel kos. Maar hy help my toe uit, anders weet ek nie wat sou gebeur het nie. Ek was baie bang. Ek het nog nooit ʼn swembad gesien nie.

Ek en Jamie het die tuin ondersoek. Dis groot, maar nie soos die plaas nie. Ek ruik nie ystervark of springhase hier nie. Hier is ook nie hanslammers of hoenders wat ek kan jaag nie. Dit sal maar vervelig wees. Dankie tog hier is nie ganse nie want hulle byt seer. As ek nou blaf maak die oubaas my stil. Hy sê ek hinder die bure. Maar ek moet mos die skelms laat weet ek is hier op wag, en dat ek die vreeslose waghond is, al is ek oud.

Dis mos nou somer, nou hinder my winterjas my en moet ek die los hare uitkrap. Maar die oubaas word kwaad as ek dit by die lapa doen, dan vat hy ʼn besem en vee dit weg. Hy sê hy skaam hom dood as daar kuiermense kom en my hare lê oral rond. Hy lyk snaaks met ʼn besem in die hand. Dan moet julle hoor watter name noem hy my. Hy het vir die tuinwerker gesê hy moet twee keer ʼn dag daar vee, hy wil nie weer hare sien nie. So asof my hare nie mooi skoon is nie. Die wind waai dit soms in die swembad, en dit is genoeg vir hom om ʼn gasket te blaas, soos die nooi dit noem. Sy keer altyd.

Ons almal verlang na die plaas. Die oubaas hulle het veertig jaar daar gebly. As hulle van die plaas praat huil die nooi sommer gou-gou. Ek ook. Die oubaas kyk dan weg. Ek dink hy wil ook dan huil maar steek dit weg.

Nou groet ek eers. Groete aan julle almal by woes, ek glo julle het ook honde. Ek wens ek het almal geken. Tot nou ken ek net vir Lara en Guppie. Groete vir hulle.

Met opregte hondegroete.

Nonnie





Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Nonnie 4
wat n hartroerende hondebriefie... ja so n trek vat diep aan n mens (en dier!) ... heerlik gelees dankie!
4 jaar 3 maande 1 week 3 dae 5 ure oud


Z
Ek het hierdie brief geniet.
4 jaar 3 maande 1 week 3 dae 6 ure oud


Nonnie . . .
dit was 'n heerlike leestukkie ~ baie dankie!
4 jaar 3 maande 1 week 3 dae 15 ure oud


Hondebriefie
Liewe Nonnie, ek het jou geselsbriefie baie geniet en my trane loop so tuusen die lees deur. Ek is 'n mens soos jou basie en ek trek ook vandag, soos wat hulle getrek het. Ek woon egter in 'n kothuis op 'n erf en hier is twee honde, Hanna en Caster. Sy is vernoem na Caster Symenya. Die twee het baie geheg geraak aan my en nou moet ek hulle verlaat. My trane gaan sommer nou-nou vloei.

Die huiseienaar het gister die huis verkoop en hulle gaan nou oorsee. Nou moet Hanna en Caster veearts toe gaan. Bid saam met my dat hulle nuwe huise kry.

Groete en geniet jou nuwe tuiste.
4 jaar 3 maande 1 week 4 dae 8 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :

Van ons ander lede

Buffelshoek se nuwe stasiemeester

deur neels claasen

n Spoorwegroman oor die lewe op die buitestasies in die sestiger en sewentiger jare



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar