Gorrel

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Uit vergange se dae verwys 'n straathoek-vrou na 'n prostituut. Iemand wat sou belangstel, het geweet wat sy gaan oopmaak, teen die ooreengekomde prys en hy was ook redelik seker wat hy daar sou vind.

Deesdae is 'n mens nie meer so seker nie. Op elke hoek en om elke draai staan daar 'n persoon. Hetsy oud of jonk; of lelik; of mooi; of verbrand in die son; of vuil en afgesloof; of netjies “ge-collar en getaai”; vroulik of manlik; groot of klein... noem maar op.

Die verskil is egter dat hulle nie meer hulle dienste aanbied, teen die gepaste fooi nie. NEE, hulle soek aalmoese. (Wat 'n mens amper laat wonder of die prostitute nie meer edel was/ is nie). Die aalmoes soekers (straathoek-persone) het die kuns om jou beursie oop te kry nou al vervolmaak.

Sommiges se borde word nou toegehou, totdat die verkeerslig rooi slaan. Dan stap hulle met stadige treë tot op die mees sigbare plek. Daarna word die bord stadig oopgemaak. Ek dink hulle wil 'n mens 'n bietjie laat wonder wat daar op die bord geskryf is. Nou staan daar woorde soos:” If you love God, help this man.” Dan voel ek lus om uit my motor te klim om hom die ewigheid in te help. Wie de ongeluk is hy om my liefde vir God te probeer misbruik. Dit voel amper soos afpersing.

Dan is daar weer andere wat hul bewoording baie mooi uiteensit. Hulle sal enige werk of aalmoese aanvaar. Help tog net. Ter selfder tyd noem hulle darem ook dat hulle byvoorbeeld blind is in die een oog, lammerig is in die linkerbeen, 'n pap regterhandjie het, net vir ingeval 'n mens sou dink dat hulle ernstig is dat hulle sou wou werk vir hulle geld.

Moet tog ook net nie die gesigsuitdrukking miskyk nie. Kom ek noem 'n paar: Totale wanhoop, skaam met 'n neergeboë hoof, nederige oë, kwaai-uitdagend, bevelend, wagtend, verslae...

Sommige persone het nou nie eers meer 'n bord nie. 'n Leë koeldrankblikkie, wat soos 'n perkussie instrument geskud word, sal miskien eerder die doel heilig. Dan word die blikkie amper deur die toe venster onder jou neus ingedruk. (Soms wonder 'n mens of jy nie maar jou beursie vir hulle moet oophou, sodat hulle kan uithaal wat hulle verwag nie.)

Van die mense dra 'n kind of twee rond, ten einde so jou hartsnare te probeer roer. Eintlik is hulle glad nie bekommerd oor die kind nie. Al sou hy sonsteek kry. Solank hulle net jou beursie kan oopkry. (Ek wonder soms hoekom die Polisie nie intree nie. Of miskien is hulle te besig om korrupte amptenare aan die kaak te stel.)

Een ou sit gewoonlik by 'n verkeerslig met 'n uitgeteerde hond. Nou wonder 'n mens eintlik watter een van hulle nou regtig die behoefte het. As jy vir die ou 'n aalmoes gee, gaan die hond jou byt? Of as jy vir die hond 'n stuk brood gee, gaan dfie ou jou klap? Dit raak nou 'n gevaarlike situasie. Wie sê die ou gaan nie sommer 'n wapen uitruk nie.

Dit lyk soms of die straathoek-persone in skofte “werk”. Elke keer as jy daar verbykom, staan daar 'n ander persoon. Sommiges staan ook net spitsverkeers tye daar. Soms wonder ek wat sal gebeur as jy een van hulle raakry (per ongeluk – natuurlik.) Dit lyk egter nie of iemand hulle oor die toedrag van sake bekommer nie, want die getalle persone neem met rasse skrede toe.

Persoonlik weet ek nie meer hoe om my frustrasies hieroor hok te slaan nie. Miskien het hierdie gorrelstuk my onstuimige gemoed 'n bietjie gekalmeer. Ek hoop maar so. Ek is tog nie lus om elke dag sop en brood te eet en te gaan klippe kap nie. Miskien moet ek eerder self op 'n straathoek gaan staan :-)



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Ano
Straathoek
Moet erken - ek het dit al oorweeg....
Wat sal op die bordjie staan? Uhm, dalk iets soos "Het nuwe hakskoentjies nodig" :-D
Gewoonlik ry Guppy saam met my, en sy het die manier om enige voornemende hande ver weg van ons motor te hou. Dankie tog vir klein genades.
3 jaar 8 maande 1 week 5 ure oud


Hoeke
Hoekom staan die mense daar? Want dis lonend. Solank mens aalmoese uitdeel sal hulle daar wees.
3 jaar 8 maande 1 week 21 ure oud


straathoek mense
dit is skrikwekkend om te sien hoe baie daar elke dag staan en bedel, behoort hierdie mense dan nie aan n kerk wat kan uitkoms gee nie? of dalk is dit maar net n kwessie van meeste van hulle is eenvoudig te lui om te werk en maak op hierdie manier genoeg geld om te oorleef ...
3 jaar 8 maande 1 week 23 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


Geborg deur :

Van ons ander lede

Mari

deur Rachelle du Bois

Die pragtige Mari Wolmarans vat haar seuntjie en vlug weg uit ʼn gewelddadige huwelik. Sy is die rykmanslewe gewoond, maar nou is sy sonder heenkome of inkomste. Sy gaan woon by haar broer Thinus waar sy die aantreklike kunstenaar Dewald Bosman ontmoet. Sy is geskok en verward toe hy aanbied om met haar te trou ter wille van die drie-jarige Dirkie. Sy is nie gereed vir ʼn tweede huwelik nie, maar sy neem tog sy huweliksaansoek aan ter wille van haar seun. Dit sal egter slegs in naam wees tot sy anders besluit. Maar sal sy? Sal sy vir Dewald kan liefkry soos hy vir haar? Dewald is betower deur die verruklike Mari. Sy het sy voete onder hom uitgeslaan en sy enigste begeerte is om haar lief te hê as sy vrou. Die oulike Dirkie kruip vinnig in sy hart en hy neem hom voor om vir hom ʼn toekoms te verseker, want hy kan en hy wil. Vir Mari en vir Dirkie. Sal hy daarin slaag om haar hart te wen?



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar