Jeugverhale

Bladsye:
Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

1.      Kruip weg in die boom
Dit is amper donker. Die straatligte gaan een vir een aan.
Frans sit in ‘n boom langs hulle huis. Hy kruip weg vir sy ma, want sy gaan hom nou enige oomblik roep om te gaan bad. Frans hou nie van water nie en hy hou nie van bad nie. Sy Ouma Babs het hom kleintyd van ‘n spesiale watermonster vertel. Sy naam is Rompompus.

Rompompus woon in die water van jou bad, visdammetjies, swembaddens en selfs in die see en riviere. Hy is deurskynend en slymerig met een groot rooi oog. Hy het nie ‘n mond nie, want hy byt of eet nie sy prooi nie. Hy het twee dik tentakels waarmee hy mense vang. Rompompus lê altyd op die bodem waar hy wag tot hy iemand gewaar. Dan gryp hy jou aan jou voete en trek jou stadig af na hom toe tot jou longe vol water word. Ouma Babs het gesê dit is hoe mense verdrink.

Dit is baie moeilik om vir Rompompus te kan sien, daarom is daar nog nie rêrig navorsing oor hom gedoen nie en weet min mense van sy bestaan. Ouma Babs is een van die enigste mense wat hom al in lewende lywe gesien het, maar haar ontmoeting met dié watermonster is ‘n hartseer storie. Dit was op Ouma Babs se verjaarsdag en haar man, Oupa Bart, het haar botaniese tuine toe gevat om dit te vier. By die dammetjie met die waterlelies het Oupa gebuk om na die groot blare te kyk. Sy voet het gegly en hy het net daar, vooroor in die water geval. Ouma het agter Oupa aan in die water gespring om hom te help, maar dit was te laat. Rompompus het hom reeds aan die enkels beet gehad. Rompompus het Ouma een kyk gegee met sy rooi oog, vir Oupa gelos en in die donker skaduwees van die water verdwyn. ‘n Paar dae later is Oupa Bart begrawe.
Daarna was Ouma Babs baie eensaam en het sy by Frans-hulle kom bly.

Frans is anders as ander kinders van sy ouderdom. Sy maats by die skool se aandag is by rugby, skateboards en die nuutste playstation games, maar Frans se gunsteling tydverdryf is stories. Of hy nou dit lees, hoor of self uitdink, Frans is dol oor stories. Dit maak ‘n hele nuwe wêreld vir jou oop en dit hou die lewe interessant. Hy glo daar is iets te vertel agter alles en almal. Die stories bly egter vir eers net in sy kop, want dit lyk nie vir hom asof enige iemand na sy stories sal wil luister nie. Ouma Babs het geweet van Frans se passie vir stories. Sy was die enigste een met wie hy daaroor kon praat, die enigste een vir wie hy stories kon vertel. Ouma Babs was net so lief vir stories soos hy. Baie van die stories wat hy ken, het hy by haar gehoor. Ouma Babs het hom altyd aangemoedig om stories bymekaar te maak en met mense te deel. Sy het gesê, stories maak die wêreld ‘n beter plek en Frans is ‘n gebore storiekop. Dit is sy talent en hy moet dit mooi oppas, want min mense kry ‘n storiekop.

Ongelukkig het Ouma hom nie gewaarsku hoe moeilik dit gaan wees om sy stories oor te vertel nie. Marna, sy ouer suster, het nooit geduld met hom nie. Sy rol net haar oë as hy begin praat en loop weg. Hy is skaam om sy stories te deel met sy maats by die skool, want hy is seker hulle sal vir hom lag. Partykeer kan hy van die stories in sy skoolopstelle gebruik. Dan kry hy goeie punte en die onderwysers komplimenteer hom baie, maar dis waar sy storievertel stop, want die grootmense sê hy het maar net ‘n goeie verbeelding.

Frans weet dit het niks met verbeelding te doen nie. Al het hy nog nooit self vir Rompompus gesien nie, weet Frans hy is regtig. Hy voél dit. Net so voel hy ook oor Die Sponsman wat in hulle toiletbak woon. Hy weet nie wat sy regte naam is en waar hy vandaan kom nie, maar Die Sponsman is daar en sy werk is om jou toilet mooi skoon te hou. Hoe verduidelik hy dit vir enige iemand wat nie in stories glo nie? Hy hét eenkeer probeer om sy ouers te vertel van Rompompus, maar sy pa sê dis ‘n swak verskoning omdat hy te lui is om te bad. Sy ma het gesê daar bestaan nie goed soos monsters wat in jou bad woon nie. Frans het daarna nie weer probeer om vir hulle van enige van sy ander stories te vertel nie.
Hy wonder soms of daar nog mense is wat in stories glo soos hy en Ouma Babs.

Hier waar Frans in die boom wegkruip raak die bas hard en ongemaklik onder hom. Die wind het intussen opgesteek. Frans begin nou koud kry en wens dat hy ten minste aan ‘n trui gedink het voor hy sy plan begin uitvoer het. Dit is elk geval nou te laat. Hy moet vasbyt en deurdruk. Sy plan is om in die boom weg te kruip tot almal gaan slaap en dan terug te sluip in die huis. Hy wil kyk of hy één aand verby kan laat gaan sonder om te bad en nie in die moeilikheid te kom nie. Dit behoort maklik te wees, solank niemand hom sien deur die loop van die aand nie. Elke aand na aandete gebeur dinge in Frans se huis volgens dieselfde roetine. Sy pa sit en lees nou koerant in sy studeerkamer, daarna sal hy ‘n bietjie televisie gaan kyk voor hy kamer toe gaan. Sy ma is in die kombuis besig om skottelgoed te was en hulle kosblikke vir môre te pak. Wanneer sy daar klaar is, doen sy gewoonlik die wasgoed. Frans is saans die eerste een om te gaan bad. Marna gebruik die badkamer na hom, maar tot dan, lê sy in haar kamer en klets op die selfoon. Gewoonlik is almal so besig met hul eie dinge, dat hulle hom skaars raaksien. Behalwe, wanneer hy iemand raakloop in die gang, kombuis of TV-kamer. Dan wil sy ma of Marna weet of hy al gebad het en as dit die tweede keer is wat hy “nee” antwoord, dreig sy pa hom met ‘n pakslae. As almal klaar is met hulle gewone takies en goeters, gaan elkeen na sy slaapkamer toe.

Frans het nie vanaand lus vir hulle gekla oor sy badgewoontes nie, nog minder sien hy kans om vir Rompompus in sy badwater raak te loop. As hy uit hulle pad kan bly waar niemand hom sien nie, sal niemand aan hom hoef te karring nie. Hy kan vanwaar hy sit die kombuisvenster sien. Hy sal uit die boom klim sodra die kombuislig afgaan, want sy ma sit altyd die kombuislig af voor sy kamer toe gaan. As Frans darem net in die boom kan bly tot elkeen is sy kamer is, is sy kop deur. Sy pa sluit altyd die voordeur voor hulle gaan slaap, daarom het Frans vir hom ‘n spaarsleutel saamgebring. Dan sal hy maklik kan inglip, sy nagklere gaan aantrek en tande borsel. Wanneer hy dan sy ouers gaan nagsê, sal dit lyk of hy klaar gebad het en gereed is vir slaaptyd. Hulle sal nie eens weet hy was heel aand in die boom nie.

Skielik is daar ‘n flits van lig. Dit is donderweer. Frans wag vir die dreun. Hulle het by die skool geleer hoe donderweer werk. Die presiese sommetjie sukkel hy om te onthou, maar hy weet hoe vinniger die dreuning op die weerligstraal volg, hoe nader kom die reën. Dan hoor Frans die donderslag. Nee wat, die reën is nog ‘n hele entjie weg. Hy hoop dit bly so tot hy weer in die huis kan ingaan, hy’t nie lus om hier buite te sit en nat word nie. Frans maak ‘n vuis en knyp sy duim vas. Hy sal duimvashou dat die reën vir eers wegbly.

Die gewag voel vir Frans soos ‘n ewigheid. Hoendervleis staan in bulte oor sy kaal bene en arms. Die wolke pak dikker saam en die wind waai al sterker. Dis dalk nie baie gerieflik nie, maar sover werk sy plan, want niemand het nog na hom begin soek nie. Nog ‘n weerligstraal flits en Frans wag weer vir die dreun. Die reën kom nog nie nader nie. Die gewaai van die wind stoot die boom heen en weer soos ‘n groot wiegie. Die gewieg maak hom vaak. Hy wens dit was al tyd om af te klim. Frans lê met sy kop teen die boom se stam en maak sy oë toe vir ‘n rukkie.




2.      ‘n Ding wat grom
Toe hy weer sy oë oopmaak, is die kombuis se lig af. Frans raak opgewonde en wil net begin skuif om af te klim, toe hy weer na die huis kyk. Al die ligte is af. Die hele huis is pikdonker. Sy ouers se kamerlig brand nie eens nie. Dit kan nie reg wees nie. Daar was netnou dan nog lig in amper elke vertrek. Dan sien Frans dat die bure se huise ook donker is en dat al die straatligte af is. Nêrens brand ‘n liggie nie en dit is doodstil. Meskien het die donderweer die ligte uitgeslaan of dalk is dit Eskom se beurtkrag. Wat ook al die probleem is, dit maak Frans se plan nou ingewikkeld. Hoe gaan hy nou weet of sy huismense al in hulle kamers is?

Frans wag ‘n oomblik om te kyk of daar iets gebeur. Nog ‘n weerligstraal skeur deur die lug. Dié keer kom die donderslag vinniger. Frans voel kriewelrig. Die reën is naby. Meskien moet hy maar afklim en van naderby gaan ondersoek instel. Hy spring uit die boom en draf tot by die voordeur. Hy gaan staan met sy oor teen die deur om te luister of hy enige iets binnekant kan hoor. Nie ‘n geluid nie. Hy draai aan die knop. Die deur is oop. Het sy pa dan vergeet om te sluit?, wonder Frans. Die deur kraak toe hy dit stadig oopmaak. Hy gaan in en maak dit weer agter hom toe en sluit dit. ‘n Weerligstraal verlig die gang voor hom. Die pad na sy kamer toe is oop. Op sy tone beweeg hy in die gang af tot by sy kamer. Hy hoor steeds geen geluid van sy huismense nie. Hulle het seker al almal gaan slaap.

Frans soek vir sy slaapklere onder sy kussing en trek dit haastig aan. Hy klim onder die komberse in en gaan lê. Dis mos nou baie gemakliker as die harde ou boom. Hy gaan nie vanaand tande borsel nie, hy lê nou hopeloos te lekker. Die weerlig flits nog ‘n keer. ‘n Harde slag volg dadelik en toe begin dit reën. Frans trek sy kombers tot onder sy ken. Hy voel warm en veilig in sy bed. Sy plan het gewerk, dink hy toe hy sy oë toemaak, maar hy maak hulle baie vinnig weer oop toe hy ‘n vreemde geluid hoor.

Dit klink soos ‘n grom. Frans hou sy asem op om beter te kan hoor. Daar gebeur dit weer. Dit is iets wat grom en dit kom onder sy bed uit!
Frans bly doodstil lê. Dan hoor hy die ding onder sy bed beweeg en weer die grom. Hy trek die komberse versigtig oor sy kop en probeer so sag moontlik asem haal. Meskien as hy so bly lê, dink die ding hy slaap en los hom uit. Frans se keel trek toe. Hy hoor die donderweer dreun en toe weer die grom onder die bed. Sy hart klop vinniger en hopeloos te hard. Netnou hoor die ding dit. Frans knyp sy oë styf toe. Skielik voel hy iets by sy voete. Dit voel soos wanneer iemand op jou bed gaan sit, die komberse span styf om sy voete. Frans voel hoe die ding op beweeg, nader aan sy gesig. Hy hou sy asem op, maar dit voel of sy longe gaan bars. Dan dreun die donderweer so hard dat die vensters skud. Hy voel hoe die gewig van sy bed af verdwyn. Dit wat op sy bed was, is nou weg.

Met die kombers nogsteeds oor sy kop getrek, blaas hy versigtig sy asem uit. Stadig druk hy sy kop bo die komberse uit. Daar is niks. Frans se hartklop bedaar effens, maar hy weet hierdie was nie sy verbeelding nie. Hy het die ding op sy bed gevoel en hy het dit gehoor grom. Dit was nie ‘n hond nie. Hulle het nie ‘n hond nie, want Marna is allergies vir alles en die bure se hond kom nooit in hulle jaart nie. Dit kon elk geval nie ‘n hond se grom gewees het nie. Dit het meer soos ‘n beer geklink, maar wat sal ‘n beer dan nou in hulle huis soek?

Frans sit reggop en gooi die komberse van hom af. As daar regtig ‘n grommende ding in sy kamer onder sy bed weggekruip het, kan dit nie ‘n baie groot ding wees nie. Die spasie onder Frans se bed is maar klein vir ‘n groot monster of ‘n beer. Dit laat Frans meer gemaklik voel en hy wil lag omdat dat hy ‘n paar sekondes terug so bang was. Of meskien was hy nie bang nie, hy’t net bietjie geskrik, dis al.

Hy loer langs sy bed af om te sien of daar enige iets ongewoon is. Tot sy verbasing steek daar ‘n blink ding onder die nagval uit. Hy knip sy oë twee keer om seker te maak hy kyk reg. Dis ‘n groot silver sleutel. Hy leun vooroor en steek sy arm uit om dit op te tel. Die sleutel is koud onder sy hand. Skielik skiet ‘n harige poot onder die bed uit en gryp Frans se arm. Hy skrik so groot dat hy van die bed af val. Hy hou die sleutel styf in sy hand vas terwyl die gedierte aan sy arm bly klou. Frans kan nie nie sien hoe die ding onder sy bed lyk nie. Vir al wat hy weet kan hierdie ‘n baie gevaarlike monster wees wat hom lewendig gaan insluk, maar hy is nou te nuuskierig om die sleutel te laat los. Hy moet weet wat dit is wat onder sy bed wegkruip en wat sluit dié groot sleutel oop. Frans rem sy arm terug en probeer die ding onder sy bed uit trek, maar hy verslap sy greep toe die ding kliphard grom.

Die volgende oomblik is daar ‘n pluk aan Frans se arm en word hy onder die bed ingetrek. Hy probeer terugbeur en vastrap, maar alles gebeur so vinnig en die gedierte is net te sterk vir hom. Dan is pikswart donker. Hy lê onder sy bed langs die vreemde ding. Frans hoor dit asem haal en hy voel die poot nog om sy arm. Die ding beweeg en daar word gevroetel en gekrap aan iets. ‘n Dowwe lig begin skyn skielik van êrens. Frans knyp sy oë op skrefies om beter te kan sien. Die lig kom uit ‘n gat hier onder sy bed! Met Frans aan die arm skuifel die gedierte nader aan die gat. By die opening sien Frans dat dit ‘n lang regaf tonnel is. Dit is so diep dat hy geen bodem kan sien nie. Frans wil nog sy kop draai om te sien hoe die gedierte in die lig lyk, maar met een harde stamp van agter af, is hy in die gat. Frans probeer nog skree, maar daar kom nie ‘n geluid uit nie. Hy val en val en val af in die lang tonnel met die dowwe lig. Die sleutel hou hy steeds baie styf in sy hand vas.

Dit voel vir hom asof daar ure verby gaan. Verbeel hy hom of ruik hy kos? Kan dit vleis wees of bakbrood, dalk ‘n bredie? Wat ook al dit is, dit ruik baie lekker. Die reuk word duideliker en die lig word meteens helder en toe val Frans nie meer af in die tonnel nie. Hy skiet deur ‘n opening en land op sy rug. Hy is baie verbaas dat die landing glad nie seer is nie. Inteendeel, dit voel vreemd lekker. Die oomblik toe hy val, bons hy weer regop. Onder Frans is ‘n swart rubber vloer.
Dit lyk baie soos die swart mat van ‘n trampolien! Hy voel eers bietjie wankelrig soos hy sukkel om op die trampolien-vloer te staan.

Frans kyk om hom rond en sy mond val oop. Hy staan in iemand se kombuis, maar dis die eienaardigste kombuis wat hy nog ooit gesien het.. Dit het hierdie vreemde swart trampolien-vloer, helder pienk mure en teen al vier die pienk mure staan stowe en oonde van alle soorte langs mekaar. Op elke stoof en in elke oond is daar iets wat kook of bak. Dís natuurlik waar die lekker kosreuke vandaan kom, dink Frans. Dit is nogal warm in die kombuis met al die oonde en stowe wat aan is. Hy soek vir ‘n deur of ‘n venster, maar die enigste opening wat hy kan sien is die gat van die tonnel waardeur hy nounet geval het. Terwyl hy so na die gat kyk, hoor hy ‘n gerommel in die tonnel. Iets is oppad onder toe. Frans staan net betyds terug toe dit deur die gat val. Dit land op die trampolien-vloer en bons ‘n paar keer voor dit doodstil lê.





3.      Ou Tannie Viljoen
Voor Frans lê ‘n vreemde ding. Dit is wollerig en liggroen met lang bene. Die ding draai sy kop en kyk na Frans met groot potblou oë. Frans wonder nog wat hy volgende moet doen, toe praat die groen bol wol skielik.
“Hallo, my naam is ‘n Wikkie.” sê hy vriendelik en spring reggop.
“Hi, ek is Frans.” sê Frans.
“Ek weet.” sê Wikkie. “ Bronn het my alles van jou vertel.”
“Alles?” vra Frans. “En wie is Bronn?”
Wikkie krap in sy oor en druk sy vinger in sy mond.
“ Bronn is ‘n president.“ sê Wikkie nadat hy sy vinger afgesuig het.
“Hy is die president van Storieland en hy weet alles van enige iets en iemand.”
“Storieland?” vra Frans terwyl hy gril vir Wikkie wat sy vinger afgesuig het.
“Ja, Storieland. Die land waar stories gemaak word. Ons gaan nou-nou soontoe. Ek wag net vir Ou tannie Viljoen. Sy moet die deur vir ons kom oopsluit en padkos gee vir die reis.”

“Watse reis?” vra Frans.
Wikkie hop oor die trampolien-vloer en bons-bons voor die stowe en oonde terwyl hy potte oop en toe maak.
“Bronn wil jou gaan wys hoe lyk Storieland. Sien jy kans daarvoor?”
“Maar natuurlik!” antwoord Frans opgewonde.
“Goed.” sê Wikkie. “Dan wag ons net vir Ou Tannie Viljoen. Sy sit gou al haar kinders in die bed. Sy sal seker enige oomblik hier wees.”
“Wie is Ou Tannie Viljoen?” vra Frans
Wikkie laat val ‘n pot se deksel uit verbasing.
“Moenie vir my sê jy het nog nooit van Ou Tannie Viljoen gehoor nie!?”
Frans skud sy kop.
“Wel…” begin Wikkie.
“Dis ‘n rympie wat al jare en jare aankom. Dit gaan so:
Ou tannie Viljoen, sy woon in ‘n skoen.
Met so ‘n trop kinders, wat moet sy tog doen?
Sy gee hulle pap met geen suiker daarop,
sy boender hulle bed toe met die handsambok.”

Frans tel die deksel wat geval het op en gee dit vir Wikkie.
“Het sy rêrig baie kinders?” vra Frans
“ Ja, maar sy is nie so kwaai soos die rympie haar laat klink nie. Sy het wel baie kinders en hulle woon in ‘n skoen, maar hulle kry baie lekker kos. Al hierdie kos wat jy hier sien, maak sy vir hulle.”
“Hoekom het sy so baie kinders?” vra Frans.
Wikkie trek sy skouers op en maak ‘n snorkgeluid.
Frans onthou meteens van die situasie in sy kamer toe hy die grom hoor en so skielik onder sy bed ingesleep is. Hy kyk na Wikkie. Dit lyk onmoontlik dat dit hy kon wees. Wikkie is dan so klein en vriendelik.
“Was dit jy wat onder my bed was?” vra Frans vir Wikkie.
“Ja, en jammer as ek jou laat skrik het, maar die grom was nie om jou bang te maak nie. Dit jaag nagmêrries weg.” verduidelik Wikkie
“Rêrig? Hoe werk dit?” wil Frans weet.
“Mmm, nagmêrries keer goeie drome weg en dit verhoed dat iemand Storieland kan binnegaan. As die nagmêrries by jou sou uitkom voor ek daar was, sou jy nie my grom kon hoor of saam met my kon kom nie. Nagmêrries maak drome en stories dood. Verstaan jy?” vra Wikkie
Frans knik. “Ja, soort van, maar kan ek ook so grom dat nagmêrries wegbly?”
“Jy kan probeer, maar ek dink dis iets wat net ons Wikkies regkry.”
“Wie is “Ons Wikkies”? Is daar dan meer as een van jou?” wil Frans weet.
Wikkie lag lekker uit sy maag.
“Ai, lyk my ons het baie meer om jou te leer as wat ek gedink het.”
Hy bons liggies op die trampolien-vloer terwyl hy stip na Frans kyk.

“Daar is ontelbaar Wikkies in die wêreld, want daar is ontelbaar storiekoppe. Vir elke storiekop, dis nou jy, is daar ‘n Wikkie, dis nou ek. Ons Wikkies help storiekoppe met idees vir stories. Jy kan maar sê, ek is jou inspirasie.”
Frans begin saam met Wikkie op en af bonsbons.
“ En is almal se naam Wikkie?” vra hy.
“Ja. Dis net ons kleure wat verskil. Ek is groen, want jou gunsteling kleur is groen. Iemand wat van pienk hou, gaan ‘n pienk Wikkie kry.” gesels Wikkie verder.
Dis baie interessant, dink Frans.
“So jy wil vir my sê, ek spring trampolien saam met my inspirasie?” vra hy.
Wikkie kyk hom aan vir ‘n oomblik en toe hulle besef hoe snaaks dit klink, bars hulle uit van die lag.

Skielik maak die trampolien-vloer ‘n snaakse geluid.
Frans en Wikkie draai gelyk om en daar staan Ou Tannie Viljoen.
Sy het ‘n bos rooi wilde krul hare en ‘n skerp neus. Haar lang rok is baie bont en sy dra ‘n onpaar skoene.
“Wikkie! Ek sien jy het ‘n vriendjie saamgebring.” Wanneer sy praat, is daar ‘n moesie op haar ken wat op en af beweeg.
“Hallo Ou Tannie Viljoen.” groet Wikkie.
“Dit is Frans. Bronn neem hom vandag op sy eerste reis deur Storieland.”
“Aangename kennis, Frans.” sê sy en hou haar hand na hom toe uit.
Frans neem haar hand en skud dit soos sy pa hom geleer het.
“Aangename kennis Ou Tannie..uh..Viljoen.” Hy sukkel om sy oë van die moesie op haar ken af te hou.

“As Bronn hom self op die reis vat vandag, kan ons nie te lank draai nie. Bronn hou nie daarvan om te wag nie. Toe, toe. Kom dat ek vir julle iets te ete inpak.” sê Ou Tannie Viljoen en begin in die potte en bakke krap.
Frans sien nou dat sy ‘n piekniek mandjie onder haar arm het. Uit die oonde en van die stowe af haal sy vir hulle peuselhappies uit vir die pienkniek mandjie. Frans staan nuuskierig nader. Hoenderboudjies, worsies, pasteitjies en ook allerlei soet happies word vir hulle ingepak. Toe sy klaar is gee sy die mandjie vir Frans. “Hier, jy kan die mandjie dra.”
Frans vat die mandjie by haar.
“Wikkie, is julle reg? Kan ek maar oopsluit?” vra sy vir Wikkie.
Frans onthou meteens weer van die silver sleutel wat hy intussen in sy slaapbroek se sak gesteek het. Hy wonder of dit die sleutel is wat Ou Tannie Viljoen gaan nodig hê om die deur oop te sluit. Frans kyk om hom rond. Hy kan nie onthou dat hy ‘n deur in hierdie vertrek gesien het nie.
Waar moet hulle dan uitgaan?
“Ons is reg.” sê Wikkie en knik sy kop so woes dat sy hele lyfie rittel.
Frans kyk weer in die kombuis vir ‘n deur. Al wat hy sien is die baie stowe en oonde. Teen die een muur merk hy nou ook ‘n yskas op. Frans wonder of dit nog heeltyd daar was. Dan beweeg Ou Tannie Viljoen oor die trampolien-vloer na die yskas toe. Wikkie volg haar. Frans loop agterna. Ou Tannie Viljoen haal ‘n sleutel uit haar rok se sak en sluit die yskasdeur oop. Frans frons. Hulle gaan tog seker nie…?

Tannie Viljoen maak die yskasdeur oop en staan terug.
“Daarsy kinders. Geniet die reis!”
Wikkie draai om en wink vir Frans.
“Kom Frans, Bronn is hier.”
Frans sien hoe Wikkie in die yskas inloop. Dan stap hy versigtig nader, maar stop in sy spore. Hy twyfel nou. Is Storieland dan in die yskas?
Hoe gaan hy, Bronn en Wikkie daar binne pas?

Frans kyk na Ou Tannie Viljoen en na die pienk kombuis met sy stowe en trampolien-vloer. Hy kyk na die gat in die dak waardeur hy en Wikkie geval het en alles voel skielik baie deurmekaar. Droom hy? Is dit alles sy verbeelding?
Ou Tannie Viljoen vat aan sy skouer.
“Kom ou seun, daar is niks om voor bang te wees nie.”
Hy loop tot by die yskas en loer om die deur.













4.      Storieland
Dit is toe nie ‘n yskasdeur nie, maar Ou Tannie Viljoen se kombuisdeur. Frans sien die stoep waarop Wikkie staan en wag. Agter hom is ‘n grasperk so groot soos ‘n rugbyveld. Hy loop tot by Wikkie op die stoep. ‘n Groot skaduwee maak die grasperk donker. Frans kyk op om te sien waarvandaan die skaduwee kom. Dit lyk soos ‘n moewiese lugballon wat besig is om by hulle te land. Dit maak reg om op die groot grasperk te sak. Dit is ‘n rooi en wit ballon, maar die onderkant is nie ‘n mandjie nie. Dit is ‘n visserskuit! Toe die ballon op die gras land, gryp Wikkie vir Frans aan die hand. “Kom Frans, jou reis na Storieland gaan nou begin!”

Hy begin hardloop na die lugballon toe en skree oor sy skouer.”Totsiens Ou Tannie Viljoen! Dankie vir die eetgoedjies!”
Frans knyp die mandjie onder sy arm vas en draf saam met Wikkie tot by die skuit. Sandsakke aan toue word uit die skuit op die gras gegooi om dit te anker. Langs die skuit af hang ‘n leertjie vir hulle om mee op te klim. Die opklim na boontoe is so hoog, Frans kan nie sien wie in die skuit sit nie. Wikkie los sy hand en beduie vir Frans dat hulle teen die leertjie moet opklim. Frans volg vir Wikkie. Toe hy aan die bopunt van die leertjie kom, vat Wikkie die mandjie by hom en staan terug. Toe Frans sy een been oor die skuit se rand sit, word ‘n groot hand na hom toe uit gehou. ‘n Hout hand met lang krom tak-vingers. Frans kyk op.
“Dagsê ou seun. My naam is Bronn. Kom, dan help ek jou in.”
Frans word in die skuit ingehelp en hy gaan langs Wikkie staan. Hy is stom geskrik. Bronn is ‘n boom, of liewer, ‘n boomman. Frans kyk hom op en af. Hy is so groot en lank. Hy het ‘n gesig, twee arms en twee bene soos ‘n mens, maar sy hele lyf is van bas.
Frans kry ‘n stamp in sy sy. Dis Wikkie. Dan onthou hy sy maniere en groet terug. “Hallo Bronn.” Hy wou nog sy naam sê, maar hy onthou dat Wikkie gesê het Bronn weet alles van almal.
“Is julle twee reg?” vra Bronn
“Jaaaaa!” antwoord Wikkie opgewonde, maar Frans knik net.
Bronn trek die toue met die sandsakke terug in die skuit in en draai die vlam in die ballon hoër. “Hou vas, hier gaan ons!” sê hy terwyl hy die laaste paar verstellings in die skuit maak.

Die vlam raas in die ballon in en Frans voel hoe hulle stadig van die grond af lig. Hy gaan sit op een van die twee bankies in die skuit. Versigtig loer hy oor die rand. Hulle is sommer al ‘n hele entjie van die grond af. Ou Tannie Viljoen staan op haar stoep en waai vir hulle. Frans sien nou die skoenhuis waarvan Wikkie hom vertel het. Die tannie en haar kinders woon rêrig in ‘n skoen. Daar is venstertjies, ‘n dak en selfs ‘n skoorsteen. Behalwe vir die skoenhuis en die groot grasperk wat soos ‘n rugbyveld lyk, sien hy niks anders nie. Wikkie het langs hom kom sit. Hy waai vir Ou Tannie Viljoen. Bronn stel weer aan die vlam in die ballon en toe gaan sit hy op die ander bankie. Frans loer weer oor die skuit se rand. Hoër en hoër gaan hulle die lug in op. Ou Tannie Viljoen is nie meer op haar stoep nie en die skoenhuis word al hoe kleiner totdat dit net ‘n spikkeltjie is.

“So, Frans” begin Bronn. “Hoe voel jou oor jou eerste reis na Storieland?”
“Uhm…ek weet nie rêrig nie.” sê Frans
“Ek het nie geweet daar is ‘n plek soos Storieland nie. Ek dink ek voel bietjie deurmekaar.”
Bronn frons. “Hoe so?”
“Want uhm…ek weet nie…uhm…” Frans sukkel om die regte woorde te kry.
“Wat is dit, ou seun? Wat weet jy nie?”
“Ek weet nie of hierdie alles dalk net my verbeelding is nie.” kry Frans uiteindelik die woorde uit.

Bronn lag. “Dis heeltemal normal om nou deurmekaar te voel. Jy sien en hoor dinge vir die eerste keer, dinge wat jy nie geweet het bestaan nie. En dit maak nie saak of dit jou verbeelding is nie. Jy is hier. Dit is al wat tel.”
“Maar as dit my verbeelding is, is dit mos nie rêrig nie?”
“Kom ek verduidelik jou meer oor Storieland. Meskien verstaan jy dan beter en lyk dinge minder deurmekaar.” sê Bron
Frans skuif gemaklik reg op die bankie. Wikkie trek die piekniekmandjie nader.
“Nie nou nie Wikkie, laat ons eers klaar gesels.” sê Bronn en Wikkie stoot weer die mandjie onder die bankie in. Hy sit ook nou gretig nader om te hoor wat Bronn wil sê.
“Storieland is die plek waar stories vandaan kom. Alles wat mens nodig het om ‘n storie aanmekaar te sit kry jy in Storieland. Van die karakters tot by die agtergrond, tyd en plek. Almal is welkom in Storieland, maar nie almal wil hier wees of weet wat om hier te maak nie. Die meeste mense wat wel hier kom, is storiekoppe soos jy. Storiekoppe besoek storieland om idees en inspirasie bymekaar te maak vir hulle stories. Jy kan by Storieland uitkom op meer as een manier, maak nie saak of dit in jou verbeelding of in ‘n droom is nie.”

Frans voel hoe opwinding in hom begin borrel. “Sjoe! Dit klink wonderlik. Hoe lank is dit nog voor ons in Storieland aankom?”
“Ons is klaar hier.” antwoord Bronn.
“Maar ek sien dan niks idees of inspirasie hier in die lug nie.” sê Frans verward.
Bronn en Wikkie lag. “Mens trek nie idees en inspirasie uit die lug uit nie!” sê Wikkie “Jy moet jou oë en ore oophou op die grond.”
“Wag wag” keer Bronn toe Frans oor die rand wil kyk. Hy sit sy hande op Frans se skouers.
“Ek moet jou waarsku. Jy gaan dalk bietjie skrik vir eers, want dinge in Storieland kan dikwels baie vreemd lyk vir iemand wat dit vir die eerste keer besoek. Haal eers diep asem en maak jou reg vir ‘n uitsonderlike ondervinding.” Frans haal ‘n paar keer diep asem en knik dat hy gereed is. Bronn haal sy hande van Frans se skouers af en sit terug. Frans gaan sit ekstra naby die rand soda thy mooi kan sien.


5.      Alles lyk anders
Bronn verstel aan die vlam en die lugballon sak bietjie laer sodat hulle beter kan sien. Frans se mond val oop soos toe hy Ou Tannie Viljoen se kombuis gesien het. As hy gedink het daai kombuis is vreemd en anders, weet hy nie hoe hy dit wat hy nou sien gaan beskryf nie. Dis snaaks, anders en deurmekaar, maar baie interessant. Hy voel glad nie bang of verskrik nie, inteendeel. Hy sit verwonderdend en kyk hoe ‘n heel nuwe wêreld onder hulle verby sweef.

Hy sien die gesig van ‘n ou man in die wolke. Die ou man het ‘n lang baard wat tot op die grond hang en dit tol in die rondte soos ‘n tornado. In sy baard is ‘n meermin, skatkis en seekat wat al in die ronde saam met die tornado draai. Iewers in ‘n swembad gewaar hy vir Rompompus. Hy lyk presies net soos Ouma Babs hom beskryf het. Frans sien twee kindertjies wat onder hulle verby vlieg op ‘n papiervliegtuigie. Feëtjies en kabouters kruip in plante weg en hekse vlieg rond op hulle besems. Hy sien die maan hoog in lug met ‘n lang leer wat teen hom staan. Op die leer is trolle besig om op en af te klim. Hy sien ook goed waarvan hy al gehoor het. Die boontjierank waarteen Jan uitklim na die reus se kasteel toe. Hy sien die Sewe Dwergies in ‘n woud besig om hout te kap. Rooikappie staan en gesels met Gouelokkies. Hy sien vir Harry Potter en Liewe heksie. Frans sien so baie van die karakters en dinge uit bekende stories en ook tonne nuwe karakters en dinge wat hy nog nooit van gehoor het of gesien het nie.

Frans voel hoe dit binne hom kriewel. So dis hier waar stories begin, dink hy. En hy kan hierna toe kom net wanneer hy wil.
“Wat dink jy?” onderbreek Bronn se gedagtes.
“Dis merkwaardig.” is al wat Frans kan sê.
“Wil jy iets eet, Frans?” Wikkie het weer die mandjie uitgehaal en is besig om eetgoed op bordjies te pak. Frans besef meteens hoe honger hy is.
“Asseblief.” Hy neem ‘n bordjie by Wikkie. Terwyl hy sy eetgoedjies geniet, kyk hy rustig voort na die lewe in Storieland.

“Ons gaan nou begin terugdraai.” sê Bronn en stel aan die ballon.
Frans gee sy bordjie vir Wikkie terug en hou dop hoe Storieland al hoe kleiner en kleiner onder hulle word soos hulle styg.
“Hoekom vlieg ons net oor Storieland?” vra hy vir Bronn
“Dit is die enigste manier hoe jy deur Storieland kan beweeg. Deur daaroor te vlieg. Jy kan nie op die land self rondbeweeg nie. Die oomblik wat jou voete die grond op Storieland raak, is jy deel van Storieland en kan jy nooit weer terugkeer na die werklikheid nie. Jy is dan vir ewig in Storieland vasgevang. “ verduidelik Bronn

“Behalwe ons wat reeds in Storieland woon.” sê Wikkie “Reg Bronn?”
Bronn knik en Wikkie vertel verder.
“Ons is van Storieland. Ons besoek net jou wêreld van tyd tot tyd om storiekoppe te vergesel op hulle reise deur Storieland.”
“Wat as ek ook in Storieland wil woon?” vra Frans
“Dis jou keuse.” sê Bronn. “Maar onthou, dan is jy net ‘n karakter of ‘n idée. Jy is dan nie meer die storiekop wat die stories aanmekaar sit nie.”
Frans weet darem nie of hy vir ewig in Storieland wil bly nie. Dit lyk baie interessant en opwindend daar, maar hy wil nie net ‘n karakter of ‘n idée wees nie. Hy wil die stories bou!

“Wanneer kan ons weer kom?” vra Frans
“Net wanneer jy wil.” sê Bronn
“Maar volgende keer is dit net ek en jy.” sê Wikkie
Frans frons. “Hoe so? Kom jy nie weer saam nie, Bronn?”
Bronn skud sy kop. “Nee. Ek gaan eintlik nooit saam met storiekoppe op reise deur Storieland nie. Ek is die president van Storieland, die bewaarder en beskermer van stories. Jou Wikkie is jou toergids en geselskap op jou reise deur Storieland.”
“Nou hoekom het jy dan vandag gekom?” wil Frans weet.
Bronn glimlag. “Want jy is ‘n spesiale storiekop. Jy het ‘n wonderlike talent met stories. Ek het gekom om jou aan te moedig om dit te gebruik. Ek weet dit is soms moeilik, want jy weet nie vir wie om jou stories te vertel nie en jy’s bang wat jou maats daarvan sal dink, maar jy moet vasbyt. Oefen jou stories, maak baie idees bymekaar en kry soveel inspirasie moontlik. Ek dink jy gaan die wêreld ‘n rykker plek maak met al jou stories.” ‘n Bekende gevoel kom sit in Frans se hart. Die gevoel van omgee en liefde. Die gevoel wat hy altyd gekry het as Ouma Babs met hom oor sy stories gepraat het.

Bronn sê hulle aan om vas te hou, want hy gaan land. Die hele reis voel of dit in ‘n oogknip verby gegaan het. Wikkie en Frans sit en hou styf vas waar hulle vashouplek kan kry terwyl Bronn die verstellings maak om die ballon te laat sak.

Die volgende oomblik is daar ‘n rukwind wat deur die ballon trek en Frans voel hoe hy in die lug geskep en uit die skuit gegooi word.
“Help!” skree hy benoud en gryp aan die rand van die skuit vas. “Gats Frans, hou vas!” skree Wikkie. Sy oë is so groot soos pierings.Die hele ballon dartel gewaarlik deur die lug. Bronn probeer dit onder beheer bring. Dit raak moeilik vir Frans om vas te hou. Sy hande sweet en hy voel hy hoe gly. Hy kyk af. Hy kan niks sien nie, want hulle is iewers bo wolke. Al wat hy sien is die wit van die wolke.
”Hou vas Frans!” skree Bronn wat nog steeds probeer om die Ballon onder beheer te bring. “Ek kan nie meer nie!” roep Frans angstig
Sy een hand glip los sodat hy net aan drie vingers van die ander hand aan die skuit bly hang. Wikkie gryp desperaat na sy arm, maar hy is te lig om Frans op te help. Frans voel hoe sy laaste drie vingers stadig van die rand afgly.

6.      Die Sleutel
Frans val. Wikkie skree histeries, maar Frans voel glad nie bang nie. Sy hart het bedaar en hy haal rustig asem. Hy draai sy kop om te kyk waarna toe hy val en sien die wolke nader kom. Wat as hy op die wolke kan val sonder om deur te val? wonder hy. Dan voel hy dit onder hom. Die wolke is sag. Soos watte. Hy vat dit vas tussen sy vingers. Hy lê daarop en wag dat dit enige oomblik moet padgee onder hom, maar dit doen nie. Frans bly lê bo op die wolke. Hy sit reggop. Niks gebeur nie. Die wolke hou sy gewig. Hy kyk op na waar die lugballon nou weer rustig in die lug hang. Bronn en Wikkie loer altwee oor die skuit se rand af na hom. Wikkie se mond is nog oop soos hy geskree het, maar daar kom gen geluid uit nie. Bronn glimlag en vir hom en hou sy duim op. “Als reg daaronder?” vra hy. Die lugballon sak stadig af tot by Frans.

“Ja, dankie. Ek het nie gedink die wolke sal my val keer nie.” sê Frans. Wikkie en Bronn help hom terug in die skuit.
“Wolke is nie gemaak om mense se val te keer nie.” Sê Bronn
“Nou hoekom het die wolke my val dan gekeer?” vra Frans
“Dit was nie die wolke nie, dit was jou verbeelding.” antwoord Bronn
“Jy wil vir my sê my verbeelding het my lewe gered?”
Bronn knik. “Meskien.”
Frans raak bewus van iets in sy broek se sak. Toe hy sy hand insteek om dit uit te haal besef hy dis die silver sleutel. Hy twyfel ‘n oomblik of hy dit moet uithaal, maar dan sien hy Bronn hou hom dop.
“Wat is in jou sak?” vra hy.
Frans haal die sleutel uit.
“Ah! Jou geheime sleutel!” sê Bron en neem die sleutel by hom.
“My sleutel?” vra Frans
“Ja. Hierdie sleutel bêre jy op ‘n veilige plek. Wanneer jy weer Storieland wil besoek, sit jy dit onder jou kopkussing voor jy gaan slaap. Wikkie sal jou dan kom haal.” verduidelik Bronn
“Moet ons weer die tonnel onder my bed gebruik?” vra Frans
Wikkie knik sy kop. “Ja, maar jy kan nie self daarin gaan nie. Jy moet die sleutel onder jou kussing los en wag dat ek jou kom haal. Net ek kan die tonnel onder jou bed oopmaak.”

Die ballon sak vining aarde toe en meteens is daar ‘n plof geluid soos hulle land. Frans kyk af om te sien waar hulle is. Hulle is op ‘n huis se dak. Hulle is op Ou Tannie Viljoen se skoenhuis se dak.
“Nou goed dan Frans, dit was jou eerste reis deur Storieland.” Sê Bronn
“Ek hoop om jou binnekort weer daar te sien.”
‘Dankie Bronn. Ek sal verseker gou weer ‘n draai kom maak.” sê Frans. “Maar hoekom land ons op die dak? Gaan ons nie weer by die yskasdeur…ek bedoel voordeur in nie?”
“Nee. Hierdie keer gebruik ons die skoorsteen.” sê Wikkie
Frans wil nog vra hoe hulle verby die rook gaan kom en of dit nie baie warm gaan wees nie, maar Bronn help hulle uit die skuit tot op die dak. Dan maak hy weer reg vir opstyg.
Hulle staan en waai ‘n hele rukkie vir Bronn. “Kom.” sê Wikkie “Dis amper opstaantyd vir jou. Jy moet terug in jou bed kom voor jou ouers wakker word en jou begin soek.” Frans het al vergeet dat dit nag was toe hy van die huis af weg is. Hy hou vir Wikkie dop en wag dat hy eerste iets moet doen, maar Wikkie loop tot by die skoorsteen en staan dan stil.
“En nou?” vra Frans
“Dis nou hier wat ons afskeid neem. Ek kan nie saam met jou teruggaan nie. Toe kom, tyd raak min”
Frans loop tot by die skoorsteen en maak reg om op te klim.
“Sal jy rêrig kom as ek die sleutel onder my kussing sit?”
“Belowe jou.” Sê Wikkie
Frans wil nog verder praat en ten minste eers vir Wikkie groet, maar toe hy hom kom kry, stamp Wikkie hom by die skoorsteen in.





7.      Dis jou verbeelding
Vir die soveelste keer vandag val Frans af na wie weet waar. Eers was daar die val in die tonnel onder sy bed, toe van die lugballon af tot op die wolke en nou weer hier in die skoorsteen. Tot sy verbasing is dit glad nie warm hier binne nie, net donker soos die nag. Hy kan nie eens sy hand voor hom sien nie. Die rook wat hy by die skoorsteen sien uitkom het, is ook nie hier binne nie. Hy wonder waarheen dit verdwyn het. Hy sal seker nou weer in Ou Tannie Viljoen se pienk kombuis beland met die trampolien-vloer. Sal hy dan met die tonnel moet op kruip na sy kamer toe? Hy kan net sien hoe dit gaan sukkel, want die tonnel was baie styl en daar is nêrens vastrapplek nie.
Frans val nog ‘n entjie en toe land hy sag op sy rug, maar dis nie op die pienk kombuis se trampolien-vloer nie.
Frans kyk verward om hom rond. Geen Wikkie, pienk mure of trampolien-vloer nie. Hy is in ‘n ander vertrek wat hy baie goed ken. Sy eie kamer. Frans het deur die skoorsteen tot in sy bed geval!


Hy sit reggop. ‘n Nuwe gevoel groei nou in hom. Net more gaan hy alles neerskryf wat hy gesien het vanaand. Hy sal weer teruggaan Storieland en nog idees kry en aanhou skryf tot die tyd reg is om sy stories te vertel.
Frans dink terug aan die alles en almal. Wikkie, Ou Tannie Viljoen, Bronn…
Alles voel nogal so onwerklik. Het dit rêrig gebeur? Hy buk af en loer onder sy bed in, maar daar is niks nie, nie eens die opening van die tonnel nie.
Het hy gedroom of was dit maar alles net sy verbeelding? Hy gaan lê weer op sy kussing en draai om op sy maag. Meteens is hy so verskriklik vaak. Hy maak sy oë toe en steek sy hand onder sy kussing in. Frans glimlag breed.
Hy weet dit was nie net sy verbeelding nie, want onder sy kussing voel hy die koue metaal van die silver sleutel.












Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Verbeelding
i ek kan nie wag om hierdie pragtige storie vir my kleinkinders te vertel nie!! Heerlik gelees - Jy moet daaraan dink om dit in boekvorm te kry ek dink dit sal n treffer wees! Die skets is net so mooi!
3 jaar 9 maande 3 dae 9 ure oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


    Geborg deur :

    Van ons ander lede

    Die Besoeking

    deur Kobus van Eden

    DIE BESOEKING handel oor 'n Gideonsbende wat die plaasmoorde begin wreek. Hul sukses is verstommend! Gou staan Koos Gerade bekend as die Bloedwreker en sy manskappe as 'die hel.'



    picture

    Kompetisies

    Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

    picture

    Nuusbriewe

    Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

    picture

    Winkel

    Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar