Jeugverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Ouma Gerty is nou al amper 82. Sy het deur die jare talle inspirerende stories, gemik op die jeug, geskryf. Ek het onderneem om haar te help om dit wyer te publiseer. Hier volg nog een:


Maats, baie jare gelede het 'n oom wat sendingwerk gedoen het 'n vriendelike gesprekkie met 'n seuntjie aangeknoop wat nie kon lees of skrywe nie. Nadat hy eers verneem het wat sy naam was en waar hy woon, het hy sommer met dieselfde asem ook gevra of hy al van JESUS gehoor het. Die seuntjie het toe nagedink en baie eerlik gesê dat dit die eerste keer is dat hy van so 'n Naam hoor.

Wel, die oom het nie gras onder sy voete laat groei nie en het die wonderlike geleentheid aangegryp om vir die seuntjie van Jesus te vertel, vanaf Sy geboorte, Sy wandel op aarde, Sy kruisdood en Sy hemelvaart. Dit was vir die seuntjie die mooiste, mooiste ware verhaal wat hy ooit gehoor het. Hy was toe baie gretig om ook vir Jesus as sy Verlosser en Saligmaker aan te neem. Die oom verduidelik toe vir hom wat hy moet doen om vir Jesus in sy hartjie in te nooi en hoe om Sy kindjie te word. Hy lees toe vir hom Open.3:20 - "Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan en saam met hom maaltyd hou en hy saam met my." Die seuntjie het die deur van sy hartjie gelowig vir Jesus van die binnekant af oopgemaak en Jesus in sy lewe ingenooi. Hy het ook vir Jesus gevra om sy hartjie met Sy bloed te reinig van alle sondes sodat dit witter as sneeu sal wees. (Jes.l: 18). Ja, die Here het hom gesëen. Hy het toe dadelik die versekering gekry dat hy aan Jesus behoort en Sy kindjie is. (Lees tog ook in jou Bybel Joh.10:28; Joh.1:12).

Die oom het toe sommer dadelik vir hom die eerste sinnetjie van Psalm 23 geleer: "Die Here is MY HERDER." Om dit te onthou, moes hy toe sy linkerhandjie omhoog hou en met sy regterhandjie vanaf sy duimpie tot by sy pinkie een-vir-een dié vyf woorde hardop sê: "DIE HERE IS MY HERDER." Hy het vir die seuntjie geleer om sy ringvingertjie vir 'n rukkie styf vas te hou en om te onthou dat die Here sy Herder is.

'n Paar weke nadat die seuntjie 'n ontmoeting met Jesus gehad het, het 'n hewige sneeustorm hul dorpie getref. Ten tye van die sneeuval was die seuntjie in die veld besig om sy pa se paar skape bymekaar te maak. Dit het al kouer geword. Die sneeu het vir ure aanmekaar geval. Die arme ou seuntjie kon nie sy pad terugkry na hulle huis en na die dorpie nie. Tragies maats ... hy het gesterf in die sneeu en verkluim van die koue.

'n Soekgeselskap onder leiding van die sendeling wat hom na Jesus gelei het, het sy lykie diep onder die sneeu gevind. Weet julle maats, sy regterhandjie was styf geklem rondom sy vierde vingertjie aan sy linkerhandjie. Hy het 'n boodskap nagelaat vir hulle wat hom gevind het: "Die HERE IS MY HERDER." Hy was nie bang om te sterf nie, want hy het geweet die Here is by hom en dat hy aan die Here behoort het.

Onthou, as ons waarlik 'n persoonlike ontmoeting met Jesus gehad het, en Hy besit geneem het van ons hartjie, dan alleen het ons die reg, en kan ons met sekerheid sê: "DIE HERE.lS MY HERDER."

Is die Here al jou HERDER? Indien nog nie - moenie dat Hy nog langer buite staan nie. Nooi Hom sommer nog vandag om in jou hartjie te kom woning maak. Onthou, Hy het jou en al die maats wat hierdie verhaaltjie gelees het, baie lief. Hy wil nie hê dat een van Sy lammertjies verlore moet gaan nie. (Lees Joh.21:15; Joh.10:28)

GEBED:
Liewe Here Jesus,
Ek kom ook vandag net soos ek is na U toe en maak die deur van my hartjie vir U oop. Neem my lewe in besit en maak my U kindjie. Ver¬gewe asseblief al my sondes (noem hulle by die naam) en maak my hartjie witter as sneeu met U bloed - wat reinig van alle sonde. Dankie dat U ook vir my sondes aan die kruis gesterf het. Ek neem U as my Verlosser en Saligmaker aan en ek wil U dank dat ek weet ek behoort aan U vir altyd en dat U ook MY HERDER is.


Liefde
Ouma Gerty



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Herder
Dankie trots dat jy deur hierdie verhaal ons weer laat besef dat daar slegs Een Verlosser en Saligmaker is. Welgedaan.
6 jaar 8 maande 1 uur oud



tussen woorde se oop spasies

deur BennyB

Die bundel dra ek op aan elke leser. Al word slegs een mens deur die verse geraak, al gee dit slegs een mens hoop dan is my hart rustig en nou en môre vir my perfek!



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar