Jeugverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende


In ‘n lelieveld, waar die mooiste lelies groei, naby ‘n klein fonteintjie, is die kabouter dorpie Leliefontein. Dis hier waar kabouters, insekte en diere in vrede saam kan woon. Ja, selfs die spinnekop en mot is maats!

Leliekabouters is die vredeliewendste kabouters in die hele kontrei. Hulle behandel elke diertjie en insek met die grootste respek. Behalwe vir een kabouter. Sy naam is Doemseldyntjie. Hy is die stoutste kabouter in die hele lelieveld. Al die leliekabouters het al deurgeloop onder sy poetse en ook die arme diere. As hy nader kom, hop die hase weg. Selfs die vliёe vlieg weg as hulle hom sien.

Meneer Groot uil is die burgermeester van Leliefontein. Al is hy streng is hy tog lief vir al die goggas, diere en kabouters. En ja, selfs vir ‘n stoute kabouter soos Doemseldyntjie ook. Sy groot oё sien almal raak. En soms ‘n stoute streek of twee.

Op ‘n dag loop Doemseldyntjie deur die veld. Hy hoor ‘n harde kwaak en loer deur die gras. Dit is mos meneer Petrus van Dyk wat so hard kwaak. Meneer van Dyk staan op ‘n klip langs die dorpsdam. “KWAAK-kwaak-KWAAK!” Oefen hy. Doemseldyntjie kruip saggies nader. Hy gaan lê plat in die gras en sis soos ‘n slang. Meneer van Dyk bly toepstil en luister. Is daar ‘n slang in die gras? Wonder hy. Hy loer met sy groot geel oё rond. Daar sien hy dit. Kan dit wees? “Kom uit Doemseldyntjie! Jy kan my nie flous nie hoor. Daarvoor is ek te slim vir jou.” Meneer van Dyk rol sy oё. “Jou gesis kan my nie flous nie. Ek sê jou mos, ek is te slim vir jou." Meneer van Dyk maak sy keel skoon. “Uh uhm, verskoon my nou. Ek moet oefen vir die nasionale paddakoor.” Hy begin dadelik weer kwaak voordat Doemseldyntjie iets kan vra. Dan draai Doemseldyntjie na die boom en plak een van sy speelgoed goggas teen die boom vas. Hy smeer die gogga vol gom en beduie na die vasgeplakde gogga. “Sjoe kyk so ‘n vet vlieg!” roep hy uit. Meneer van Dyk spring dadelik om. Sy tong skiet soos ‘n pyl uit 'n boog en tref die vasgeplakte gogga teen die boom. Maar o wee. Sy tong plak vas en bly net so hang. Arme meneer van Dyk trek en ruk en pluk aan sy tong, maar sy tong is vas! Doemseldyntjie skater van die lag. “Jou dom padda! Wie’s nou te slim vir wie? Dalk moet ek vir ou Sakkie slang roep om jou te kom help!” Terg Doemseldyntjie en huppel haastig weg. Arme meneer van Dyk is woedend. Hy raas en skel maar niks help nie. Hy blaas net meer op van al die woede en gaan sit liewer op ‘n klip sodat hy bietjie kan afblaas.
Doemseldyntjie word nou honger en gaan sit onder ‘n bessiebos om te eet. Maar wie hardloop so haastig agter die bos verby? Dit is niemand anders as Pote Potgieter, die duisendpoot nie. Pote draf verbete al in die rondte om ‘n eikeboom. Om en om. Hy oefen vir die Insektopia marathon. Elke jaar wen Pote die marathon en die jaar moet hy eenvoudig weer wen. Doemseldyntjie kruip skelm agter die bessiebos weg en wag. Net toe Pote nader kom, steek Doemseldyntjie sy voet by die bos uit en pootjie arme Pote dat jy net uitgetrapde tekkies sien spat. Doemseldyntjie hou sy maag vas soos hy lag. “Ek wou nog altyd sien hoe val ‘n duisendpoot!” Skater hy. Maar Pote Potgieter is glad nie gelukkig nie. “Ek sal jou terug kry Doemseldyntjie! Ek trap sommer ‘n honderd keer bo-op jou!” “Dan moet jy my eers vang ou krompoot,” terg Doemseldyntjie. Hy pluk ‘n paar bessies vir padkos en huppel weer haastig weg.

Dit word laat en die sonnetjie begin te sak. Al die insekte en diere is oppad terug huistoe. Behalwe Doemseldyntjie. Hy is nog lank nie klaar met al sy poetse nie. Want reg voor hom sien hy vir oom Maans Boldraaier, die miskruier. Hy sukkel deur die gras verby. Oom Maans is besig om ‘n reuse bol mis aan te rol na sy huis. Doemseldyntjie lag skelm en kruip saggies nader. “Dag oom Maans!” groet Doemseldyntjie skielik. Arme oom Maans skrik so groot, hy skarrel orent en probeer dadelik sy bol mis agter sy rug weg te steek. “En wat wil jy hê?” vra oom Maans kwaai. “Sjoe wat ‘n pragtige bol mis het oom daar agter oom se rug,” jok Doemseldyntjie. “So ‘n bol mis moet mos nie weggesteek word nie. Dit moet mos gesien word!” “Ag baie dankie Doemseldyntjie,” lag oom Maans skaam. “Dit is ‘n geskenk vir my vrou en is baie spesiaal hoor! Moet dit asseblief nie breek nie.” Maar Doemseldyntjie steur hom nie aan oom Maans nie. Hy vat een van sy bessie pitte en druk dit skelm in oom Maans se pragtige bol mis. “Toemaar oom Maans, ek is seker sy sal haar oё nie glo as sy haar geskenk sien nie.” Toe draai Doemseldyntjie om en huppel al laggende weg. Hy weet baie goed dat die pitjie vinnig sal ontkiem en ‘n plantjie word. Veral in ‘n lekker bol mis…

Die volgende oggend staar oom Maans verbaas na sy misbol. En mevrou Miskruier kάn haar oё regtig nie glo nie. Sy bars sommer in trane uit. Want in die middel van haar geskenk staan ‘n welige groen plant. Oom Maans trek sy oё skrefies. “Dis daardie Doemseldyntjie kabouter se skuld. Hy moes dit gister in die bol mis geplant het. Genoeg is genoeg! Hiervan sal Groot uil moet hoor.” Oom Maans gryp die misbolplant en sleep dit skuifel-skuifel na Groot uil se boom.

Iewers in die bos is daar ‘n lawaai. Al die diere en goggas sit om Groot uil se boom. Bo in die boom sit Groot uil en krap sy kop moedeloos. “Stil nou! Stil nou! Een vir een op ‘n slag asseblief. Ek kan nie almal gelyktydig hoor nie.’ Raas Groot Uil en klap sy vlerke woes. Skielik is al die insekte en diere tjoep stil. Oom Maans staan nuuskierig nader om te hoor terwyl meneer van Dyk begin vertel. “Hy het hierldie klipf wat shoosh ‘n vlieg lyk teen djie bwoom gepflak…” ‘n paar vlieё duik weg terwyl meneer van Dyk sy tong in die lug rond swaai. “My tjong het djaaraan vash gepflak totdat djie mierthe my moesh kom losh vthreet! En ek het my hele koorth opthrede gemish!” Oom Maans luister aandagtig na Meneer van Dyk se storie en loer na die stukkie boombas aan sy tong. “Dish Doemshel sje shkuld!” Raas Meneer van Dyk terwyl hy wild met sy hande verduidelik. Ou Groot uil maak sy oё toe. “Ummm,” hy knik sy groot kop ingedagte. “Goed, laat ons nou Pote Potgieter se storie hoor.” “Wel, soos almal weet, oefen ek nou al maande lank aan die Insektopia marathon,” begin Pote vertel. Hy leun vorentoe oor die vier kieries. “Ek was besig om my ses-en-twintigste rondte te voltooi om die groot eikeboom toe daardie klein snert van ‘n Doemseldyntjie my pootjie! Kyk,” Pote lig sy beseerde bene op. “Ek het skraapwonde en bloukolle op my sesde, agtiende en ses-en-veertigste been!” Om elke beseerde been is daar ‘n wit verband. Al die insekte en diere OE en AAH soos Pote sy beserings wys. Dan is daar weer ‘n stilte. Groot Uil maak weer sy oё toe en knik sy kop stadig. “Askuus tog!” Onderbreek oom Maans die stilte. “Ek het ook ‘n storie om te vertel oor daai stoute kabouter!” Groot uil knik sy kop. “Goed Oom Maans, vertel ons jou storie.” “Ek was besig om my misbol te rol teen die bult op.” ‘n Paar vlieё skuif nader aan oom Maans. “Toe verskyn daardie kabouter skielik en hy vat aan my misbol.” Oom Maans bly ‘n oomblik stil en begin snik. “Doemsel het ‘n pit in my misbol geplant! Nou staan daar ‘n boom in my mis….” Oom Maans snik nou so hard, dat hy skaars verder kan vertel. “Toemaar oom Maans," troos Groot Uil, "daar is net een oplossing vir stoute kabouters soos Doemseldyntjie. Vir elke stoute streek wat hy uithaal, is daar ‘n straf. Ek weet presies watter straf hy moet kry. Roep die bye-polisie! Ons moet vir Doemseldyntjie vang!" Al die insekte en diere juig van blydskap en klap hul hande. Want vandag gaan Doemseldyntjie uiteindelik sy les leer!.

Doemseldyntjie rek homself lui uit en vryf sy oё. Sy maag is bol geёet aan al die bessies. Skielik hoor hy ‘n vreeslike gedreun. Hy vryf sy oё weer uit want reg voor hom staan die hele bye-polisie. Groot Uil kom aangevlieg saam met ‘n hele klomp goggas terwyl die diere een vir een nader kom. “Sjoe,” lag Doemseldyntjie, “is almal hier vir ‘n partytjie?” “Nee Doemsel,” sê ou Groot Uil ernstig. “Jy word gevonnis“ Doemseldyntjie sluk swaar. Hy sien vir Meneer van Dyk met die klipgoggatjie wat nogsteeds aan sy tong hang. Langs hom staan Pote Potgieter met sy vier kieries. En heel voor staan Oom Maans en sy vrou met ‘n vreeslike groot potplant. Dan begin Groot uil verduidelik. “Doemsel, jy word gevonnis tot drie dae gemeenskapsdiens.” Doemseldyntjie weet alte goed dat niks hom uit hierdie moeilikheid gaan kry nie. Dan verduidelik Groot Uil weer. “Dag een, sal jy Lelilefontein se dam moet was. Jy sal die dam, emmer vir emmer moet leegskep en skoonmaak en weer emmer vir emmer water aandra totdat die dam vol is.” Doemseldyntjie se oё rek groot terwyl hy na die lang padjie na die dam kyk. “Dag twee sal jy Leliefontein se oefen baam moet skoon vee.” Ou Pote swaai ‘n stowwerige tekkie in die lug.
“…En natuurlik sal jy al Pote se vuil tekkies moet was," sê Groot Uil uiteindelik. Arme Doemseldyntjie sug moedeloos. Want Pote Potgieter het BAIE pote! Dan praat Groot Uil weer. “En vir jou laaste dag sal jy na Leliefontein se misplaas toe gaan en kruiwa vir kruiwa vars mis na Laerskool Bolrol toe aanry totdat daar genoeg mis vir elke Bolrol leerder is." Doemseldyntjie gril as hy aan al die vars mis dink. Nog nooit in sy hele lewe het hy al van soveel werk gehoor nie. Die bye-polisie lei hom weg na Leliefontein se dam. Al die diere en insekte juig en klap hul hande van blydskap. Uiteindelik het die stoute kabouter, Doemseldyntjie sy straf gekry. Dit sal hom ‘n les leer om nooit weer stoute poetse te bak vir enige insek of diertjie van Leliefontein nie.

En maats, weet julle wat. Doemseldyntjie was sommer baie soet vir die volgende paar jaar!



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Doemseldyntjie
dit was baie oorspronklik. hou mens geboei. baie kreatief. ma en pa het baie gehou hiervan.
6 jaar 2 maande 4 weke 6 ure oud


Dis n baie mooi storie
Verbeeldinryk en oorspronklik en oorspronklik is baie belangrik vir my !
Vraag ? Hoe lank moet n kinder storie wees om belangstelling te hou ? en al die feite ? Of lees mens dit vir n kind in dele ? of is dit geskryf sodat n kind dit self moet lees ?
6 jaar 3 maande 17 ure oud



Grafte op die Berg

deur Johannes de Swart

Prosigma, dagboek van 'n paranoiese skisofreen



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar