Jeugverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

WAG N BIETJIE H4D
“Meneer, ek het gevra om buite te praat om vir ons albei verleentheid te spaar. Die saak is eenvoudig: Ons moet Geskiedenis deurkom, want dis vir ons almal `n hoofvak. Ons wil ook graag goed doen in die eksamen. Ons weet dis vir Meneer belangrik om goeie simbole te toon aan die einde van die jaar. Almal jaag simbole, want ongelukkig word mens hier gemeet aan die simbole wat die kinders verkry. Al hierdie dinge is moontlik, want ons is `n bo-gemiddelde klas. Maar dan sal dinge moet verander.”
Van der Merwe is stil. Hy besef hier is iets aan die gebeur wat hy nie verstaan nie.

“Ek gaan nie doekies omdraai nie,” gaan Johan aan. Hy praat sag, en amper pleitend, gladnie aggressief nie “Ons is almal kinders van die skema, met `n paar uitsonderinge na. Ván ons weet wat dit is om honger te gaan slaap. Ons weet wat dit is om te werk, en nie tyd te hê om te studeer nie. Ek is nie die enigste een nie, en ek skuil nie daaragter nie, ek doen wat ek kan. My pa maak nie van kinderarbeid gebruik as ek hom gaan help nie. Ons moet oorleef.
“ Maar soos met my, laat al hierdie dinge letsels. Dit veroorsaak dat `n mens `n kompleks oorhou oor iets wat nie jou skuld is nie. Net soos die kind wat nie verstandelik goed bedeeld is nie, nie verneder mag word omdat hy miskien as dom deurgaan nie, net so mag ons ander nie afgebreek en verkleineer word omdat ons eenvoudige mense is wat op die beginpunt van `n lewe vorentoe staan nie. `n Lewe waar ons sal moet kompeteer met ander wat onder beter omstandighede groot geword het.
“Meneer, is dit te veel gevra om hierdie skool se kinders met respek te behandel, en om deel te wees aan `n opbouproses om hulle selfvertroue te verbeter? Meneer het gesien wat met my gebeur het.
“`n Man wat geen selfvertroue het nie, maar as gevolg daarvan ook nie selfrespek nie het my in hierdie situasie laat beland. Ek is verneder omdat ek soos `n barbaar moes baklei. Meer nog, ek voel verneder omdat ek dit nie kon verhoed nie. Maar hy het in hierdie skool, en by die huis, geleer dat slaan die allerantwoord is.

     
“Slaan maak nie van die kinders harder werkers nie. Dit is nodig as kinders hande uitruk en sommer net stout is, maar as kinders in opstand kom omdat hulle menswees aangetas word deur neerhalende opmerkings, gaan slaan niks help nie. Dit maak hulle net opstandig. Daar is `n plek vir alles, maar ek dink hierdie skool se kinders het hulle kwota van slae lank gelede reeds gehad.
“Kyk maar net `n bietjie rond, en vergelyk resultate. Dis die geliefde onnies wat die beste vaar, nie die wat met die rottang in die hand rondloop nie. Dis die mense wat die regte voorbeeld stel, wat die resultate behaal. Hier is onnies in hierdie skool vir wie ek deur vuur sal loop, maar daar is ander na wie ek sal kyk hoe hulle brand sonder om `n hand uit te steek om te help.
“Meneer, Meneer is op die oomblik een van diè. En Meneer is self die oorsaak daarvan. Ek praat nie net van myself nie, ek praat van die hele skool. Wil Meneer graag so die res van Meneer se tyd hier slyt? Hierdie kinders is in staat om Meneer te vernietig, of te help.
“Ek is bereid, en ons hele klas is bereid, om die situasie om te draai, maar ons kan dit net doen as Meneer meneer se houding verander. Dit gaan moeilik wees, nie net vir u nie, maar ook vir ons. Die wantroue is erg, dwarsdeur die skool. Maar dit kan verander, miskien nie met al die huidige leerlinge nie, maar daar kan tog `n verskil kom in toekomstige leerlinge. Die ou leerlinge gaan aan, maar Meneer gaan hier bly.”
Van der Merwe sê niks. Johan begin aanstap klastoe, en Van der Merwe sluit by hom aan. Hulle gaan die klas binne, en Johan gaan sit. Die meisie wat nie die vraag kon antwoord nie, sit met haar kop in haar hande, en dis duidelik dat sy huil.

“Johanna?” sy kyk stadig op. Voor haar staan `n man wat sy nie ken nie. Nog nooit het iemand van der Merwe gesien met sy oë vol trane nie, laat staan nog hom hoor praat met `n gebroke stem.
“Johanna, ek is jammer.”

Dan vertel die Geskiedenis Onnie vir hulle van sy jeug jare, hoe hy nie kon Universiteit toe gaan nie, maar moes gaan werk. Hoe hy gesukkel het om sy graad te kry, en later `n vrees opgebou het om eksamen te skryf. Hoe hy keer na keer probeer het, en elke keer het daar iets gebeur om hom nie te laat slaag nie.
Sy gemoed is vol, en hy maak nie `n geheim daarvan nie.
“Sal julle my nog `n kans gee,” soebat hy. “Sal julle?”

Die klas is stil. Johan staan op. “Meneer, as ek kon sou ek nou my hand uitgesteek het. Ek besef nou dat Meneer `n groot hart het, en van my kant af sal ek probeer.”
Van der Merwe stap tot by hom, en dan neem hy sy arm in sy hand.
“Johan Pretorius, ek kan nou verstaan hoekom jy jou arms sal stompies baklei vir iemand vir wie jy lief is. Maar ek wil jou ook nie as `n vyand hê nie. Baie dankie vir vandag.”
Die klas staan een vir een op en kom gee die onnie `n handdruk. Niemand sê iets nie, maar van der Merwe weet: Hier het hy vandag goeie vriende gemaak.

Toe die klas verdaag, trek Willem meneer Van der Merwe se aandag. “Terloops Meneer, as die standerd agts weer meneer se kar op die stoep staanmaak, sal ons dit vir Meneer kom afhaal, maar dan wil ons `n lift hê koshuis toe.”
“ Julle kan vandag al saamry, maar net vandag, anders wil almal saamry. En dis maar net `n belegging vir vorentoe. Mens weet nooit.”

Dis weer Maandag. Johan se hande het heelwat gesak, en hy kan sy vingers al `n bietjie beweeg. Maar dis nog te seer om iets op te tel. Meneer du Toit het hom die dood voor oë gesweer as hy probeer om iets op te tel, en agteraf vir Piet bedank dat hy hom help. Terselfdertyd het hy probeer vis oor Johan en Prinses.
“Nee Meneer, ek weet nie. Ek weet nie wat in Johan se kop aangaan nie, maar Prinses maak nie hond haaraf nie. Sy is al skoon moedeloos. Hy is nie snaaks met haar nie, maar hy probeer ook nie eintlik iets nie.”
Vandag is weer Godsdiens. Toe Johan sien hulle gaan nie voor die skool bymekaar kom nie, wag hy vir Meneer du Toit. “ Meneer, kan ek vandag die Godsdiens aanbied?”
Du Toit is verbaas. Hy het niks agtergekom gedurende die vorige week nie. Sou Johan antwoorde gekry het op sy vrae?
“Seker,” sê hy. “As jy opgewasse voel daarvoor.”
Die Bybel lê weer op die hoek van die tafel. Hy wend nie `n poging aan om dit op te tel nie, maar laat sy hand weer daarop rus, asof hy wil sê dat hy nie die Bybel agterweë gelaat het nie.

“ As `n babatjie gebore word, word hy aan sy eerste keuse in die lewe blootgestel. Hy kan skree omdat hy `n vreemde wêreld betree, of hy kan stil bly. Die keuse is syne.
“As hy skree, is almal bly, want dan beteken dit dat dit goed gaan met hom. Skree hy nie, kry hy `n klap op sy boud sodat dit goed kán gaan met hom. Die keuse is onwetend syne.
“ As hy groter word en aan sy moeder se bors suig, het hy nog `n keuse: hy kan rustig drink, of hy kan byt. As hy rustig drink, is sy moeder tevrede, en sy hou hom liefdevol vas. As hy byt, kry hy `n klap op sy boud. Die keuse is weer onwetend syne.
“Maar oor `n tydperk leer hy die gevolge van verkeerde keuses ken, en hy vermy die klappe op sy boud, want dis nie aangenaam nie. Nie vir hom nie, en ook nie vir sy moeder nie.
“So gaan mens deur die lewe met keuses, want keuses is dit waarmee God ons lewe beheer. Die gevolge van die keuses leer mens ken oor jare, deur te luister na wat ander mense met meer ondervinding vir jou vertel, en ook deur eie ondervinding.
“Dit is ook weer `n keuse. As jy nie na die raad van ouer mense wil luister nie, moet jy die gevolge leer ken op die moeilike manier, en dit is dom. Maar ons doen dit almal. Ons wil aanmekaar die wiel òòr ontdek.
“En tog bly daar tog sekere kennis oor wat ons van andere leer, soos in die skool. Dit is hoekom die mens al slimmer en slimmer en slimmer gaan word.

“Verlede week het ek gewonder of God op `n muur sit en ons dophou sodat hy ons kan looi as ons verkeerd doen. Ek het gewonder oor wàt is sonde. Vandag, na `n bitter moeilike week, kan ek sê dat God ons nie sit en dophou om te sien of ons die reëls oortree nie. God is nie so dom nie. Allermins.
“Toe hy die heelal geskape het, het hy reeds die reëls neergelê waarvolgens die planete beweeg, vaste, onbuigbare, onveranderlike reëls. Netso het hy ook die reëls neergelê waarvolgens die mens sy lewe moet inrig. Saam met dit die keuses, want ons is geskape na sy beeld, en beskik oor `n verstand wat ons in staat stel om te dink, en keuses te maak. Die keuses behoort aan ons. Die gevolge van die keuses is bekend, want dit is deur God neergelê by die skepping, en aan ons openbaar in die Bybel
“ Alles is julle geoorloof, maar nie alles is goed nie. Ons kan enige keuse maak wat ons wil, dis ons geoorloof, maar ons moet onthou dat aan elke keuse is daar `n prys verbonde. `n Prys wat ons moet betaal vir `n verkeerde keuse, of dalk `n prys wat ons kan wen vir `n goeie keuse.
“ Maar die vraag bly staan: Hoekom gebeur dinge met `n mens soos wat nou met my gebeur het. Die antwoord is ooglopend. Soms het God `n plan wat hy wil uitvoer, en dan het hy iemand nodig om te help. Party mense help sommer vanself, en is partykeer meer `n oorlas as iets anders. Ander, soos ek, wil nie betrokke raak nie. Hulle skram weg en neem die pad van die minste weerstand.

“Dis dan wat God vir hulle die keuse maak. En dit is nie altyd aangenaam nie. Dis net moeilik om dadelik te sien wat God beoog, maar vir my lyk dit of mens net geduldig moet wees.
“Ek wag in spanning, want as die dinge wat verlede week gebeur het, al is wat God van my verwag, dan het hy my darem blessit seer gemaak vir `n klein bietjie.
“Dis amper tyd, maar net die volgende: As dit dan so is, hoekom bid `n mens?
“Pasop!! As God nie so liefdevol en genaakbaar was nie, sou ek my kon voorstel dat mens hom gruwelik kan beledig deur aanmekaar beuselagtighede aan sy deur te lê. Maar as mens voor `n keuse kom wat jy nie kan hanteer nie, mag jy maar vra, maar moenie verbaas wees as jy nie dadelik anrwoord kry nie, en ook nie die antwoord wat jy verwag nie. Hy het sy eie tyd.
“Ek hou van hallelujas. Dit sing lekker, en laat my lekker voel.
Maar ek wonder soms. Ek dink aan een spesifieke lied wat baie populêr is:

Gaan my nie verby, o Heiland,
Gaan my nie verby.
Wyl u ander seën Heiland
Seën tog nou ook my.

“Dis eintlik `n gebed, en ons sing dit so sonder om te dink. Maar wat bid ons eintlik? Is dit nie so dat ons eintlik vir die Here sê: ‘Here, nou dat U hier is, moet tog nie by my verby gaan nie. Ek sien U seën my buurman, dit gaan goed met hom. Wil U nie, terwyl U nou so besig is om hom te seën, sommer so `n bietjie seën na my kant toe ook laat kom nie.’?
“Die vraag wat ek wil vra, en ek wil julle daarmee los, is eenvoudig: Wat het ons gedoen om die vermetelheid te mag hê om so-iets van God te vereis? Om te vra: Seën my maar sommer so in die verbygaan. U is nou tog hier naby, besig om andere te seën.
“Laat ons bid.
“Here, dankie dat U my hande seer gemaak het, dat U my die waardes van ander dinge laat besef het. Dankie vir die vriende wat U in my pad geplaas het. Ek wil vra dat U ons gebruik in hierdie skool, maar ook op ons pad vorentoe. U wil is ons wil. Laat dit geskied. Amen”
In die bus merk Johan dat die ‘koekie’ wat verlede week vir hom gesê het heeltemal afsydig is. Sy maak of sy hom nie sien nie. Die ‘koeke’ is bekommerd, want wat hy in die godsdiensklas gesê het, het vinnig deur die skool versprei, en opsluit moet hy gehelp word. Daar sal gebid moet word soos nooit tevore nie. So-by-so is al die positiewe dinge wat gebeur het, die direkte gevolg van hul volgehoue gebede vir die afgedwaaldes en liefdeloses in die skool.

So glo hulle vas.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

drafstap deur my gemoed

deur helna

ek noem my bundel drafstap deur my gemoed, want ek wil hê jy as leser moet saam my daagliks voel wat ek voel en ek glo ek gaan jou aanraak...



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar