Jeugverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Hoofstuk 2

Nadat Briana die hele aand rondgerol het word sy die volgende oggend moeg en geïrriteerd wakker. Sy het darem nie weer verslaap nie dink sy verlig toe sy sien dit is nou eers sesuur. Sy maak vir haar roosterbrood en ‘n koppie koffie. “Kan ek ook ‘n koppie koffie kry, my Skat?” “Ek maak vir Ma.” sê Briana en voeg daad by die woord. Haar ma lyk moeg dink Briana en voel effens skuldig. Die tekens van slapelose nagte word op haar gesig weerspieël. Kommer en hartseer het lêplek gekry in haar oë. “Kan ek jou by die skool gaan aflaai?” “Dankie, maar dit sal nie nodig wees nie. Die stap doen my goed en as Ma my aflaai gaan ek baie vroeg by die skool wees.” Elaine knik net. Sy moet haar dogter nou spasie gee, maar sy kan nie anders as om afgehaal te voel nie. Hulle groet mekaar skrams en elkeen gaan in sy eie rigting in. Kimmy wag haar by die skoolhek in. Sy merk dadelik op dat haar vriendin nie lekker lyk nie en vra: “Bri, is als okay?” “Ja. Hoekom?” “Jy lyk effens af.” “Ek is fine.” Kimmy trek net haar netjies geplukte wenkbrou op, maar sê eerder niks nie. Hulle loop verby Ruan en hy en Briana groet mekaar skrams en loop verder. Briana gaan sit op een van die houtbankies onder die bome. Kimmy gaan sit langs haar. “Wat gaan aan met jou en Ruan?” “Niks nie. Hoekom?” “Julle is beste vriende maar julle groet mekaar skaars.” “Ag, Kimmy. Dinge tussen ons is op die oomblik nie lekker nie. Alles is net so deurmekaar.” Kimmy mis nie die hartseer in haar vriendin se stem nie. Sy wil egter nie aan haar beste vriendin karring nie. Sy weet Briana sal praat wanneer sy reg is. Tot dan is al wat sy kan doen om daar te wees vir haar. Deur die loop van die dag raak Briana meer ontspanne. Na die einde van die skooldag stap sy huis toe. Sy het baie huiswerk en weet sy sal nie by alles uitkom voor hokkie oefening nie. Sy doen dus eerste die met die minste werk en los die res vir wanneer sy vanaand by die huis kom. Sy speel al hokkie vandat sy oud genoeg was om die stok vas te hou en dis een van haar gunsteling tydverdrywe. Die tydjie op die sportveld laat haar ontspan. Hulle doen vandag fiksheid en Briana is baie moeg toe juffrou Coertze beduie hulle is klaar vir die dag. Haar asem jaag en sy sit ‘n oomblik om dit weer terug te kry. Haar ma kom haar by die skool haal en Briana is intens dankbaar dat sy nie hoef te loop nie. Sy stort gou terwyl haar ma met die kos begin. Nadat hulle in stilte gesit en eet het verskoon Briana haarself om haar huiswerk te gaan klaarmaak. Sy het die afgelope tyd laat slap lê en spook behoorlik om weer op dreef te kom. Die volgende dag loop sy vir Ruan in die kafeteria raak. Sy wil eers verby skuur maar hy keer haar vinnig voor. “Bri, hoe gaan dit?” “Goed dankie en met jou?” “Altyd goed dankie. Luister, um, ek weet dis baie uit die bloute maar jy wil nie dalk vanaand saam met my na die jeug toe gaan nie.” “Dankie vir die uitnodiging maar nie vanaand nie.” Sy wil byvoeg dat sy te veel huiswerk het of dat haar tannie-hulle kom kuier, maar sy kan haar tong nie so ver kry om te jok nie. Sy weet hy sal in elk geval dadelik agterkom wanneer sy jok. “Ons mis jou by die jeug. Andries het nou al ‘n paar keer gevra na jou.” “Ruan, ek is jammer, ek weet ek was lanklaas daar gewees. Ek sien net nie op die oomblik regtig kans om te gaan nie.” “Hoekom nie?” “Ek...um...” Hulle gesprek word kortgeknip deur die klok se skril gelui. Briana voel baie ongelukkig toe sy na die Wiskunde klas toe stap. Sy voel skuldig omdat sy so lanklaas by die jeug was en sy voel skuldig omdat sy nie oopkaarte met Ruan speel nie. Sy voel ook gefrustreerd omdat dit lyk asof alles om haar besig is om in duie te stort, maar die meeste van als is sy ongelukkig omdat sy weet dat sy is eintlik net besig om haarself seer te maak. Daardie aand klop Briana aan Ruan se deur. Hy lyk ontspanne in ‘n groen t-hemp en kniebroek. Sy donkerblonde hare is effens deurmekaar, maar dit laat hom net nog aantrekliker lyk. Hy lyk verbaas om Briana te sien. “Hey. Ek wil net omverskoning vra vir pouse. Ek weet dat ek het jou nie ‘n reguit antwoord gegee nie en ek wil maar net sê ek is jammer.” “Nee dis reg Bri. Jy het nie dalk van plan verander nie?” “Nee. Ten minste nie vanaand nie.” Hy knik net en vir ‘n oomblik is daar ‘n ongemaklike stilte tussen hulle. “Onthou net jy is altyd welkom. Ek hoop dat jy eendag weer jou pad terug sal vind.” Briana frons en wonder wat hy daarmee bedoel. Sy vra eerder nie. By die huis wag haar ma haar in. “Bri, ek en jy moet praat.” “Is ek in die moeilikheid?” “Dis wat ek graag sal wil weet.” “Hoe nou Ma?” “Ek het vandag vir juffrou Andrews in Spar raakgeloop.” Briana voel haar hart ineenkrimp. Sy het geweet hierdie konfrontasie sou onvermydelik wees. “Sy sê jy het jou sanglesse gestaak en daag nie meer op vir kooroefening nie.” Vir die tweede keer die dag word Briana sprakeloos gelaat. “Ma, ek...” Elaine hou haar dogter se blik gevange. As sy net met haar wou praat dink Elaine moedeloos en sê: “Briana, ek verstaan dat die afgelope tyd vir jou moeilik was, maar jou gedrag kan nie verskoon word nie.” “Ek wil nie meer sing nie. Ek wil nie sanglesse kry nie en ek wil nie aan die simpel talentkompetisie deelneem nie.” “So dis dit? Jy is kwaad vir my en jou Pa en nou straf jy ons en in die proses ook jouself.” “Ek is nie vir julle kwaad nie. Ek wil net die voorgee om iemand te wees wie ek nie is nie.” “Hoe kan jy dit sê? Jou sang was nog altyd jou grootste passie en talent.” “Dit was nooit myne gewees om mee te begin nie.” Elaine staar sprakeloos na haar dogter. Haar sonskynkind het oornag in ‘n vreemdeling verander. “ Verskoon my asseblief. Ek het nog huiswerk wat ek moet klaarmaak.” Briana verdwyn die trappe op. Sy maak haar kamerdeur saggies agter haar toe en voel ‘n verlore traan oor haar wang biggel. Sy sleep haar dagboek nader en kou lank aan haar pen voordat sy skryf: Niemand verstaan nie. Niemand sal ooit verstaan nie. Iewers langs die pad het ek myself verloor. Wie is ek? Hoekom is ek? Ek wens ek kon my ou lewe terug kry, voordat ek die waarheid geweet het. Voordat alles uitmekaar begin val het en meeste van als, voordat ek uitmekaar begin val het. Sy maak haar dagboek toe en bêre hom weer. Sy reik na haar Bybel maar trek haar hand weer terug. Sy probeer bid maar die woorde wil nie reg uitkom nie. Sy hoop maar net dat die Here haar woordelose woorde kan hoor. Sy dink aan juffrou Andrews. Toe sy aan die begin van graad 8 vir die eerste keer in die sangjuffrou se klas instap het sy dadelik van die fyn juffrou gehou. Die juffrou met die blou highlights in haar blonde hare en effens vreemde kleredrag. Maar sy en Briana het van die begin af ‘n band gevorm. Hulle het mekaar se passie vir musiek verstaan en Briana het nooit ‘n kooroefening og sangles gemis nie. Juffrou Andrews was haar grootse mentor. Nadat haar pa weg is het sy al hoe minder by die kooroefeninge en sangklasse aangemeld en later het sy net heeltemal weggebly. Sy het al haar musikale bande gebreek en dit sny deur haar hart soos glasskerwe onder ‘n kaalvoet. Maar sy kan nie net aangaan met haar lewe asof niks gebeur het nie. Miskien maak sy ‘n groot drama oor niks nie, maar as hulle net in haar hart kon inkyk sou hulle verstaan. Haar seer lê dieper en dit het gelei tot die identiteitskrisis wat sy vir die eerste keer in haar lewe beleef. Dit voel vir haar asof sy nie weet wie sy is en hoekom sy hier is nie. Die aand droom sy van juffrou Andrews, Ruan en haar pa. Dis ‘n baie rustelose nag waarin spoke van die verlede haar die hele aand tart.









Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

AFGODE

deur Piet Schoombie

Die aangrypende verhaal van 'n weeskind se stryd en strewe in 'n kinderhuis.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar