Jeugverhale

Bladsye:
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Die is nie my werk nie; ‘n eksamen vraestel van Hendrik P Beyers wat ek baie hoog ag, en wat my baie inspireer - September 1990

-Nog eenmaal wil ek in die skemeraand weer op ons dorp en by die dorpsdam staan – ek wil terugkyk oor die hiasinte en die biesies, en sien hoe het die tyd oor my gegaan.

Dit is die soet, koel geur van die najaarsgras onder by die water wat my in ‘n nogstalgie dompel, en weer is ek die sproetgesig deugniet met twee jaar se skoolgaan agter my naam, ‘n rekker in my broeksak en ‘n toffie in die kies. Hier kom hulle nou : Elkeen met sy fiets. Een dra ‘n slingervel. Dit was nog altyd so. Kon dit ooit anders wees?

Dit was ons wêreld hierdie – hier was ons baas – van die uitloop tot waar die rooigrond kol-kol deurslaan op die oorkant. Niemand het dit ook ooit gewaag om te oortreë nie. Ons kan die beste kleilatgooi, en die beste rekkers maak. Die populier het na ons fietse gekyk – die een wat eerste opdaag vir ‘n spitsberaad omtrent die ontstellende aantal meisiemense in ons klas, kon sy fiets in die mik parkeer – so windmaker skuins. Die konferensiekamer het ons self gebou . ‘n Ses – by – ses gat in die bo-wal.

Op ‘n dag word ons wêreld groter – en die eerste groot geveg vind plaas in “ Die Gat” duskant die klipplaat. So word nuwe vriendskappe gesmee. Ons speel – maar die speelgoed verander. Ons eerste kano het gesink soos ‘n klip. Al gesien hoe dop ‘n waterskilpad op sy rug as jy hom klits met die seloen?

Die Hoërskool bring meisies, en hulle bring moeilikheid. En weer verander die speelgoed. Alles word skielik rustig (buitelangs). Daar word meer gesit, en met klippe na die rotspunt uit die water gegooi – en gesels oor hulle : die onverstaanbares, wat alles sommer so warm laat word. Die son wat diekeer in die mik van die kameeldoring ondergaan (net soos die afgelope 8 jaar) kry meteens nuwe betekenis en jy wens jy was nie alleen nie. Alles is so anders. So rustiger – maar tog so gejaagd. Algeneme Wetenskap word Skeinat, Biologie. My fiets, ‘n motorfiets en die langbeen, vlegsel – met – bolletjies – meisiekinders word…..verbasend mooi.

‘n Braai bied die geleentheid om die naweek se rugbytaktiek te bespreek. Jy leer bid vir ‘n maat – leer aanvaar dat die dood hom moes neem. Dinge begin kwel – nie meer ‘n gebreekte rekker of ‘n papwiel nie, maar groot dinge. Vrae word gevra en wonders gewonder. Maar tyd vir antwoorde – nee. Jy moet oral tegelykertyd wees. Almal tevrede stel, rondhardloop, ‘swat’, verduidelik : hoekom, hoeveel, waarnatoe, wanneer, met wie, hoe laat, wat, waarom, en ons skryf Matriek!

Alles lyk so rustig, maar diep in die onderwaters bruis die verantwoordelikheid. Jy wil jou doof hou ; nee. Dit bruis en raas en maal. Ek moèt. Wil ek? Ek mòèt! Die Rentmeester kom en jy sal moet wys. Die probleem kan nie in die konferensiekamer in die wal opgelos word nie. Nou’s ek alleen.

Wanneer het ek ‘n damwal nodiger as nou gehad? Ek soek hoogte sodat ek kan sien wat moet gebeur. ‘n Staanplek wat myne is - waar ek die beste kleilatgooi...

En as die son sy laaste voelers duiselig terugtrek oor die klip en palmiet, die gat in die wal, tot by die ou kameeldoring, dan het ek nog ‘n laastemaal op ons dorp en by die dorpsdam gestaan en ek weet ; ek sal moet verder gaan.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

gunsteling!
:)
7 jaar 2 maande 3 weke 3 dae 18 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


    Geborg deur :

    Van ons ander lede

    Sirkeldans

    deur Driekie Grobler

    Die foto van my boek wys nie op die advertensie wat julle geplaas het nie, kan julle dit asb vervang met hierdie foto. Baie dankie :)



    picture

    Kompetisies

    Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

    picture

    Nuusbriewe

    Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

    picture

    Winkel

    Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar