Gorrel

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Dit is nou al bekend dat ek ‘n swak geskiedenis het van hierdie fasset van kindwees.
Nogtans onthou ek insidente. Om een of ander onverklaarbare rede, was ek en insidente altyd bymekaar.
Ek onthou niks van iets soos ‘n ‘eerste dag’ of die grade deel van die skool nie. Ouers het jou g’n ‘skooltoe gevat’ nie. Jy gaan skool of die Lammervanger laai jou in daai swart ‘Van’ van hom en dan is jou ouers en jy in die moeilikheid.
Die Lammervangers was Staats aangestelde manne met wrede kloue wat jou aan die broek se gat en agter die nek gryp en in die ‘Van’ boender.
Dus, moenie gevang word as jy skool slip nie.

Ons het op Rayton in ou Champion ( van Windpomp faam) se groot Gastehuis se kamers gebly. Daar was nog ander mense ook wat daar gebly het asook drie van my Moeder se ongetroude Susters (Verskriklike mooi Nôiens)
Later val een van die plaasvoorman-huise oop en die lot vanTonders en familie kon toe daarin trek. Ek glo dit was op ou Champion se dogter, Miesies de Jager, wat die melkery hanteer het, se aanbeveling; dan was ek klipgooi van die melkstalle af en kon ek beter help.
Ek kon koeie melk voordat ek kon skoolgaan en ek en Miesies de Jager was groot pelle.

Wel die staptog na die bus wat dorptoe gaan – vir ma, pa en ma se susters om te gaan werk, het om vyf uur in die oggend begin. Dit was een en ‘n half uur se stap tot by die bus en die bus het nog ‘n driekwart uur gery terminus toe waar die groot mense afklim.
Ons kinders stap verder om sewe uur by Generaal de Wet skool te wees. Die skool kom een uur uit en ons stap terug huistoe ongeveer twee en ‘n half uur lank.
Al wat ek van die skool onthou was twee insidente.
Die skoolstoep het so ‘n hout-tralie heining om gehad wat keer dat kinders mekaar van die hoog stoep kon afstamp. Aap wat ek is, druk ek my kop een speeltyd deur die tralies en daar sit my kop vas. Dit was een helske gedoente om my kop – gesmeer met botter en kaster olie en wie weet wat nog vir glad kry, daar uit te kry.
My skree was meer uit vrees vir die Hoof se dreigiment om my ore af te sny , in plaas van een van die paaltjies.

Dan die Boelie. Die skoolboelie was so ‘n groot vet kind. Sy pret is om by die hek te wag en soos die kinders die skoolgrond verlaat, kies hy elke dag een of twee kinders om lekker op te donner. Blou oog en bloedbek!
Ek was ongeveer in standerd een toe hy my kies en hy neuk my goed op. My suster, toe in standerd vyf en boetie in standerd drie is op die dag effe vooruit en weet van niks.
Teen die tyd dat ek hulle huil-huil inhaal, is boeilie natuurlik al vêr weg.
Die volgende dag wag suster Ria by die hek en ek staan kordaat langs haar. Boelie kom aan en soek skoor met weer ‘n ander arme kind en suster stap hom nader:
“Hoekom het jy vir Willem geslaan ?”
Boelie wil nog iets sê en kyk haar verby na waar ek by die hek staan. Suster het haar rugboeksak aan die twee kruisbande vas en wag nie vir ‘n antwoord nie , maar slinger-sling die boeksak en tref boeilie teen die kop. Boelie skuif oor die Aarde en bly lê – uit soos ‘n kêrs.
Ria was nie in die moeilikheid nie, die onderwysers het geweet iemand gaan boelie nog eendag regsien en boelie het nooit weer aan ‘n kind geslaan nie maar weg gebly totdat almal die gronde verlaat het, uit naakte vrees vir Ria. Daarna was sy natuurlik die skool se heldin!

Aan die einde van standerd drie, kry my pa ‘n Staatshuis in Wilgehof en die naaste skool is Dr. Viljoen skool – eintlik bedoel vir Ons Kinderhuis se kinders.
Al Debbo se pa het ‘n winkel, Debbo’s, onderkant die skool gehad. Ons het so nou en dan van sy hoenders agter die winkel in sy woonerf gesteel en voor by die toonbank weer aan oom Debbo verkoop, in ruil vir van daardie lang gekleurde lekkers in die bottels.
Vandag weet ek dat oom Debbo net goed van hart was vir die weeskinders en hy het maar saam gespeel vir ‘n lekkertjie of twee drie.
Grootoog Al Debbo self was toe so ‘n jong seun en alreeds uit die skool en hy het vir sy pa agter die toonbank gehelp en ons kinders vermaak.

In daardie Dr Viljoen skool was ek drie jaar in standerd vier en het uiteindelik gepass toe ek die Hoof se seun kon afleer hakkel, en het Moeder in vennootskap met dronk van Wyk van Ventura kafee gegaan.
Ma se oudste suster en ook die mooiste een, tannie Nella, het vir oom John Verwey getrou – dertig jaar ouer as sy en hy was ‘n skrynwerker en het op pad lughawe toe op ‘n plot gebly. Ek het standerd vier by hom en Ventura kafee deurgebring en my liefde vir hout van hom gekry.

Die derde drama / insident van Dr. Viljoenskool was Aubrey Parsons. Ek en hy was groot pelle want hy kon sing en ek het geblink in toneel spel en ons was die clowns van Dr. Viljoenskool en ek het daar my eerste les van die lewe gekry: Dood.
Alles was deel van my lewe net nie dood nie – mensedood nie.
Aubrey het vallende siekte gekry en ek was altyd by. Op my knieë by om toe te sien dat sy lugweg oop bly ( Die verskriklikste bolle skuim word uit die mond gepasser saam met die stuiptrekkings.)
Maar ek is by en sien toe dat hy gemaklik is en maak skoon met my hemp – wat ek later sommer onder die kraan uitspoel en weer net so nat aantrek.
Ek was nie altyd by Aubrey nie. Ek was nie by sy huis saam met hom nie. Die Here wou my dit spaar toe HY vir Aubrey na ‘n beter lewe toe vat. Aubrey het die aand in die bad ‘n aanval gekry. Meneer Weitz het my die oggend kantoor toe geroep en my hande in syne geneem en my reguit in die oë gekyk.
Ek het my stukkende lyf en flenter gemoed plot toe, na Oom John Verwey se werkswinkel toe gesleep en vir drie dae daar gebly.

Intussen bou hulle van Asbes die Wilgehof laerskool en dit nogal skuins oorkant ons huis en Meneer Piet du Plooy, ( Moeder was ‘n du Plooy) is die hoof en hy is so ‘n vêraf neef van Moeder en ek vat standerd vyf aan Wilgehof Laerskool.(Vandag is dit Jim Fouché.)
Ventura kafee, huishouding vir sewe kinders – later kom ‘n laatlam sussie by wat ek moes grootmaak van doeke af, word alles deel van my lewe.
Ek en moeder het baie kalm oor die ding gepraat en haar verweer was dat my Pa geglo het die Here sal vir die arm gesin sorg.’n Vrou het geen seggenskap of verweer teen die dominansie van ‘n growwe pa gehad nie. Ma het net aanbeveel ons plant groente want die Here sal regtig die reën stuur en ons twee werk hard.
Pa ry Maandag oggend Basoetoeland toe. Dit was ‘n Britse Protektoraat onder SA beheer en pa was die polisieman wat wet en orde gehandhaaf het. Hy kom Vrydag terug en weet nie dat ek nie baie skoolgaan nie. Hy was tevrede dat sy geloof werk .
Die huis is dan aan die kant, die agt kinders eet dik en waaroor worry julle – Die Here sorg!

Nou moet die eerste een Universiteit toe, Ria is ook op pad en die broer ouers as ek gaan Tegniese Kollege toe en van Wyk suip Ventura se winste uit en die fondasie kry finansiële krake want die Here se aandag word deur baie arm mense in beslag geneem en einde standerd ses verlaat ek skool en gaan werk as arbeider op die Spoorweg om te help met die studies, eet en leef van sewe ander kinders.
Wilgehof laerskool het een insident gehad. Die sang juffrou het floutes gekry. Dit was nie vallende siekte nie want sy het nie geskuim en gespartel nie. Sy het gewankel, ge vat-vat na vashou plek en dan soos ‘n os neergeslaan.
Dit was net toe ons die klas na die sangles verlaat toe ek omkyk en sien sy waggel. Ek was nooit kind nie en het wêreldwys grootgeword. Ek vlie om en gryp haar. Onthou, ek was al ‘n groot boerseun van 17 jaar oud en fris en sterk met hare op die wange.
Met Aubrey het ek geleer wat is noodsaaklik. Omstanders moet wegstaan want sy moet lug en wind kry en ek lê haar gemaklik neer en maak die stywe toeknoop rok bo los sodat sy kan asem kry en ek maak wyd oop en kom nie agter nie.
My Ma het geborsvoed aan die laatlam terwyl ek haar ingroei toonnaels knip. Borste was nie vir my snaaks nie. In my lewe is nie plek vir geetelike sieknes nie.
Dit is net Meneer du Plooy wat deur die kinders loop roep is wat diplomaties en droog opgemerk het:
“Dankie Willem, jy doen goed maar bedek nou net weer die juffrou se liggaam – maak maar reg haar rok.”
Ek wonder nog al die jare; hoekom moes ek dit doen, hoekom het hy dit nie self gedoen nie .”
Al wat ek kan dink is dat dit nie reg is dat die skoolhoof aan ‘n mooi bewustelose sangjuffrou se borste vat nie.
Dit is maar ‘n stupid reël.
Na dit wat gewone kinders skool noem, het ek gaan werk en ek werk nog steeds en tussen in vertel ek vir jou stories.
Baie dankie vir die luister.

Willie F van Tonder
2013/01/14





Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Boonste rakke
Willem, hierdie is uit die boonste rakke. En terwyl ek hierdie gelees het, was ek deurentyd dankbaar dat jy 'n MA soos joune gehad het. Ek stem met met Brandewyntert: Hierdie storie behoort in 'n fliek of iets aangebied te word.
6 jaar 9 maande 1 week 19 ure oud


Skool
Ha, ek het so lekker gelees! Ek is so bly daar is darem kans tussen die werkery deur om jou stories te vertel. Wolfie se stories is altyd spesiaal!!!!
7 jaar 1 week 6 dae 20 ure oud


Die geskiedenis
Kan n TV soapie word sowaar.
7 jaar 2 weke 2 ure oud



KOPERMAAN tot SPIKKELPELIKAAN

deur Viooltjie

Hierdie bundel bevat 80 oorspronklike gedigte wat vir enige leser toeganklik sal wees. Dit is gedigte waarmee mense kan identifiseer. Dit sal jou nie onaangeraak laat nie. Natuur, omgewing en bloot net ménswees kom baie sterk hierin na vore.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar