Gorrel

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Ek het hom nie gehoor aankom nie. Binne my nuwe kweekhuis tonnel, is ek nougeset besig om die soetrissies aan die styfgespande toutjies op te lei. Ek hanteer die ranke versigtig om dit nie te breek nie.
Hierdie projek is my toekoms, my lewe.
“Môre Willem.”
Ek kyk op, Hannes staan langs my.
Sy stem ruk my uit my intense aandag waarmee ek besig is. Ek kyk op.
“Sjoe, jy maak my skrik Hannes, môre jong.”
“Willem, dit lyk mooi hier binne; Magtie broer, jy het ’n groen hand”
“Ja, Hannes, tye is moeilik en die kinders gaan volgende jaar Universiteit toe. Daar moet meer geld inkom.”
“Ek stem my mater, ek is ook maar besig met planne en het juis kom hulp vra.”
“Nou kom, ons maak ’n koffie en dan praat jy met my.”
Ek trek die tonnel se deur agter my toe, kyk, en sien Hannes se nuwe motor.
“En dít Hannes?”
“Willem, op skuld, maar my projek gaan werk, ek beloof jou.”
Ons gaan sit onder die Soetdoring by die draad tafeltjie en Hannes vou die papier in sy hand oop.
“Ek is besig met ’n groter hok, jy moet vir my die staal dakkappe maak, hier is die tekening en al die mates.”
Ek bekyk die tekening en my oë rek.
“Hannes, hierdie is ’n groot projek, gaan papegaaie die ding kan betaal?”
Ek kyk na die tekening en doen die berekening en my nuuskierigheid word groter.
“Hannes, kom ons gaan drink koffie by jou, ek moet die konstruksie sien.”
Ons ry, ek bekyk Hannes se bedrywigheid, hy haal sy rekenaartjie uit sy sak, trek entoesiasties los, en praat geld. Hy praat van verstommende bedrae.
“Willem, ek gaan die voëls se eiers trek, in ’n broeimasjien uitbroei en die kleintjies met die hand grootmaak.”
Alles klink soos ’n feëverhaal maar dit klink vir my heel haalbaar. Iets steek egter by my vas; Waar gaan hy genoeg voëls kry om mee te begin?
“Suid Amerika, Willem. Daar in die woude waar die goed in swerms is. Daardie Indiane oes kleintjies uit die neste, voer hulle pap en ons sal genoeg daar kry.”
“Hannes, jy praat nou van groot geld. ”
“Willem, met jou groen rissies en my projek, glo ek sal ons regkom.”

Ons het gepraat, somme gemaak. koffie gedrink, weer gepraat en weer somme gemaak, ek het gedink en besluit.
Ek het sy staal kappe vir die hok se dak gemaak, my groen rissies groei bedags, ek hoef nie daarvoor te staan en kyk nie en ek vat ’n bykomende werk om meer geld in te bring.

Ek kry ‘n tydelike werk in ’n winkel wat sport toerusting en hengelgerei verkoop.
Daar is nog twee ander verkoopsmanne ook. Ek skrik nie. Ek werk met ’n doel en met my koorsagtige entoesiasme, raap ek die kliënte voor die twee dooierige manne weg.
My geluk draai beter. Dit is Vrydag en ek sien die man wat na die rak met visstokke kyk. Ek nader hom en ons gesels. Ek beduie en vra. Ek loop na Solly, die baas toe.
“Solly, het jy kontak met ’n plek wat karavane verkoop?”
Solly is ’n besigheidsman. Hy het ’n kontak en daar is kommissie vir my ook in.
Ek en die man gaan kyk en die transaksie word afgehandel. Ons gaan terug winkel toe en ek gaan na Solly.
“Solly, ken jy iemand wat bote verkoop?”
Solly is in besigheid. Solly het kontakte en ek kry kommissie.
Ek en die man kom terug in die winkel, hy haal sy tjekboek uit en skryf die tjek. Solly kyk na die tjek en ek sien op sy gesig hy is baie tevrede.
Ek groet my kliënt by die deur en met ’n klap op die rug wens ek hom ’n lekker naweek toe.

Solly kom na my toe. Solly smile van oor tot oor.
“Willem, hier het jy darem nou vet kommissie gemaak.”
“Ou Solly, ek het ’n droom jong, ek moet uithaal en wys.”
“Maar Willem, ek verstaan nie mooi nie, die man kom om visstokke te koop en hy gaan hier weg met ’n boot en ’n karavaan ook.”
‘Dis maklik Solly, hy is nie eers eintlik ’n hengelaar nie, maar toe hy my vertel toe weet ek.”
“Toe weet jy wat, Willem?”
“Nee, man, die man het my vertel dit is dáárdie tyd van die maand met sy vrou, toe weet ek sy naweek is kon dêm, toe verkoop ek hom sommer genoeg om hom besig te hou.”
“Dit is mooi Willem, jy gaan beslis jou teiken bereik!”

Die geluk bly aan my kant. Ek verkoop bedags en na werk versorg ek my groen rissies. Ek tref die mark mooi en die rissies dra mildelik.
Hannes se klompie papegaaitjies lê eiers en hy steek nog ’n paar manne aan. Hy verkoop en Piet Jacobs asook Hendrik Senekal besluit om ook saam te gaan Suid Amerika toe.

Ek is finansiële bestuurder, Hannes doen die logistiek van paspoorte Visums en toer reëlings.

Die dag breek aan en ons vertrek. Met die SAL, stap ons af op die lughawe van Montevideo in Uruguay. Ons oornag en kry die oggend vlug na Asunción aan die bopunt van Argentina. Daar vertoef ons twee dae vir die baie lang vlug na Manus in die Amasone Basis.
Tot hier is taal nie ’n probleem nie. Met ’n toer boot is ons op pad, op die grote amasone rivier, dieper die woude in, tot by Tefe.
Om by ons eindpunt, diep die basis in, te kom, kry ons met ’n gesukkel ’n kleiner hout bootjie van ’n rou Indiaan en taal word ’n probleem. Ek sien egter die mooi vere in sy hooftooisels en beduie.
Hy lyk bekommerd en met handgebare vertel hy ons van die gevare na waar ons wil gaan. Geld betaal vir gunste. Met die enkel motor bootjie, vat hy ons op die Rio Jurua en ons besef dat ons gaan waar weinig mense nog was.
Die pragtige papegaaie wat oor ons vlieg, begeester ons heeltemal. Ek beduie die man, wysend na die rooi en geel vere in die band om sy kop, wat ons soek.
Hy is heel ongemaklik en sy benoude kyk en dophou van die oerwoud aan die soom van die rivier, laat Hannes net meer glimlag.
Hannes lag altyd. Hy maak ’n grap van enige ding en is ons inspirasie.
Die enkel motortjie van die bootjie doef-doef en stotter teen die stroom
op van die rivier en die Indiaan word meer ongemaklik. Hy kan nie verstaan hoekom ons só graag van die voëls wil hê nie.
Hendrik het die aansporing. Hy het by die swart vrou in die Mall tuis, ’n hoop gekoop. ’n Klomp van die koper armbande wat mans dra teen rumatiek. Hy haal twee uit en wys dit vir die man.
Die resultaat is blydskap op sy bewolkte gesig en hy gee die enjintjie woema. Hy vat ons dieper en dieper die woud in. Tot by so ’n klein platformpie. So ’n vasmeer plek. Hier steek hy vas.
Hendrik duik weer in sy groot rugsak in en bring ’n paar stringe krale te voorskyn. Dit het hy ook by die vrou in die Mall gekoop.
Ek kan sien die oë van die Indiaan kyk gulsig daarna, maar hy skud sy kop hewig. Hy gaan nie verder nie. Ons moet hier afklim.
Ons beduie hom met handgebare, Engels, Afrikaans en Piet Jacobs se krom en skewe Frans, of hier mense is wat ons kan help. Ons beduie na die kwetterend papegaaie in die bome. Hy verstaan en beduie ons dat ons net op die platformpie moet wag. Hulle sal kom.
Met twee stringe krale, koop Hendrik hom om, om ons na een week te kom haal. Die kyk in sy bang oë sit ons nie af nie. Hannes gee hom ’n klap van dankbaarheid en aanmoediging op die skouer en ons kyk sy vinnige weg vaart, stroom af agterna.
Ek krap in my rugsak. In Manaus het ek twee bottels whisky gekoop en botteltjies drinkwater. Die papegaaie is in swerms in die bome. Dit kwetter en spring van tak tot tak en ons word kens van opgewondenheid.
“Weet julle manne hoeveel geld vlieg hier wild rond?”
Hannes se opmerking maak ons om die beurt groot slukke vat. Een bek vol whisky en spoel dit af met ’n sluk water. Ons wag, bewonder die papegaaie en maak somme. Die entoesiasme loop hoog.

Hannes stamp my aan die skouer. Ek kyk op. Hulle staan daar. Hulle het net vel lende kleedjies aan met breë kop bande en rondom lang gekleurde vere.
Die manne is eensklaps doodstil. Met bene deur die neuse en oor lobbe, gekleurde verfstrepe op die gesigte en lywe en spiese in die hand, tel ek ’n stuks of sewe van die barbare.
Hannes glimlag vriendelik en wys hulle nader. Hulle kom soos een man nader tot teen ons. Hulle brabbel met mekaar. Hannes, glimlaggend, wys na die vere en die papegaaie in die bome.
Hendrik duik weer in sy sak en haal van die koper armbande en krale uit. Dit doen die magic triek.
Die lot sit hulle spiese neer, gryp na die juwele, bekyk en sit dit aan, gooi die krale om die nek en bekyk en bewonder mekaar. Groot konsternasie van opwinding, pak hulle beet. Hulle brabbel en kwetter erger as die papegaaie in die bome.

Eensklaps word hulle stil en ek sien hulle gesigte word ernstig. Soos blits, tel hulle die spiese op, beweeg agterom ons, tel ons negosie op en druk die spiese in ons rug.
Ons verstaan die bevel:
“Stap, beweeg boeties!”
Ons beswaar, praat mooi, kyk benoud vir mekaar, maar die spiese steek ons in die rug en ons strompel aan agter die voorbok die donker woud in.
Hannes lyk nie baie gestres nie. Hy probeer glimlaggend paai en kalmeer. Dit help nie. Die spiese in die rug praat en ons strompel deur die digte ruigtes voort.
Steekvlieë, brommers, takel ons. Bytende miere klim teen ons bene op. Ons almal strompel, klap, slaan en vryf. Ek sien goggas takel nie die vetgesmeerde lywe van die barbare nie.
Ons mag nie met mekaar praat nie. ’n steek met die skerp spies het gou gewys dat praat nie toegelaat word nie.
Natgesweet van die bedompige hitte, met bloedvlekke wat op die rug uitslaan van die spies steke, strompel ons uit die ruigtes ’n oopte in.
Ek sien die ronde hutte van wilde piesang blare en die groter hut effe na vore. Ek sien die groot vuur in die middel van die ope.
Oorkant, op die grond, met sy bene gekruis, sit ’n vet Indiaan. Aan die versierings, krale en luiperdvel oor sy skouers, sien ek dat dit die hoofman of kaptein moet wees.
Op ’n hoop eenkant staan die klomp kaal bolyf vroue. Elkeen het ’n kleintjie onder die arm en die groter snotneusies sit op die grond voor hulle.
Die soldate druk ons tot voor die hoofman en ons staan op ’n ry langs mekaar. Ek kry net benoud uit:
“Kêrels doen saam met my!”
Ek sak op my knieë met my hand in die biddende houding voor my gesig. Almal volg my voorbeeld.
Een soldaat haal die koper armbande en krale uit Hendrik se sak en gee dit aan die hoofman. Hy het ’n groot been deur sy neus en groter bene deur sy oor lobbe.
Hy bring die armband na sy mond en ek sien bruin gevlekte tande wat na skerp punte geslyp is. Hy byt die armband en ek hoop net dat dit egte koper is. Hy lyk gelukkig en bekyk en bevoel die krale.

Hannes sit langs my en mompel uit die hoek van sy mond. Ek sien hy bewe en die glimlag is nie meer om sy mond nie:
“Mensvreters Willem, dit is menslike sleutelbene wat hy aan het.”
Met die, gaan Hannes se gramme foon aan. Hy praat en beduie en wys na sy sak, slaan weer sy hande saam in die smeek houding en sit die vriendelike glimlag terug op sy gesig.
Hy lig hom stadig op. Die soldaat wil keer maar die kaptein beduie hy moet los.
Hannes loop buig-buig met smekende hande uitgehou na die kaptein, na sy sak, vroetel en haal die prentjies van papegaaie uit. Met die ander hand, haal hy die rol koperdraad uit. Hy buig-buig terug na sy plek en hou die prentjies vir die kaptein om te sien.
Hannes se gramme foon is styf opgewen en hy brabbel en beduie vir die kaptein. hy wys na die prentjies, wys in die bome op en wys na die klomp kleintjies wat soos apies aan hulle kaal bolyf moeders klou en wys na die gekleurde vere aan die band om die kaptein se lyf.

Wonder bo wonder sien ek die geplooide gesig van die Kaptein begin blom. Hy het geklik. Hy gryp die rol koperdraad en met sy bulderende stem blaf hy die bevele uit en die soldate jaag ons op en druk ons met die spiese na ’n hut toe.
Ons buk by die lae ingang in, gaan in en staan soos skape rond. Hulle kom haal vir Hannes. Ek hoor sy gebrabbel soos hy praat met die kaptein. Ek sien ’n paar soldate stap saam met hom die bosse in.
Deur die lae ingang opening sien ek die vroue woel en werskaf. Hulle bring ’n uitermate groot pot en hout en pak die vuur. Eenkant sien ek ander vroue werk met peule, blare, goed wat lyk soos ’n soort groente.
Ons wag in spanning. hulle het ons sakke gehou en ons word dors. Ek sien dit word laat. In sagte stemme bespiegel ons oor Hannes se lot.

Uiteindelik kom die geselskap terug. Hulle bring Hannes terug na die hut. Ons bestook hom met vrae. Hannes lag van oor tot oor.
“Kêrels, geen probleme. Ek het hulle gaan wys, Die gate in die bome waar die voëls nesmaak. Ek het jong voëltjies uitgewys. Hulle verstaan mooi.”
Die spanning is verby. Buite is dit al donker en ons sien die stoom staan op die pot soos die sop kook.
’n Vrou kom in met ’n groot kalbas en hou dit uit. Piet is ’n drinker. Hy proe en proe weer.
“Dit is ’n soort bier en smaak nie sleg nie.”
Die kalbas doen die rondte en buite begin die tromme slaan. Die soldaat buk by die opening in en wys ons nader. Buite, in die lig van die vuur, sien ek die kaptein sit op sy plek. Ek kyk, ons negosie is nie meer daar nie.
Hy wys ons om weerskante van die kaptein plaas te neem. So ’n jong vrou, met kaal bolyf, bring die kalbas na die kaptein, hy vat ’n sluk en gee dit aan. Die vrou wag geduldig om die kalbas na Hendrik en Piet aan te gee wat anderkant die kaptein op die grond sit.
Die partytjie kom in volle gang en goed op dreef. Die hele stam dans in ’n sirkel om die kookpot terwyl tromme die pas aangee. Ons deel die kalbas bier.
Ek stres oor ons rugsakke. Al ons goed is daarin. Hannes kalmeer met sy glimlag. Ek sien sy oë is vasgenael op die wikkelende, sensuele bewegings van die kaal bors dansende vroue liggame.
“Wag tot môre, ons moet kalm bly.”
Heel laat het die vroue die kos gebring. Dit was ’n baie dik soutlose sop wat bedien word uit half gesnyde kalbasse
Die kelner vrou het kalbas na kalbas sop gebring. Nie een kon meer nie maar wou die gasvryheid nie demp nie en het maar swaar gesluk-eet aan die brousel.
Die kaptein het heel eerste, vergesel deur drie vroue, gaan slaap. Ons het onmiddellik gevolg. Daar was vir elkeen ’n matjie uitgerol. Die bier het genoeg skop en die slaap kom vinnig.
Die geroggel op die maag het ons almal baie vroeg gewek. Ons wys vir die wag wat heelnag op diens was, ons nood, en hy beduie in ’n rigting, bosse toe . Met ons terugkom staan die voëlvangers en wag.
Ons is met ligdag die bosse in. Hulle klim bome soos ape, hande in die neste in, en plaas die voëltjies van die regte ouderdom, op ons beduie in die gevlegte sak wat om die klimmer se nek hang.
Hannes raak kontant puntenerig en uitsoekerig. Die klimmer gee nie om nie en sit geduldig terug, indien die voëltjies te klein is na Hannes se smaak.
Die middag laat, terug by die kamp, sien ons die manne ken hierdie storie. Die vrouens het snoesige mandjies gevleg en uit ’n bak pap van gemaalde neute en vrugte, voer hulle die babatjies met hout lepeltjies.
Die aand herhaal die prosessie. Ons drink, die stam dans en sing, die tromme begelei en ons eet van die maag werkende sop.

Dit is dag ses. Ons het nou genoeg papegaaitjies en beduie vir die manne op ons manier. Ons vra ook na ons rugsakke. Alles met handgebare, wysend na ons klere. Hulle vat ons terug die hut in en beduie ons moet wag.
Die son trek water en ons bespreek hoe ons hulle gaan vra om ons vroegoggend, saam met ’n paar draers, terug rivier toe te vat. Ons bootsman sal ons daar kry.

Hannes is die gelukkigste man op aarde. Ons het ’n oes wat skrik vir niks en maak somme. Dit is ’n feit, hier is genoeg papegaaitjies om ons baie ryk te maak.
My maag grom eerste. Nie een van ons het vandag kans gehad om ’n draai te loop nie. Die gretigheid, meer vraatsugtigheid vir nog meer papegaaitjies was groter.
Die wag by die deur wil niks weet. Hannes se lag is nou skoon van sy gesig af.

Ons staan nog so en stress, toe word die hut se ingang donker. Met lang spiese bewapen, staan daar ’n horde soldate en beveel ons na buite. Ons verstaan nie. Ons sien net alle vriendelikheid is van die gesigte af,
Stamp-stamp druk hulle ons na vier pale wat ingeplant is. Die oormag is groot. Ons besef hier is moeilikheid. ons probeer veg. Hulle takel ons soos miere en pluk die klere van ons lywe af.
Om die vuur met die allervreeslikste groot pot dans die mans en vroue met jillende gille en die tromme is oorverdowend.
Hulle maak ons staande vas aan die pale. Sterk toue om die enkels en hande agter die rug, vas aan die paal.
Ons skree op die kaptein wat rustig na die al groter brandende vuur kyk en sip aan sy kalbas bier. Die jong vroue weerskante van hom wieg op die maat van die musiek heen en weer.

Die kaptein lig sy hand en vanuit die donker kom vroue op ’n ry met groot vate op die kop. Hulle gooi water in die pot.
Ons skree en gil gelyktydig, stoei aan die toue, ruk aan die stewig ingeplante pale.
Die dans en musiek styg na afgryslik, kranksinnige, waansinnige hoogtepunt.
’n Groep soldate met lang spiese kom nader, sny Hannes en Piet los van die pale en sleep-dra hulle, stoeiend en skreeuend na die pot op die vuur. hulle kan nie veel vermag nie want die enkels en hande is steeds stewig vasgemaak.
Met brute krag lig hulle die twee en gooi hulle staande in die pot.
My maag hou dit nie en ek ontlaai.

Nou is die musiek oorverdowend. die kaptein sluit aan by die sirkel dansers en ek sien stoom begin trek.
Dit lyk soos die kok. Hy het die spies in die hand en steek–steek na Piet en Hannes.
Hulle gesigte vertrek van pyn en die gille klief bo die gedreun van die tromme die lug in.

Meteens sien ek Hannes se gesig verlig. Ek sien hy begin glimlag. Ek glo nie wat ek sien nie. Hannes lag hardop.
Ek skree:
“Waarvoor lag jy, is jy van jou sinne af?”
Hy lag harder en sy stem is bokant die geraas:
“Willem, elke keer as hy my steek, skyt ek meer in hulle sop!”









Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

...
Ai sneeuwolf jy het 'n manier om 'n storie te vertel! Wel gedaan!
7 jaar 11 maande 1 week 3 dae 16 ure oud


SOEKE NA RYKDOM
Nou het ek lekker gelees en lekker gelag! Nare k.kspul hier op die einde!!! hehehehe!
8 jaar 2 weke 4 ure oud


Sjoe...
Verhaal vol omwentelinge...interessant en 'n kinkel in die kabel op die einde!
8 jaar 2 weke 6 dae 5 ure oud


Die Rykdom
Ja jong! Jou beurt is jou beurt!
Goed so, hulle het dan die hele week lank in julle sop geskuit!!
Geen wonder julle mage kon dit nie hou nie.
8 jaar 3 weke 3 dae 15 ure oud


RYK
Aijajai Wolfie, ek het presies geweet wat kom en tog het ek aanhou lees aan die storie rondom die gebeure. Gierigheid, 'n nare siekte. Lekker gelees.
8 jaar 3 weke 4 dae 3 ure oud


=)
Verrassende einde....eish. arme mense
8 jaar 3 weke 4 dae 5 ure oud



Gebroke Harts Gebede

deur Anze Bezuidenhout

Gebroke Harts Gebede is ‘n digbundel oor die einas van die lewe. ‘n Soeke na liefde op ‘n stormagtige pad. Mag hierdie bundel vir die leser ‘n pad na herstel aanwys. Die diepe besef dat jou krag van Bo kom. Ja jy is tot alles in staat deur Christus wat jou krag gee.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar