Gorrel

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Aan die begin van die 1970’s het ons in een van die spoorweghuise agter die Bellville Hoërskool in Bellville gebly. Die straat waar in ons gebly het, het geindig teen die agterste hek van die skool. Elke middag het ek op die sypaatjie gaan sit en oopmond gestaar na die slim kinders in hulle pragtige uniforms wat by ons huis verby stap. Dit was vir my die mooiste gesig. Ek kan tot vandag onthou hoe jaloers ek was. Ek wou so graag ook ‘n uniform hê, skool toe gaan, en leer lees.

Ek was maar altyd ‘n nuuskierige kind. In daai jare het ons nie tv gehad nie, so kinders het nie so baie geweet soos vandag nie. As jou ouers of maatjies jou nie vertel het nie, het jy nie geweet nie. Ek onthou nog die eerste keer toe ek iemand hoor Engels praat het. Ek was verstom oor die vreemde klanke wat by hulle monde uitgekom het. Ek wou so graag Engels leer sodat ek kon verstaan wat hulle sê. En net so, wou ek baie, baie graag skool toe gaan. Ek kon nie wag om te leer lees, skryf en somme maak nie. Ek het elke oggend die koerant gevat, nadat my pa dit gelees het, en aandagtig na die woorde gestaar, in die hoop dat dit sou begin sin maak, en dat ek wonderbaarlik, skielik sou kon lees. Ek het geglo as jy iets oefen, dan leer jy om dit beter te doen – soos om op een been te spring. So, as ek elke oggend “oefen” om die koerant te lees, sal ek dit later regkry.

Na die einde van 1971 vat my ma my eendag na laerskool Bellville om my in te skryf vir skool in 1972 (toe nog Sub A). Ek was bietjie jonk (net 5), maar in daardie dae het die onderwysers nie omgegee nie. Ek onthou dat ander kinders van my ouderdom nog ‘n jaar moes wag omdat hulle ma’s gevoel het hulle was te onvolwassse. Ek dink my ma en pa was net goed gaivol vir al my alewige vrae, en het besluit om my die onderwysers se probleem te maak. Daardie dag was die beste dag van my lewe tot op daardie stadium. Ek was die gelukkigste kind op die planeet.

Maar my borreltjie het nie lank gehou nie. My ouers het die trotse eienaars van hulle eerste huis geword – in Kraaifontein. En ek is vertel dat ek nie meer Bellville laerskool toe sal gaan nie. Met al die opgewondenheid het my ouers vergeet om te verduidelik dat ek wel sal skool toe gaan – maar dat dit nou laerskool Simonsberg sou wees. Al wat ek gehoor het is dat ek nooit weer skool toe sal gaan nie. Wanneer jy 5 is weet jy nie van landswette wat ouers dwing om jou skool toe te stuur nie. Ek het net gedink my ouers is weer onregverdig, soos wanneer ek nie lekkers kan kry nie. Dit was die einde van my wêreld.

En ek onthou nog die eerste dag. Ons huis was reg langs die N1 en dit was 1.5km van die skool af. Die pad skool toe was deur ‘n veldjie (daai dae nie so ‘n groot probleem nie), oor ‘n paar groot paaie en ‘n treinspoor. Ek wou alleen skool toe gaan, maar my ma het aangedring om saam te stap. Dit was vir my baie erg, want ek wou nie hê ander mense moes dink ek is nog ‘n babatjie nie – ek het mos darem nou ook my eie uniform. En net groot kinders het uniforms. Vanaf die 2de dag, is ek toegelaat om alleen skool toe te loop. Dit klink vandag erg dat ‘n jong dogterjie toegelaat is om so ver alleen te loop, maar daardie dae was daar nie pedofiele in die bosse nie. Ons grootste probleem was modderpoele waarin ons ons Bata toughies uit probeer het. Modderskoene het altyd jou boude laat brand.

Drie jaar terug is my broer se dogtertjie, Christel, vir die eerste keer graad R toe – net so opgewonde soos haar tannie 4 dekades terug. Toe sy die middag by die huis kom, vra haar ma haar hoe was skool toe. En sy antwoord dat dit OK was en dat sy dink sy sal maar die volgende dag terug gaan – verstaan toe hoeka nie dat sy dit vir 13 jaar moet doen nie. Maar die Vrydagmiddag kom sy by die huis, en verklaar sy is nou klaar met skool. Haar ma vra haar wat is dan verkeerd. Nee, sê Christel, sy het nie nodig om te leer hoe om te speel nie, sy weet al lankal hoe om dit te doen. Sy wil leer om te lees en te skryf, en hulle leer dit glad nie by die skool nie. So, sy is nou klaar met skool.

Oormore gaan sy graad 3 toe, en is baie opgewonde. Hopelik gaan sy hierdie jaar iets leer wat sy nog nie weet nie. Tot dusver was skool heeltemal te maklik en is sy teen die einde van die 2de kwartaal klaar met al haar werk van die jaar. Ons hou almal duimvas vir die arme juffrou wat haar hierdie jaar het.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Lekker...
gelees aan die storie!
7 jaar 1 week 3 dae 23 ure oud



Van ons ander lede

Die Besoeking

deur Kobus van Eden

DIE BESOEKING handel oor 'n Gideonsbende wat die plaasmoorde begin wreek. Hul sukses is verstommend! Gou staan Koos Gerade bekend as die Bloedwreker en sy manskappe as 'die hel.'



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar