Jeugverhale

Titel: W.R.A.A.K
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende


Buite wend die son ‘n flou poging aan om nie ook in die koel oggendluggie te begin bewe nie. Amber kom saggies by die trappe afgesluip en loer by die kombuis in. Sy neem aan haar ouers is weer op een of ander voor-ontbyt-misie en sal eers teen vanmiddag terugkeer. Dis beslis nie kinderspeletjies om top-agente vir ouers te hê nie, dink sy by haarself. Sy hoop net dat haar ouers nie te laat vanmiddag terugkom nie, want as sy haar verjaarsdag alleen moet vier, gaan sy beslis nie gou weer met hulle praat nie. Sy stap ingedagte en kyk na die kaal takke. Die “bome sonder klere” soos sy dit altyd genoem het toe sy kleiner was. Sy skop vies na ‘n leë blikkie in die pad. Hoekom kon haar ouers nie ook net ‘n gewone werk gehad het soos normale mense nie. Skielik hoor sy iets kraak agter haar. Sy gaan staan ‘n oomblik stil en draai om, maar al wat sy kan sien is die helder blaretapyt en ‘n paar takkies wat ritmies in die wind wieg. Sy versnel haar pas effens en is dankbaar toe sy uiteindelik by die skool uitkom. Die res van die dag sleep verby en haar polshorlosie se wyser wil net nie vinniger tik nie. “Amber!” Amber draai om en sien Ruané aangehardloop kom. Sy gaan staan onder een van die bome en wag vir haar. Ruané is haar beste vriendin sedert hulle vyf jaar oud was. Ruané kom uitasem tot stilstand en vra hygend: “Kan ek maar saamstap?” Amber knik en hulle stap in stilte tot by Amber-hulle se kasarm van ‘n huis. “Is jou ouers hier?” vra Ruané versigtig. Amber skud net haar kop en sê bot: “Hier is darem sjokoladekoek.” Ruané is die enigste persoon vir wie sy ooit vertel het van haar ouers se geheime misies. Vir al die ander kinders vertel sy altyd dat haar ouers iewers buite die dorp werk en dat sy nie seker is presies watse werk hulle doen nie. Sy staan nog so en bepeins die saak toe die voordeurklokkie lui. Sy en Ruané stap geselsend na die voordeur toe. Amber maak die deur oop, maar daar is niemand nie. Sy kyk rond, maar al wat sy sien is ‘n helder pakkie op die stoepmuurtjie. Sy stap uit om die pakkie te gaan haal. Die pakkie is in lemmetjiegroen en pienk geskenkpapier toegedraai met ‘n helder geel lint bo-oor. Op die kant van die pakkie staan haar naam in drukskrif geskryf. Sy gee die pakkie vir Ruané aan en sluit vinnig weer die voordeur. Daar is nog geen teken van haar ouers nie en sy neem aan dat dit ‘n ingewikkelde misie is. “Die pakkie is nogals swaar.” Amber knik, sy moet erken dis nie ‘n baie ligte pakkie nie. Sy trek die lint af en skeur die papier oop. Sy haal die deksel af. Binne in is daar ‘n groot porseleinpop met violet oë. “Is daar ‘n kaartjie by?” vra Ruané nuuskierig. Amber skud haar kop en bestudeer die pop. “Dis seker van my ma-hulle af. Hulle voel tien teen een skuldig omdat hulle op my verjaarsdag moet werk.” Ruané knik simpatiek en sê: “Ek is seker hulle sou eerder hier wou wees.” Amber sit die pop op die rusbank neer en sy en Ruané stap kombuis toe, salig onbewus van die pop se oë wat hulle volg.
******** Dis net na vier toe Amber se ouers by die huis kom. Sy sit op die rusbank en televisie kyk. Hulle wens haar geluk met haar verjaarsdag en gaan sit langs haar op die bank. Haar ma merk die porselein pop wat langs Amber lê en vra: “Waar kry jy daardie pop?” “Is dit dan nie van ma-hulle af nie?” vra Amber verbaas. Kimoné skud haar kop en vra: “Was daar dan nie ‘n kaartjie by nie?” “Nee, maar my naam het op die pakkie gestaan.” “Dalk kom dit dan van een van jou vriende.” Amber knik haar kop en sê: “Ek sal na die langnaweek by hulle hoor.” Kimoné haal ‘n koevert uit haar sak uit en gee dit vir Amber. Binne-in is daar vyf honderdrand note. “Amber, ek weet ek en Pappa is min by die huis, maar dit beteken nie ons is nie lief vir jou nie. Daarom het ons dit goed gedink om ‘n paar dae af te vat en saam met jou see toe te gaan.” Amber kyk haar ma verbaas aan en vra dan opgewonde: “Rêrig, sonder enige misies?” Haar ma knik haar kop en sy val haar om die hals. Haar ma lag en gee haar ‘n drukkie. Sy onthou van die pop en gaan sit hom in haar kamer. Sy kan dit nie glo nie, haar ouers gaan uiteindelik tyd maak vir haar. Die aand kan sy nie slaap nie so opgewonde is sy. Die volgende oggend vroeg vertrek hulle. Amber kan nie stilsit in die kar nie. Sy kan nie onthou wanneer laas hulle by die see was nie. Die rit voel lank en eindeloos en uiteindelik raak sy aan die slaap. Dis die reuk van soutwater wat haar wakker maak die volgende oggend. “Ons is hier!” roep sy opgewonde uit. Sy help haar ma-hulle vinnig alles uitpak. Hulle strandhuisie is binne loopafstand van die strand en toe dit begin warmer raak kies hulle koers strand toe. Haar ma en pa lê op die strand, terwyl sy in die louwarm seewater baljaar. “Kom nou, Amber!” roep haar ma vir die soveelste keer. Amber kom aangehardloop. “Ja Mamma?” Kimoné lag en gee vir haar ‘n handdoek aan. “Dis tyd dat ons huis toe gaan.” “Kan ek nie asseblief net nog so klein rukkie swem nie?” “Jy lyk al klaar soos ‘n tamatie, wil jy nou heeltemal verkool?” “Net nog vyftien minute. Mamma-hulle kan solank gaan, ek sal nou kom.” “Ek wil jou nie alleen los nie.” “Mamma, dis net omdat julle geheime agente is dat jy so bekommerd is. Die strand is veilig en buitendien bly ons omtrent op die strand.” Hulle staan nog ‘n hele rukkie en kibbel en Kimoné gooi uiteindelik tou op. “Nou goed, maar nie meer as vyftien minute nie.” Amber knik en verdwyn die see in. Die water is lekker en ‘n rukkie later kom sy traag uit. Sy kry haar goed bymekaar en is oppad terug na die strandhuisie toe iemand haar van agter af gryp. ‘n Sakdoek word voor haar mond gedruk en sy sak inmekaar. Sy is ‘n hele rukkie bewusteloos en toe sy haar oë weer oopmaak is sy in ‘n vreemde huis. Haar kop voel soos lood en sy word skielik daarvan bewus dat haar hande en haar voete vasgebind is. Sy kyk om haar rond. Dit lyk vir haar soos ‘n solder wat in ‘n kamer omskep is. Die een venster is baie vuil en die houtplanke is al besig om te vrot. Daar is ‘n paar lendelam meubelstukke, maar verder is die vertrek leeg. Sy kan niks onthou nie en wonder hoe sy tot daar gekom het. Op daardie oomblik kraak die luik oop en ‘n man verskyn. Hy is van kop tot tone in swart geklee en sy oë is ‘n kil blou. Hy grynslag en sê: “Ek is bly om te sien jy is weer met ons.” “Wie is jy?” Hy hurk voor haar en vra kil: “Wat wil jy maak as jy weet?” “Dit maak nie eintlik saak nie, my ouers sal my gou genoeg kry.” “Dis waarop ek hoop.” “Jy het geen idee waartoe my ouers in staat is nie.” “Dis waar jy verkeerd is. Ek weet presies wie en wat jou ouers is en ek wag al lank vir hierdie geleentheid om wraak te neem.” “Wat is jy? Een of ander krimineel?” Sy stem is soos ys toe hy praat: “Ek is gevaarliker as wat jy dink. Jy sien, so tien jaar gelede het almal my gesoek. Ek was op die punt om miljoene te maak met die diamante wat ek gesmokkel het, toe jou ouers my bust.” Amber se hart bons in haar keel, maar sy probeer kalm klink toe sy vra: “Is jy dan nie veronderstel om in die tronk te wees nie?” Hy lag en ‘n koue rilling glip verby haar ruggraat. Dis hoe die lag van ‘n psigopaat klink, dink sy by haarself. Sy stem sny deur haar toe hy praat. “Natuurlik is ek veronderstel om in die tronk te wees, maar ek het ontsnap en weet jy wat? Ek sal nie rus voordat ek wraak geneem het op agent K en agent J nie.” “Vir ‘n krimineel is jy nie baie slim nie. Het jy al daaraan gedink dat ek kan gil en dat iemand my sal hoor?” vra sy toe sy onthou sy is nie gemuilband nie. Hy grynslag nog steeds en antwoord: “Niemand sal jou kan hoor nie, die mure is klankdig. Moenie my onderskat nie en jy praat hopeloos te veel vir iemand wie se lewe aan ‘n draadjie hang.” Sy ignoreer sy opmerking en vra: “Wat gaan jy nou doen?” “Ek gaan jou ouers bel. Hulle sal betaal, ek moes jare lank in ‘n tronk sit sonder dat ek eers vir parool oorweeg is, danksy hulle.” “Hoe het jy in elk geval geweet ons sal hier wees.” “Jy moet nooit vir vreemde mense die deur oopmaak nie, maar jy moet ook nie vreemde geskenke aanvaar nie.” Amber frons en dan snap sy dit. “Die porseleinpop?” Hy knik en voeg by: “Daar was ‘n geheime ogie in wat jou dopgehou het en dit was nie so moeilik om twee en twee bymekaar te sit nie.” ******
“Dis alles my skuld. Ek moes van beter geweet het as om haar alleen op die strand té los. Ek is ‘n agent, ek behoort te weet dis onveilig!” “Moenie jouself verwyt nie, my skat.” Jake probeer tevergeefs sy vrou troos. Dis al donker en daar is nog geen teken van Amber nie. Hy begin nou self onrustig raak. Daar is soveel goed wat kan gebeur. Kimoné loop op en af. “Ons moet haar gaan soek. Sy kan nie te ver wees nie.” Jake wil nog iets sê, maar op daardie oomblik lui sy selfoon. Hy antwoord sy foon en toe hy die foon weer neersit is hy spierwit. “Ek weet waar is Amber.” Kimoné slaak ‘n sug van verligting en hy wens hy hoef nie die volgende inligting oor te dra nie. “Waar is sy, as sy sommer net weggedwaal het gaan ek haar die pakslae van haar lewe gee, sy moenie dink sy is te oud vir ‘n pakslae nie.” “Kim, Shane het haar.” Sy gaan sit verslae op een van die stoele. “Shane Riekert, die diamantsmokkelaar wat ons jare terug tronk toe gestuur het?” Jake knik net, hy weet nie wat om te sê nie. “Wat wil hy hê? Daardie man is gevaarlik! Hy het een van sy eie manne koelbloedig doodgeskiet.” “Dink jy ek weet dit nie! Hy het gesê hy sal ons later weer kontak en dat ons gaan betaal vir wat ons aan hom gedoen het.” “So dis wat hy wil hê, wraak.” “Ons kan nou niks doen voordat hy ons weer kontak nie.” “Ons kan hom mos opspoor. Ons het dit een keer gedoen, ons kan dit weer doen.” “Nee, Amber se lewe is op die spel. Ons wag totdat hy ons weer kontak.” Sy wil nog teëstribbel, maar sy kan aan Jake se gesig sien sy moenie nou karring nie en laat vaar maar eers die onderwerp. Van een ding is sy seker en dit is dat Shane Ricks nie daarmee sal wegkom nie. ***** Trane brand die hoek van Amber se oog. Die man het haar alleen in die vertrek gelaat en dis pikdonker rondom haar. Die veggees van vroeër is weg en sy voel lus om te begin huil en nooit op te hou nie. Hulle kan nie eers vakansie hou soos ‘n normale gesin, sonder dat sy ontvoer word deur ‘n krimineel nie. ‘n Koue wind waai oor haar kaal arms, maar sy voel dit nie eers nie. Die toue het haar polse stukkend geskaaf soos sy dit probeer loskry het. Sy leun met haar kop teen die muur. Sy is moeg, maar sy kan dit nie bekostig om aan die slaap te raak nie. Later sluimer sy tog in en toe sy later wakker skrik voel sy weer vol moed. Daar sypel ‘n dun stroompie sonlig in en dis al hoe sy weet dis weer dag. Die man het nog nie weer sy verskyning gemaak nie en sy hoop hy bly weg. Hy maak haar bang. Hy het die oë van ‘n geharde misdadiger, iemand wat nie omgee om te moor nie. Sy probeer weer haar hande loskry en byt op haar lip toe iets skerp haar vinger sny. Sy kan voel hoe ‘n stroompie warm bloed oor haar vinger loop. Sy vou versigtig haar hand om die koue voorwerp. Dit voel soos ‘n stukkie glas. Op daardie oomblik swaai die luik oop en die man kom weer te voorskyn. Sy laat val vinnig die stukkie glas en maak asof sy so pas wakker geword het. “Môre! Hoe gaan dit vanoggend met jou?” groet hy vriendelik asof sy ‘n vriend is wat hy jare laas gesien het. Sy ignoreer sy vraag en haar maag grom toe sy die bakkie pap in sy hand sien. Hy kom kniel voor haar neer en vra: “Is jy honger?” Sy ignoreer hom weer en sy kan sien hy is besig om hom te vervies. Hy sit die bakkie pap neer en sê: “Ek sien ons is besonders minder spraaksaam as gister. In daardie geval moet jy maar honger bly, totdat jy weer maniere kry.” Hy staan op en verdwyn weer. Sy is lus om iets bitsig agterna te skree, maar byt eerder op haar lip. Sy voel-voel totdat sy weer die stukkie glas beet het. Sy sny die tou met die glas. Dit vat haar ‘n hele rukkie en toe sy klaar is het sy ‘n hele paar snye op haar hande, maar die toue is ten minste los. Sy maak die tou om haar voete ook los en die keer gaan dit vinniger. Sy staan op en wonder wat sy moet doen. Dan vang haar oog die venster. Sy sukkel om die venster oop te kry en bid dat die man nie binnekort sal terugkom nie. Sy kyk af en haar knieë bewe. Dis ‘n hele entjie onder toe, maar reg langs die venster is daar ‘n geut waarmee sy kan afklim. Haar hart klop woes in haar keel, maar sy weet as sy nie nou dadelik wegkom nie, die man haar gaan vang. Sy pas net-net deur die venster en haar hande klem die geut vas. Die geut is nie meer so stewig nie en sy onderdruk die begeerte om te gil. Sy maak haar oë toe en klim stap vir stap. Sy is amper onder toe sy voel hoe haar hande begin gly. Sy probeer om vastrapplek te kry, maar haar hande gly los. Sy land hard op die grond en is dankbaar dat ‘n stukkende knie en elmboog die enigste beserings is. Sy kon haar nek gebreek het dink sy verlig. Sy is nog meer verlig toe sy besef sy is nie so ver van hulle strandhuisie af nie. ***** Kimoné is in die kombuis toe iemand aan die deur hamer. Sy maak oop en skrik toe sy Amber sien. Sy is vol skrape en snye en bloukolle, maar verder lyk dit nie of sy te erg beseer is nie. Sy omhels Amber dankbaar. Later sit hulle al drie in die sitkamer. Shane Ricks is weer in die polisie se hande en Amber is veilig. Kimoné sit haar arm om Amber en sê: “Ek is so jammer my skat, dis alles my skuld.” “Nee mamma, dit sou in elk geval gebeur het. Shane Ricks is slinks.” “Jy is beslis ‘n baie dapper meisie” voeg haar pa by en Amber glimlag. “Ek is net baie dankbaar dis alles verby.” sê Amber gedaan. Hulle sit rustig en kuier verder, onbewus van die paar moorddadige oë wat hulle deur die venster dophou...



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

WRAAK
Jy skryf baie goed! Net meer paragrawe en dialoog afsonderlik. PUIK geskryf!!!
6 jaar 8 maande 3 weke 6 dae 5 ure oud



Treë na Innerlike Genesing

deur Leonard John Holmes

Hoe werk mens deur die verlies van ’n geliefde? Hoe hanteer jy die depressie, haat en selfverwyte op ’n jong ouderdom? Hoe vind jy God as jy Hom nog nooit persoonlik geken het nie?



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar