Jeugverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende


8.      PIA


Pia is 'n spesiale voëltjie. Sy is 'n geel kanarie wat in 'n hokkie in die mense se huis bly.

Die ander voëltjies sien haar net af en toe as die vrou haar in die hokkie op die stoep kom hang. Ander tye hoor hulle haar altyd net sing, want sy kon baie, baie mooi sing.

Sy is baie vrolik en kan sommer die hele dag aanmekaar sing.

Pia is die naam wat die mense se kleindogter, Anja, vir haar gegee het toe Anja nog baie klein was. Sy het toe nog vir al die voëltjies “Pia” gesê.

Pia het 'n pragtige hokkie wat van dun rottang gemaak is. In haar hokkie is daar altyd water en kos. Sy is baie lief vir wortelblare en pietersielieblare en die vrou en Anja sit gereeld vars blare in haar hokkie.

Sy het een groot vrees in die lewe gehad — en dit was vir Witoog. As Witoog die kans kon kry sou hy haar met vere en al opvreet!

Eendag het Pia buite die huis gehang. Sy was dié dag besonder gelukkig want dit was koud en sy het heerlik in die sonnetjie gesit en die mooiste deuntjies gesing.

Wat sy nooit gesien het nie, was dat Witoog haar stadig bekruip het. Hy het stilweg deur die plante gekruip soos net 'n kat dit kan doen ... totdat hy naderhand by haar was.

Toe gee hy een groot sprong tot op die vensterbank by Pia ... en dadelik probeer hy om haar binne in die hokkie by te kom!

Omdat die hokkie van dun rottang gemaak is, is dit nie baie sterk nie.

Witoog het met sy kloue met die skerp naels die hokkie begin oop ruk ...

Pia het groot geskrik en sy was baie bang. Sy het tot in die verste hoekie van die hokkie gevlieg en 'n groot lawaai gemaak.

Witoog het sy een klou deur die opening in die hok gekry en het sy poot klaar opgelig om Pia met sy naels by te kom! ...

Gelukkig het die man en die vrou en Tienkie almal Pia se benoude geluide gehoor en een, twee, drie, was hulle almal by Pia se hokkie om die kat weg te jaag.

Die man het sommer sy rekker gegryp, 'n skoot na Witoog geskiet en hom met 'n groot bessie op die boud getref!

Witoog het so groot geskrik van al die lawaai en toe nog die hou op die boud, dat jy net so 'n swart streep gesien het soos hy oor die muur laat spaander het.

Die mossies en Pia het die hele petalje sit en aanskou en hulle het tog te lekker gekry toe ou Witoog so op sy herrie kry!

Hulle was almal so bly dat hulle op so 'n mooi plek kon bly, waar die mense en selfs ou Tienkie so mooi gesorg het dat hulle veilig is.

Boetman en Poppie het mooi groot geword en ou Witoog het nooit weer terug gekom nie.

En so het almal baie gelukkig gebly daar in Suiderland Park.


Fluit-fluit, my storie is uit!


Vic Viviers
Februarie 2014



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

mossies
Ejk stem saam tien uit tien vir jou vic. jissie man ek ek het dit werklik geniet en kon al die tyd die prentjie van hierdie gebeure sien. Voëls kan mens baie vreugde verskaf. hier by ons is voëls vir Afrika. gelukkig is hier nie n kat nie net sir F wat hulle gereeld rondjaag en so af en toe n ongelukkige tortelduif verongeluk.
6 jaar 3 maande 4 dae 23 ure oud


Tien uit tien!
Dis 'n pragtige kinderstorie...hoe gelukkig die kleinkinders wat so 'n Oupa (en Ouma!) het.
6 jaar 3 maande 5 dae oud



Liewe Ma - van Bart I

deur Bart

Bart is 'n geliefde karakter met 'n groot aanhang, en publikasie van die briewe was 'n noodwendige reaksieop die aandrang van die lesers.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar