Jeugverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Een

Die voorstad is nog nie heeltemal wakker en selfbewus soos die middestad in die laagte nie.
Karel stap koponderstebo.  Stadig.  Onder sy skoensole gee November sag op die sypaadjie mee, soos die dik mat voor sy bed.
Bloeisels.
Die vroegoggendlug beweeg traag en van die bloeisels kom uit die boomtakke bo hom los. Hy gee nie meer om dat hy nie weet wat die boom se naam is nie.  Die borriegeel vlokke val. Uit die geel mat, dig en verdowwend geel, warrel die bleek droës weg in ‘n luggie wat wil-wil waai.  Geel wat teen mure, teen randstene, teen pale opdam.
‘n Enkele bloeisel val op Karel se borselkop, haak vir ‘n oomblik in die gejelde punte van die staankuifie vas en glip oor sy gesig voor by die kraag van sy hemp in.
Hy gaan staan.  Sy blik steeds nikssiende voor sy skoenpunte gerig.  Ingedagte voel-voel hy in sy nek en haal die bloeisel uit, kyk daarna, kneus dit ligweg, frommel dit dan en voel hoe die sap klam en koel is.  Hy skiet die balletjie voor hom uit.  En vee sy vingers teen sy skoolbroek af.
Hy lig sy kop effens op en kyk voor hom uit.  Elke liggeel skaduwee onder elke boom loop oor in die volgende een s’n in.
Gaandeweg meng die geel in sy blik teen die laaste pers vlekke van ‘n hardnekkige jakarandalente.  Geel pas nie by pers nie.
Iets in Karel raas, is moeg, mismoedig.  Sy kop sak.  Hy stap verder.
Wéér kon hy nie slaap nie.  Hy’t alles probeer.  Die radio afgesit, sy oë toegemaak; links op sy sy gelê, toe regs, op sy maag, sy rug; en diep en gemaklik ingeasem, diep en gemaak gemaklik uit; naderhand sonder lus gefrustreerd gedoen wat ouens doen om heeltemal te ontspan.  Maar nog kon hy nie slaap nie.
Gebid.
Vaak het hy nie geword nie.  Net moeër.
Daar is goeters in sy kop en goeters in sy hart.  Goed wat nie pas by alles wat hy geleer dink en glo het, wat glo waar en reg is nie.  En nou gehoor het nie sommer so is nie.  Iets gehoor wat saamklink met dit wat hy in sy gemoed wéét.
Hy was nooit van plan om na daardie radio-inbelprogram te luister toe hy lusteloos van sender na sender op soek na wie-weet-wat was nie.
Weke lank goeters in sy kop, sy hart.
Hy vloek hardop, skop-sleep sy skoene deur ‘n mengsel geel en pers bloeisels, en stap vinniger, doelgerigter verder.
Totdat die mat onder sy voete pers plop en hy die sagtheid skaars voel.  Totdat gruis knars en harde plaveisel word.  Totdat hy sonder om op te kyk deur die agterhek die skoolterrein agter die rugbygronde binnestap.
Onbewus van die stilte van die leë klaskamers anderkant die sportgronde, die leë stoepe, leë gange en leë hoeke.  Onbewus van die figuur onder die denneboom waarheen hy outomaties op pad is.  Onbewus van die soeterige rookreuk wat in die lug na hom toe aankom.  Onbewus van die girts van droë dennenaalde.
Net bewus van die misnoegdheid in hom.
“Karel.”  Gemaklik.  Dirk blus die kooltjie teen sy skoensool en skiet die stompie tussen die ander bome in.
Karel kyk uit sy misnoeë op wanneer hy naby Dirk kom.  Hy sien Dirk se glimlag.
Hoe sal hy ooit vir Dirk kan vertel?  Of vir Tanja?  En dan’s daar nog sy ma.
“Dirk.”
En ‘n stilte kom hang tussen hulle soos ‘n raam sonder ‘n prent daarin.
“Hoezit?”
“Seker oukei.”  Met een beweging sit Karel sy skoolsak langs sy voete neer en gaan wydsbeen oor die boomstomp sit.
So ontmoet hulle al van kleins af.  Vroeg voor skool.  In die laerskool was dit om langer te kon speel.  Nou speel hulle nie meer nie.  Einde graad 9 begin 10 het vroeë spel vroeë gesels geword.
Nou sit hulle so.  Kyk vir mekaar.  Karel weet nie hoe om die vraagfrons tussen Dirk se oë te beantwoord nie.
“Nog net twee ure of so,” sê Dirk om iets te sê.  “Dan is dit vakansie.”  Hy bly ‘n rukkie langer stil.  Dan sê hy dit huiwerig:  “Ek gaan nie meer die vakansie weg nie.  My ma het gisteraand gesê my pa het gebel.  Sy verlof is gekanselleer.  Ek dink hy lieg.”
“Cool.”  Dan besef hy hoe dit kon klink.
“Ek bedoel nie oor jou pa nie.  Ons al drie gaan nie weg nie, dis wat ek bedoel.”  Stilte.  “Dink jy genuine jou pa lieg?”
“Jip.  Laas toe ek by hom was, moes hy dan dit en dan dat doen.  Hy was omtrent nooit by die huis nie.  En wanneer hy was, was hy te moeg, selfs vir net saam sit en chat.  Dan prop hy geld in my hand, gee my die karsleutels, en sê:  Gaan geniet jouself.  Ek’s gatvol vir hierdie pa-seun-ding …  Dit freak my uit.”
“Jy hét ‘n pa,” is al wat Karel kan uitkry, en kyk af na sy sak.
“Jy het ‘n pa.”  Hy maak die sak oop en haal sy Werkboek uit.
Dirk draai weg van Karel af.  Wat weet Karel in elk geval? wonder hy.  Hoe sal Karel ooit weet wat die pa-ding aan hom doen?
Op die bladsy versmelt al die woorde voor Karel se oë.  Al wat hy sien, is hoe sy sussie daardie nag voor sy bed kom staan het en gesê het hy moet vir Pa gaan groet.  Hy wou nie.  Want daar was nie meer regtig ‘n pa om te groet nie.  Net een wat soos sy pa gelyk het daar op die dubbelbed in die kamer wat muf en na medisyne geruik het.  En tog het hy meganies opgestaan, meganies oor die koel teëls gestap in die muf kamer in.
‘n Man met oë toe.  Oë wat nie weer sou oopgaan nie.  ‘n Pypie uit ‘n sakkie in sy arm.  Drup.  Drup.  Kanker, het sy ma nog gesê.  Meganies het hy langs die bed gaan staan en gekyk na die ooglede van die man wat al weke lank nie vir hom kon kyk nie, nie met hom kon praat nie.  Net daardie een keer, toe sy oë ‘n oomblik oopgeflikker het, en hy “Seun” gesê het, en Karel “Pa”.  Net dit.  Oë toe.  En hy sy pa se hand gevat het.  Warm, maar pap.  ‘n Oomblik waarin alles vir hom verbygegaan het.
Vir wat moes hy hom groet, dit groet?  Dit was niks anders as ‘n lyf, nee, ‘n lyk nie.  En wie groet lyke?  Kwaad.  Hy het omgedraai, na sy kamer toe gegaan, die Bybel langs sy bed gevat en dit so hard bo in die hangkas ingegooi dat die boekmerk uitgeval het.  Gevloek.  Gehuil oor sy pa weggevat word en oor hy amper veertien was sonder ‘n pa.  Kwaad oor die ding in die bed nie sy pa was nie.
“Gaan ons vanaand jol?” dring Dirk se stem Karel se gedagtewêreld binne.
Karel maak of hy op die boek voor hom konsentreer.
“Hei, tjomma.  Ek praat met jou.”
“Cool.”  Karel kyk op in Dirk se donker oë.  Hoe gaan hy hom ooit vertel?  Sy beste tjomma?  “Cool.  Sê net waar?”
“Fellas? Worx? Limbo?  Kies jy.  Dis jy wat depro is. Alles sal sommer regkom as jy ‘n bietjie kuier, dans ... “
“Senate,”  val hy Dirk in die rede sonder om twee keer te dink.
“Senate?!”  Effens verbaas.  “Wat?  Saam met die mofgatte!”
Mofgatte.  Karel hou nie van die woord nie.
“Who cares?"  antwoord Karel effens uitdagend.  Dis nou of nooit.
“Karools!  Dirk!”  Tanja se stem verdryf die oomblik.
Hulle kyk op en sien haar aankom:  son op ‘n wintersdag.  En hulle sien ook hoe daar intussen ander kinders by die skoolgeboue aangekom het en rondbeweeg.
Dirk staan op.  Karel bêre sy Werkboek.
“Ek’t geweet ek sal julle hier kry.  Het julle twee gedeurnag dat julle so vroeg is?”  vonkel sy tot reg voor Dirk, gooi haar hande om sy nek en soen hom.  “Oe-oe, nie te lank vashou nie, jou sexy ding!”
Dirk los haar stadig.  Sy draai na Karel toe, gryp hom aan sy voorarms, trek hom regop.  “Jy’s self nie te bad nie!”  Hy kan nie help om te glimlag nie en gee haar ‘n drukkie.
“Dis beter!” sê sy.
“Gaan jy vanaand saam?” vra Dirk, en sit sy hande breed om haar heupe.  “Senate.  Karel se keuse.”
“Ag, toe, man.”  Karel boots geesdrif na.
“Oukei-oukei, omgepraat,”  speel sy saam.  “Actually wou ek vanaand voor die TV ge-chill het; hierdie eksamen was woes.  Maar uitgaan saam met julle sal cool wees.  Ook vir Dad-hulle.  Hulle dink mos julle twee kan niks verkeerd doen nie.”
Daar is warmte in haar blik as sy eers vir Karel, dan vir Dirk in die oë kyk.  Haar glimlag is eerlik.
“Karools,” troetel sy Karel, “nou moet ons net vir jou ook iemand organise.  Wat van …?”
“Ek het iemand,” val hy haar rustig dog ferm in die rede.
“Wát?!”  Tanja en Dirk se verbaasde koor.
“Jy’t iemand?!  Dis great!”  Tanja.
“En jy hou dit stil?  Skelm!”  Dirk boks hom speels op sy arm.  “Ons dog jy swot elke keer as jy ons nie wil sien nie.”  Hy klap hom speels teen sy wange.
“Nou, ja, toe … jy’t iemand!  G’n wonder jy wou die meeste van die tyd nie saam met ons movies toe gaan of niks nie.”  Hy gee hom ‘n skouerdruk.  “En ek dog ons is tjommas!” speel hy oordrewe op Karel se gevoelens.
“Wie’s sy?  Ken ons haar?  Wanneer het jy haar ontmoet?  Is sy mooi?  Toe-toe …”  por Tanja hom.  Haar nuuskierigheid ruk handuit.
“Wel,”  sluk Karel moeilik aan die knop in sy keel.  Nou, of nooit.  Hy gaan sê.  Dit agter die rug kry.  Hy is siek en sat vir wegsteek, vir ‘n leuen lewe.  As hulle hom dan gaan drop, is dit dan nou maar dit.
Die skoolklok weerklink skril.  Skielik maar nie onverwags nie.  Hulle skrik.  Hulle mag nie laat wees vir hierdie, die laaste eksamen nie.
Verligting én teleurstelling spoel deur Karel wanneer hulle inderhaas oor die gras stap.  Dirk sit kougom in sy mond.  Hulle het net drie minute, dan lui die tweede klok.
“Kom ons kry mekaar na die eksamen weer by die stomp,”  stel Tanja voor.
“Oukei.”
Karel stap skuins agter hulle, vroetel met sy selfoon, tik in die loop twee woorde, stuur dit.
Dan is hulle tussen die ander by die sportsaal.
“Lekker skryf, ouens.”  Tanja stap voor die twee met ‘n “Goeiemôre, Juffrou” verby juffrou Pienaar die saal in.  Gevolg deur Dirk wat kopknik.  En Karel met ‘n “Môre” skrams op sy lippe, maar met oë wat van nag praat.
Karel stap al langs die ry eweredig gespasieerde skoolbanke af.  Skuins voor hom staan Werner.
Dit gons soos wat almal laaste dinge vir mekaar sê.
Dan skril die tweede klok en ‘n stilte kom lê oor die saal soos ‘n doek.  Daar is afwagting in die lug.  Is dit die vakansie, die vraestel?  Afwagting, nietemin.
Karel is slegs halfbewus van die gewone openingsritueel van groet en sit en wag dat die vraestelle uitgedeel word.  Hy móét fokus.  Hy móét konsentreer.  Hy kan nie nou droogmaak nie.  Ook Afrikaans se punte is belangrik vir sy beurs- en universiteitsaansoeke.  En opstelle is sy sterk punt.  Was nog altyd.
Hy kyk op, vang Tanja se oog.  Sy glimlag ‘n son.  En dan na Dirk.  Hulle kyk vir mekaar en druk gelyk op die skerp punte van hulle potlode.  Skerp!  Voor hom glip Werner se vingers deur sy nekhare af tot onder sy kraag.
“Graad 11’s, julle het presies een-en-‘n-half uur.  Dis nou op die kop agtuur.  Selfone af en, asseblief ouens, gebruik julle horlosies.  Julle kan maar begin.  Lekker skryf.”
Karel vluglees die onderwerpe van bo af:  MIV/Vigs, Hede en toekoms in die nuwe Suid-Afrika, ‘n Moderne Kersverhaal, Blomme langs die pad.  Die waarheid maak vry …  Karel se hart klop harder tot  in sy keel.  Kultuur van geweld sien hy glad nie raak nie.
Iemand het sy hart afgeluister!  Sjit!  Iemand het sy hart afgeluister! Hy sit sy hande oor sy ore. En knyp sy oë toe.
“Is alles reg?” fluistervra juffrou Pienaar langs sy kop.  Hy het haar nie gehoor naderkom nie.  Effens vervaard kyk hy haar in die oë.  Dan af op die vraestel, en knik bevestigend.
“Soort van,” mompel hy terwyl hy sy pen vat en die nommer en onderwerp neerskryf, dit onnodig dik onderstreep.
Goed, hy sal hulle wys.  Hy sal sien of hulle die waarheid kan handle?
Woord na woord, beeld na beeld, stemming na veranderende stemming skryf hy sy hart uit.  Dit word ‘n kleedrepetisie.  Hy repeteer wat hy vir Tanja en Dirk en sy ma sal moet sê.  Van die leuen wat hy leef, leuen wat hy soms met leuenwoord en leuendaad ondersteun.  Oor hy hulle nie wil teleurstel nie.  Oor hy weet hulle teleurgesteld sal wees en hom sou verstoot as hulle maar net sou weet.  Tanja en Dirk en sy ma.  En hy skryf van die waarheid wat hom vry laat voel het elke keer wanneer hy nie die leuen leef nie, dit nie hoef te leef nie.
“Laaste sin, ouens.”  klink meneer Gouws se stem sterk.  Hier en daar ritsel ‘n pen nog oor papier.
“Penne neer!”
Nog geritsel.
”Sandra, Barend, Linda, Karel, Werner, Bernine, Tanja, Deirdré, Stefan, Dirk, Eloïse,   julle ook.  Penne néér.”
Die ritseling hou op.
“Goed, skrifte van agter af vorentoe, asseblief.”
Karel leun terug terwyl hy wag om sy eksamenskrif op die dikker wordende stapeltjie te sit wat van agter hom gaan kom.  Hy doen dit en hy gee die skrifte oor Werner se skouer aan.
“Geniet die vakansie, gedra julle en sien julle volgende jaar.  Geseënde Kersfees,”  sluit meneer Gouws die skooljaar af.
Geroesemoes.  Stemme en stoele wat rondgeskuif word.  Samedromming van skooluniforms by die deure.  En stemme.
‘n Swarigheid hou Karel in sy sitplek en soos ‘n trapsuutjies sit hy sy skryfgoed nikssiende terug in sy pennesakkie.  Buk af en sit sy pennesakkie in die skoolsak.
Onbewus van Tanja wat langs hom kom staan, van Werner wat van die deur af na hulle staan en kyk.  Onbewus van juffrou Pienaar wat na hom kyk terwyl hy sy selfoon aansit, opstaan, sy sak optel, Tanja se arm om sy skouers voel en deur toe begin stap.
“Ek sien soos altyd uit na julle twee se opstelle,” fluister juffrou Pienaar, asof terloops, toe hulle by haar kom.  “Geniet die vakansie.”
“Dankie, Juffrou.  Lekker vakansie vir Juffrou ook.”  Tanja.
“Geseënde Kersfees, Juffrou.”  Karel, net-net hoorbaar.
Hulle vat koers stomp toe.
Bliep-bliep.  ‘n SMS.  Karel haal sy arm van Tanja se skouer af, gaan staan en haal sy selfoon uit.  Sien van wie die SMS kom.  Lees die boodskap.  Twee letters:  “OK”.  Net dit.  Iets om na uit te sien.  Soos altyd.
“Die waarheid maak vry …” sê hy sonder intonasie vir Tanja.
Sy trek haar asem vinnig in.
“Scary ...” Haar son begin verduister.  “Ek het dit ook gekies.”
“Die waarheid maak vry …” By die stomp, vir Dirk.
Dirk bly ‘n lang ruk stil.  Hy kyk vir Karel.  Hy kyk vir Tanja:  “Flippit, hoe weet julle ek het daaroor geskryf, of raai julle net?”
“Ons al drie het.” Tanja se son verduister heeltemal.  “Scary ...”
“SMS my oor hoe laat vanaand.  Ek gaan mif.”
Karel draai om en loop van die dennenaaldmat af tot by die skoolhekkie.  Hy draai om en roep hard in Dirk en Tanja se rigting:  “Sie’ julle!”  Hulle waai terug.
Die betonplaveisel word gruis wat knars.  Word pers bloeisels wat onder skoensole plop, pers wat uiteindelik verdring word deur geel.  ‘n Laat, laat lente.


Twee

Tanja kyk Dirk agterna, sy soen nog warm in haar mond.  Soos gewoonlik draai hy by die hoek van die straat om, buig en spring dan in die lug in, kap sy hakke soos Charlie Chaplin, en land buite haar blik om die hoek.
Sy sug en haal die balkie met die woord “Hoofmeisie” daarop af, en sit dit in haar sak.
Bedrewe tik sy die kode by die houthek in en stoot dit oop wanneer sy die klikgeluid hoor.  Ingedagte stap sy deur, draai om en druk die swaar deur weer toe.  Klik.
Wanneer sy omdraai en opkyk, sien sy die kar onder die afdak.
"Sjit!"
Sy besluit vies om agterom die huis te stap.  Daardie man is weer daar.  Sy wil hom nie sien nie.  Sy wil haar ma nie sien nie.  Haar ma moet mos weet die skool sluit vandag!  Vroeg, soos elke jaar.  Kon sy nie net vir die man gesê het om weg te bly nie?!  Liewe hemel, het die man nie ‘n werk nie?  Het hierdie vrou vir wie sy “Ma” sê, geen skaamte nie!
Sy maak die agterdeur so sag moontlik oop.  En steek in haar spore vas.  Glase.  Altyd weer glase.  Miriam staan en skottelgoed was.  Glase.  Vervlaks!  Kan haar ma nie maar end kry met die gesuipery nie!
En Miriam lees haar gedagtes, trek haar skouers op en beduie met ‘n seepvinger boontoe in die rigting van die slaapkamers.  Tanja registreer nie.  Sy’s te omgekrap.
Walging stoot in haar keel op.  Sy voel naar.  Sy stap yskas toe en sit haar tas neer.
Dit maak haar siek om te dink haar pa weet van al hierdie dinge sonder om iets te doen.  Kan hy nie maar net besluit om haar te skei en klaarkry daarmee nie?  Maar, nee, sy en Cindy moes hoor hoe hulle gesê het hulle sal wag “tot die kinders uit die huis is”.  Dis nog ‘n hele jaar lank voor sy oorsee sal kan gaan werk!
Cindy is gelukkig.  Sy’s al ‘n jaar lank in Londen, werk, deel blyplek met Ingrid, Karel se suster.
En nou moet sy wat Tanja is, alleen hierdie gemors by die huis hanteer.  Sy voel iets soos ‘n vloek in haar opstoot.  Dink dit.  Sê dit die keer nie.
Die beker lemoensap uit die yskas wasem terwyl sy so staan.  Dan sit sy dit op die kombuistafel neer.  Sy vat die skoon glas wat Miriam na haar toe uithou, en skink.  Vat ‘n groot sluk.  So asof sy die walg uit haar keel kan afspoel om verteer te word, uitgeskei te word.
En nou’s sy boonop hoofmeisie vir die volgende jaar.   Hoofmeisie.  Hoe ironies!  ‘n Hoofmeisie wie se ouers nie eers weet sy is gekies nie!  Hoofmeisie van dié spogskool, ja, spogskool. Haar ouers se alles moet mos altyd die grootste, mooiste, duurste, beste wees, die skool ook.
Sy sál hulle nie vertel nie.  Vir wat moet sy?  Net nog ‘n ding om oor te spog.  Gril!  Hoekom kan hulle háár nie ‘n slaggie iets gee om op trots te wees nie?
‘n Gedagte kom by haar op terwyl sy die laaste sap wegsluk.
Hoekom nie?  Dit werk vir Ma, dink sy.
Doelgerig stap sy kroeg toe.  Sy haal die Tassies weggesteek agter die ander bottels uit en vul haar glas.  Wat nog bodder met ‘n wynglas!
Daar is geen geselsery in die sitkamer nie.  Waar is hulle?  Seker maar op die sondek?
Glas in die een hand, skoolsak in die ander, klim sy die trappe op, loop op die dik mat gangaf na haar kamer toe.
Varke!
Aan die onderpunt van die gang is die hoofslaapkamerdeur toe.  Sy vat ‘n groot sluk en stap in haar kamer in, sit die glas op die lessenaar neer, die tas langsaan en gaan maak die deur saggies toe.  Sug.  Met ‘n swaarte in haar vat sy die glas en gaan sit op die bed.
Langs die bed op die bedkassie is ‘n kleurfoto in ‘n porseleinraam.  Dirk, sy in die middel, en Karel.  Hand om die skouers.  Dis die Oktobervakansie by die Waterfront geneem.  Hulle al drie lag vir die kamera.  Werner het nog die foto geneem.  Werner, een van die nuwe prefekte.  Hy’s in 11/6, anders as hulle drie.  Maar hy en Karel gesels partykeer.  Sy pa gaan met Karel se ma uit.  Sy sit die glas neer, vat die portret en kyk lank daarna, voel sag.
Maar dan vervliet die oomblik.
Hierdie vriende van haar was nog nooit in haar kamer nie, nog nooit in hulle huis nie, nog nooit eers op die erf nie.  Buite wel, as hulle saam met haar gestap het, of haar kom haal het wanneer hulle uitgaan.  Maar binne?  Nie.  Hulle aan so ‘n ma blootstel?  Nee. Een wat heeldag dronk is?  Nee.  Met daardie man wat dalk daar is?  Nee, nee, nee.
Portret terug op sy plek.  Die laaste sluk.  ‘n Vreemde brandgevoel sit op die krop van haar maag, ‘n warmte spoel deur haar lyf.  ‘n Soort lammigheid kom sit in haar kuite.  Haar kop voel lig, haar ooglede traag.  Dis of sy sukkel om te fokus.
Gemaklik lê sy terug op die bed.  Selfoon langs haar op die bedkassie.  Dirk het gesê hy sal bel.  Sy maak haar oë toe.
Droom deurmekaar.  Van Dirk by haar, wat skielik wegraak en sy wat hom soek en hom nie kry nie.  Dan dink sy sy kry hom, maar dis Karel.  Wil bly raak, vir Karel ‘n drukkie gee, maar hy is onbegryplik skielik Ma wat uitdagend en oorgegrimeer vir haar lag.  Tande in ‘n masker.  Wat Dad se stroewe gesig word.  En sy probeer weg van hulle af hardloop, en dan staan daardie man voor haar, daardie man, met die tande in die masker van Ma se gesig bo sy skouer.  Wat Dad se breë skouer word.  En sy draai om en probeer weghardloop, maar kan nie beweeg nie.  Iets hou haar vas:  sy sukkel, stoei en dan sien sy die stoeier se gesig – dis haar eie, sonder oë.  Sy skree.  Maar niks kom uit haar keel nie.  En dan sak sy in water af en kan nie asem kry nie.  Maar sien alles.  Sien vir Dirk wat bleek en dood in die water langs haar dryf, en langs hom Karel, met strak, oop oë.  Sy móét asem kry.  Sy snak.
Hoe het sy regop op haar bed gekom?  Sy kyk verward rond.  Haar hart klop vinnig.  Die bed is deurmekaar.  Sy kyk rond:  Haar oë kom tot rus op die drie droë rose met die goue strik wat sy onderstebo oorkant haar bed gehang het.  Dirk.  Kalmte.  Daardie dag.  Liefie.  Sy’t die cute plakkaat van Charlie Chaplin en sy roos agter die deur gehang.  Charlie Chaplin.  Hy lyk altyd so sad.
Sy kyk op die sel.  Daar’s ‘n SMS!  Van Karel.  Sy voel verneuk:  “Change of plans:  Get-together vanaand by Werner.  Kry jou 8 bells.”
Bliep-bliep.  SMS.  Liefie:  “Baby, get-together vanaand by Werner.  Kry jou 8 bells.  Pers toppie GROOT asb  Luv u.  D”.
“Cool, luv u 2” SMS sy terug.
Sy kyk op haar radiowekker:  Die groen vloeisyfers sê dat die middag nog lank kan wees.
Die leë glas met die rooi skynsel onderin staan daar.  Wat het sy aangevang?  Gaan sy soos haar ma word?  Die gedagte maak haar van voor af naar.  En sy onthou die toe kamerdeur.
Sonder om te dink staan sy op, sluit haar deur oop, loer om die deur af in die gang.  Die deur aan die onderpunt van die gang is op ‘n skreef oop.  Sokvoet oor die dik mat.  Sy huiwer.  Dan loer sy deur die skreef.  Sug verlig.  Haar ma is alleen.  Oopmond lê sy en slaap.  Een hand van die bed af.  Glas kwartvol langs die bed.
Hy’s weg.
Verlig gaan verklee sy.  Jeans, los toppie.  Haal die rek uit haar hare, en skud dit blink en goud oor haar skouers los.
Kaalvoet by die trappe af.
In die stil en amper skemer kombuis het Miriam vir haar plek by die ontbyttafel gedek.  Plekmatjie, servet, mes en vurk, bord met gesmeerde broodjies, mengelslaai en twee stukkies witkaas.  Onder kleefplastiek.  Sy het ‘n hol kol op haar maag.  Miskien is sy tog honger.  Sy’t nie ontbyt geëet nie.
Sy gooi vir haar ‘n glas melk in.  Gaan sit.  Die stilte en alleenheid is haar vriend.  Net soms mis sy vir Cindy.  Sy sal later kyk of daar e-pos uit Londen is.
Dis stil.  Net die mes en vurk klink van tyd tot tyd teen die bord.  Dis amper soos vrede.
Al wanneer sy veilig voel, is wanneer sy buite die grense van hierdie luukse heuwelhuis en sy tuin beweeg, sonder haar ouers.  Soos by die skool, uit saam met vriende, en gaan stap.  Stap.  Ja, sy sal ‘n entjie gaan stap.
Sy sit die laaste happie kaas en brood in haar mond en sluk dit met die laaste melk af.
In haar badkamer borsel sy haar tande, en gaan trek dan haar tekkies aan.  In die verbygaan vat sy ‘n paar snesies en sit dit in die jeans se agtersak.
Die buurt is mooi.  Net jammer van wat agter húlle hoë heining aangaan.
Die sypaadjie is breed, die bome weerskante van die straat maak ‘n laning van koelte.
Sy stap soos gewoonlik naby die randsteen en geniet die koelte in die soel vroegsomerdag.  Heuwel op, tot op die kruin.  Regs.  Verby die nog rykeres se huise, met hulle pronkerige sypaadjietuine en geplaveide motorinritte.  Links is die ongerepte groen sone met die rondomtaliehekkies in die heiningdraad.
Asof gedryf deur ‘n drang, stoot sy haarself deur die draai van die hekkie. En drentel al met die klippaadjie langs.
Sy ruik die veld en verbeel haar Werner-hulle se wildplaas toe Dirk saam was, en Karel.  En Karel se ma.
Sy en Dirk het alleen gaan stap.  Dirk met ‘n .22 aan ‘n band oor sy skouer geslinger.  Kakie. Daar is glo slange en ander bedreigende ongediertes.  Hand aan hand.  Sonder praat.  Net veldgeluide om na te luister.  Verder.
Dit was hulle eerste keer.
Bo-op ‘n heuwel het hulle onder bome gaan sit en uitgekyk oor die rykmanskamp wat klein en ver onder in die laagte langs 'n watergat lê.  Dirk het die geweer langs hom neergesit, die geweerloop weg van hulle af, kolf binne bereik.  Toe het hy sy arm om haar skouers gesit, haar teenaan hom getrek, “Baby” gesê, haar ken liggies met die ander hand gelig, tot agter in haar oë gekyk, sy gesig baie stadig nader gebring, sy ooglede gesluit.
Sy lippe was grassaad wat lig soos in ‘n bries oor haar gesig, toe haar lippe gevee het.  Toe soen hulle.  En die teerheid het innigheid geword, en die innigheid drif.  Drif wat drif ontmoet.  Sy hand het afgegly onder die rand van haar bloes in.  En sy het hom toegelaat.
Sy kon nie verstaan waar sy teerheid vandaan kom nie.  Haat vir enigiets wat anders as hy is, vir enigiemand wat anders as hy glo en doen en dink, dit was die Dirk wat sy leer ken het toe sy hom die aand ontmoet het – in die klas was hy maar net nog iemand.
Sy was saam met Cindy na Ingrid toe, Karel se suster.  Karel en Dirk was voor die rekenaar besig om games te speel.  Hulle het opgekyk en Dirk het duidelik verwonderd opgekyk.
En Dirk het, sonder om van haar af weg te kyk, opgestaan en vir haar die stoel aangebied, nie Karel nie.  Haar hare was los en sy het ‘n pers toppie aangehad.  Daar was iets verleë, iets seers in die donkerte van sy oë. Dis partykeer nou nog daar.
‘n Ambulans loei in die verte.  Tanja kyk uit haar mymering op.
Sy’s by die klip, hulle klip.  Wanneer sy dit oplig, is dit omdat sy weet wat sy gaan sien.  Die plastiekdoppie van ‘n koeldrankbottel en dofgeel ‘n suiglekkersellofaan.  ‘n Erdwurm glip terug in sy gat.  Versigtig pas sy die klip terug in sy plek.
Hulle klip.  Want net hier het hy haar die eerste keer teen hom vasgedruk en onervare gesoen en sukkel-sukkel gesê hoe hy oor haar voel.
Hier het hulle ook die eerste keer baklei.  Sy’t onskuldig gevra hoekom hy altyd kakie dra.
“Ek’s ‘n Boer.”  Asof vanselfsprekend.
“’n Boer?”  kon sy nie anders as om te vra nie.
En hy het met oorgawe verduidelik, asof vir een wat oningelig is.
Haar woede was onmiddellik en onkeerbaar.
“Jou draak!  Wie’s jy om te sê hulle is nie mense nie?  Disgusting!  Hulle het jóú niks gedoen nie!” en sy het haar hand met geweld uit syne losgeruk.
“Los my uit!” geskree toe hy weer aan haar probeer raak het.
“Om te dink ek het jou actually aan my laat vat, jou gesoen!” en met die voetpaadjie teruggehardloop.
‘n Week lank met geen kontak nie, en mekaar by die skool vermy.  Moeilik, oor hulle in dieselfde klas was.  Niks vir mekaar gesê nie.  Nie vir mekaar gekyk nie.  Die hoop en wanhoop vlak in hulle oë.
Sy was in die kombuis die Saterdagmiddag.
Trr.  Iemand het die interkom gedruk.
Trrr.  Sommer hier by haar waar sy ‘n koffiebeker uit die kas gehaal het.  Outomaties het sy die knop gedruk.
“Wie’s daar?”
“Ek.”  Sy stem.
“En?” het sy koel-kwaai gevra.  Iets in haar was bly, het heel week gehoop hy sou kom, en uiteindelik het hy.  Maar sy sal hom dit nie laat agterkom nie.
“Baby,” het hy intiem begin, “kan ons asseblief ‘n entjie gaan stap?”
“Gee my ‘n paar minute,” het sy met moeite haar stem beteuel.
Hoe sy so gou op die boonste verdieping gekom het, deur die hele gedoente gekom het van tande borsel, hare kam, en vars klere aantrek, het sy nie geweet nie.  Skaars drie minute later het sy vinnig by die tuinpaadjie afgestap, haar asem by die hek probeer normaliseer, toe die knoppie gedruk.  Klik.
Blou jeans en ‘n los top:  Dirk in ‘n Mystic Boer-T-hemp met ‘n boeliebiefmotief op.  Mystic Bull.  Drie swartrooi rose in sy hand.  Met ‘n goue strik.  Verleë.
Nie sy kakies nie.
“Vir mý?!”  is al wat sy kon uitkry.  Toe is die prentjie voor haar oë verwring deur die trane wat asof vanself gekom het.  Voor sy dit kon verhelp, was haar arms om sy nek, haar kop teen sy bors, haar lyf sag-rukkend teen syne.
Sy het net gevoel hoe sy arms soos twee hakies om ‘n geheime woord om haar vou en haar toegemaak het.  En haar veilig laat voel het.  Hy’t haar vasgehou.  Toe bedaar sy, en hoor sy hartklop.
Die trane op haar wimpers en wange het hy gesoen.  Toe haar voorkop.
“Baby.”  Daardie donker oë!  Daardie sagte vat aan haar.
“Liefie.”
Haar hand het asof vanself in syne ingegly. En steeds gepas.  Toe stap hulle.  Die rose was teen haar mond.  Daar was iets minder seers in sy oë.
“Dis beter as ons nooit weer oor anderdag se issue praat nie.  Ons sal tog net van voor af baklei,” het Tanja dit gewaag.
“Dit is so.  Ons moenie baklei nie, Baby.  Nie ek met jou nie.  Nie jy met my nie.”  En toe sê hy dit, vir die eerste keer soos iemand wat weet wat hy bedoel:  “Ek’s lief vir jou, Baby.”  En draai om na haar toe, en vee haar hare agter haar ore in.  Teer.
Net dit.
Die voëlgeluide raak opdringerig.  Of is die stad net stiller?
Tanja kyk om haar rond.  Die son sit al laag.  Dit sal nou-nou donker wees.  Sy sal huis toe moet gaan.
Met ‘n ompad deur die buurt stap sy huis toe.  Twee blokke van haar huis af merk sy hoe die straatligte aangaan.
Dis skemer.


Drie

Dit het Dirk baie oefening gekos om te leer om soos Charlie Chaplin te spring.  Skuins, hakke in die lug te kap.  Hy wou, want Tanja het gesê sy het ‘n swart-en-wit Chaplin met ‘n rooi roos in sy hand oorkant haar bed.  Toe kry hy 'n ou fliek by die videowinkel.  En sien die sprong.  En leer dit.
Hy wonder hoe haar kamer lyk?  Sy’t gesê die foto is langs haar bed.  Dieselfde foto as wat hy by Werner gekry het.
Dit was die eerste keer dat Werner hom in die oë gekyk het.
“Julle lyk cool."  Werner.
"Dankie, dit was great dat jy gevra het ek moet julle join.”
Ys het tussen hulle gebreek.
Almal by die skool, ook Dirk se rugbytjommas, hou hom op ‘n afstand.  Seker maar oor die goed wat hy met die merker op sy seilsak geteken het.  En die vlag.  Hulle sal in elk geval nie verstaan nie.
Nes Tanja nie verstaan nie.  Maar hy en Tanja praat nie daaroor nie.  Hy het haar nie eers vertel wat hy Januarie gaan doen nie.
Opgewondenheid kom in Dirk op terwyl hy afdraai spruit se kant toe.  Hy gaan leer om ossewawiele reg te maak.  Die tannie by die monument het gesê hy kan daar kom leer, uiteindelik ander mense leer om dit te doen.  En die wielmakery aan besoekers en toeriste demonstreer.  Teen R500 per dag.
Sy eie geld.  Hy’s keelvol vir sy pa wat heeltyd net geld gee, goed gee, geld gee.  Maar nie homself nie, nie tyd nie.  Nog nooit vandat hy van sy ma geskei is nie.  Nie eers toe Dirk die keer sy arm in rugby gebreek het nie.
Sy ma het nog na die game gebel en gesê:  “Ons seun het sy arm gebreek.”  En hy’t gehoop sy pa sal kom.  Maar hy het nie.  Nee, net later by sy ma gehoor hy’t die dokters se rekenings betaal.
En die dag toe hy sewentien geword het, die kar.  Net die vreemde kar toe hy die middag by die huis gekom het.  Hy’t gewonder wie s’n dit is.  Die kar het geblink.  In die poshokkie was ‘n koevert met sy naam op.  In sy pa se handskrif.  Hy was opgewonde dat sy pa onthou het.  Miskien …?
Toe het hy die koevert haastig oopgeskeur.  Daar was nie ‘n boodskap in nie, nie ‘n briefie nie; net ‘n stukkie karton met die twee sleutels met kleefgom daarop vasgeplak, en een woord:  “Joune”.  Geen “veels geluk” nie.  Nie die datum nie.
“Wie se kar staan buite?”  het sy ma die middag gevra toe sy na werk by die huis gekom het.  Die kosyn het haar geraam.
Hy’t sonder om te kyk die oopgeskeurde koevert vanaf die Ou Vertaling op die tafeltjie langs sy bed gevat en na haar toe gegooi.
“Dè!”
Sy’t raak gevang en die koevert begin oopmaak.
“Dis Ma s’n.”
Sy ma was duidelik uit die veld geslaan toe sy met die kartonkaart in haar hand staan.  “Hy’s jou pa en probeer maar net,” het sy soos altyd probeer om hom anders oor sy pa te laat dink.
“Spermskenker!  Vanskenker.  Geldskenker.  Goedskenker.  Dis al wat hy is.  Hy’s niks van my nie.”  Toe draai hy op sy sy, weg van haar af en wag dat sy wegstap.
“Ai, my seun,” was die sug wat hy gehoor het soos wat sy omdraai.  Sy, sy stil ma.  Wil sy nie maar net een keer kwaad word of iets nie?
By die brug wonder Dirk of hy gou by Karel moet gaan inloer.  Sy tjomma is nie lekker nie.  Hy’t darem baie skielik na die eksamen verdwyn.  En Tanja en hy wou nog uitvind wie die “iemand” is.
Dirk ignoreer die sekuriteitswag wat van Karel-hulle se meentkompleks af vir hom waai.  Hy draai in die wandelpad langs die spruit af.  Hulle klomp sien mekaar mos vanaand.  Uit die wandelpad in die straat op.  Dan druk hy die knoppie op die sleutelhouer.  Die motorhek skuif oop.
Miskien moet hy vanaand maar die kar gebruik wat toegemaak onder die afdak staan.
Die hek skuif agter hom toe.
Gebruik.  Net hierdie een keer.  Hy stap tot by die kar, vat aan die seil.  Net hierdie een keer.  Dis groot genoeg vir hulle drie, nee vier.  Wie is Karel se “iemand”?
Voordeur oop en toe.  Reguit na sy kamer op die boonste verdieping.  Klere en skoene uit.  Op ‘n hoop.
Lenig.  Spiere gedefinieer.  Die spieël weerkaats hoe hy homself takseer.
Hy maak die kasdeur oop, buk en smyt die skoolklere onder in die kas in en trek sy rugbybroekie aan.  Druk die deur toe.  Daar is ‘n hakekruis op die deur – drie arms.
Hy trek die stoel nader, klim daarop en steek sy hand in op presies die regte plek agter die goed in die bokas.
Met die banksakkie in sy hand klim hy af, kyk na die oop kamerdeur, besluit om dit te sluit.  Sluit dit.  Sit die radio aan op die kampussender.  Dan haal hy sy sigarette en vuurhoutjies uit die seilsak.
Sy ma gee nie om dat hy rook nie.  Hy mag net nie in die huis rook nie, en ook nie voor haar nie.  Tanja en Karel gee nie om nie.  En dit skeel hom nie wat sy pa dink nie.
Met een haal trek hy die stoel tot voor die lessenaar, sit en skuif die erdepotjie nader, haal die dekseltjie af.  Dan haal hy ‘n sigaret uit en ‘n vuurhoutjie.  Hy druk-druk versigtig aan die sigaret en laat die tabak wat loskom bo-op die tabak in die potjie val.  Totdat net die leë sigaret in sy hand lê.  Hy gooi dan ‘n deel van die inhoud van die banksakkie op ‘n los stuk papier voor hom uit.  Hy krap ‘n bietjie daarin rond.  Daar’s nie pitte nie.  Versigtig vat hy knippie vir knippie, sit dit voor in die leë sigaret, en druk dit met die kop van die vuurhoutjie in.  Hou die sigaret regop en stamp-stamp die filter liggies op die tafel.  Herhaal die hele proses, totdat die sigaret vol is.  Sit dit langs die vuurhoutjieboksie neer.  Gooi die krieseltjies op die papier terug in die banksakkie, skuif die stoel weer tot voor die kas.  Bêre die banksakkie.
Hy kyk in sy kamer rond asof hy iets soek.  Op die bedkassie lê die ou vertaling van die Bybel en Mein Kampf.  Bokant sy bed hang die Vierkleur.
Vir ‘n oomblik kyk hy na die foto teen die muur.  Hulle drie.  Wat lag.  Dit was regtig cool van Werner om vir hom ook ‘n foto te gee.
Langs die foto is drie plakkate:  Cobain, Eminem, Fokofpolisiekar.
Sy oë talm op sy trots.  Toegesluit en netjies gemonteer in ‘n houtkas met ‘n toonvenster is sy sanna.  Verweerde, geoliede kolf.  Soliede swart loop.  Dit was glo sy ma se oupagrootjie s’n.  Neef of iets van Retief.  Sy ma is ‘n Maritz.
Die dag toe sy ma vir hom die sanna gegee het, het dit bevestig wat hy wou wees, wat hy wás.  ‘n Boer.  ‘n Man wat nie sy vrou sal slaan of skei nie.  Iemand wat vir sy seun sou sorg en hom die dinge leer wat saak maak.  Iemand met trots oor hy ‘n Afrikaner is en weet wat reg is en verkeerd.  En sal wegtrek van dit wat verkeerd is, die vreemde in.  Wat sal baklei teen dit wat heidens is en dit wat sy vryheid wil steel.  ‘n Voortrekker.  ‘n Boer.
By die lessenaar vat hy die sigaret en vuurhoutjies en gaan sit buite op sy balkon.  Oorkant hom is ‘n wawiel teen die muur hang gemaak.  Die uitsig is mooi.  Hy kyk oor die tuin uit tot in die lower van die bome langs die spruit.  Dan kyk hy na die sigaret, sit dit in sy mond, steek dit aan en trek-blaas twee maal soos wat ‘n mens met ‘n pyp maak.  Dan teug hy die rook diep in.  Voel hoe dit sy longe vul.  En dan, stadig, kom die effek.
Tanja en Karel, sy pa, niemand weet eintlik nie.  Hulle hoef ook nie te weet nie.  Dis sy besigheid, dink hy.  En hy’s nie lus vir drama nie, dus sal hy hulle ook nie vertel nie.
Hy’t genoeg drama gehad oor wat hy dink en glo.  Hy wil dit nie nog hê oor wat hy dóén nie.
Die ergste was die laatmiddag by die klip.  Tanja het hom gevra oor sy kakies …
Tanja.  Graad 9.  Die nuwe meisie in hulle klas.  Voor sy Baby geword het.  Hy onthou toe sy daar in Karel se kamerdeur gestaan het.  En die computer games in 'n oogwink kinderspel geword het.
Tanja.  Nie in grys skoolklere nie.  Haar hare nie weg van haar gesig af in ‘n skoolse poniestert nie.  Goud wat sag op haar skouers val.  Effens gegrimeer.  Haar oë blou, en vriendelik, soos haar glimlag toe sy Karel gegroet het.  En sy het hom raakgesien.  Sy het mooi gelyk.  Jeans, ‘n pers toppie.  Met ‘n glimlag wat in haar oë geblink het.  Son op blou water.
Diep teug hy aan die sigaret.  Blaas ‘n kring.  Maak sy oë toe.  Kan ‘n ou so lank so verlief wees? het hy gewonder en hom oorgegee aan die gedagte.
Hulle het spontaan begin klets.  Eers oor die rekenaarspel.  Toe oor skool.  Die onnies.  Nog gesels.  Oor musiek.  Oor movies wat hulle gesien het.  Oor goeters waarvan hulle hou en nie hou nie.  En gegrap.  Soos ou vriende.
Elke beweging van haar hande, arms, bene, liggaam, bors, lippe was soos ‘n dans wat hom betower het.  Sy hart het saamgedans, wou saamdans, moes saamdans.  En sy het hom toegelaat.  Dansmaats.  Iets soos geluk, iets wat hy uit die tyd voor die skeisaak onthou, het aan sy hart geraak.
Waar kom sy vandaan? – die ander ryk uiterste van die stad.  Waar bly sy? – bo teen die heuwel.  En sy wou weet waar hy bly.  Hy’t verduidelik.  Toe staan Cindy in die deur.  Hulle moes gaan.  Dit was ‘n gaping wat hy berekend gevat het:
“Julle kan nie alleen huis toe stap nie, girls.  Dis nie veilig nie.  Netnou word julle …  netnou kom julle iets oor.  As julle wil, sal ek saamstap,”  het hy galant aangebied.
“Oukei.”  Sommer net so.
Die res is geskiedenis, soos hulle sê.
Hy trek die rook diep in.
Die duo van Dirk en Karel het ‘n trio geword, met Tanja.
Sy’s sy meisie.  Steeds.  Al het hulle so amper uitmekaargespat daardie dag van die koeldrankdoppie en die lekkergoedpapiertjies en die klip.
Sy’t nooit oor die goed op sy tas uitgevra nie.  Maar toe het sy uit die bloute oor sy klere gevra.  En toe antwoord hy haar met geesdrif:
“Ek’s ‘n Boer, verstaan jy?  En Boere dra kakie.”
Hy het die ironie gemis.
“Ek’s wit, ek praat Afrikaans, ek’s ‘n volbloed-Afrikaner.  Boonop is ons die nuwe Israel.  My oergrootjies was almal Voortrekkers.  En my oumagrootjie was ‘n kind in die konsentrasiekamp by Bloemfontein, waar die Engelse haar boetie en sussie uitgehonger, vergiftig, vermoor het.  Soos die %$#@# nou die oumense op die plase vermoor.  My ma se oom en tannie die ander dag ook.  Ek haat hulle.  Hulle trap maar net spore soos mense.  Hulle is nie mense nie.”
Sy het merkbaar en hoorbaar voor hom en vir hom gegril, op hom geskree en weggehardloop.
Hy was uit die veld geslaan.  Kon sy nie verstaan nie?  Is sy dan nie ‘n Afrikaner nie?  Sy is mos.  Met ‘n van soos Retief.  Soos sy grootjie of iets.  Of is sy ‘n joiner?
Daardie aand het hy op die klip bly sit tot die bosse en gras swart teen die stad se ligte afgeëts was.  Hy sal haar nooit vergeet nie, al praat hulle nooit weer met mekaar nie, het hy gedink.  Toe lig hy die klip in die halflig op, sit die doppie en die papiertjies daaronder, sit die klip terug, vee sy hande aan sy kakiebroek af en stap terug.  Hy sal haar nie vergeet tot die doppie en die sellofaan heeltemal verweer het nie.
Ook maar goed sy was nog nooit in sy kamer nie.  Sy sal sy goed tog nie waardeer nie.
Die wawiel lyk vreemd teen die oorkantste muur.  Iets knetter toe hy die rook inasem.
“Ek wil meer oor die Groot Trek lees, Juffrou.  En oor die Engelse Oorlog,” het hy juffrou Nothnagel destyds in die mediasentrum gevra.
Toe stap sy reguit na ‘n rak storieboeke toe.  Hy was vies.  Storieboeke!
“Die Groot Trek.  Begin met hierdie een.”  Geknelde land.
“Later kan jy die ander lees.”  Offerland.
Gelofteland.
Bedoelde land.
En hy het al vier gelees, in graad 8, na sport wanneer ander voor die TV gesit het of voor die rekenaarmonitor of voor hulle boeke.  Whatever.  Hy kon homself oral sien saamtrek, sien saamveg teen die vyand, sien saam huis opsit met 'n blonde vrou.  Op ‘n plaas.
Toe deel hy dit met Karel, maar Karel het nie juis belanggestel nie.  Toe hou hy op om met Karel daaroor te praat.
Op eie houtjie het hy Volksfeeste toe begin gaan.  31 Mei.  10 Oktober.  16 Desember.
“Vir wat doen jy die goed?” het sy ma eenmaal gevra.  “Niemand doen dit meer nie.”
Ook sy, sy wat Maritz-bloed het, het nie verstaan nie.  Sy, wat van beter moes geweet het!
By die feeste het hy begin gesels met mense soos hy.  En gehoor van die nuwe Israel.  En ‘n Ou Vertaling gekoop, ook sy Vierkleur, sy Oranje-blanje-blou.  Toe hoor hy van die hakekruismense.  En hy teken dit op sy muur en hangkas.  Op sy skoolsak van seil.
Maar by geen groep het hy aangesluit nie.  Want anders sou en wou hy wees.  Sy besluit.
SMS. 
Dirk druk die sigaret dood en skiet die stompie oor die balkon tot op die grasperk.  Dis van Karel:  “Change of plans:  Get-together vanaand by Werner.  Ons kry Tanja 8 bells.”  Hy sal haar moet laat weet:  “Baby, get-together vanaand by Werner.  Kry jou 8 bells.  Pers toppie GROOT asb  Luv u.  D”. 
“Sien jou so half 8.”  Vir Karel.
Uit die kamer klink ddisselblom: en jy’s my nikotien en my kafeïen; ons twee saam is soos vuur en paraffien.
Dit was pas die begin vanjaar dat hy die goed begin rook het.  Vakansie by sy pa.  Een aand, toe sy pa weer vir hom ‘n klomp geld in die hand gestop het en die bakkie se sleutels.  Gesê het hy moet hom gaan geniet.  Kwaad en teleurgesteld.  Hy sou anders wees, het hy besluit.  Anders as almal.  Hy sou nooit, maar nooit naastenby soos sy pa wees nie.
SMS.  Tanja:  “Cool, luv u 2”.
Op pad van sy pa af na die jol toe het hy amper die bakkie omgegooi.  Uit frustrasie.  Uit koue woede.
By die deur het hulle nie eers sy ID gevra nie.  Oor hy lank is en oud genoeg lyk.
“Dubbel Klippies en coke,” het hy bestel.
Doef.  Doef.  Doef.  House.
Lywe het ritmies op die vloer beweeg.  Heupe.  Arms.  ‘n Paar ouens was sonder hemde, met boxers wat bo laag gesakte broeke uitsteek.
Sigaret.  Met die vry hand het hy een losgeskud en dit met sy lippe uitgehaal.  Toe is daar ‘n vlam voor die punt.  ‘n Ouerige ou met drake op sy hemp.
“Dankie.”  Trek gevat.  Gesluk.  Trek gevat.  Gesluk.  Die glas neergesit.  Sigaret doodgedruk.  Op die balkon uitgestap.  Rusteloos.
“Probeer dié,” het die draakhemp langs hom kom staan en ‘n aangesteekte sigaret na hom toe uitgehou.
“Dankie.”  Hy was nie lus vir praat nie.  Trek gevat.  Geproe dis nie ‘n sigaret nie.  Geweet wat dit moet wees.  Nie ‘n flenter omgegee nie.  Nog ‘n trek gevat.  Diep ingetrek.  Rebel.  Toe die effek.  Hy’t anders begin voel, oukei.  Die brandy?  Die groen goed? Who cares?
“Jy’s gestres, my ou.”  Draakhemp.  Wat rondkyk.  “Kom saam.”  Die trappe af.  Dirk agterna.
Skielik was daar niemand nie.  Net hulle twee.  Toe haal hy ‘n stukkie sigaretbokssellofaan uit.  Met ‘n pil in.
“Dè, sluk!” hou die draak dit na hom toe uit.  “Jy sal beter voel.”
Enigiets om beter te voel.  Net vir een keer in sy lewe weer gelukkig te voel.  En Dirk vat dit en sluk dit.  Ook hiervan het hy al gehoor.
“Kom ons gaan kry iets om te drink.”  Die draak.
Doef, doef, doef.
“Lime en soda.”
Doef, doef, doef.
Die music was cool.  Almal het so nice gelyk.  Hy het begin om ongelooflik gelukkig te voel?  Who cares?   Hy’t omgegee vir die meisies om hom, die ouens om hom, die mense om hom.  Iets soos liefde gevoel.  Hy’t sy hemp uitgetrek en in die middel van die dansvloer gaan staan: lenig, gespierd, en hy kon sien hulle sien hom.  Toe kom dans die girl met die naeltjiering teen hom en vryf met haar hande oor sy bors.  En hy kon voel wat hy nog nooit gevoel het nie en van lekkerte uitgerafel.  Alles was so goed.  Niks was verkeerd nie.  Niks het hom meer gepla nie.
Die volgende dag, toe hy wakker word, was die gevoel weg.  Hy’t dit onthou, wou dit weer hê, móés dit weer kry.  En hy het daardie aand weer gegaan en die volgende aand weer.  Uitgevind waar hy die goeters vir homself kan koop.
“By my, hier rond,” het die draak gesê, en onder die trappe het hulle die transaksies beklink.  Van toe af.  Nou nog.  Hy en die draak.
Dirk voel skielik meer as lomerig.  Hy sal vanaand een saamvat na Werner toe – net ingeval die get-together nie lekker is nie.  Hy stel sy selfoon se wekker vir sewe-uur.
Hy sluit die kamerdeur oop.  Hy wil nie hê sy ma moet hom onnodig wakker klop nie.  Sit die radio sagter.  Gaan lê.
Al wat hy wil wees, is gelukkig.  Maar hy is nie.  Net soms by Tanja.  En as hy sy chemicals  inhet.
Die soel middag word 'n draak wat slaap.


Vier

Karel is steeds gefrustreerd.  Wanneer gaan hy nou kans kry om vir Dirk en Tanja en sy ma te vertel?  Hy groet die sekuriteitswag in die verbygaan.
Hulle meenthuis lê ses diep die kompleks in.  Dit was net groot genoeg vir hulle drie, maar nou is Ingrid oorsee.  Soos Cindy.  Smiddae het hy die hele huis en voortuin vir homself.  Hy hou daarvan.  Hy verkies dit.  Dis privaat.  Ook as sy tjommas na skool kom kuier.
Op die trappie by die voordeur wag Werner.  Sy SMS het gesê hy sal daar wees.
“Haai.”
Werner staan op, kyk rond en raak dan aan Karel se wenkbroue.
“Ek het gewonder of ek jou vanmiddag sou kon sien.  Buitendien moet ek jou iets vra oor vanaand.”
Karel sluit die sekuriteitshek en dan die deur oop. En hou dit oop sodat Werner kan instap.  Dis warm.  Hy sit die stopper voor die deur en sluit die staalhek toe.  Uit die hoek van sy oog sien hy geel opdrifsels teen die oorkantste muur.  ‘n Lente wat nie wil wyk nie.
Werner werskaf al in die kombuis.
“Mag ek?” beduie hy met die koeldrank wat hy klaar uit die yskas gehaal het.
“Sure.  Vir my ook, asseblief. Min ys.”  Die vaak kom sit aan sy lyf.
“Ek kon glad nie laasnag slaap nie.  Hoe moet ek vir Tanja en Dirk vertel? Hulle is my tjommas en tjommas deel alles.  En my ma is my ma – ek sal haar moet sê.”
“Sjoe! dit gaan erg wees.  Maar jy’s reg.  Weet jy hoe moeilik was dit om vir my pa te sê?  Die idee het my voor die tyd uitge-freak.  Ek, sy enigste kind, sy enigste seun, draer van die familienaam.  Gelukkig het ek nie meer ‘n ma gehad om ook te vertel nie.”
Hy skink twee glase koeldrank.
“O, ja, ek het uitgestel, nes jy, net omdat ek nie die guts gehad nie.  Dit was scary.  Maar ek het heeltyd gevoel ek verneuk my eie pa, lieg vir hom.  Dit was die ergste.  Ek’s lief vir my pa, soos jy vir jou ma."
Hy draai om om die bottel koeldrank in die yskas terug te sit.
"As ek jy was, sal ek haar eerste vertel.  Miskien het my pa al met haar gepraat.”
Wanneer Werner van die yskas af terugdraai, is Karel nie meer daar nie, net die glas op die tafel.  Hy sit sy glas langs die ander een neer en stap uit.  Karel staan in die sitkamer voor sy pa se portret.  Sy skouers krom.
“Ek mis hom,” breek Karel se stem ligweg wanneer Werner agter teen hom kom staan, sy arms om sy skouers slaan, en met sy ken op sy skouers ook na die man in die raam kyk.
“En ek mis my ma.”  Werner, sag teen sy oor.
Hulle verstaan mekaar.  Van die eerste dag toe hulle begin gesels het.
“Dit moet eintlik nou jou pa se foto wees,” verras Karel vir Werner.
“Jou pa is cool.  Vandat hy en my ma mekaar sien, is sy ‘n ander mens.  Sy neurie weer as sy dink niemand hoor haar nie.  En lag.  Maak jokes met my, soos vroeër.  Dis great om haar weer haarself te sien.  Drie lang jare.  En nou eers is sy weer gelukkig.” 
Hy draai om en maak oogkontak met Werner.
“Weird, maar ek is ook.  As dit nie vir jou pa was nie, het ek …”
“Jou ma se foto staan klaar op my pa se lessenaar," sê hy saaklik.  Asof dit so hoort.
"Jou ma s’n, Tannie Ans s’n.”
Sagter as stil kom die oomblik tot stilstand.
“Ek kry warm.  Kom jy saam?” vra Karel en tel sy sak op.
“Sure, ek gaan haal net die drinks.”
In sy kamer sit Karel sy rekenaar aan en begin verklee, sy ore gereed vir Werner se voetval op die koel kleiteëls in die gang.
In die spieël sien hy die tekens van ‘n lang nag.  Die glas langs die foto langs die bed, die oop Bybel op sy deurmekaar bed, sy boxer-shorts.  Gebruikte snesies op die vloer voor sy bed.
Hy sal nou-nou opruim.  Hy haat dit as sy kamer so lyk, so, soos hy voel:  deurmekaar.
Werner stap in, sit die glase neer, haal die CD uit die toring uit, sit hom terug in sy kissie, die ou CD, Moulin Rouge.  Hy glimlag en soek iets anders.  Tori Amos.  Klein aardskuddinkies.  Hy sit die CD in.  Dit begin speel.  Werner hou van Karel se smaak.  Dis anders as ander s’n.
Karel geniet die aktiwiteite wat hy agter hom hoor terwyl hy verklee.  Dis lekker om iemand te hê by wie jy ook kan stil wees, nie heeltyd hoef te voel jy moet iets sê nie.  Hy gooi sy skoolklere in die wasgoedmandjie in die hoek, sit die skoene op hulle plek onder in die hangkas.
Wanneer Karel omdraai, is Werner besig om die Bybel toe te maak en dit op die bedkassie te sit.
Karel staan ‘n oomblikkie verwonderd en kyk.
Is hierdie lekker gevoel waar?
Werner vou die slaapbroekie op en draai om dit op die stoel neer te sit, en sien dat Karel vir hom staan en kyk.
“Toe-toe, wat kyk jy?  Ek ken jou colours!”  Spot hy.
“Help eerder hier.”  Daar is geen verleentheid in sy stem nie.  Net ‘n soort gemeensaamheid.  Saam maak hulle die bed op, skud die kussings reg.  Hulle drink hulle koeldrank.
Uiteindelik is die kamer aan die kant, met net Amos wat onbegeleid sing dat sy Barbados nog nooit gesien het nie.
“Ek’s paste,” sê Karel.  “Gaan jy bly?”  Hy gaan lê op die naat van sy rug op die bed, skuif-skuif ‘n entjie weg van die middel af.  Werner verstaan en kom sit teenaan hom.
“Net ‘n rukkie.  Ek het stuff wat ek moet gaan regkry vir vanaand?”  Werner praat asof Karel vanselfsprekend weet waaroor dit gaan.
“Vanaand?  Oeps!  Ek dink ons het ‘n probleem.  Ek wou nog gevra het jy moet ons by Senate kry.  Ek, Dirk en Tanja het vanoggend besluit.” 
Hy sien iets soos teleurstelling in Werner se oë.
“Wat, wat gebeur vanaand by jou huis?”  onthou hy dat Werner iets oor vanaand wou sê.
“Moenie worry nie;  julle is ook genooi.  Net, ek’t vergeet om dit te doen.”  Lomp.
“Genooi?”
“Jip.  My pa en jou ma gaan uit.  Jy weet mos – ballet of iets?  Anyways, hy’t gesê ek moet my tjommas oornooi om te celebrate en ghoebaai te sê vir die wat weggaan en …”  rammel hy.
“Chill, my ou.  Niemand het gesê ek en Tanja en Dirk móét vanaand Senate toe gaan nie!  Natuurlik wil ek eerder by jou get-together  wees,”  verseker hy Werner.
“Gee my sel aan, ‘seblief? … Hoe laat vanaand?”  Hy vroetel met die sel.
“Moet ons iets saambring?”
“Net na agt sal fine wees.  Nes julle is.”
Karel tik ‘n boodskap behendig in sy sel in:  “Change of plans:  Get-together vanaand by Werner.  Ons kry Tanja half 8.”  Stuur dit met ‘n oordrewe druk van die laaste knoppie.  “Daar’s Dirk s’n, nou Tanja s’n,” vroetel hy verder:  “Change of plans:  Get-together vanaand by Werner.  Kry jou 8 bells.”  Hy sit die sel neer en kyk op in Werner se oë:
“Net vir jou!”  en stoei hom speels tot hulle net lê en mekaar vashou.  Die sel bliep twee keer na mekaar, soos Karel en Tanja hulle boodskappe lees.
En Karel en Werner kyk vir mekaar.  Oor woorde nie nodig is nie.
“Ek’s rêrig moeg,” vee hy deur Werner se hare.  “Sal jy oukei wees?  Moet ek jou nie kom help nie?”
“Nope.  Alles is ge-organise!  Ons gaan in elk geval nie baie wees nie.  Kry jy nou maar net genoeg slaap.  Dit gaan ‘n lang nag wees.”
SMS.  Dirk:  “Sien jou so half 8.”
“Toe-toe,” druk Werner homself regop.  “Kom sluit oop die hek en stuff.”  Hy staan op, en wag totdat Karel opstaan.
Onder by die sekuriteitshek groet hulle.  Vinnig en intens.  Gewoond daaraan.  Tevrede.
Karel wag tot Werner uit sig verdwyn, sluit die deur toe.
Die gordyne in die sitkamer is toegetrek.  Die skemerte staan hom aan.  Hy kyk na die man in die raam.  Pa.  Gelukkig het hy hom klaar vertel.
Met twee voorstedelike busse het hy die laaste dag wat hulle geblok het, begraafplaas toe gery.  Eers tot in die stad, toe uit begraafplaas toe.  ‘n Taxi sou te veel kos.  Dis te ver.
By die blommestalletjie by die ingang het hy afgeklim.  Die blomme was bont en mooi in die verfblikke.  Hy’t in sy beursie gekyk, toe stap hy tot by die vrou met haar goue kopdoek.
“Watter is die goedkoopste, Mevrou?”
Die vrou het snaakserig na hom gekyk, geglimlag en gesê:  “Vir jou?  Enige bos vir vyftien rand.”
Hy’t geweet die varkore is duurder.  Die rose ook.  Maar varkore pas by sy pa.
Dit was toe hulle die laaste keer met vakansie was.  Sy pa het onderweg skielik langs die pad afgetrek, stilgehou, uitgeklim.
“Ek’s nou terug, Ma.”
Ook maar goed sy pa het gestop – Karel moes ‘n draai loop.  Hy’t tussen die bosse gaan staan, en terwyl hy daar staan, gesien hoe sy pa tot in die laagte afstap, sy knipmes uithaal en die wilde varkore begin afsny.  Duidelik versigtig dat niemand hom sien nie.  ‘n Klomp.  Toe bêre hy sy knipmes en stap terug, blomme agter die rug, onbewus van sy seun se blik vanuit die bosse.
Karel het verlig en gou kar toe gestap en ingeklim voordat sy pa daar was.  Ingrid het nie gesien wat hulle pa gedoen het nie; die walkman was in haar ore.
By die kar gekom, het hy reguit na sy vrou se kant toe gestap en lank na haar staan en kyk.
Toe draai sy die ruit af.
“Drie hamburgers, asseblief, met kola vir die kinders. Asseblief,” het sy grappenderwys bestel.
Daar was iets grasieus omtrent die beweging waarmee sy pa toe die varkore om sy rug uitgeswaai het, dit na haar toe uitgehou het.  Toe kyk hulle net vir mekaar.  En kyk.
Karel kon nie sy ma se oë sien nie, maar dit moes geblink het, want toe sy die blomme woordeloos vat en op haar skoot neersit, het Karel gesien hoe sy haar oë so ongemerk moontlik probeer afvee en haar man dophou terwyl hy om die kar stap na sy kant toe.  Ingrid het dit alles ook gesien.
“Dankie, hoeveel sal dit wees, kelner?”  het sy ma nadergebuig, en hulle het mekaar gesoen.  Die res van die pad was hulle stillerig, net kort-kort na mekaar gekyk.
“O, ekskuus?”  het Karel uit sy mymering wakker geskrik, en vyftien rand vir die vrou gegee.
“Dankie, Mevrou.”  Met die blomme in sy hand het hy die groot stilte en baie koelte van die rye grafte tegemoet gestap.
Drie jaar later was die graf nie meer nuut nie.  Hy was al ‘n paar keer hier omdat sy ma wou gehad het hy moes saamkom.  Nou was dit net hy en die steen met die bekende inskripsie.  Die droë blomoorblyfsels wat by die blompot se gate uitgesteek het, het hom opgeval.  Daar was lanklaas iemand daar.  Die sipres se skaduwee het oor die grafsteen geval.  Binne hom het iets begin bloei.
Soos hy sy ma destyds dikwels sien maak het, het hy die blompot gevat en kraan toe gestap.  Varkore in die ander hand.  In die verbystap die droë blomme in die vullishouer uitgeskud bo-op ander.  Die varkore versigtig neergesit.  Toe die blompot uitgespoel, ‘n bietjie sand daarin gegooi, die papier van die varkore afgehaal en die pot binnekant liggies met die nat sand geskuur.  Weer gespoel.  Teen die lig gehou.  Skoon.  Papier weggegooi.  Water ingetap.  Die varkore in die pot gesit.  Terug graf toe gestap.  En die pot varkore stewig met klippe op die steen staan gemaak sodat dit nie sommer sou omval in die wind nie.
“Pa,” het hy begin dink-praat.
“Pa, ek is nie meer kwaad vir Pa nie.  Ek was so stupid.  Pa kon mos nie help om dood te gegaan het nie.  Ek is ook nie meer vir die Here kwaad nie, Pa.  Ek het anderdag in ‘n Psalm gelees dat ons tye in die Here se hand is, dus was Pa s’n mos ook.  Ja, Pa, ek lees weer soms Bybel, Pa.  Maar, Pa, wat moet ek nou maak, Pa?  Ek het nog altyd geweet ek is anders as Dirk.  Anders as Pa.  Anders as almal, het dit gevoel.  Die verskil is net. Nou ken ek my andersheid se naam, Pa.  Ek is gay, Pa.  Dis nie Pa se skuld oor Pa dood is nie.  Dis ook nie ma se skuld nie.  Dis niemand se skuld nie, Pa.  Ek is nou maar so.  En, Pa, Pa, ek het iemand vir wie ek baie lief is, Pa.  Werner.  Onthou Pa hom nog?  Dokter Bredenkamp se seun.  O, Ma het Pa seker al vertel van haar en die dokter.  Sy vrou is ‘n maand na Pa dood.  Ook kanker, Pa.  Maar, Pa, Ma is so gelukkig soos sy laas was toe Pa nog geleef het.  Ek is ook gelukkig, Pa.  Werner ook.  Dis al wat ek wou sê, Pa." 
Karel het geweet die oomblik was goed en heel.
"Tot siens, Pa.”
Die varkore het mooi teen die grys agtergrond van graniet en gruis gelyk.  Toe is hy terug huis toe.
Tevrede.
Karel maak sy oë oop.  Hy hoor voëls buite in die tuin.  Bo hom woer-woer die dakwaaier en beweeg die lug.  Effens.  In die skemer van die vertrek kyk hy na die foto.  Hy wéét sy pa is oukei met alles.  Sy pa was altyd so rustig oor alles.  Sy pa sal tevrede wees as Werner se pa se foto daar staan.  Dis jammer die pa’s het mekaar nooit regtig leer ken nie.  Maar dis oor hy en Werner nooit in dieselfde klas was nie.
Die tamheid oorval hom.  Hy stap na sy kamer toe, sit die dakwaaier aan, trek die gordyne dig, sit die rekenaar af, gaan lê op sy bed.
Dan onthou hy iets.  Hy draai op sy sy, haal die Bybel af en sit dit langs hom neer.  By die foto wat uitsteek, sit hy sy vinger en laat die Boek oopval.  Werner kyk na hom vanuit die foto.
Hy soek die versie met die kring om.  Vers 22.  Johannes 21.  Hy lees dit nadenkend.  Blaai terug na 8:32 toe.  Dan kyk hy weer vir Werner wat vir hom uit die foto kyk.  En maak die Bybel sag toe, sit dit terug, draai om en sluit sy oë.  Hy sal hulle moet vertel, maar wanneer? Hoe, Here? Help.
“Wat ‘n mens geskape is, dit waaraan hy geen aandeel het nie, geen keuse nie, kan nooit, mag nooit, sal nooit ‘n voorvereiste vir saligheid wees nie,” het die omroeper se stem daardie nag vier weke gelede oor die radio gesê.
“Nie jou velkleur of jou etnisiteit nie, nie jou geslag nie, ja, ook nie jou seksuele oriëntasie nie. Gaan lees gerus weer die hele Galasiërs en kyk na 3:18.  Bínne konteks, asseblief.  Dit maak my vies dat ‘n hele teologie oor die eeue gebou is en in stand gehou is op grond van grootliks verkeerde vertalings en die kontekslose vertolking van daardie tekste en vertalings.  Inklusiwiteit, dis waaroor die Evangelie gaan.  En geloof.  As gawe.”
So iets.  So anders as wat Karel geleer is, en dus gedink en geglo het waar en reg is.  Maar hy’t geweet die man praat met daardie iets in hom wat dit alles wéét.
En hy’t sy Bybel bo uit die kas gehaal, dit afgestof, geblaai, gelees terwyl die man op die radio voortgepraat het en woorde soos homofobie en heteroseksisme gebruik het, woorde wat hy nie geken het nie, nie verstaan het nie.  Toe het hy die radio afgesit.  En hy het gebid, die eerste keer vandat sy pa dood is.
Bo hom woer die waaier en beweeg die lug.  Net genoeg om koel te maak.  Hy’s oukei met homself;  hy’s oukei met die Here;  hy’s oukei met Werner. Hy’s net nie oukei met sy ma, Dirk en Tanja nie.  Wanneer gaan die tyd reg wees om hulle te sê? En hoe? Here, help.
Hy sit die Bybel terug.  Langs die foto van hom, Tanja, Dirk.  Hulle lag vir die kamera.  Wat in Werner se hand was.


Vyf

“Seuna.  Seuna.”  Karel se ma se stem begin deurdring tot hom.  Hy draai op sy rug en maak sy oë oop.  Sy lyk mooi uitgevat en gegrimeer.
“Haai, Ma.”  groet hy wanneer sy ‘n soen op sy kop druk.  Hy ruik haar parfuum.  What a lady, dink hy, en slaan sy arms om haar en soen haar.
“Lekker geslaap, my seun?”  Sy stap terug deur toe en draai om.  “Dis al amper sewe-uur, jong.  Jy moet seker maar opstaan en regmaak as jy nog na jy-weet-wie se party toe wil gaan,” sê sy gemaak geheimsinnig vir hom.  “En ek, soos jy weet, gaan saam met jy-weet-wie se pa vanaand.  Onthou jy?  Kom sê ghoebaai as jy klaar ge-alles het.”  Glimlag.
“Ja, Ma.”
Karel besef dat hy nie eers gym toe sal kan gaan soos hy wou nie.  Dirk sal oor ‘n ruk seker hier wees.  Hy’s altyd vroeg.
Op.  Rekenaar aan.  Sit die jongste Chameleon-CD in.  Klerekas oop.  Wat sal hy aantrek?  Hy soek tussen sy klere rond.  Kry nie wat hy soek nie.
“Ma?  Ma, waar’s my Diesels?”  roep hy in die rigting van die oop deur, terwyl hy die opgevoude hemde oplig en sy geel hemp uithaal en op die bed neersit.
“Hier!”  Sy ma gee die broek vir hom en verdwyn dadelik weer in die gang af.
“Thanks,” roep hy agter haar aan, en sit die broek langs die hemp neer.  Cool.  Dit gaan werk.
Oudergewoonte sit Karel ook die res van sy klere op die bed reg.  Iets wat hy by sy pa gesien het.  Dit werk vir hom ook.  Sokkies, skoene.  Met sy boxers in sy hand stap hy oor die gang na sy badkamer toe.
Terwyl die water oor hom spoel en hy hom behoorlik met gesigseep, sjampoe en gewone seep was, dink hy hoe nice dit is dat Werner ook vir hom, Tanja en Dirk genooi het.  Hy’t nie nodig gehad om dit te doen nie.  Die ander gaan seker net sy klasmaats wees.
Hy droog klaar af, hang die handdoek op, spuit deodorant oral aan, borsel tande, jel sy hare, trek sy boxers aan en tel sy klere op.  Hy besluit om die aand te geniet vir wat dit is.
In kakies sit Dirk op die kamer se vensterbank, Mystic Boer—T-hemp, sigaret in sy hand, rookkringe wat hy buitetoe blaas.
“Hoezit.”  Karel.
Dirk draai sy kop na hom toe.
“Jy vat ook maar lekker lank, nè?  Nes ‘n vroumens.  Kan ek ander music opsit?  Ek weet nie hoe jy sulke junk kan luister nie?”
“Kry vir jou, my ou.”  Karel, effens geïrriteerd met Dirk se houding, beduie na die CD-rak.
Dirk skiet die sigaret by die venster uit en gaan staan voor die CD’s.  Soek.  Haal die Polisiekar uit wat hy nog vir Karel met sy verjaardag gegee het.  Ruil CD’s.  Bêre Chameleon.
Karel trek aan, versigtig om nie die hemp aan die jel in sy kuif te laat raak nie.
“Daar gaan nie baie mense wees nie.  Pas my.  Ek’s nie lus vir ‘n crowd nie,” sê Karel.  Hy is nie; hy wil net rustig sit en gesels.
“Seker maar oukei.”  Dirk.  “Hoop daar’s darem ietsie om op te kuier.  Ten minste ‘n bier of so.”
'n Stem kom skielik vanuit die deur.
“Ons ry nou.  Geniet julle aand.  En onthou:  wanneer Werner se pa terug is by die huis, is dit tyd vir jou om terug huis toe te kom, mannetjie.”
“Goed, Ma.  Lekker aand, Ma.”
“Tot siens, Tannie.”
“Ons kan seker ook maar gaan as jy reg is?” sê-vra Dirk.
“Ons kan nie vir Tanja in die donker laat wag nie.”
“Skerp.”
Karel vat sy selfoon en sy sleutels, sit die waaier af.
“Sit net daar af, asseblief.”  En Dirk haal die CD uit terwyl Karel die venster toemaak.
“Waarom, dink jy, kry sy ons altyd buite?” vra Karel.
“Ek’t haar al ‘n paar keer gevra.  Al wat sy elke keer gesê het, was ‘because’.  Miskien hou haar mense nie regtig van my nie, al sê sy hulle doen.  Laas het sy net gesê ek moenie karring nie. Nou los ek maar om te karring.”
“Dan sal ek ook nie karring nie,” sê Karel toe hy die sekuriteitshek agter hom sluit.
Die son is pas onder.  Die laaste skemer van die dag meng met die straatligte.
Hulle stap die oorbekende pad op na Tanja-hulle se heuwelhuis toe.  Oor die spruit, op met die straat, in die volgende straat in.  Onderdeur die bome met hulle laaste bloeisels wat wil-wil kleur gee aan die aand.  Nie een van hulle is regtig lus vir gesels nie.  Die erwe word al hoe groter hoe verder hulle stap, die blok langer.  Dan regs in Tanja-hulle se straat in.  Hier en daar is daar tekens en bewegings van mense en motors wat in- of uittrek.  Hulle is ‘n paar minute vroeg.
Dirk SMS haar dat hulle daar is.
‘n Minuut of so later gaan die huis se deur iewers oop en toe.  Voetstappe klink op die paadjie agter die hoë heiningmuur.  Klik.  En skielik staan Tanja voor hulle in die betonkosyn van die houthek.
“Haai, ouens!”  Sy trek die hek toe.  Klik.  Draai om.  Sy het ‘n pers toppie aan.  Haar naeltjie wys.  Daar’s ‘n goue ring daardeur.
“Nou, gaan jy my dan nooit weer groet nie?”  verwyt sy Dirk speels terwyl hy haar aanstaar.  Sy weet sy lyk goed.  Sy weet hý weet sy lyk goed.  Hy kon haar net sowel oopmond aangegaap het soos wat hy staan en staar.  Dan kom staan sy teenaan hom.
“Soen my,”  en sy soen hom vol op die mond.  Hy soen terug.
“Come on, boys and girls  oops!   boys,”  sê sy nadruklik en kyk na Karel.  “Let’s party!” aap sy die klub se compére na en wikkel haar heupe, arms in die lug, wat sy met die sak daarvan en ‘n tolbeweging van haar lyf inhaak in Dirk en Karel se arms.
“Kom, die aand het begin!” trek sy hulle vorentoe.
Son. 
Dirk en Karel se skemertes kry lig.
Dis of hulle vir die eerste keer die liggies in die mense se tuine sien, party beskeie, ander oordrewe in elke boom en tak. 
Kersfees kom.
“Julle sal nie glo nie, maar ek het die weirdste droom vanmiddag gehad.  Ek het gedroom …”  dan onthou sy skielik dat sy hulle nie kan vertel van haar dronk ma se masker en dat hulle twee dood was nie.
“Ek sal julle later vertel.  En waar is jou ma-hulle, Karoolsietjie?” verander sy die onderwerp vinnig.
“Sy’t gesê hulle gaan ballet toe, Nutcracker of so iets, en dan uiteet.”
“Different strokes for different ouks,” gooi Dirk sy stuiwer in. “Julle sal my moet vasbind en na so iets toe sleep as julle my daar wil kry.”
“Liefie,” gemaak kwaai praat Tanja met Dirk.
"En wat as ék actually van ballet hou, mmn?”
“Jy?!” bars Karel uit van die lag.
“Wat bedoel jy ‘jy?!’” en sy los Dirk en kielie vir Karel, wat wegbreek en ‘n ent weghardloop.
“Ja, jy! Tanja:  sportief, dog vroulik,”  spot hy ongenaakbaar en plak dit behoorlik dik in ‘n lae, toonlose bas.   Waar het hy dit nou weer gehoor?  Dirk bars uit van die lag.
“Jou monster!” brul sy.  Dan jaag sy Karel.  Karel hardloop ‘n ent en laat haar dan toe om hom te vang.  Dan tel hy haar in sy gespierde arms op en swaai haar rond.
“Ja, ou sportief, dog vroulik.”  Karel los haar.  Dirk skeur homself behoorlik.
Sy storm tot voor Dirk en boks-boks hom.
“So, jy lag vir my?  Jou buffel, vanaand is die aand wat ek vir my ‘n ander ou kry, iemand met respek vir my.  Nie iemand soos jy nie, jou ongevoelige buffel!” 
Kastig dikbek vou sy haar arms en gaan stap in die middel van die straat.
Kamma met skuldbesef loop Dirk pleitend agter haar aan.
“Baby, Babes, ek sal nooit weer nie.  As jy my maar net sal terugvat, sal ek, sal ek … ek sal sommer alles doen wat jy vra!”
“Op jou knieë, Diederik Stefanus!” draai sy om, vinger wat na die teer wys.
Dirk kniel.
“Sê agter my aan:  Tanja Retief, vroulikste van alle vroue – en sexy boonop – ek sal jou van vanaand af vir ewig en vir altyd respekteer.  Toe!”  En hy herhaal die woorde plegtig terwyl hy haar hand aan die wysvinger vat, dit omdraai en haar palm sag soen.  Hy kyk op.  Hulle oë blink vir mekaar.
Daar’s fyn liggies in die tuine langs die straat. 
Kersfees kom.
“Minderige mense, het jy gesê?”  draai Dirk na Karel toe wanneer hulle om die hoek stap en die doodstil straat voor Werner-hulle se huis sien.
“Niemand nie, sou ek sê.”
“Who cares?  Ten minste gaan ons vier vanaand lekker kuier,” verseker Karel hom.
“Omdat ons kán.”
Hoe nader hulle aan die huis kom, hoe meer kan hulle die doef-doef-doef van musiek onderskei.
“Kom ons wag eers ‘n rukkie voor ons ingaan?” vra Tanja.
“Oukei,” beaam Dirk haar versoek.
“Ek wil eers rustig raak, rook.  En, wie weet, dalk kom daar mense.”  Lakonies.
“Julle kan maar later inkom.  Ek gaan sommer nou in, as julle nie omgee nie?”  Karel se eie versoek, effens haastig.
“Sien jou.”  Dirk en Tanja gaan sit op die netjies gesnyde gras op die sypaadjie.  Hy haal sy sigarette uit, skud dit en kies een van die wat uitsteek.
Liggies oorkant die straat. 
Kersfees kom.
Agter hulle ken Karel die kode en pons dit in.  Die hek gaan oop.  Hy stap in en die hek gaan toe.
Doef, doef, doef.  Nie juis hard nie.
Die voordeur staan oop.  Daar’s lig by die swembad.  Waar is Werner?  Karel stap nader.
Dan sien hy hom en steek in sy spore vas.
Werner staan in sy kuitbroek, stywe hemp en plakkies met sy rug na die hek toe.  Hy is besig om iets op die tafel onder die jakaranda reg te sit.  Karel besluit om hom ‘n rukkie dop te hou en gaan skuil agter ‘n struik.
Werner kyk afwagtend om na die hek toe, kyk dan op sy horlosie.  Karel doen dit ook en sien dis maar pas agtuur.  Die musiek verstil.
Hy kyk op en sien hoe Werner die CD uithaal en ‘n ander een insit.  Rondkyk.  Die snit soek.  Die knoppie druk.
My gift is my song,
and this one’s for you.
You can tell everybody
that this is your song …
Karel sukkel met die emosie wat in sy keel kom sit wanneer hy die woorde uit die Moulin Rouge-song  hoor.
How wonderful life is
now you’re in the world.
Werner het op die trappie by die swembad gaan sit.  Ook hy gee hom oor aan die sentimente van die song.  Karel besluit dat dit nie ‘n te slegte oomblik is om maar nader te stap nie.
Werner kyk verwonderd op.  Oë ontmoet oë.
Buite op die sypaadjie sit Dirk sy hand op Tanja s’n, van niks anders bewus as dat die musiek verander het nie, en dat daardie woorde reg voel nie.
Dan kom die oomblik in beweging wanneer ‘n kar om die hoek dreun en met onnodige voorbarigheid voor die huis tot stilstand kom.
Deure.  Die ouens en meisies klim uit.  Dis ‘n klomp van Werner se klasmaats.  Hulle herken vir Tanja en dan vir Dirk, en maak grappe en gaan lê behoorlik op die gonser.  Agter hulle kom nog ‘n kar om die draai.
“Help julleself.  Alles is daar op en langs die tafel,” groet Werner almal joviaal by die hek.
Nog mense.  Nou is hulle seker twintig.
“By the way, my pa sal seker so net na twaalf bells terug wees, dan is die party verby, ouens.  Oukei?”  waarsku Werner die klomp by voorbaat.
"Oukei, chill maar," antwoord 'n koor.
Karel stap later in kombuis toe om water te gaan haal oor daar net bier en goed buite is.  Heeltemal tuis in die huis.  Buite meng doef-doef met lag en gesels.  Outomaties steek hy sy hand om die bekende hoek om die lig aan te sit.  En skrik.
Daar staan Dirk, stukkie sigaretsellofaan in die een hand, ander hand met ‘n pil tussen die vingers, hand halfpad na sy mond toe.
“Wat’s daai?”  vra Karel onthuts.
“Uh … sommer niks,” laat sak Dirk die pil verleë.
“Niks? Hoekom dan in die donker?”
Stilte.
“Gee hier, Dirk.  Jy’t dit nie nodig nie.”
“Ek het.”  Verbouereerd.
“Jy het nie, tjomma.  Gee hier!”  Karel vat die pil uit Dirk se onwillige gebaar, met die skok wit in sy kneukels en verleentheid vlak in sy oë.  Karel vergeet hoekom hy kombuis toe gekom het.
“Kom,” beduie hy vasbeslote en hulle stap uit tot in die agterste hoek van die agtertuin.
“Hoekom het jy my nie gesê nie?”
“Oor jy sou reageer soos jy nou reageer,” herwin Dirk ‘n bietjie selfvertroue.  Hy haal sy pakkie sigarette uit en trek in die halflig die eerste die beste een uit en steek dit aan, en te laat besef hy dis splif.
“Sjit, Dirk.  Dit ook nog!”  Karel het dit klaar in die rook geruik.
“Mens sal sweer jy’t niks om weg te steek nie, Mister Perfect.  Los my nou uit!” projekteer hy sy skuldgevoelens.
Die verwyt tref Karel waar hy nie getref wil word nie.  Hulle kyk vir mekaar.  Dirk teug diep aan die splif, draai om.
“Nee, sit, asseblief,” sê Karel toe Dirk wou wegstap. “Sit … asseblief?  Jy’s reg.  Ek moet iets sê.”
“Ek’s nie lus vir ‘n preek nie …” begin Dirk wanneer hy op die gras neersak.
“Geen preke nie, trust my.”  Karel gaan sit ook.  Die soeterige veldrook walm tussen hulle.
“Right, wat’s dit?”
Dis nou, of nooit, dink Karel.
“Ek’s gay.”
“Jy’s wát?!”
“Gay.”
Karel voel lus en vra ‘n trek aan die splif.  Hy’t geweet dit gaan Dirk se reaksie wees.
Hulle sit net vir mekaar en kyk. Weet nie wat om met hulle gevoelens te maak nie.
“Liefie!  Karel!”  Tanja se stem klink van die huis af.
“Waar’s julle?”
“Ons is nou daar!” roep Dirk terug en knyp die dooby dood.
“Ons hoef nie meer tjommas te wees nie, ek sal verstaan.”  Karel staan op en begin wegstap.
“Ek gaan na Werner toe.”
“Werner?”  Verbaasde vermoede.
“Ja. Ja, Werner.”  Vermoede bevestig.
Paaie skei wanneer Dirk na die agterdeur toe stap waar Tanja in die lig staan en wag, en Karel om die hoek van die huis verdwyn.
Te veel te vinnig, dink Karel, en gaan kry ‘n skieter en 'n bier.
Doef.  Doef.  Doef.
Karel en Dirk vermy mekaar die res van die aand, maak of hulle alles geniet.
Werner kry Karel eenkant alleen.
“Wat’s verkeerd met julle twee? Ek kan sien julle praat nie.”
“Ek’t hom vertel.  Van my.  En van my en jou.”  Werner sit sy hand op Karel se skouer en gee dit ‘n druk. “Daar’s ander stuff ook.”
Stilte.
“Ek wens die aand is verby.”  Karel draai om en sien Dirk wat van anderkant die swembad af na hom en Werner staan en kyk.
Karel kyk kort-kort op sy horlosie, wens dat Werner se pa moet terugkom sodat hy kan waai.  Dirk sal seker nie saam met hom wil stap nie.  Hy sal die oom maar vra om hom gou huis toe te vat.  Of sommer om daar te slaap.  En sy ma bel.
“Ons gaan nou waai.  Thanks, Werner.  Check jou,” groet iemand.
Uiteindelik sien hy die motorhek oopskuif en dokter Bredenkamp se kar stadig ingery kom.
“Party’s over, ouens.” Iemand anders.
Karel hang rond.  Tanja en Dirk ook.
Die ander vertrek stuk-stuk met groot lawaai en gebaar.
“Ek sal help skoonmaak,” bied Karel vir Werner aan.
“Nee, jong, jy’t nog lank nie genoeg geslaap nie.  Ek sal regkom.”
“Kom jy?” hoor Karel Dirk se stem agter hom. “Ons moet nog vir Tanja huis toe vat.” 
En dan onderlangs by sy oor:  “En ons moet praat”.  Afgemete.
“Oukei.” 
Iets soos moedeloosheid lê in hom.  Niks sal nou meer ‘n verskil maak nie.


Ses

Klik.  Tanja het die houthek toegemaak.  Dis onaards stil.  Die voorstad slaap.
Karel en Dirk staan asof hulle moet.
“Ek haat moffies.  Julle is siek.”  Dirk sê dit met bitterheid in sy stem wanneer hy omdraai en hulle teen die heuwel afstap.
“En ek’s miskien nie so mal oor benoude rassiste en mense wat drugs doen nie,”  gee Karel sy mening versigtiger, amper onbetrokke.
Die wind gaan lê.  Die geel en die pers pas beter by mekaar in die dowwe lig van die straatlampe.
“Jy’t dit weggesteek.  Vir my, jou beste tjomma, vir Tanja, vir almal.  Dis mos nie fair nie?” verwyt hy Karel.
Hulle arms raak terloops aan mekaar.  Dirk tree doelbewus weg.
“Dit maak tog nie meer saak nie,” akkommodeer Karel Dirk se gebaar.
“Asof jy niks weggesteek het nie.  Anyway.  Oor jy my tjomma was, oor …”
“Wás?!” val Dirk vir Karel in die rede.
“Wás, ja.  Jy’t nou net gesê jy haat moffies en dat ons siek is.”
Karel boots kalmte na.
Daar’s geen sterre in die lug nie.  Dis bewolk, bedompig.  En net hulle voetstappe klink.  Hy wens dit was Werner langs hom.  Ongekompliseerd.  Hy’s moeg.
“En jy doen drugs en het nie gesê nie,” glip die verwyt weer uit.
Net hulle voetstappe klink. Klink ook oor die kruising.
Voor hom sien Karel die brug oor die stroom voor hulle meenthuise.  Dis daar waar hulle paaie gaan skei.  Vir altyd.
Hy hoor sagte voetstappe agter hulle.  Van meer as een mens.  Vreemd.  Hy gee egter nie om nie.  Vreemd, dink hy, die mense praat nie.  Wel, hulle ook nie.  Hy kyk voor sy skoenpunte.
Net voor die brug is die ingang van die wandelpad wat van die gholfklub af tot onder langs die dam loop.
“What are you doing?!”  hoor hy Dirk onverwags in Engels langs hom.
Karel draai skuins.  Iemand van sy ouderdom strek albei sy hande na die verbaasde Dirk se nek toe uit.   Adrenalien.   Sonder om te dink, skop Karel.  Te laag.  Voor hy sy balans kan herwin, stamp iemand hom van agter af.  Hy steier en val vooroor op die grond, voor die skoene van twee mense.  Hy gryp na die been reg voor hom en pluk.  Dan ontplof iets soos ‘n skoen teen sy gesig.  Hy kan nie sien nie.  Iets warms is op sy ken.
“Security!” roep 'n stem.  Geskarrel.  Stilte.  Voete wat nadergehardloop kom.
Teen die tyd dat die sekuriteitswag van hulle kompleks by hulle staan, knuppel in die hand, het Dirk al vir Karel in sy arms soos hy hom ophelp.
“Bliksems!”  Dirk se stem by sy oor.
Karel begin fokus.  Dirk hou hom vas.
“Bliksems!”  En Dirk haal van iewers af ‘n sakdoek uit.
“Kyk hoe lyk jy?!”  En hy druk-druk saggies daarmee teen Karel se mond.  “Hou hier vas.”
Dis eers wanneer Dirk wegstaan dat Karel die donker kol op Dirk se hemp sien.   Dan begin hy voel.
Sy mond.  Sy mond is seer.  Hy kyk verdwaas af.  Bloed.  Sy hele hemp is vol bloed.  Hy vat aan sy mond.  Taai.  Seer.  Hy kyk na sy hand.  Bloed.  Sy mond word seerder.   Sy knieë begin meegee.  Dirk vang hom betyds, en tel hom soos ‘n baba op.
“Laat ons jou in die huis kry, tjomma.  Die bliksems!”
Die sekuriteitswag maak die hek oop.
“Moenie…” Sy mond is seer.  “Moenie my ma wakker maak nie, asseblief?”
Karel sien iets soos trane uit Dirk se oë loop.
“Is jy oukei?  Kan jy staan?”  Daar is iets so sag soos teerheid in Dirk se fluister toe hulle by die voordeur kom.
“Ja.”  Dirk buk totdat Karel se voete die grond raak.  Hy hou hom regop.
Geruisloos stap hulle in.  Sluit nie die deur nie.  Deur die donker huis tot in die badkamer.  Karel voor.  Dirk agter.  Karel sit sy badkamer se lig aan en stap in, gevolg deur Dirk.  Dirk maak die deur toe.
In die helder lig is die skade duidelik.
Karel se lip is erg geswel.  Die sakdoek is deurnat en die bloed loop langs Karel se pols af waar hy voor die spieël staan.
Dirk gaan staan agter hom.  Hy is bleek.  Weet nie wat om volgende te doen nie.
“Ys … gaan kry asseblief ys,” fluister Karel dringend.
Hy sukkel met sy selfoon wanneer Dirk die badkamerdeur sag agter hom toemaak.  Druk die knoppies.  Sel teen sy oor.  Wag.  Bebloede hand op die sel.
“Bring jou pa, asseblief.  Ons is ge-mug,” sukkel hy om te praat.  Hy wil-wil huil.  Dis seer.
“Kom, asseblief. Dadelik.  Die voordeur is oop.  Moenie my ma wakker maak nie, asseblief.  Ons is in my kamer.  Asseblief, kom net.”  Hy druk die knoppie, sit die foon langs die wasbak neer.
Karel spons die bloed af.  Spons dit droog.  Sy lip is blou en het ‘n sny in.  Bloed loop stadig daaruit.  Dié spons hy weer af.  En weer.
Die deur gaan sag en stadig oop.  Dis Dirk.  Yshouer in sy hand.  Bleek. En bewerig.
Karel sit die waslap oop langs die selfoon neer.  Beduie dat Dirk die ys daarop moet uitgooi.  Dirk wring die plastiekhouer onderstebo oor die waslap.  Die ys val daarop.  Karel beduie hy moet dit toevou.  Dirk vat die waslappunte en vou die ys toe.  Karel sit die spons neer, vat die koue bondel en druk dit teen die bloederige blou swelsel wat sy lip is.  En gaan sit op die toilet.  Dirk op die rand van die bad.  Sprakeloos.  Nugter.
“Hoekom het jy dit gedoen?” verbreek Dirk die stilte.
“Wát gedoen?”  mompel Karel onder die yspak uit.
“Die ou geskop?”
“Hy wou jou verwurg?!”
“Jy hoef niks te gedoen het nie.  Jy kon my gelos het.”
“Ek het nie.”
Stilte.
“Hoekom nie?”
Stilte.
“Jy’s my tjomma.”
Stilte. 
Hulle kyk mekaar stip aan.  Daar kom weer waterigheid in Dirk se oë.
Dirk kyk af.
“Jy’t jou lewe vir my gewaag.  Jy wou my beskerm.  Ek verstaan nie.”  Met die rugkant van sy hand vee hy oor sy een wang.  Dis nat.  Sy skouers begin ruk.  Hy snik.
“Jy hoef niks te gedoen het nie.  Ek, ek’t dan gesê ek haat jou … en kyk hoe lyk jý nou!”
Hy huil.
“En ek, ek het niks oorgekom nie, oor jy... oor jy …”  Hy huil.  “Ek’s sorry, tjomma.”
Met die yspak steeds op sy lip skuif Karel tot langs Dirk op die bad se rand.  Hy sit sy los arm om Dirk se rukkende skouers en druk hom teen hom vas.  En Dirk huil, sy gesig verberg teen Karel se skouer.  Sout en sout meng; trane en bloed.
“Ek’s flippin sorry, tjomma.”
Karel gee Dirk se nek ‘n gerusstellende drukkie en staan op.
“Dis oukei. Hulle is seker amper hier.”
“Hulle?” probeer Dirk ‘n greep op sy emosies kry.
“Werner, sy pa, Tanja.  Ek het gebel.”
Dirk vra niks nie, vee net sy trane af, kyk nikssiende in die spieël en spoel sy gesig af.  Droog dit af.  En volg Karel stil by die badkamer uit.  Sit die lig in die verbygaan af.
Buite nader ‘n motor en hou stil.
Karel sit sy bedliggie aan en gaan sit op die bed, leun terug teen die kussings, die yspak teen sy lip.  Die bloeding het opgehou.  Die ys het lank reeds begin smelt.  Water drup langs sy nek af tot op die kussing, maak ‘n pienk streep.
Buite word kardeure dofweg oopgemaak en toegedruk.  Een.  Twee.  Drie.
Langs Karel se bed gaan sit Dirk in die leunstoel, kop in sy hande.
“Tjomma, sorry.”  Fluister.
Oë verstil in oë. Hulle wag.
Die gedempte geluid van mense wat so stil moontlik inkom, is al wat gehoor kan word.
Werner verskyn in die deur, kyk na Dirk, dan vir Karel op die bed.  Hy word merkbaar bleek soos wat hy tot by Karel stap, sy hand vat en dit tot teen sy mond lig.  Oë gesels met mekaar.  Hy gaan sit, rug na die deur toe.
Dokter Bredenkamp stap in, swart tas in die hand, en som die situasie op.
“Tanja,” draai hy om na die verslae meisie toe. “Gaan haal asseblief drie glase suikerwater … maak dit baie soet.”  Dan stap hy reguit tot anderkant die bed.
Dirk is merkbaar bly sy's daar.  Hy beduie vir Tanja, asof versteen in die deur, om te gaan maak soos die dokter sê.  Verward-geskok draai sy om en loop uit.
Dokter Bredenkamp maak die tas oop
“Ek glo dat ek nog alles kan onthou.”  Hy beduie dat Karel die yspak moet wegvat.  Hy lig die lip op en kyk ook aan die binnekant.
“Jip.”
Hy haal ‘n noodhulpsakkie uit, en daaruit ‘n botteltjie diepgeel ontsmettingsmiddel, wat hy oopdraai.  Watte teen die oop botteltjie, dop dit om, sit die botteltjie neer op die bedtafeltjie langs die foto van drie kinders.  Dan ontsmet hy die wond binne en buite.
“Sal steke moet insit. Pleisters gaan nie werk nie.”  Hy haal ‘n spuitnaald uit, sit dit neer, ‘n ampule, ‘n krom stekenaald en stekegare.
Dirk is bleek.
Werner hou steeds Karel se hand vas, nou met albei sy hande.
Bedrewe haal die dokter ‘n verseëlde vars spuit uit, stroop die pakkie versigtig af en steek die naald se punt deur die rubberlagie in die vloeistof in, trek net genoeg vloeistof in die spuit op.  Spuit ‘n druppeltjie uit.  Vee weer die wond af.
“Dit gaan ‘n rukkie bietjie seer wees.”  Dan spuit hy.
Karel se hand klem.  Werner se vingers word wit.
Behendig ryg Werner se pa die gare deur die naald.
“Is dit nog seer?”
Karel voel aan sy lip en skud sy kop.
Werner se pa sit vier steke in   eers twee binne, dan twee buite.  En vee met ‘n vars ontsmette stuk watte liggies oor die toe wond.
Tanja kom in met drie glase.  Die dokter beduie dat sy een vir Dirk en een vir Werner moet gee en een vir haarself vat:
“Drink alles.”
Hy draai terug na Karel toe.
Dirk, Tanja en Werner sluk die soet water elk met een teug.
Met ‘n ander naald en ampule herhaal Werner se pa die ritueel van inspuit:  In Karel se boarm.
“Kalmeermiddel, met ‘n ietsie vir die pyn.”  Dan sit hy al sy goed terug in die sak en gooi die gebruikte houers en goed in Karel se snippermandjie.
“Ek gaan jou ma haal.  Trek net asseblief eers ‘n skoon hemp aan;  jou lip lyk erg genoeg.”
“Reg, Oom."
“Skies, Dokter,” tree Tanja terug.
Karel staan op, trek die hemp uit, ‘n ander een aan.  En gaan lê weer op die bed langs Werner.
Werner en Karel kyk na mekaar.  Dan buk Werner vooroor en soen Karel op sy voorkop en sit weer terug, Karel se hand steeds in syne.
Dit dring tot Tanja deur.
“Wat, wat gaan nou hier aan?” vra sy verbouereerd en kyk na Werner-hulle en dan na Dirk en dan weer na Werner-hulle, wat onbewus is van wat gebeur.
Dirk staan op en maak die deur toe.
“Hulle is … hulle is mof … gay,” korrigeer hy homself hortend en gaan staan agter haar en sit albei sy arms om haar, soen haar in die nek.
“Hulle is … saam."
Vrae keep tussen haar oë.
" ... seker maar soos ons … ” stotter Dirk.
“Jy wéét?  Jy wéét en jy sê my nie!” verwyt sy hom.  Sy probeer haar loswikkel, om net in die beweging omgedraai en teen hom vasgedruk te word.
“Sj-sj, dis oukei.  Hulle’s oukei.  Hulle is ons tjommas.”  Hy kyk verby haar kop wat hy teen sy skouer vasdruk, sy beaarde hand in haar goue hare.
“Werner.  Werner, Karel.”  Dirk probeer sy stem sag en sonder emosie hou.
Werner draai skuins om, en besef skielik hy hou Karel voor die ander vas, los, en staan verbouereerd op, staan verleë ‘n entjie weg.  Kyk met iets soos vrees vir Karel, kyk grootoog vir Dirk, en vir Tanja wat uit die omhelsing na die twee by die bed toe omgedraai het.
“Dis nie … ek … ek …” stotter Werner.
“Dis oukei, Werner.  Karel het my vertel.  Ek haat moff … gays, maar …"  sukkel hy met iets binne hom.
" ... julle twee is anders.  Karel is my tjomma, en jy?  Jy’s my tjomma se … se … se …  Anyways, dis seker maar oukei met my," begin iets in hom die oorhand kry.
"Sorry, Werner.  Sorry dat ek gesê het ek haat jou ook."
Stilte.
"Ek moet … Ek moet seker net relax hieroor. Gee my tyd.”
Tanja ruk nie meer nie.
Karel beur hom teen die kussings op.  Hy steek sy hand na Werner toe uit wat nie weet wat om te sê nie.  Dan leun hy vooroor en trek Werner aan sy belt nader totdat hy langs hom teen die kussings sit.
“Dankie, tjomma,” sê Karel.
“Ek …,” hy kyk vir Werner.  “Ek bedoel óns.  Ons sal ook probeer relax oor die drugs en …”
“Stop!" Tanja ruk los.
"Stop’it!”  snik Tanja skielik.
“Drugs!  Too much!  Dis too much!  Too much!
Sy kyk wild na hulle.
“Julle dink dis oukei dat julle oukei is terwyl ek, ék, actually nie oukei is nie!  My ou doen drugs, sê julle, wéét julle, drugs! ... .  "  Sy draai na Dirk toe.
"Jy’t vir my gelieg, Liefie, gelieg!  En julle dink dis oukei?!  Julle weet, maar sê nie vir my nie, worry nie oor my nie, los my uit die prentjie uit …”
Sy huil onbedaarlik.
Dirk gaan staan voor haar en vat haar kop sag dog ferm tussen sy hande.
“Baby,  ek’s lief vir jou.  Lief vir jou, verstaan jy?”  Hy soen haar op haar nat en wilde oë.
“Die opstel vanoggend … Anyways, ons het vanaand eers van mekaar se issues uitgevind."
Hy kyk vir Karel.
“Ons is siek vir lieg.  Please!  Baby, please.  Wees bly jy’t nie issues nie.” pleit Dirk by haar terwyl die ander twee stom toekyk.
“Nie issues nie.”
Sy tree terug.
“Nie issues nie.”
Sy sit haar hand voor haar mond en mik vir die deur.  In Karel se ma se arms in, wat saam met Werner se pa ingekom het.
Tanja voel vasgekeer.
Sy tree terug uit mevrou Greyling se arms.  Rug teen die ingeboude kas se deur.
Wild en seer kyk sy eers vir Dirk, wat sy arms verniet vir haar oophou.  Dan vir Werner, met sy arm om Karel se skouers.  Terug na mevrou Greyling, na dokter Bredenkamp.
Hulpeloos sak sy teen die deur af op haar hurke neer en sit dan plat in ‘n beteuterde bondeltjie.  Haar blik strak voor haar.
Stilte.  Almal kyk na haar.
“Issues,”  is al wat sy sê.
“Baby ...” probeer Dirk en hurk skuins voor haar.
“My ma is ‘n alkoholis.” 
Te kalm.
Sy begin opstaan.  Dirk help haar regop.
“Elke Sondagoggend in die kerk. Drie skynheilige gevrete.  Die volmaakte prentjie:  ek, Dad en, ja, Ma, my ma die alcy.”  Sy stoot Dirk weg, begin in die kamer rondstap.
“Gesuip, van haar oë soggens oopgaan tot saans wanneer sy uit-pass en Pa haar bed toe moet dra.  As, ja, ás hy by die huis is.”  Sy lag droog.
“En hy weet.  O, ja, hy weet.  Ook dat sy ‘n slet is wanneer hy by die werk is.  Geen wonder hy werk altyd laat nie.  Saterdae ook.”  Driftiger.  Sy kyk haar stomgeslane gehoor deur.
“Hulle wag net dat ek ook klaarmaak en uit die huis is, het ek en Cindy met ons eie ore gehoor.  Dan eers, let wel, dán eers sal hulle skei, die dronk slet en die jellievis wat nie kan ophou dril nie!”
Almal is stomgeslaan.
Is dit die goue meisie van die buurt só voor hulle?  Die een wat altyd vriendelik is?  Wat altyd tyd vir ander het, hulle opbeur as hulle af voel?
“Maar hoe …?”  begin Karel se ma beheersd vra.
“Nou weet julle hoekom ek julle nooit in ons erf ingenooi het nie.”  Sy kyk na die drie ouens.
“‘n Gesuipte vrou in ‘n huis wat stink na drank.  Dalk boonop met ‘n ander man in haar bed.  My má!” spoeg sy die woorde uit.
Stilte.
Magtelose trane loop oor Dirk se wange.  Karel kan syne nie meer keer nie.  Werner se gemoed skiet sigbaar vol.
Tanja sien dit.  Sy versag merkbaar en stap tot voor Dirk.
“Ek’s jammer, Liefie.”  Sy druk haar hand sag teen sy bors soos altyd wanneer sy op haar tone kom om hom te soen.  Sy draai na die ander toe.
“Jammer, Karel, Werner, Mevrou, Dokter.  Ek móés lieg.  Oor alles.  Elke keer lieg.”  kyk sy van die een na die ander.
“Julle hoef nie …  Ek’s moeg.  Ek wil huis toe gaan, asseblief.”
“Meisiekind,”  sug Karel se ma besorgd.
“Niks van die aard nie,”  Werner se pa, ferm.
“Jy bly net hier.”
“Net hier.  By my.  By ons,”  sê Dirk, wat sy arms om haar bekende lyf sit.  Sy, wat haarself stadig oorgee aan die bekendheid.
Dan huil sy.
“Tanja,  ons almal het ‘n stuk lieg voor mekaar geleef,” probeer Karel normaal praat.
“Nou’s die waarheid uit.  Chill."  Werner.
"Ons bly tjommas.  Please?”  Karel kyk rond.
‘n Stilte so sterk en vol warm liefde soos Dirk se arms vou om haar.
“Ek’s genuine moeg, ouens.”
Hulle is almal uitgerafel.
“Slapenstyd,”  kondig Karel se ma onverwags aan.
“Hier’s genoeg slaapplek.  Kom, Tanja, laat ek vir jou iets gee om in te slaap.  Dis in my kamer,”  beduie sy haar by die deur uit.  “Jou mense weet mos waar jy sal wees?”
“Ja, Tannie.”
Wanneer Tanja by die deur uitstap, draai Karel se ma om.
“Dirk, gaan jy saam met die oom.  Julle twee kan in Ingrid se kamer slaap.”
Werner se pa sit sy hand op Dirk se skouer.
"Ons sal vroegoggend polisie toe gaan."
Hulle stap uit.
“Werner, ek dink dis beter dat jy vannag net hier by Karel bly;  netnou het hy iets nodig,” reël Karel se ma verder. Haar glimlag is oop en warm.
Karel en Werner kyk verleë vir mekaar, dan vir haar.
Sy knipoog vir hulle.
Sy wéét!  Hulle weet sy weet.
Karel kry 'n soen op sy voorkop, dan ‘n verbaasde Werner ook.
By die deur draai sy om.
“Nag, my seuns.”
Laatnagligte doof.
En buite slaap die voorstad. Onbewus van homself.



Soli Deo Gloria



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Johann
Ek het nou al hier beleef dat die Woesters nie sulke groot hompe kan verorber nie. Miskien as jy die storie hoofstuk vir hoofstuk, of selfs in nog kleiner sarsies opbreek en plaas?! Ek hou baie van die storie en wens dat meer dit sal lees!
6 jaar 7 maande 3 weke 2 dae 11 ure oud


Dankie
Dankie aan die 35 mense wat DAG VAN DIE BLOEISEL tot dusver - 2012-03-22 gelees het. Terugvoering sal geweldig baie waardeer word. Hartlike groete. Johann P. Boshoff
6 jaar 8 maande 3 weke 5 dae 11 ure oud



DAG VAN DIE BLOEISEL

deur Johann P. Boshoff

"Dag van die bloeisel het my gevange geneem vanaf die eerste bladsy. Skielik was ek terug in my tienerjare – bewus van die tere vitaliteit van jeugdigheid. Die karakters kry lewe in persone wat ek iewers geken het. En wat ek wéét vandag nog rondom en tussen ons is. Dit is die soort eerlike boek wat ek enige tyd in die hand van ‘n Christen-tiener sal plaas." -- Dr. Ralph Barnard, skrywer, predikant en teoloog



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar