Jeugverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Die son sak bloedrooi tussen die wilgerboom se kaal takke. Die klippie wat my ouer broer op die water gooi skiet ses, sewe, agt keer voor dit in die dieptes in verdwyn. ‘n Swerm vinke vlieg laag bo die water by ons verby na hul nes toe. Dit raak laat. Ons moet ook maar huiswaarts keer. Hy behoort nou al rustig te wees.

Soggens is ons pas tien keer vinniger. Aan tafel eet ek en my broer in stilte ons ontbyt terwyl my pa ‘n glas brandewyn skink. Op pad by die deur uit hoor ons al klaar hul dreigende stemme. Ná skool is dit dieselfde. Ek wag by die deur met die fietse terwyl my broer soos ‘n trapsuutjie vir ons middagete inpak. Ons ignoreer my pa se woorde en glip uit na ‘n wêreld waar ons nie bang hoef te wees nie. ‘n Plek van vrede.

Ons middae het korter geraak soos die koue winter aangebreek het. Nie net omdat dit vinniger donker geraak het nie, maar ook as gevolg van my broer se “slegte gevoel.” Een middag wou my broer huis toe keer omdat hy die “slegte gevoel” gehad het. Sy neus het onophoudelik gebloei. Hy het al hoe minder skool bygewoon en al hoe meer tyd in sy bed deurgebring. Deur die geraas het hy aan my gefluister dat ek maar kan gaan – ek hoef nie vir hom te wag nie.

My broer is in Augustus oorlede. My ma sê die engele het hom kom haal, maar my pa sê dis my ma wat veroorsaak het dat hy “vergroeisels in sy kop gekry het.” By die begrafnis het ons almal in swart gestaan terwyl die reën liggies op ons neergeval het, maar selfs die reën kon nie my ouers se trane vermom nie.

Die oggende was onveranderd. Ek het blitsig reggemaak vir skool en ontbyt in stilte geëet terwyl my pa vir hom brandewyn geskink het. My punte het gedaal en my ouers is versoek om die hoof te sien. Die juffrou sê dat ek nie konsentreer nie. My pa se oë is op my ma en hare op hom.

Die nagte het wel langer geword. Ondraaglik lank. Borde breek, die telefoon lui. Waar is jy nou? Jy los my alleen in ‘n huis vol geluide en hoe minder ek probeer luister hoe harder klink die klank.

Een middag is ek direk ná skool na die wilgerboom toe. My klippies hop net twee, drie, vier keer voor hulle verdwyn. Ek mis jou. Ek wil nie alleen wees nie. Ek klim tot hoog in die wilgerboom en maak die tou styf vas. ‘n Wind waai deur my hare. Ek kom na jou toe, broer.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Dankie!
Dankie vir die kommentaar! Dit is heeltemal fiksioneel en net bedoel as 'n hartroerende kortverhaal op skool! :)
7 jaar 2 maande 1 week 16 ure oud


neeeeeeeeee
oh my fudge dis sooooooo mooi :'( Die einde het ek nie sien kom nie, maar dit was beslis 'n uitstekende slot. Jinne maar dis so mooi!
7 jaar 3 maande 5 dae 20 ure oud


jy los my..........
baie mooi..........ek hoop nie dit was n stukkie in jou eie lewe nie
8 jaar 5 maande 18 ure oud



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar