Jeugverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Lucienne is vasgevang tussen lig en donker. Derek is blond, met blou oë en ‘n onafwykende geloof in wat reg en wat verkeerd is. Hy sien die wêreld in swart en wit. Sean het swart hare wat skyn met die donkerte van middernag; hy leef in skakerings van grys.
Lucienne sit terug in die orestoel voor die vuurherd in die TV kamer. Die vuur knetter en stuur swart bolletjies rook op in die skoorsteen. Dis stil in die huis. Haar gedagtes raas. Sy kan nie ophou dink aan die twee mans in haar lewe nie.
Sy weet wat ander sal sien as hulle na haar sou kyk: ‘n meisie, skaars twintig, verdwerg in ‘n groot stoel; haar winter-ys oë in kontras met die warm vuur wat sy dophou; wit, amper bleek, vel wat uitstaan teen die swart wat sy dra.
‘Sjoe! Het jy die skielike koue gevoel?’ vra Dennis toe hy in die TV kamer in strompel.
Lucienne kyk nie eens vir hom nie. Vir wat sal sy ‘n vuur gemaak het in September as dit nie onnatuurlik koud was nie?
‘Gaan jy en Derek vanaand uit?’ vra hy terwyl hy ‘n sweetpak sommer so oor sy kortbroek en t-hemp aantrek.
‘Nee. Ons…’ Sy maak keel skoon. ‘Derek het ‘n studiegroep ding vanaand.’
Dennis knik en gaan kombuis toe. Lucienne trek haar bene op en rus haar ken op haar knieë. Sy kan nie die alleenheid verwoord wat sy voel in haar verhouding met Derek nie. Nie eens aan skadelose Dennis wat nou vir hoeveel weke al op hul bank slaap nie.
Die voordeur gaan oop, maar sy kyk nie op nie. Sy weet dis Marcel met aandete.
Sedertdien sy met Sean jag gemaak het op die hekse wat probeer het om die wêreld oor te neem en selfs Feërie te verwoes, is haar eie kragte sterker. Sy byt haar wang. Nie dat sy enigiemand kan vertel wat gebeur het in die paar weke wat sy weg was nie. Derek sal stuipe kry. Hy kyk dan nie eens stories met ‘n towerkrag element nie. Sy sidder om te dink wat hy sal doen as hy ooit uitvind dat sy net halfmens is…
‘Kom, jy kan langs my sit terwyl ons eet. Ek sal jou warm hou…’ skerts Marcel terwyl hy pizza bokse voor haar uithou.
Lucienne staan op en gaan sit saam met hom op die oranje bank terwyl Dennis homself gemaklik maak op die bruin leer bank wat hy vir homself geëin het van die oomblik wat hy in die huis ingestap het amper twee maande terug.
‘Waar’s Khloé vanaand?’ vra Lucienne.
‘Sy’t iets gesê van tyd spandeer met haar ander vriende. Ek dink ons herinner haar net te veel aan Ruben,’ antwoord Marcel.
Lucienne skud haar kop. Sy kan nie verstaan wat Khloé ooit in Ruben gesien het nie. Behalwe dat hy nogal aantreklik is. Was, korrigeer sy haarself. Wat niemand weet nie is dat Ruben een van die hekse was wat die wêreld probeer oorneem het. Hy het gesneuwel in die geveg wat Sean se woonstel laat ontplof het. Sy vat ‘n groot hap pizza. Sy wil nie terug dink aan wat gebeur het nie. Veral nie oor haar en Sean nie.
‘Jy okei?’ vra Marcel besorg.
Sy kyk op met ‘n frons.
‘Jy gluur vir die pizza – en ek weet vir ‘n feit dat dit ‘n vegan pizza is soos wat jy daarvan hou.’
‘En Mario se pizzas is die beste,’ voeg Dennis by.
‘Dis niks.’
‘Mm-hm,’ sê Marcel beterweterig.
Sy gluur vir hom. Sy’s seker daarvan dat hy meer weet as wat hy aanlaat. Veral oor haar en Sean…
‘Ek gaan slaap. Julle kan die res van my pizza kry,’ sê sy en staan op.
As sy gedink het dat sy beter gaan voel as sy alleen is, was sy verkeerd. Veral met die huiskabouters wat deursigtig deur die huis skarrel en alles skoonmaak. Hulle buig wanneer hulle haar gewaar voordat hulle verder aangaan met wat ook al hulle mee besig is. Sy probeer hard om nie te skree wanneer sy die Feë, wat so groot soos 2l coke bottels is, sien nie. Hulle herinner haar aan alles wat sy probeer het om nie te wees nie.
Sy maak haar kamerdeur saggies agter haar toe. Die lig uit die kristal kandelaar mok haar soos dit oor die hele vertrek skyn. Toe sy haar kamer beplan het, het sy alles gekies om soveel lig as moontlik te bring. Sy wou weg bly van die donkerte wat sy altyd net onder die oppervlakte voel. Vir so lank het sy gedink dis haar Fee-kant wat donker is; wat haar maak haar kragte oor ander gebruik. Deesdae is sy nie meer so seker nie. Wat as dit haar mens-kant is wat donker is?
Sy maak haar oë toe en haal diep asem. Alhoewel sy nog nooit so gelukkig was soos wat sy was toe sy en Sean, ‘n magtige Fee van die Donker Hof, hekse en wie-weet-wat gejag het om die wêreld te red nie, kan sy nie teruggaan nie. Sy het al haar eie kragte vrygelaat sodat sy kon help. Sy het haarself toegelaat om nie so opgewen te wees nie. En dit het net na hartseer gelei.
Ten minste saam met Derek weet sy wat die reëls is. Miskien is dit beter vir haar om haar Fee-kant weer op te sluit. Sy kan altyd weer alles wat sy kan sien ignoreer. Mettertyd behoort sy meer mens as Fee te word. Sy kan altyd net hoop.

Haar drome is gevul met drogbeelde van Feë, hekse en die onnatuurlike Obayifo wat beide heks en vampier is. Sy skrik wakker met ‘n kloppende hart en die nare gevoel dat sy en Sean nie so suksesvol was as wat hulle dink nie. Wie ook al in beheer is van die komplot om Feërie te verwoes en die wêreld oor te neem is nog steeds op vrye voet. En hulle gaan nie ophou totdat hulle suksesvol is nie.
Lucienne gooi die duvet van haar af en staan op. Sy haat dit om te droom. Amper soveel as wat sy dit haat om te maak asof sy koud kry wanneer sy meer ys as mens is.
Sy maak haar oë toe en luister. Almal is by die huis; hulle almal slaap. Alhoewel dit ‘n straf vir haar was om huismaats te hê – ‘n straf wat sy op haarself gebring het omdat sy haar Fee kragte gebruik het om die huis te kry – het haar huismaats haar vriende geword en opgehou om so ‘n straf te wees. Tog, partykeer wens sy dat sy heeltemal alleen kan wees. Veral wanneer trane, wat eintlik ysblokkies is, dreig om te val.
Met Sean en die ander Feë kon sy haarself wees.
Sy skud haar kop. Sy moet aanbeweeg. Haar ma mag dalk ‘n hooggeplaaste Feë wees, maar sy is net ‘n halwe Fee. Nie die aandag werd van ‘n ridder van die Donker Hof nie.
Lucienne maak die venster oop en verwelkom die ysige lug van buite in.

Sy glimlag, al gaan sy bietjie-bietjie dood binne elke dag. Sy weet al die redes hoekom dit beter vir haar is om saam met Derek te wees. Tog… om haar Fee-kant te ignoreer maak soveel seerder as wat sy ooit kon dink.
Partykeer wanneer Derek na haar kyk, lyk dit asof hy haar nie eens raak sien nie. Dis tye soos dit wanneer sy meer en meer in haarself intrek. Hy beskuldig haar daarvan dat sy afsydig is. As hy tog net weet waar sy regtig heen gaan.
‘Ons moet praat,’ sê Derek toe hulle buite die biblioteek kom.
‘Oor wat?’ vra sy, haar hart dawerend in haar keel. Gesprekke wat begin met ‘ons moet praat’ is nooit goed nie.
‘Nie hier nie,’ sê hy en stuur haar by die gebou uit.
Haar asemhaling word nie beter in die buitelug nie. Hulle loop totdat daar nie meer so baie medestudente om hulle is nie. Derek draai na haar toe.
‘Ek het jou tyd gegee om oor jou crush te kom. Maar ek gaan nie meer wag nie. Dis duidelik dat wat ook al jy vir Sean voel nie so vlietend is as wat ek gehoop het nie.’
Lucienne sluk. Maar bly stil.
Derek sug en trek ‘n hand deur sy hare. ‘Ek weet ek’s nie onskuldig hier nie. Ek’s seker daarvan dat ek jou eerder moes uitlos as om te vra dat ons oorbegin toe jy terug gekom het. Miskien sou ons nie nou hier gewees het nie.’
Lucienne weet nie wat om te sê nie. Sy weet dat wat hy nou gesê het slegs gesê is omdat sy hom ‘n bietjie gedruk het met haar toorkrag. Sy weet dis nie reg om dit te doen nie. Tog wil sy alles weet wat hy dink.
‘Wanneer ons saam is, voel dit asof ons nog nooit méér eensaam was nie.’
Haar hart klop vinniger.
‘Ek’s lief vir jou, Lucienne. Maar soveel keer soos wat ek myself probeer oorreed dat ons saam hoort, dis hoeveel keer ek seker is dat ons mekaar seer maak sonder om dit te bedoel.’
Sy het gedink dat dit net sy is wat so voel.
‘Toe ons net begin uitgaan het, het dit gevoel asof ek op ‘n pretrit is waarvan ek nooit wil afklim nie. Ek was nooit gelukkiger as saam met jou nie. En toe kom daardie simpel opdrag wat jy net moes doen,’ eindig hy bitter.
Sy weet presies waarvan hy praat. As sy nie daardie laaste taak vir die jaar op haar manier gedoen het nie, het sy nooit saam met Sean die wêreld gered nie en kon sy en Derek nog gelukkig gewees het. Sy is nie spyt oor haar keuse nie. As sy nie uitgewerk het dat iemand selfoon apps gebruik om mense te beheer nie, was alles nou al verlore. Nie net haar verhouding met Derek nie.
‘Ons altwee het verander,’ sê sy.
‘Ons twee saam maak nie meer sin nie,’ sê hy hartseer.
Lucienne knik. Sy kan haar toorkrag gebruik om alles weer reg te maak. Sy kan Derek dwing om die man te wees wat sy wil hê hy moet wees. Maar dan is sy so boos soos wat hy altyd sê dié met toorkrag is.
‘Totsiens, Derek.’
Hy soen haar op haar voorkop en loop weg. En iets binne haar knak. Ysblokkies vir trane loop ongekeerd oor haar wange; sy gebruik haar toorkrag sodat niemand iets vreemds sien nie. Buitendien, paartjies wat opbreek op kampus is niks nuuts nie. Dit gebeur elke dag. Twee keer op ‘n Dinsdag.

Die aarde bewe. Lucienne hardloop uit haar kamer uit na die TV kamer toe waar sy kan hoor haar huismaats is. Dennis en Marcel kyk rugby; hulle voel nie die aardbewing nie. Sy kyk rond. Derek en Khloé is nie daar nie. Die huiskabouters skarrel grootoog nader aan haar.
Die aardbewing het iets met Feërie te doen.
Lucienne sluk die knop weg wat in haar keel begin vorm. Die toorkrag wat sy voel uit die aarde uit kom voel net so boos soos dié wat sy naby die selfoon apps gevoel het. Sy en Sean het nie die vyand verwoes soos hulle gedink het nie.
‘My lady!’ sê die leier van die huiskabouters benoud. ‘Dis die verbode kragte!’
Die huiskabouters klou aanmekaar; vreesbevange.
Lucienne kyk by die venster uit. Orals oor Melville kan sy die gifgroen toorkrag sien wat by die aarde uitsypel. Net haar erf is gespaar. Te danke aan nog bewaringstowerspreuke wat haar ma daar geplaas het.
‘Bly hier. En hou daardie twee hier, maak nie saak wat nie. En moenie enigiemand laat inkom nie. Nie eens Derek of Khloé nie. Ons weet nie wat daardie gas aan enigiemand doen nie.’
Die huiskabouters knik instemmend. Soos sy uit die huis uit loop, is Lucienne bly dat sy daardie oggend aangetrek het soos sy het. Dis wel nie wat sy normaalweg aantrek nie, maar sy wou die kombinasie sien. Die leerbroek, leerstewels wat lyk asof sy op die oorlogspad is, saam met die tanktop en gepunte truitjie alles in swart laat haar sterk voel. Dalk omdat sy ingegee het aan haar donker kant en die leer aangetrek het.
Sy klim in haar kar en ry vinnig die straat af. Dit gaan ‘n tydjie vat om by die Donker Hof se herehuis uit te kom. Selfs teen die wilde spoed waarteen sy deur die verkeer vleg.

Sean wag vir haar buite die huis toe sy in die oprit tot stilstand kom minder as ‘n halfuur later.
‘Ons het klaar uitgewerk waar die oorsprong van dit als is,’ sê hy emosieloos.
Sy hou haarself kalm en uitdrukkingloos. Dis nie die eerste keer dat sy bly is vir haar Fee-helfte wat haar emosies onder beheer kan hou nie.
‘Ek en jy het hierdie missie begin. Dis tyd dat ons dit eindig,’ sê hy met ysvuur wat in sy donker oë knetter.
‘Felix?’ vra sy.
Die naam het skaars haar lippe verlaat toe land ‘n swart draak voor hulle.
‘Regtig?’ vra sy verbaas. ‘Jy kon nie in ‘n helikopter verander het nie?’
Felix blaas rook by sy neus uit.
‘Niemand sal ons sien nie. Buitendien, dis tyd om te wys hoe sterk ons werklik is. Is jy reg daarvoor?’
Lucienne weet wat hy eintlik vra: is sy reg om werklik haar toorkragte te gebruik? Sy knik. Al is sy nie seker of dit regtig gaan werk nie.
Felix laat sak ‘n vlerk en kyk haar uitdagend aan. Sy klim op sy rug. As dit is hoe hulle die finale konfrontasie wil doen, gaan sy nie stry nie.
Ander Feë kom uit die huis uit. Alhoewel meeste hul emosies probeer wegsteek, kan sy sien dat hulle almal bekommerd is. Wie sou nou kon dink dat daar enigiets is wat die Feë van die Donker Hof bang kan hê? Voordat sy al die gesigte kan inneem, trek Felix weg en hulle klim hoog in die lug in.

Sy kan skaars glo wat sy sien. Dit kan nie wees nie. Die persoon verantwoordelik vir al die hartseer, vir al die pyn, vir al die Feë en hekse se dood… Nee. Dit kan nie wees nie.
Khloé, haar vriendin en huismaat, staan in die middel van die server vertrek van waar al die selfoon apps beheer word. Haar hare staan wild om haar kop; haar oë vlieg rond in haar kop soos sy ‘n towerspreuk doen om al die selfoon apps nog sterker te maak.
Iets binne Lucienne breek. Sy’t Khloé vertrou. Tog kan sy haarself nie so ver kry om haar te stop nie.
Sean het duidelik nie dieselfde probleem nie. ‘n Swaard vorm in sy hand en hy val al die servers aan. Dit lyk nie asof Khloé dit eens agter kom nie: sy hou net aan om haar towerspreuk te prewel. Lucienne het ‘n slegte gevoel hieroor. Ysmesse vorm in haar hande en sy slaan hulle in die rekenaarbreine in.
Khloé begin boos te kêkkel.
Lucienne voel hoe toorkrag na Sean gestuur word. Bloed spat en hy val na die grond.
‘Nee!’ gil sy. Haar vriendin die verraaier hou net aan met haar kêkkel-lag.
‘Jy moet haar stop,’ sê Sean swak. ‘n Poel bloed het om hom gevorm.
Trane, regte trane nie die ysblokkies wat sy altyd huil nie, vorm en loop sag oor haar wange. Woede en hartseer meng in haar en sy draai na Khloé.
Die heks neem ‘n tree terug.
‘Dis verby,’ sê Lucienne sag. Sy kan voel hoe Khloé, die paar Obayifo wat nog lewendig is en die servers wat die selfoon apps hardloop aanmekaar verbind is. Sy tel Sean se swaard op; dit oortrek met ys van haar af. Sy kyk vir Khloé. En slaan die swaard in die laaste rekenaarbrein in.
Khloé gil in pyn. ‘n Onaardse gegil kom van buite af – die Obayifo voel die heks se pyn. Gifgroen rook kom uit die servers uit. En uit Khloé uit.
Lucienne kan voel hoe haar vyand doodgaan. Nes Sean besig is om dood te gaan: die man wat sy met haar hele hart lief het. As sy kon, het sy hom gesond gemaak.
Sy vat die swaard en druk dit deur die heks se hart.
Dadelik hardloop drie saters klip-klop die vertrek in. Lucienne kyk verveeld hoe hulle bakkies vol brandende salieblare orals plaas. Sy weet dis om die verbode kragte te stop om verder te sprei.
‘Kom ons gaan. Salie laat my sinusse toe trek.’
Lucienne draai verbaas om. Sean. Hy sit regop. Lewendig.
‘Hoe?’ vra sy sag.
‘Jy. Jy het my gered.’ Hy staan op en haal sy swaard uit Khloé se lyk uit. Hy trek sy gesig oor al die bloed en laat die swaard verdwyn.
‘Hoe?’ vra Lucienne weer.
‘Jy het uiteindelik al jou kragte en jouself aanvaar.’
Sy skud haar kop. Sy weet dat haar ma baie van haar verwag het, baie meer as wat sy ooit kon doen, maar sy het nooit gedink dat sy iemand kan stop om dood te gaan nie.
‘Ons is dieselfde,’ sê sy skielik. ‘Ons albei behoort aan winter.’
Sean knik, ‘n breë glimlag op sy gesig. Hy nies dat sy kop ruk.
‘Kom ons gaan,’ sê hy en maak die deur oop.
Lucienne loop voor hom uit, die reuk van bloed en brandende salie nog sterk in haar neus.

‘Ek’s jammer oor wat ek gesê het. Ek wou jou net veilig en gelukkig hê,’ sê Sean soos Felix hulle deur die lug laat vlieg.
‘Ek het geweet ek het issues. Maar duidelik het jy erger probleme,’ sê sy. ‘In watter wêreld vertel jy iemand wat jy veronderstel is om lief te hê dat hulle nie goed genoeg is vir jou familie nie? Veral wanneer jy jou familie in dekades nie gesien het nie?’
‘Ek het nie geweet wat anders om te sê nie. En ek het geweet dat jy reeds nie van my familie hou nie.’
‘Natuurlik nie! Het jy al gesien hoe behandel hulle jou?’
Sean lag. Lucienne draai verbaas om. Hy lyk gelukkig. Sy skud net haar kop.
‘Ons twee hoort saam. Nie net omdat ‘n deel van my altyd aan jou behoort nie, maar omdat my lewe maar bitter faal is sonder jou.’
‘Hoe sal jy weet?’ vra sy agterdogtig.
‘Ek het eeue sonder jou bestaan. Ek lééf met jou in my lewe.’
Lucienne pruil.
‘Groot woorde van iemand wat gesê het hy wil saam met enigiemand behalwe my wees.’
Felix duik skielik ondertoe en Lucienne val amper af. Sean hou haar styf was.
‘Ek het dit net gesê omdat ek nie goed genoeg is vir jou nie. Ek het gedink dat Derek beter vir jou is.’
‘Gmf!’ sy kyk weg.
‘Ek weet nou dat ek verkeerd was. Ek weet dat ek jou vreeslik seer gemaak het. Lucienne,’ hy draai haar kop dat sy vir hom kyk. ‘Ek’s jammer vir al die hartseer wat ek in jou lewe veroorsaak het. As jy my toelaat, sal ek vir die res van vir ewig daarvoor opmaak.’
Sy kan voel hoe haar hart gallop. Die wind waai koel verby haar; dit laat haar oë ysig voel.
‘Ek’s lief vir jou, Lucienne,’ sê Sean sag.
‘En ek’s lief vir jou, Sean.’ Sy glimlag. Hy glimlag terug.
Felix vlieg rondomtalie deur die lug. Sean en Lucienne hou styf aanmekaar en aan die vormveranderende draak vas.
Lucienne is gelukkig. Sy moes deur baie donker en lig gaan, maar sy is nou absoluut gelukkig. Saam met die ridder van die Donker Hof van die Feë.

*Karakters, liefdesdriehoek en storielyn (saamgevat) uit Ray of Night, die roman wat ek in November geskryf het (en steeds aan skaaf).



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Erens tussen Lig en Donker
Baie dankie vir jou pragtige bydrae tot die KONTRAS projek.
1 jaar 4 maande 3 weke 13 ure oud



Susanna Maria Magdalena

deur Lorelei

Die lewensverhaal van n jongvrou wat gedryf word deur Stemme in haarself. Haar soeke na haarself en God asook n stryd tussen Lig en Duisternis.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar