Jeugverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Hoofstuk 3
Die volgende oggend toe sy wakker word het sy ‘n besluit geneem. Sy moet dinge met Ruan regmaak. Sy kan nie haar beste vriend ook nog tussen alles deur verloor nie. Sy is vroeg by die skool en wag vir hom by die skoolhek. Hy groet haar en draai verbaas om toe sy hom terugroep. Sy val langs hom in en vir ‘n paar oomblikke is dit doodstil tussen hulle. “Jy is die afgelope tyd stil Ru.” “No offence Briana maar dis soort van jou eie skuld.” Briana voel effens seergemaak deur sy woorde maar sy weet ook dat hy het gelyk. Dit is sy wat hom weggestoot het, daarvoor kan sy niemand anders blameer nie. “Ek is jammer Ruan.” “Ek ook.” Briana weet nie wat om te sê nie. Die scenario het soveel anders in haar kop afgespeel en sy weet dat as sy nie nou iets doen nie gaan die kloof tussen hulle nooit oorbrug word nie. “As jou aanbod nog staan sal ek graag volgende week weer wil saamgaan jeug toe.” Ruan knik net en sê: “Ek het vir jou gesê die aanbod staan. Verskoon my asseblief-Barry hulle wag vir my. Sien jou.” Briana voel teleurgesteld. Sy het verwag dat hy meer opgewonde sou wees omdat sy ingestem het om weer jeug toe te gaan. Nou het sy boonop ook nie ‘n ander keuse as om volgende Woensdag saam te gaan jeug toe nie. Later skimp sy by Kimmy dat die saam met hulle moet jeug toe gaan. Kimmy is in ‘n ander kerk as hulle en hulle jeug word op Sondae aande gehou. “Asseblief Kimmy.” smeek Briana. “Nee, Suster, ek dink nie Ruan se uitnodiging het my ingesluit nie.” “Maar dit is mos ek wat jou nooi.” “Dankie maar nee dankie. In die eerste plek is jy en Ruan beste maatjies en drie mense saam werk nooit nie. In die tweede plek ons dramagroepie voer Mamma Mia op Woensdag- tot Vrydagaand. Wat jy ook belowe het jy sal kom kyk.” “Fine. En wat Mamma Mia betref ek sal ‘n kaartjie koop vir Donderdagaand.” “Gaaf. Dan is dit afgehandel vriendin.” Die res van die week verloop sonder enige voorvalle en buiten vir ‘n hokkiewedstryd Saterdagoggend het Briana niks aan vir die res van die naweek nie. Woensdagmiddag nadat Briana gestort het staan sy lank voor haar klerekas. Sy weet nie eintlik wat moet sy vanaand aantrek nie. Dis warm maar daar is tog ‘n koel luggie buite. Sy besluit uiteindelik op ‘n denim en ‘n kobaltblou toppie wat haar velkleur pragtig beklemtoon. Sy blaas haar hare uit en grimeer haar liggies. Dis kwart voor ses toe Ruan aan hulle deur klop. Hy is ‘n jaar ouer as sy en het dus reeds sy lisensie. Hy ry met sy ma se Corsa en hou die deur vir haar oop. “Jy lyk mooi.” merk hy op en klim aan die ander kant in. “Dankie.” Dit is stil tussen hulle in die kar en Briana wonder waar is die tyd toe hulle oor enige iets onder die son kon praat. Briana is verlig toe hulle voor die kerk stilhou. Daar is meer mense as wat sy kan onthou. Almal groet mekaar en staan in groepe en gesels totdat Andries-die jeugleier-hulle almal nader wink. Hy open met skriflesing en gebed en natuurlik eers ‘n grappie voordat hy aankondig dat hulle eers gaan praise en worship en dan die boodskappie behandel. Briana staan eenkant terwyl die res van die tieners sing en dans en tekere gaan. Dit was altyd haar gunsteling deel van die jeug gewees. Nadat almal behoorlik uitasem is beduie Andries hulle kan weer gaan sit. Hy neem plek in op die verhoog. “My boodskappie vanaand handel oor Psalm 147:3. Ek het die afgelope jaar opgelet dat daar soveel van julle is wat hier is wat met seer binne julle rondloop.” Andries het dadelik Briana se aandag. Dit is so toevallig dat hy oor seer moet praat die eerste keer wat sy weer die jeug bywoon in maande. Briana luister intens na die boodskap en voel of dit spesiaal vir haar uitgewerk is vanaand. “Vanaand gaan ons vir mekaar bid. Ek wil hê julle moet in groepies van twee opdeel en vir mekaar bid, vir elkeen se seerkry vir genesing en vergifnis.” Ruan vat Briana se hand en lei haar na ‘n plekkie agter in die saal. Orals vorm die tieners groepies. Hulle gaan sit op die vloer en Ruan bly haar hand vashou. “Bri, ek was eers baie kwaad vir jou omdat dit vir my gevoel het jy stoot my weg. Ek het die afgelope tyd baie gedink en ek het besef dis nie persoonlik nie. Jy loop met baie seer in jou rond. Ek weet dat dit het jou geruk toe jou pa weg is, maar ek kan nie anders as om te voel dat daar dalk iets meer agter alles steek nie. ‘n Dieper seerkry wat jy met niemand wil deel nie.” Die trane loop vrylik oor haar wange. Ruan wag geduldig totdat sy antwoord. “Ru, jy is reg. Dit is meer as net my ma en pa se egskeiding. Daar is nog iets wat my pla. Die ding is net ek weet nie hoe om hierdie seerkry in woorde oor te sit nie. Hoe om weer op te staan nie.” “Jesus sien elkeen van ons trane en Hy het die mag om weer heel te maak.” “Ek verstaan nie op die oomblik Sy plan nie. Ek verstaan nie hoekom dinge moes uitwerk soos dit het nie. Ek het die perfekte lewe gehad sonder enige bekommernisse en nou is dit alles weg.” “Praat met my Bri. Kry dit uit jou sisteem. Dis al hoe jy van die gif gaan ontslae raak. Hoe jy weer genesing gaan vind.” “Ek sal, maar nie vanaand nie.” Ruan knik en trek Briana nader. Hy bid lank vir haar en vir die eerste keer in ‘n lang tyd ervaar sy weer vrede in haar hart. Dit is amper asof haar hart, al is dit net vir ‘n breukdeel van ‘n sekonde, weer heel word. Miskien sal sy tog okay wees dink sy by haarself. Hulle praat niks op pad huis toe nie. Toe Ruan voor haar huis stilhou sê sy: “Dankie dat jy my saamgesleep het en dat ek saam met jou kon ry. Ek is regtig bly dat ek vanaand saamgegaan het.” “Dis net ‘n plesier. Onthou net dat ek altyd daar sal wees vir jou, maar nog belangriker jy het nie data of airtime nodig om met God te gesels nie. Die telefoonlyn hemel toe is nooit beset nie en God het altyd tyd om met jou te praat, al is dit net om te hoor hoe dit met jou gaan.” Briana knik en klim uit. Toe sy later op haar bed sit trek sy haar Bybel nader. Sy maak oop by Psalm 147:3 en lees dit met aandag. Hy genees die gebrokenes van hart en verbind hulle wonde. Briana sit ‘n boekmerkie daar in en raak vir die eerste keer in ‘n lang tyd met gemoedsrus aan die slaap. Die volgende oggend word sy wakker sonder die gewone klip in haar maag en staan op om vir haar en haar ma te gaan koffie maak. Elaine is verstom oor Briana se skielike gedaanteverwisseling maar sê eerder niks nie. Netnou ruïneer sy haar dogter se seldsame goeie bui en moet sy van vooraf in haar dik bek vaskyk. Briana aanvaar selfs haar ma se aanbod om haar by die skool te gaan aflaai en Elaine hoop van harte dat haar dogter se bui sal bly. Kimmy en Pierre wag vrolik by die skoolhek. “Hoe was julle vertoning gisteraand?” vra Briana nuuskierig. “Fantasmagories!” roep Kimmy uit en Briana kan nie anders as om te lag vir haar vriendin wat nie eers kan antwoord sonder om dramaties te wees nie.” Pierre gee net ‘n lui glimlag en leun teen die hek. “Jy gaan vanaand kom kyk, né?” vra Kimmy opgewonde. Briana knik. Kimmy mag somtyds baie vreemd wees maar sy weet Kimmy het regtig genoeg talent om eendag ‘n Oscar te wen. “En as jy nou so glimlag?” vra Kimmy verbaas. “Ek wonder net of Hollywood weet hulle het kompetisie. Moet my nou net nie vergeet as jy eendag famous is nie.” “Nooit. Buitendien ek gaan ‘n Oscar wen en jy ‘n Grammy, so ons gaan altwee ewe famous wees.” ‘n Donker wolk skuif vir ‘n oomblik oor Briana se gesig. Kimmy moenie vandag ook begin karring nie. Sy besluit egter om eerder van alles te vergeet. Pouse loop sy vir Ruan in die kafeteria raak en hulle gaan sit by een van die tafeltjies. Niemand vind dit vreemd nie aangesien hulle voorheen gereeld saam in die kafeteria gesit het. “Bri, is jy okay? Ek is bekommerd oor jou.” Briana glimlag en antwoord: “Vir ‘n verandering, ja.” “Ah daar is daardie Colgate glimlag van jou wat ek so gemis het.” “Ai Ru. Ek wou nog omverskoning vra. Ons was gisteraand veronderstel om vir mekaar te bid en ek was so gefokus op my eie probleme dat ek skoon vergeet het om vir jou te vra of jy ‘n gebedsversoek het.” “Dis in die haak ek verstaan. Maar noudat jy dit noem-Ek moet ‘n keuse maak oor volgende jaar. Ek is nog nie seker wat ek volgende jaar wil swot nie.” "Wat jy ookal doen sal jy goed doen.” “Dankie vir jou vote of confidence, maar dis nogtans ‘n groot besluit. Ek moet vir die res van my lewe elke dag dit doen wat ek kies. Ek wil nie oor tien jaar van nou spyt wees oor die keuse wat ek gemaak het nie.” “Ek verstaan. Is daar ‘n spesifieke rigting waarin jy belangstel? Sou jy nie op ‘n stadium medies gaan swot het nie?” “Ja maar ek het besef dis my pa se droom en nie myne nie. Ons het ‘n lang gesprek gehad en hy het vir my gesê as ek gelukkig is dan sal hy gelukkig wees. Ek weet dit klink seker lame maar ek oorweeg dit om dalk teologie te gaan swot.” Briana is stomgeslaan. “Wow, ek moet erken dis die lasaste ding wat ek verwag het. Dis fantasties-dis net die laaste ding wat ek gedink het jy in sal belang stel.” “Jy weet na die motorongeluk vier jaar terug het ek ‘n pad saam met God begin stap. Ek het ook die afgelope tyd ontdek dat ek het die gawe om met mense te praat. Ek het ‘n lang gesprek met ons pastoor en Andries gehad en ek is nou meer as ooit oortuig dat ek gelukkig sal wees in so rigting. Ek kan ‘n verskil in ander mense se lewens maak.” Briana onthou die ongeluk baie goed. Ruan en sy ouers was op pad terug van die see af en hulle was in ‘n baie ernstige botsing betrokke. Hulle kar was heeltemal afgeskryf maar op een of ander onverklaarbare wyse het niemand te ernstige beserings opgedoen nie. “Ek en jy is nou al so lank vriende. Jy kan seker onthou dat in daardie tyd was kerk nie hoog op my prioriteitslysie nie. Na die ongeluk het ek besef dat daar is geen waarborg dat jy oor ‘n uur nog gaan leef nie en dit het my bang gemaak. Ek het besef dat as ek op daardie oomblik moes doodgaan my saak met die Here alles behalwe reg was.” “Hoekom het jy nooit met my hieroor gepraat nie.” “Ek weet nie. Miskien het ek gevoel mense sal my oordeel, bespot, ek weet nie. Ek wil egter nou my storie met ander deel. Ek het ‘n tweede kans gekry, maar vir baie gaan daar nie ‘n tweede kans wees nie.” “Ek dink jy het die regte rigting beet. Dit sal jou pas soos ‘n handskoen.” “Dankie Briana, dit beteken vir my baie.” Die res van die dag konsentreer sy op niks van haar skoolwerk nie. Sy het nog altyd gedink dat sy stokoud sal word en Ruan het haar laat besef dat daar geen waarborg is vir dit nie. Toe sy die middag by die huis kom is haar ma alreeds daar. “Hoekom is Ma so vroeg by die huis?” “Daar is een of ander departementele vergadering en baie van die onderwysers moet dit bywoon. Hulle het dus die hele skool laat vroeër uitkom.” “O okay. Hoe gaan dit by die skool?” “Dit gaan goed dankie. Net besig en met jou?” “Goed dankie. Die hokkie hou my baie besig.” “En die koor?” vra Elaine versigtig. “Asseblief Ma. Nie vandag nie. Is dit okay as Kimmy later oorkom. Ons het ‘n Biologie taak wat ons moet klaar maak.” “Ja dis reg so. Jy het lanklaas kuiergaste gehad.” Briana voel tevrede. Dis die beste gesprek wat sy en haar ma nog in die afgelope vier maande gehad het. Sy gaan trek vinnig haar skoolklere uit en trek ‘n ou kortbroek en t-hemp aan. Sy ruim vinnig haar kamer op. Sy wil darem nie hê Kimmy moet dink sy bly in ‘n varkhok nie. Toe die klokkie lui draf Briana vinnig om die voordeur te gaan oopmaak. Kimmy is is gemaklik in ‘n wit kortbroek, bloedrooi halternek en goue sandale. Sy het haar kenmerkende oorgroot sonbril aan en haar hare is uitgeblaas. Sy het ‘n ontwerper rugsak oor haar skouer en stap soos altyd met selfvertroue die vertrek binne. “Ek kan nie te laat bly nie ek moet al sesuur by die saal wees om my te grimeer ensovoorts.” Dit val Briana by dat sy dat sy vanaand na Kimmy hulle se Mamma Mia vertoning gaan kyk en hulle knip die tydjie wat hulle aan die taak sou spandeer kort. Hulle besluit om die naweek daarvoor op te maak. Briana is heel verras toe sy later in een van die voorste rye sit. Die vertoning was regtig baie profesioneel en die akteurs het hulle almal uitstekend van hulle taak gekwyt. Aan die einde van die aand kry hulle ‘n staande toejuiging en Briana is bly vir Kimmy en die ander akteurs. Hulle het dit verdien.




Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Vir vanaand sal ek net jou hand vashou

deur Zymrly

Gedigte saamgevat oor die seer van die lewe. 'n Handvol emosies wat aan die hart raak omdat die tonele, gedagtes en emosies deel is van elke dag se lewe



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar