Jeugverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Eddie kners op sy tande. Dis beter as om sy tong te byt om stil te bly. Hy wag gemaak rustig agter die oop hek vir Greta en hul vriend Callum om oor die pad te stap. Hulle lyk soos ‘n swart wolk, veral omdat Greta nog swart aan het saam met haar swart hare.
Hy gaan hulle mis.
Eddie sluk die trane weg wat hy kan voel bou in sy keel en oë. Seuns van dertien huil nie.
‘Dis tyd,’ sê Callum toe hulle voor hom stop.
‘Hoekom?’ kan Eddie nie help om te vra nie.
‘Jy weet hoekom,’ sê Greta hartseer. ‘My ouers trek af Kaap toe. Dis nie asof ek kan bly op my eie nie.’
‘En vanaf die dag wat ons ontmoet het, het ek by Greta gewoon,’ voeg Callum by. ‘So ek gaan saam.’
‘Dis nie regverdig nie,’ sê Eddie. Hulle is sy beste – en partykeer enigste – vriende. Hy kan skaars glo dat daar ‘n tyd was dat hy en Greta mekaar nie kon veel nie.
‘Ek kan in ‘n blits vir jou kom kuier,’ sê Callum halfhartig.
Eddie knik. Hy weet dat as hy sou vra, die Feetjie Hond dadelik by hom sal wees.
Iemand ry stadig verby hulle op sy fiets en val amper af toe hy die Rottweiler sien. Die fietsryer vlieg omtrent die straat af om weg te kom van Callum af. Eddie grinnik daaroor. As die persoon geweet het dat die Rottweiler meer is as wat hy blyk om te wees… Eddie helder op.
‘Kan jy ons dan…’ Eddie kyk rond om seker te maak dat niemand luister nie, ‘met jou magiese kragte by mekaar laat kuier?’ Hy hou Callum se ligbruin blik.
‘Is moderne tegnologie nie genoeg vir jou nie?’ vra die swart-en-bruin Feetjie Hond met ‘n frons.
‘Asseblief, Callum?’ vra Greta pleitend.
Eddie kan sien dat sy ook nie vroeër aan hierdie oplossing gedink het nie. As Callum instem, hoef hul afskeid nie permanent te wees nie. As die Feetjie Hond instem, sal hulle mekaar meer as net met die vae belofte van ‘n see-vakansie sien.
‘Ek wens ek kon “ja” sê. Maar,’ Callum sug, ‘daar’s reëls.’
Eddie kan voel hoe sy moed in sy skoene sak. Hy’t so half-en-half al geweet dat Callum “nee” sou sê. Die Feetjie Hond wat hulle al op so baie avonture gevat het, het dit nie in hom om die heerser van alle Feetjie Honde se reëls te breek nie. Selfs Eddie wat glo dat reëls net voorstelle is, kan respekteer dat Callum nie teen iets waarnin hy glo kan gaan nie.
Eddie glimlag stram en steek sy regterhand uit na die Feetjie Hond wat lyk soos ‘n Rottweiler.
‘Ek gaan jou mis,’ sê hy terwyl hulle blad skud.
‘Ons gaan mekaar nog op missies sien,’ sê Callum. ‘Maar ja: ek gaan jou ook mis.’
Greta snik hard en die ander twee kyk bekommerd na haar.
Maak nie saak hoe lank hulle mekaar al ken nie, trane maak Eddie nog steeds ongemaklik. Veral as dit so naby aan hom is. Sy vriendin val in sy arms in en hy kan voel hoe snikke deur haar ruk.
‘Hei, dis okei. Jy’t Callum gehoor: ons gaan nog missies saam hê om die wêreld te red van Feëtjies en olifante en wie weet wat nog. En ek gaan my somer-vakansie by die see hê.’ Eddie weet hy rammel sommer als af wat hy dink, maar al die trane wat Greta stort maak dit moeilik vir hom om nie ook te huil nie.
Greta trek terug en snuif haar neus. ‘Dis amper somer-vakansie tyd.’
‘Presies. Jy gaan skaars jou klere opgehang hê, dan pla ek jou weer.’
‘Wat van skool?’ vra sy bekommerd.
Eddie verstaan. Hulle is al beste maats van graad drie af. Dit gaan vreemd wees om nie saam te wees nie.
‘Jy’s slim. En as ek my oë op skrefies trek is jy mooi.’
‘Hei!’ Sy slaan hom op sy arm.
‘Grappie.’ Hy sluk. ‘Ons gaan altwee okei wees. En ons kan elke middag gesels oor ons dag.’ Eddie kan nie glo dat hy die een is wat vir Greta troos nie. Hy kan ook nie glo dat hy sy trane so goed kan inhou nie.
‘Toe, laat julle gaan. Jou ma-hulle wag seker al vir julle om te kan ry.’
‘Bye, Eddie,’ sê Greta en gee hom ‘n drukkie. ‘Probeer soet wees.’
‘Jy ken my.’
‘Presies.’
Eddie en Callum knik vir mekaar. Hulle het nie nodig vir woorde nie.
Eddie hou sy vriende dop soos hulle weer terug oor die straat loop. En verdwyn.
Hy druk die knoppie op die kontrole om die hek toe te maak. Sy ma sê afskeid neem is deel van groot word. Dalk is sy reg. Maar hy’s nie reg om sy beste vriende nou al te verloor nie; dit maak té seer. Miskien moet hy maak soos Peter Pan en net weier om groot te word – dan hoef hy nooit weer afskeid te neem nie.
Eddie lag. Hard. Sy lewe is klaar vreemd en opwindend genoeg. Hy’t nie nog nodig om teen seerowers in Nimmerland ook te veg nie.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Eddie neem afskeid
Baie dankie vir jou pragtige bydrae tot die AFSKEID projek.
1 jaar 3 maande 1 week 2 dae 16 ure oud


Afskeid
Lekker gelees!
1 jaar 3 maande 1 week 3 dae 14 ure oud


Nimmerland
Wow...pragtige storie.
1 jaar 3 maande 1 week 4 dae 16 ure oud


nimmerland
ronel dis nou sommer n pragstorie die
1 jaar 3 maande 2 weke oud


Nimmerland
:) Siestog . . . afskeid bly maar swaar.

"‘Hei, dis okei. Jy’t Callum gehoor: ons gaan nog missies saam hê"

In Nimmerland is daar altyd 'n uitweg . . .
1 jaar 3 maande 2 weke 11 ure oud



Skat van die Seerower

deur Rachelle du Bois

Dit is die jaar 1845. Twee jong vroue is op 'n belangrike sending per skip van Frankryk af na Engeland op pad. Een het ’n kosbare skat in haar besit wat veilig in Engeland besorg moet word. Dis egter nie so maklik nie, want hul skip, Du Vent, word deur twee Franse edelmanne onderskep in ’n poging om te keer dat die skat in Engeland beland, want dit is die eiendom van die Le Veque-familie. Die mans is vasbeslote om dit terug te neem na Chateau le Veque in Nantes, Frankryk. Sal die pragtige dames die sending suksesvol voltooi ten spyte van ʼn storm op see, ontvoering, misverstande, bedreigings en allerhande ander ontberings en noue ontkomings? Of gaan die twee Fransmanne sorg dat die skat terug besorg word waar dit hoort?



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar