Jeugverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Hulle omhels mekaar, maar net vir ‘n oomblik. Dis eers toe sy in die bekende oë vaskyk dat sy besef hoe baie sy hom gemis het. Sy gaan maak vir hulle koffie en gaan sit langs hom op die rusbank. “Hoe gaan dit met jou my Skat?” “Dit gaan goed dankie en met Pa?” “Onder die omstandighede gaan dit goed. Ek is net baie besig by die werk.” Briana knik en daar heers ‘n ongemaklike stilte tussen hulle. Dan vra haar Pa: “Is jy regtig okay?” “Ja Pa ek is. Die afgelope paar maande was moeilik gewees maar die wonde is besig om heel te word, maar dis nog baie rou.” “My kind, geen wonde kan genees voordat jy dit nie toelaat om klaar te bloei nie.” “Ek kan nie wag vir die dag wat hulle ophou bloei nie.” “Ongelukkig is seerkry ‘n onvermydelike deel van die lewe. Ek is so jammer oor die aandeel wat ek in jou seerkry gehad het.” “Ek glo dat alles het met ‘n doel gebeur en ten spyte van die seer het ek ‘n sterker mens aan die ander kant uitgekom.” Peet kyk verbaas na sy kind. Sy het die afgelope paar maande ‘n diepte gekry wat nie voorheen daar was nie. Sy is besig om volwasse te word dink Peet hartseer. “Hoe gaan dit regtig met Pa?” “Goed. Ek mis jou en jou Ma maar dit gaan al beter. Die ergste vir my is die leë huis. Dit laat my soms baie alleen voel.” “Pa is nie alleen nie. Ek en Ma is daar vir Pa, maar Pa moet ook altyd onthou dat God 24/7 beskikbaar is.” “Jy is reg Bri. Ek weet dat ons het jou met Christelike waardes grootgemaak, maar ek het nie besef jou geloof is so sterk nie.” “My geloof is nog nie so sterk nie, maar geloof so groot soos ‘n mosterdsaadjie is al wat nodig is. Ek het die afgelope tyd God se hand so deeglik in my lewe raakgesien dat ek nie anders kan as om te glo nie.” Peet glimlag. Hy kan vir die eerste keer in ‘n baie lang tyd gerus gaan slaap. Ten spyte van haar seerkry sal Briana okay wees. Hy kan dalk selfs ‘n ding of twee by haar leer. “Ek hoor jy gaan weer jeug toe? Ek is baie bly daaroor.” “Ja. Dis eintlik aan Ruan te danke.” “Dan sal ek hom moet bedank daarvoor. Ek kan egter nie anders as om op te let hoe jou oë blink wanneer jy sy naam noem nie.” “Ag Pa!” “Dis bloot ‘n observasie.” Briana lag net en verander die onderwerp. Hulle gesels nog ‘n rukkie en toe maak haar Pa verskoning. Op daardie oomblik kom haar Ma tuis. Dis minder ongemaklik as wat Briana gedink het en haar Pa belowe om weer te kom kuier. Briana voel beter toe haar Pa weg is. Dit was amper weer soos die ou dae gewees. Sy wens sy het nooit uitgevind dat sy aangeneem is nie. Dit het alles verander. Haar aanneemma en –pa is nogsteeds haar ma en pa en sy is ongelooflik lief vir hulle, maar alles was net soveel eenvoudiger gewees toe sy van niks geweet het nie. Sy het nie hierdie konstante vraag gehad oor die rede vir haar bestaan nie. Sy het opgestaan en sy het geweet sy is Briana Tyler, dogter van Elaine en Peet Tyler. Nou wanneer sy in die oggend opstaan is daar vraagtekens in die spieël en sy voel skuldig maar sy kan nie help om te wonder nie. Hoe lyk haar biologiese ouers? Hoe is hulle as mens en sou hulle oor die weg gekom het as die omstandighede anders was? Dit is ‘n seerkry wat niemand sal verstaan tensy hulle self daar deur was nie. ‘n Deel van jou identiteit is verlore en jy weet dit nie eers nie. Briana keer die morbiede gedagtes. Sy het nou klaar gesulk sê sy vir haarself en gaan bêre weer haar liedjieskryfboeke. As daar een ding is wat sy vandag besef het is dit dat sy haarself nooit van musiek sal kan losmaak nie. Dis deel van haar soos asemhaal. In die daaropeenvolgende dae begin die ou Briana al hoe meer deurskemer. Lewenslustig en vrolik. Donderdagmiddag laat klop Ruan aan Briana-hulle se voordeur. Haar ma en het gaan kruideniersware koop en sy is dus alleen by die huis. Sy nooi hom in en gooi vir hulle koeldrank in. Hulle gesels oor dit en dat sonder om regtig oor iets spesifieks te gesels. “Het jy al weer gesing?” Briana knik en sê: “Dit was amazing. Ek kan nie glo dat ek amper my musiek prysgegee het nie. Dis waar my genesing lê.” “Ek is bly. Moet net nie vergeet dat God ons ware geneesheer is nie.” “Ek besef dit. Toe die storm vir die eerste keer losgebreek het, het ek nie my vertroue in God geplaas nie. Ek het so ongelooflik alleen gevoel en ek besef nou ek was verkeerd gewees. Ek weet nie hoe om dit te verduidelik nie, maar God het die afgelope tyd in my hart gewerk. Ek kan weer voel sonder om seer te kry. Ek dink selfs dat ek uiteindelik vergifnis kan vind.” “Ek is bly daaroor. Gepraat van vergifnis. Het jy dit al ooit oorweeg om jou biologiese ouers te ontmoet?” “Natuurlik het ek. Hulle gene is in my en ek kan nie help om te wonder nie. Ek wonder elke dag, maar my aanneem ouers ís en bly my ouers. Nie een van ons is perfek nie. Hulle het nog altyd my belange op die hart gedra en ons is ongelooflik lief vir mekaar. Ek is nie meer kwaad vir enige iemand nie en miskien sal ek hulle eendag probeer opspoor. Maar vir nou wil ek net my lewe leef, weer aangaan soos voorheen.” “Ek verstaan dit. Ek wil net nie hê dat jy weer seer moet kry nie.” “Ek waardeer dit. Vir nou gaan ek net eers daarop fokus om volkome heel te word voordat ek enige iets anders doen. Die hele storie het ‘n paar letsels gelaat...” “Ek is jammer dat jy so seer moes kry.” “Ek ook, maar dis deel van die lewe en in my geval het dit my net sterker gemaak.” Ruan glimlag vir Briana. Hy kan nie glo dis dieselfde meisie wat ‘n maand of twee gelede nog so gebroke was nie. Die wonde is defnitief besig om te genees. Hy gee haar ‘n drukkie en hulle praat verder oor sy toekoms. Hy het toe besluit om wel teologie te gaan swot en het reeds sy aansoek ingestuur. ‘n Maand later is dit die talentkompetisie. Briana het die afgelope paar weke kliphard geoefen-mét hulp van haar pa. Sy voel die ou borrelende gevoel van opgewondenheid toe sy later op die verhoog klim. Saartjie het net voor haar opgetree en sy wens vir Briana sterkte toe. Sy sing soos nog nooit tevore nie en almal klap hande toe die laaste noot wegsterf. Daar is nog drie items na haar en sy wag in spanning dat hulle die wenner moet aankondig. Al haar vriende en vriendinne het haar kom ondersteun en haar ma en pa sit heelvoor. Uiteindelik roep hulle al die deelnemers op die verhoog. Na die bedankings gee die beoordelaars die koevert vir die seremoniemeester. “In die derde plek: Erika Wilson.” Almal klap hande en wag in spanning. “In die tweede plek: Briana Tyler.” Briana het gedink sy sal teleurgesteld wees omdat sy nie gewen het nie, maar ‘n gevoel van tevredenheid lê binne haar asook opgewondenheid oor die toekoms. Daar heers ‘n oomblik se dramatiese stilte. “En die oomblik waarvoor almal gewag het. Die wenner van Hoërskool Meyer se jaarlikse talentkompetisie 2014 is:...Jay du Bois!” Briana moet aan haarself erken dat hy dit verdien het om te wen. Hy is regtig baie goed. Almal juig en klap hande. Juffrou Andrews vat die mikrofoon by die seremoniemeester en sê: “Vanaand het ons uitsonderlike talent gesien, maar ek wil vanaand vir julle sê dat julle is almal wenners. Julle is die rede dat die skool sy naam kan hoog hou en ek wil vanaand dankie sê dat julle vanaand moontlik gemaak het. Die aand is egter nie verby nie. Briana Tyler gaan vir ons die aand afsluit met haar eerste gospel liedjie uit haar eie pen God our True Healer.” Almal staar verbaas na haar toe sy begin sing. Al haar seekry en genesing stort sy saam uit in een liedjie en toe sy klaar is kry sy ‘n staande toejuiging. Sy het nog nooit in haar lewe so gelukkig gevoel nie. Later staan sy met ‘n klasmaat en gesels toe Ruan agter haar verskyn. Sy maak verskoning by Hanlie en volg hom na buite waar die mense oral in groepies staan en vergader. “Wow. Dit was ‘n amazing liedjie gewees.” “Ek moet vir jou dankie sê Ru. Jy het my weer teruggebring op my knieë.” “Dit was nie ek nie. God het my net as ‘n instrument gebruik om jou te help. Hy het groot planne vir jou Bri.” “For I know the plans I have for you. Plans to prosper you and not harm you...” “Presies.” Ruan trek haar nader en soen haar. Vir ‘n oomblik gaan staan die wêreld stil. “Briana, ek hou regtig baie van jou. As jy sal toelaat wil ek graag ‘n paadjie saam jou stap.” “Vra jy my uit?” “Wel...ja. Jammer ek moes dit beter gestel het.” “Wel my antwoord is ja.” Ruan gee haar ‘n soen op die wang en Briana weet dat dinge nooit weer dieselfde gaan wees nie. Almal wens haar eers geluk en dis laat toe sy uiteindelik by die huis kom. Daardie aand skryf sy ‘n briefie in haar gebedsboekie aan God en sy hoop dat sy eendag hierdie briefie met ander kan deel. Dat sy God se liefde met ander kan deel. Sy het gedink daar is geen hoop nie, maar met geloof so groot soos ‘n mosterdsaadjie het Hy haar gelei na presies waar sy moes wees.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Die Lied van Lorelei

deur Rachelle du Bois

Mikrobioloog Talana de Waal keer na haar familie se sitrusplaas in die Laeveld terug om navorsing te doen. Sy bring haar vriendin en kollega, Dr Lerina Keyser saam. Alles gaan voor die wind tot haar kleinboet en sy vriend besluit hul ouer broers, Marius en Armand se liefdeslewe het 'n hupstoot nodig. Die misverstand wat volg het katastrofiese gevolge. Die vreeslike flater laat die wraak van die meisiekinders vlamvat. Tot die bye swyg en die swartvlieë hou op eiers lê . . .



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar