Jeugverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Eendag lank, lank gelede toe Feërie nog jonk was, was daar twee prinsesse. Hulle was ‘n identiese tweeling. Hulle was Feëtjie Honde.


Feëtjie Honde het pragtige swart pels met bruin pote, bruin pels langs hul monde, bruin pels oor hul keel en ‘n dik bruin streep oor hul borskas voor. Nes Rottweilers. Die twee Feëtjie Hond prinsesse het nog ‘n wit vlek in die middel van daardie bruin streep op hul borskas.
Amber en Saphira is swart strepe van blink pels wanneer hulle hardloop. Wanneer hulle spring, skrik voëls wat net onder die wolke vlieg hul vere los. Geen ander Feëtjie Hond kan sê dat hulle voëls uit die lug laat val het nie. Die twee prinsesse doen alles saam. Hulle is meer as net sussies: hulle is beste maatjies.
Met hul donkerbruin oë wat oranje skyn wanneer hulle hul towerkragte gebruik, is die twee prinsesse die belangrikste en sterkste van alle Feëtjie Honde. Behalwe vir die koningin, natuurlik.
Vandat hulle baie klein is, kan hulle al hul towerkragte gebruik. Ander Feëtjie Honde kan eers wanneer hulle groot is. Die prinsesse is baie spesiaal.
In ‘n deel van Feërie waar Feëtjie Honde alleen woon, kan die prinsesse doen net wat hulle wil. Solank hulle nooit êrens gaan waar die koningin, hulle ma, verbied het nie. Soos die mense-wêreld…
Tog is dit pret om soontoe te gaan saam met hulle ma. Gewoonlik gaan hulle na Amber se gunsteling plekke wanneer hulle op uitstappies buite Feërie gaan. Soos warm, sonnige eilande.
Saphira rol haar oë soos haar sussie, papsopnat van haar swem in die see, uitgestrek lê op ‘n gevlegde strooimat en tropiese vrugte eet. Persoonlik is sy nie gek oor vrugte nie – hulle gee maag pyn as jy te veel eet en is vreeslik soet. Behalwe wanneer hulle suur is. Nee wat, Saphira eet eerder ‘n gesonde balans van vleis en groente.
Saphira se gunsteling plek is die Skotse berglande. Daar’s nie regtig son en sand vir haar sussie se soort pret nie. Maar Saphira hou van die amper strak landskap. Nie net omdat dit amper lyk soos waar die Koningin van alle Feëtjies woon nie, maar ook omdat dit op sekere maniere heeltemal verskil. Daar is byvoorbeeld geen dalklose kuierplekke uitgevat met bloureën nie.
Maar daar’s steeds die vrees wanneer sy en haar gesin tussen die mense en paar Feëtjies loop.
Van kleins af weet die twee prinsesse dat ander Feëtjies bang is vir Feëtjie Honde. Mense is nog banger. En nie omdat hulle Feëtjie Honde vrees nie, maar omdat hulle lyk soos Rottweilers. Mense, het Saphira geleer, is verskriklik bang vir die swart-en-bruin honde wat net so mooi soos Feëtjie Honde is.
Alhoewel die sussies dit nooit bespreek het nie, is Saphira seker dat honde – alle honde, nie net Feëtjie Honde nie – baie slimmer as mense en Feëtjies is. Hulle is nie sommer bang vir iets net oor hoe dit lyk nie.

Om ‘n Feëtjie Hond prinses te wees het baie voordele. Om nie te gaan waar hulle wil op hul eie nie is die enigste nadeel waaraan Saphira kan dink.
Elke oggend bring ander Feëtjie Honde vir hulle ontbyt op goue skinkborde. Al is hulle nie altyd seker wat hulle eet nie, is dit altyd lekker. Na ontbyt hardloop en spring en rol hulle mekaar uitgelate tot middagete toe.
Middagete is altyd baie langer met baie meer soorte kos wat weereens op goue skinkborde vir hulle twee bedien word. Partykeer moet Amber keer dat Saphira nie ‘n paap van haarself maak nie.
In die middag jag hulle. Nie net omdat dit soveel pret is om hul prooi te bekruip nie, maar ook omdat daar so baie dinge is om te kan leer wanneer ‘n Feëtjie Hond jag. Geen twee jagtogte is ooit dieselfde nie. Maar een ding verander nooit nie: hulle maak nie hul prooi dood nie.
Die lekkerste deel van die dag – behalwe vir die warm bad na ‘n lang middag van rond kruip en die lug snuf – is aandete met die koningin, hul ma. Dis altyd net die drie van hulle. Hul ma luister elke aand na alles wat hulle die dag gedoen het en als wat hulle geleer het. Saphira byt partykeer haar sussie om stil te bly sodat sy ook ‘n bietjie aandag kry. Al raas haar ma met haar daaroor…
Baie moeg, gaan slaap hulle dan in hul kamer op hul groot kussings wat hulle kan vorm soos hulle wil. Elkeeen kan haar eie kamer hê, maar hulle wil nooit van mekaar geskei wees nie.
Die lewe van ‘n Feëtjie Hond prinses is absoluut wonderlik.

Tot die dag wat die koningin van die Feëtjie Honde dood is.
Dit was ‘n skielike ding; ‘n groot skok vir al die Feëtjie Honde. Na alles kan Feëtjie Honde vir ewig leef.
Saphira het geweet dis moontlik vir hulle om dood te gaan: hulle pa is dood nog lank voor sy en haar sussie verstand gekry het. Maar om skielik gekonfronteer te word met die dood… Sy is nog nie oud genoeg om haar ma te verloor nie.
‘Ons sal nooit oud genoeg gewees het daarvoor nie, Phiri,’ sê Amber terwyl sy haar sussie se oor troostend lek.
‘Dis omdat sy daardie simpel Feëtjie kinders moes gaan oppas het! Hoekom kon sy nie iemand anders stuur nie?’ vra Saphira kwaai.
‘Omdat die Koningin van alle Feëtjies haar gevra het om dit self te doen,’ antwoord Amber op haar kalm manier.
‘Wat van ons?’
‘Wat bedoel jy?’
‘Het ons nie ook beskerming nodig nie?’
‘Aai, Saphira.’ Amber skud haar kop. ‘Ons is al lankal nie meer kinders nie. Maak nie saak hoe almal ons behandel nie.’
‘Ek weier om Feëtjie kinders op te pas. Ons is die sterkste van alle Feëtjies – hoekom moet ons hulle kinders oppas?’ Saphira het opgespring terwyl sy praat. Sy haat dit dat haar sussie so rustig kan wees.
‘Want ons is die sterkste. Hulle het ons nodig,’ sê Amber rustig.
‘Ek weier.’ Saphira loop weg. Sy gee nie om as iemand hierdie gesprek gehoor het nie. Dalk is dit tyd dat dinge in Feërie verander.
Daardie aand slaap Saphira in haar eie kamer.

Beide prinsesse word na gekyk om hul ma se plek as koningin te vat. Net een kan dit doen.
Al die Feëtjie Honde moet stem vir wie hulle graag as koningin wil hê. Almal weet dat hul keuse belangrik is. Wie-ookal die nuwe koningin sou wees, gaan vir baie, baie lank hulle lei. Die laaste koningin het vir vier eeue regeer…
Die twee prinsesse weet hulle moet die Feëtjie Honde oorreed om vir een en nie die ander te stem nie.
Om te begin, is daar verskeie kompetitsies om te wys hoe sterk en slim hulle is. Dit is baie soos die speletjies en jagtogte wat hulle elke dag gehad het. Al die Feëtjie Honde is beïndruk met die prinsesse. Soos altyd kan daar geen onderskeid getref word nie.
Enige een sal ‘n sterk koningin maak.
Volgende moet die prinsesse toesprake maak oor al die redes hoekom een ‘n beter koningin as die ander een sal maak.
Saphira loop uit op die verhoog. Voor haar is ‘n see van swart en bruin. Feëtjie Honde van regoor Feërie het gekom om na haar te luister. Sy haal diep asem voordat sy begin praat.
‘Feërie moet verander. Ons is die gevreesde Feëtjie Honde – tog behandel hulle ons soos… soos brakke! Dis tyd dat ons – die sterkste, die magtigste van alle Feërie bewoners – ons regmatige plek inneem as die leiers van alle Feëtjies. Ons moet die juk afgooi wat bang Feëtjies op ons gesit het. Ons is nie lasdiere nie!’
Die skare Feëtjie Honde juig luidrugtig.
Saphira kan sien dat haar tweeling haar kop hartseer skud.
Amber se toespraak is baie meer tradisioneel.
‘Feëtjie Honde het die belangrikste werk wat enigiemand kan hê: ons word vertrou om die kinders van alle Feëtjies te beskerm. Ons is die magtigste, ja. Dit beteken ons het baie verantwoordelikheid. Soos om seker te maak dat daar vrede tussen alle bewoners van Feërie is. Die beste manier om dit reg te kry, is om vriendskap tussen alle Feëtjies te bevorder. As julle my as jul koningin verkies, sal ek seker maak dat ons nie tussen ontbyt en middagete van vrede na vete gaan nie. Dankie.’
Die skare juig en Saphira se ore tuit. Sy is nie seker of dit van kwaaiheid of van die skare se luidrugtigheid is nie.

Saphira het gedink dat die verkiesing sommer vinnig sou wees na hul toesprake. Maar die tyd tik aan en niks gebeur nie. Sy word skoon kwaai soos die ander aanhou uitstel om te kies wie die volgende koningin sou wees. Amber bly rustig.
‘Ek dink vir die eerste keer in vir altyd besef die ander Feëtjie Honde dat ons twee halwes van ‘n heel is,’ sê Amber sag van waar sy in die skadu van die groot treurwilgerboom staan.
Saphira kyk weg van die stroompie wat verby haas en na haar sussie. Sy besef dat haar tweeling reg is. Amber is die sagmoedige, bedarende suster. Sy is die humeurige, voortvarende suster.
Iets omtrent haar sussie lyk nie reg nie. Sy stap nader aan die Feëtjie Hond wat in die skaduwee staan.
Amber se wit vlek het verdwyn.
‘Kyk af,’ sê sy toonloos vir haar sussie.
Sy kyk af en kyk met oë wyd van skok op. Albei weet wat dit beteken: ‘n nuwe koningin is gekies. En dit is nie Saphira nie.
Hul verskille het dit vir almal makliker gemaak om ‘n nuwe koningin te kies.
‘Geluk,’ sê Saphira stram. ‘n Groot knop het in haar keel gevorm en sy sukkel om te sluk.
‘Dankie.’
Nie een weet wat om vir die ander te sê nie. Voordat hulle deur die ongemaklike stilte kan beweeg, word Amber omsingel deur Feëtjie Honde wat haar gelukwens en witvoetjie soek.
Saphira tree stadig terug. Om te sê dat sy nie die nuus goed gevat het nie, was so goed as om te sê dat niemand Feëtjie Honde en Rottweilers vrees nie. Dit kan nie beskryf hoe sy werklik voel nie.
Voor sy haarself kon kry, hardloop sy oor die vlaktes waar sy en haar sussie altyd resies gehou het. Die gevoelens wat deur haar sing kan sy nie plaas nie. Maar dit maak dat sy nie kan fokus nie. Sy kan nie haar towerkragte gebruik nie.
Saphira hardloop vinniger. Sy hardloop na die tonnel wat haar wêreld en die mense-wêreld aanmekaar koppel.
Uitasem, met oë en longe wat brand, kom sy tot stilstand.
Die tonnel se ingang is skrikwekkend. Saphira kan nie onthou dat dit só gelyk het die laaste keer to sy deurgegaan het na die mense-wêreld nie. Met al haar droefheid kan sy nie beheer uitoefen oor haar eie towerkragte nie. Anders het sy sommer ‘n Feëtjie Kring gebruik om uit Feërie te gaan. Die stalaktiete hang skerp punte van die tonneldak af. Donkerte wat geen lig duld, wag haar in.
Vasberade loop sy deur die tonnel. Dit is moeilik om nie om te kyk nie. Daar is soveel geluide en goed wat verby flits wat maak dat sy wil terug kyk. Maar sy weet sy moenie. Daar is reëls wat gevolg moet word. As sy sou terugkyk, sal sy vir ewig vassit in die tonnel.
Een tree op ‘n slag beweeg sy voorentoe. Haar hart dawer in haar ore. Meer as een keer dink sy dat sy dalk ‘n fout gemaak het. Dan vul die bitterheid van alles wat sy verloor het haar en sy proe gal.
Nee, dis beter om weg te gaan. Sy het nodig om uit te vind wie sy is sonder haar ma en sussie.
Aan die ander kant van die tonnel is daar net dik, wit mis. Vir ‘n oomblik wens Saphira dat sy terug in die donker, swart tonnel is. Daar het sy darem geweet wat om te verwag.
Sy staan vir ‘n oomblik stil sodat sy tyd het om gewoond te raak aan haar nuwe omstandighede. Sy kyk nie rond nie. Sy is nie seker wat die reëls hier is nie.
Mis druppels sak af en sit vas op haar swart pels. Vuurvliegies flits om haar. Sy weet nie wat hulle daar doen nie, maar sy weet sy moenie hulle agterna kyk of probeer vang nie.
Die mis lig en sy kan vir die eerste keer sien waar sy is. Sy herken dadelik die landskap. Sy het gevlug van Feërie na die Skotse berglande.
Sonder rigting begin sy te dwaal deur die amper onherbergsame landskap. Haar maag grom, maar sy het nie die lus om vir aandete te jag nie. Haar mond en keel is droog, maar sy het nie lus om met water geeste te baklei sodat sy skoon water by ‘n meer kan drink nie.
Blou dwaalligte dwarrel om haar. Sy kan hoor hoe hulle verbaas vir mekaar tjirp. Maar sy gee nie om nie. Sy is in ‘n tonnel van haar eie pyn en woede.
Swak van hongerte en dors en geen slaap, sak sy inmekaar onder ‘n doringboom. En huil saggies. Sy huil oor alles: haar ma se dood; haar sussie wat nou koningin is en nie meer haar beste maatjie nie; haar eie oorhaastigheid om uit Feërie weg te hardloop; haar eie trots wat maak dat sy nie terug kan gaan nie; die feit dat haar laaste herinnering van Feërie ‘n bittere een is.
Teen die tyd dat sy uitgehuil is, kom die son al op.

Vir lank lê sy net daar en hou die son dop. Sy haal diep asemteue in van die vroegoggend lug. Dit laat haar kalmer, beter, voel.
‘n Gekreun en treiterende lag laat haar ore spits.
Dadelik spring sy op en hardloop so vinnig soos net sy kan na waar die onderonsie plaas vind. Voordat sy naby genoeg is om gesien te word, kan sy al sien hoe ‘n halfdosyn kinders een kind, ‘n dogtertjie, met klippe gooi en lag.
Woedend spring sy tussen die weerlose kind en die treiteraars in. Vreesbevange gil hulle toe hulle haar skerp tande sien en oomblikke van traagheid later hardloop hulle weg. Saphira gluur hulle agterna.
‘n Snuif geluid agter haar laat haar terugkyk. Groot silwer oë blink vol trane. Silwer oë wat net aan ‘n Feëtjie kan behoort.
‘Dankie, Feëtjie Hond,’ sê die dogtertjie en vee haar trane af.
Sy is glad nie bang vir die groot, swart-en-bruin hond voor haar nie. Saphira is verbaas. Sy is so gewoond daaraan dat almal behalwe haar eie soort bewe van vrees wanneer hulle haar sien, dat sy sprakeloos is.
‘Jy lyk honger. Kom saam met my huis toe. Mamma sal jou enigiets maak wat jy wil eet. Sy kan enige kos maak,’ sê die dogtertjie trots.
Woordeloos volg Saphira die eienaardige dogtertjie. Sy kan nie haar reuk plaas nie. Gewoonlik weet sy presies met watter tipe Feëtjie sy te doen het net aan hul reuk.

Die feit dat sy nie ‘n benul het wie die dogterjie is nie, blyk nie die enigste misterie te wees nie.
‘n Kasteel, groot met daardie tandjie-goed wat bo-oor hardloop waar wagte kan skuil, probeer uit ‘n berg klim. In die mense-wêreld word kastele nie só gebou nie. Defnitief nie sonder die hulp van Feëtjies nie.
Saphira snuf die lug. ‘n Grimmige gevoel van satisfaksie vul haar. Sy kan die twee dosyn dwergies ruik wat al die bouwerk doen. Hulle is na alles die beste bouers in die heelal.
Sy kyk met skrefie oë na die dogtertjie langs haar. Saphira weet dat nie sommer enige Feëtjie die dwergies kan kry om vir hulle ‘n huis te bou nie. Die dogtertjie is spesiaal.
Sy volg haar deur die kasteelmuur en by ‘n sydeur in.
‘Mamma!’ roep die dogtertjie toe hulle die stil kombuis binne tree.
‘Eolande! Waar wás jy? Ek –’ Sy bly skielik stil toe sy Saphira gewaar. Die vrou probeer die dogtertjie, Eolande, agter haar wegsteek. Maar die dogterjie laat haar nie toe nie.
‘Mamma – dis my nuwe maatjie. Sy het my gered op die heide.’
Vreesbevange blou oë kyk na Saphira. Sy weet dat die ma net ‘n mens is. Die dogtertjie het defnitief Feëtjie bloed.
‘Dankie,’ sê die vrou, haar stem gevul met vrees en suspisie.
‘Ek het haar genooi om by ons te eet, Mamma,’ babbel Eolande. ‘Sy lyk vir my verskriklik honger.’
‘Natuurlik. Wat wil jy eet?’
‘Enigiets. Ek is nie vreeslik uitsoekerig nie,’ antwoord Saphira. Op daardie oomblik sal sy selfs vrugte eet. Sy het nie ‘n idee hoe lank sy deur die berglande gedwaal het sonder om iets te eet of te drink nie.
Eolande se ma gee vir haar ‘n verskeidenheid kos wat sy al klaar gaar gehad het. Saphira wonder net vir ‘n oomblik vir wie die kos eintlik bedoel is voordat hongerte haar oorweldig en sy wegval. Verskeie vleis-en-groente bredies en brood maak die heerlike maaltyd op.
‘Baie dankie. Dit was heerlik,’ sê sy nadat sy haar bord skoon gelek het.
Die vrou kyk verbaas na haar voordat sy knik en die skinkbord wegvat.
‘Wat is jou naam?’ vra Eolande skielik.
‘Saphira.’
‘Dis ‘n mooi naam. Mamma, kan Saphira by ons bly?’
‘As sy wil,’ sê haar ma versigtig.
‘Jippee!’
Saphira kyk grootoog na die uitbundige dogtertjie. Gelate gaan sy saam met haar op ‘n toer van die kasteel.
‘En hierdie is my kamer. Ek sal dat hulle vir jou ook ‘n bed hier in dra. Wag, ek kom nou terug!’ Sy hardloop uit die kamer uit.
Normaalweg sou Saphira woedend gewees het dat enigiemand dink hulle kan haar bevele gee. Maar sy is te moeg om kwaad te wees.
‘Jy het baie geduld met haar,’ sê die dogtertjie se ma waar sy in die deur staan.
Saphira trek haar skourers op.
‘Eolande het iemand soos jy in haar lewe nodig.’
‘Waar’s haar pa?’
‘Hy kom kuier so nou-en-dan. Hy’s die rede dat hierdie kasteel gebou is.’
Saphira hou aan om vir die vrou te kyk.
‘Hy’s Foalan MacKeltar,’ sê die blouoog vrou sag.
Saphira knik. Sy’s nie geskok nie. Die Galno is baie soos die Skotse Berglanders al is hulle Feëtjies. Hulle is ook die Feëtjie Koningin se gunstelinge. Maar tenspyte daarvan word ‘n half-mens, half-Feëtjie kind nie aanvaar deur enige kant nie.
‘Sal jy bly?’ vra die ma.
‘Ek sal daaroor slaap,’ antwoord Saphira toe nors dwergies ‘n groot hemelbed die kamer in dra.

Sy word wakker met ‘n groot gaap. Nadat sy goed gerek en gestrek het, probeer sy uitwerk wat haar eintlik wakker gemaak het. Sy het net té lekker geslaap om op haar eie wakker te geword het.
Dis stil. So geraas kon haar nie gesteur het nie. Sy maak haar oë toe en vóél die kasteel.
‘n Rilling sidder deur haar. Die dwergies is weg. Maar ‘n ander groep Feëtjies is daar. En nie enige Feëtjies nie: Feëtjie Honde. Sy haal diep asem en snuf die lug. Haar sussie is daar.
Saphira spring op en gaan na waar almal saam is in die middel van die kasteel.
‘So, al die beskermingstowerspreuke is geplaas soos wat die Koningin van alle Feë my gevra het om te doen,’ hoor Saphira haar sussie sê. ‘Nou moet ons net ‘n beskermer aanstel om oor Eolande te waak.’
Saphira storm die geselskapsaal in sonder sermonie.
‘A, ek het gewonder wanneer jy wakker gaan word,’ sê Amber.
‘Wat soek jy hier?’
‘n Geskokte stilte omhul hulle.
‘Dis lekker om jou ook weer te sien, suster.’
Saphira gluur vir haar sussie.
Amber sug en rol haar oë. ‘Ek is hier op amptelike besigheid. Die Koningin van alle Feë het my gevra om persoonlik beskermingstowerspreuke op hierdie woning te plaas en ‘n beskermer te kies vir die dogtertjie.’
‘Jy doen háár versoeke nadat sy ons ma se dood veroorsaak het?’ sis Saphira.
‘Nou’s jy laf. Ons ma is dood as gevolg van haar geswore diens, níé oor die redes wat jy dink nie.’
‘Ek stem nie saam nie.’
‘Dis duidelik.’
Saphira voel ‘n klein handjie op haar nek. Geskok kyk sy om. Dis Eolande. Haar silwer ogies blink kwaai.
‘Moenie lelik met Saphira wees nie,’ sê sy vir Amber.
Die koningin van Feëtjie Honde glimlag. ‘Ek sal nie durf nie. Saphira, ek stel jou aan as haar beskermer. Sterkte.’
‘Maar…’
‘Dis ‘n bevel van jou koningin,’ sê Amber met ‘n grom.
‘As jy so sê,’ antwoord Saphira astrant.
‘O, voor ek vergeet,’ sê Amber. ‘As jong Eolande enige boeties of sussies bykry moet jy hulle ook oppas. Dieselfde geld vir haar kinders.’ Amber glimlag dat al haar tande wys. Sy loop weg sonder om te groet en die ander Feëtjie Honde volg haar.
‘Lyk my jy gaan bly of jy wil of nie,’ sê Eolande se ma met bejammering in haar oë.
Woede probeer Saphira oorweldig. Net Eolande se hand op haar nek hou haar in toom.
Hoe durf haar sussie haar ‘n kinderoppasser maak? Sy is ‘n magtige Feëtjie Hond! Ja, sy wou bly toe sy vroëer wakker geword het. Maar noudat sy beveel is om dit te doen? Nou wil sy net weghardloop.
‘Gaan jag, Saphira. Vind jouself en werk uit wat jy regtig wil hê en doen. Ek en Eolande sal hier binne die kasteel vir jou wag.’ Begrip is in die mensvrou se oë.
‘Ek sal terug wees,’ sê Saphira sag voordat sy weghardloop.

Meer as ‘n week het verby gegaan voordat Saphira weer terug is by die kasteel wat half in ‘n berg wegkruip.
Haar jagtog het so baie aan haar geopenbaar.
‘Jy’s terug!’ roep Eolande gelukkig toe sy Saphira sien.
Sy laat toe dat die dogtertjie haar druk.
‘Jy lyk nie meer so kwaai of hartseer nie,’ sê Eolande. ‘Hoekom?’
‘Ek het iets besef hoog bo die see,’ antwoord Saphira.
‘Wat?’
‘Eendag wanneer jy groot is, sal ek jou vertel,’ belowe Saphira.
‘Gaan jy bly?’ vra Eolande se ma.
‘Ja.’
‘Vir ewig en ewig?’ vra Eolande.
‘Ja.’
Na alles is dit haar geswore diens as ‘n Feëtjie Hond. Buitendien, geen prinses sou ooit toegelaat gewees het om in die mense-wêreld ‘n Half-Feëtjie kind op te pas nie. Haar sussie is baie slim om dit soos ‘n straf te laat lyk. Nou het Saphira die vryheid wat sy nooit geweet het sy wou hê nie.



Van toe af moes alle Feëtjie Honde alle kinders beskerm. Nie net kinders van die Feë nie. Die nuwe koningin van Feëtjie Honde, Amber, het besef dat dit goed sal wees vir hulle almal. Nie net vir Saphira nie.
Eeue later – vandag – is Amber nog die koningin van die Feëtjie Honde. En Saphira beskerm nog steeds die kinders van haar eerste mens-maatjie.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Feetjie Hond Prinsesse
Hierdie is storie een van Die Avonture van Saphira die Feetjie Hond.
4 jaar 6 maande 2 weke 3 dae 16 ure oud


Hond prinses
Baie dankie vir jou pragtige bydrae tot die TONNEL projek.
4 jaar 7 maande 3 weke 6 dae 23 ure oud


Feëtjie Hond Prinsesse
Nog avonture van Saphira die Feëtjie Hond gaan volg.
4 jaar 7 maande 4 weke 19 ure oud



N VERGANE ERA

deur neels claasen

spoorweg staaltjies en verhale uit die verlede



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar