Gorrel

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Vanoggend word ek wakker met die verontrustende wete...dis my 75ste verjaardag.

Die hele familie is opgewonde hieroor en beplan almal so lank reeds ‘n groot verrassing vir hierdie heugelike okasie.

Onder heelwat druk oor finansiële probleme en pryse van alles wat die hoogtes in skiet, wou ek nie dat die kinders groot onkostes aangaan vir my verjaardag nie, maar reëlings was reeds drie maande tevore aan die gang gesit.

Sondag word fees gevier en bykans die hele familie en ‘n paar getroue huisvriende kom byeen om 'n vleisie te braai en gesinsbande te hernu en as die weer dit toelaat, gaan ons swem

Die afgelope maande is dit of ‘oud wees’ iewers in my kop rusplek kom maak het...en met die’ jong mens' van vervloë se verstand lelik gesmokkel het.


‘Oud’ was nooit deel van my woordeskat nie, maar skielik, uit die bloute,
voel ek hoe die ouderdom druk uitoefen op my verstand en lyf. Sjoe daardie 75 getal, net een dag ouer as gister, het skielik ‘n kopspeletjie geword.

Afgeëts in aaklige spieëlbeelde wat nie voorheen daar was nie, is plooie duideliker as ooit tevore en die besef ek is ‘n senior burger, duidelik bejaard en kan ek dit nie meer met woorde wegpraat nie, of kamma-kamma jonk speel nie.

Kolle slaan oral oor my liggaam uit, kolle wat jare reeds daar gewees het, skielik onooglik duideliker op die verrimpelde vel...bevestiging van hoe die son jare gelede skade aangerig het en my in die ouderdom verrinneweerd agtergelaat het.

Sulke vrese en depressiewe gedagtes is gewoonlik net tydelik, ek ken myself dat ek wel deeglik kan tob en stres, maar ook dat ek hierdeur kan werk, die spoke binnekort kan uitoorlê en die vrese die harnas injaag.

Ander sal sê dat ek ‘n vol lewe gehad het en baie het om oor dankbaar te wees. My kinders veral is die gom van my lewe en ek is so dankbaar dat hulle my in alles so liefdevol ondersteun.

Ek gee toe, my lewe kon nooit beter gewees het nie, ek sou niks daaraan wou verander nie, maar daar kom tye in elkeen se lewe wat mens realiteit in die oë kyk en bewus word van hoe tyd alles verander het.

Onthou ek flussies die woorde wat so geredelik gebruik word...as ek eendag groot is...

Hier staan ek, jarig en weet dat ek nou werklik, uiteindelik groot is.

Dink ek ook aan ‘n massiewe boom, wat oor dekades op een plek sy wortels gesprei het, dik stam en ruie groen lower, tuiste was vir soveel voëls, insekte en diertjies... skaduwee vir baie siele teen die fel sonstrale... eensklaps afgesaag en uitgegrou word.

Sien mens duidelik die jaarringe, die wortelvertakkinge, hoe dit stukkie vir stukkie onder die grond gegroei en voedsel daaruit geput het en nou nie meer plek in die samelewing het nie, heel moontlik net vir brandhout geskik sal wees.

24/11/2011 Joan Lotz.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Uiteindelik...
Ag jy het dit so mooi saamgevat - ek is mal oor die 'boom' vergelyking - dit is diep ryk en besonders soos net jy kan wees! En die gawe wat jy het om so met woorde te toor sal almal altyd plesier! So bly ons kon jou baie spesiale 'grootword' dag saam met jou geniet! hoop ons gaan nog vele paadjies saam bewandel vorentoe! BAIE LIEF vir jou Mamsie! xxxx
8 jaar 4 maande 4 dae 6 ure oud


=)
seker nie GROOT nie.. meer volwasse is. pragtig om te kan onthou.
8 jaar 4 maande 1 week 3 dae 20 ure oud


Groot
Ek wil ook groot(oud) word. En dan wil ek net so mooi kan skryf soos jy! Hoop jy het die groot fees geniet. Sorry ek is so laat, maar my wens is dat die voorspoed jou sal verveel in jou toekomstige lewensjare! Jy het so baie om te skryf, daar's nie tyd vir tob oor kolle en plooie nie.
8 jaar 4 maande 1 week 6 dae 4 ure oud


Sjoe!
Sjoe Ouma ma, dat so jong kop al so lank op die aarde is.
Jy gee so mooi gewone diepte-woorde vir die misterie van die lewe. Dankie daarvoor - dit was nou n lafenis.

En geniet die volgende 75
8 jaar 4 maande 1 week 6 dae 22 ure oud


Uiteindelik groot en jarig
En hier op Woes is Ma-linguis 'n GROOT inspirasie
8 jaar 4 maande 2 weke 1 dag 4 ure oud


Brandhout?
Net stukkies word verbrand - en verskaf lekker dinge soos kaggelwarmte en braaivleis aan jou nageslag. Ek bedoel goeie herinnerige!

Maar ek verkies om aan die grootste deel van die boom as wonderlike kompos te dink waarop kinders en kleinkinders hulle hele lewe nog kan teer en gedy!

Maar beste van alles is: jy lewe nog! Veels geluk!
8 jaar 4 maande 2 weke 1 dag 8 ure oud


Jarig of Harig?
Hi Ma-linguis,
Baie geluk!
Geniet die dag, maar van more af begin 'n nuwe dag - gaan voluit!
8 jaar 4 maande 2 weke 2 dae oud


Ag, nee wat, Ma ...
... ons is mos nie oud nie!
Ek was nouliks in 'n Duitse Kur (kuur = sanatorium of soiets), en dáár was ou mense, sê ek: Ses. En. Se. Wen. Tig. Ja. Re.
Oud,sê ek, oud.
Mama-wêh!
Moo0i bly, groetnis
phanToom
8 jaar 4 maande 2 weke 2 dae oud


Jarig
'En nog vele jaren, stond er op die koek'
Mooiste wense vir jou!
8 jaar 4 maande 2 weke 2 dae 6 ure oud


Joan
Ek is die een wat gedurig spot met 'my jare'
Dit is maar net 'n kopskuif ter versagting van die vonnis vir alles wat ek aanjaag.
Nonsens.
Ek sê nie geluk nie. Daar is geen geluk aan verbonde om deur sóveel ervaringe te gaan nie.
Deursetting. O' ja!
En
Dankie vir al die Seëninge van BO!
In elk geval,
Kom ons jol heerlik voort!
Alles wat Mooi is vorentoe!
8 jaar 4 maande 2 weke 2 dae 7 ure oud


Veels geluk liewe maatjie
Hoop jy geniet alles wat jy doen
8 jaar 4 maande 2 weke 2 dae 16 ure oud


-
Joan, veels geluk met jou verjaarsdag. Mag vrede en gesondheid jou bybly en jy steeds die genot van skryf ondervind.
8 jaar 4 maande 2 weke 2 dae 16 ure oud


Kommentaar
Veelsgeluk met die herdenking van jou geboortedag my vriendin. (My ou mannetjie verjaar ook vandag, 65 jaar jonk - die sogenaamde aftree ouderdom, maar hy hou nog al die jare vol hy is 18! Is ook 'n jong Woester, sy woester-naam, Sanger).

Ja nee, so bekruip die ouderdom ons almal maar een of ander tyd in ons lewens, maar 'n vol lewe het eintlik maar niks met ouderdom te doen nie.

Mag die volgende 75 jaar. . . (ai,jai jai!)

Vonnie
8 jaar 4 maande 2 weke 2 dae 17 ure oud


Uiteindelik groot en jarig
Eerstens, baie geluk met jou verjaarsdag. Tweedens, jy lyk en klink nie oud nie, en derdens, jou verstand is skerper as meer as die helfte van mense die helfte jonger as jy. Geniet jou jare van wysheid en hou asseblief aan om dit met ons te deel. Ons is lief vir jou Ma-linguis! x
8 jaar 4 maande 2 weke 2 dae 20 ure oud


rex
Jarig ...
'n Kosbare stukkie wat jy hier geskryf het, Joan!

Natuurlik is dit nie lekker om te aanvaar dat ons ouer word, en te sien hoe tyd knaag aan ons gladde vel, mooi gelaatstrekke van vroeër nie.

Maar hoe wonderlik dat jy steeds hierdie kosbare gawe het, om die gebeure van jou lewe te kan noteer, en dit kan beleef met 'n helder, vlymskerp brein! En die feit dat jy op hierdie relatiewe hoë ouderdom die annale van jou lewe self kan opteken.


Want daarin, dink ek, lê die prestasie! Weereens, baie geluk!

8 jaar 4 maande 2 weke 2 dae 21 ure oud


Baie, baie geluk!
Iets wat ek êrens gelees het:
"Dont think of yourself as going to seed....
think of yourself as being ready to blossom!"
Op hierdie baie spesiale verjaarsdag my hartlike gelukwense.
'n Klein bietjie goeie raad....GLIMLAG terwyl jy nog tande het! Jy sal nooit weer so jonk wees nie maar pasop jy was nog nooit voorheen so oud nie! Dit is dalk net wys om een kersie op die koek te sit want 75 van hulle kan dalk te veel lig op die onderwerp plaas.%)

(....in alle respek en met groot liefde!)

8 jaar 4 maande 2 weke 2 dae 21 ure oud



Van ons ander lede

Bertha se Stories

deur natasha dutton

"...my issues is maar soos joune, my vrese gegrond op ervarings, dinge waarvoor jy ook bang is. Die enigste verskil is, ek is 'n stort mens, geen badprop wat my geparfumeerde water in toom kan hou nie. Die lewe is nie 'n bad vol foam bath nie, nee jong, so maklik is dit nie. Die poepwalms laat jou verstik, nie eers te praat van die vloeistowwe nie! Maar dis die lewe." Wel, nou weet jy wat om van hierdie boek te verwag...



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar