Jeugverhale

Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

      Het julle geweet ‘n donkie kan praat? In die Bybel in Num.22:28 praat die Here deur ‘n donkie.
As ‘n donkie kan praat kan ander diere ook mos praat of hoe?

Die volgende verhaal het onlangs op ‘n plaas hier naby afgespeel. Elke dier op daardie plaas het ‘n beurt in die aand gekry om ‘n storie te vertel voordat hulle gaan slaap. Almal het al ‘n beurt gekry behalwe arme ou Vaaltyn, die vaal ou donkie Hy was so vaal en eentonig en het sulke langdradige stories gehad net soos sy ore en so ‘n lelike ou klaagliederige stem. Hulle het besluit dat hulle hom tog maar vir die laaste sal hou. Die ander diere het almal alreeds ‘n beurt of twee gehad en hulle dink in elk geval dat hy sekerlik geen interresante storie kan hê om te vertel nie. Die diere weet dis nou Vaaltyn se beurt vannaand en kan kamtig net nie tot rus kom dat hy met sy storie kan begin nie. Ma Voorbok moes behoorlik die aand bontstaan en sukkel om al die diere stil en op hulle plekke te kry, sodat donkie sy storie kan vertel. Die wat nie wil luister nie het sy sommer met haar bokhorings ‘n bietjie gekarnuffel.
     
      Stinkybabe, die vark, kon net nie stil lê nie, want sy het mos so ‘n sagte vel en min hare om haar vel teen die son te beskerm, sodat sy elke oggend ‘n modderbad moet neem om haar vel teen die son te beskerm. Vannand het sy gaan lê daar agter teen die agterste hoek van die ou stal waar die muur so lekker skurf is en skuur sy eers die ou droë modder van haar lyf af voordat sy gaan slaap, want dit jeuk op haar vel. Met die gewerskaffery en geskuurdery het sy ‘n harde stink windjie gelos en nou is dit ‘n groot konsternasie by die ander diere in die stal. Party knyp hulle neuse toe en ander druk dit in die strooi om ontslae te raak van die geweldige stank. Stinkybabe vra nedrig om verskoning en verduidelik dat sy maagkrampe en winde het omdat sy met haar gevroetel in die grond ‘n hele kol uintjies gekry het net onderkant die leidam en haar toe oorvreet het aan die lekkerny.
     
      Die hoenders en die eende het gestry oor presies waar die een se sitplek begin en die ander se sitplek ophou op die balk wat in die dak van die stal hulle slaapplek was. Ma Wolskaap se twee kinders kan nie ‘n gemaklike leplek kry nie, want altwee wil skielik vannaand styf teen hulle ma lê en daar is nie genoeg plek vir altwee nie. Bulkalf het so gespeel deur die dag dat hy skoon vergeet het om sy melk by sy ma te kry. Nou kan sy ma nie gaan lê nie totdat hy klaar gedrink het en die gedrinkery aan sy ma se spene klink die hele stal vol, want hy is tog te snoep agter sy ma se melk aan.
      Perd het ‘n lastige brommer wat al om sy kop en lyf draai en hy waai met die stert en slaan per ongeluk vir gans raak wat op die krip se rand besig was om hom te balanseer om sy plek vir die nag in te neem. Gans verloor sy balans en val kop eerste in bees se groot bollie en skree moord, moord, moooooord, omdat hy besig is om te versmoor.
     
      Dit raak toe stil in die stal en uiteindelik kon Vaaltyn die donkie sy storie begin. Hy maak himself gemaklik, lê met sy poot gerieflik onder sy kennebak en maak keel skoon “Hieeeeeee haaaawww” en begin sy storie te vertel.
     
      “Ek onthou dat my pa het my vertel dat sy pa het vertel dat sy oupagrootjie het vertel, dat sy goot, grooooooooot oupa grootjie het vertel ...” Dit is toe dat die diere dit nie meer langer kon hou nie en begin sommer almal vir donkie te sê: “ Vergeet tog van al jou oupa grootjies en goeters en vertel ons tog net jou vervelige ou storietjie.” Toe begin donkie weer. “Lank, laaaank, laaaaaank gelede ...” Al die diere begin nou hardop sug van verveligheid. Maar donkie kom toe uiteindelik by sy storie uit.
     
      Lank gelede was daar ‘n donkie met die naam van Langoor wat hare soos ‘n perd, ore soos ‘n perd, stert soos ‘n perd en gerunnik het soos ‘n perd. Die ander diere begin sommer hardop te lag en vra waar het jy nou al ‘n donkie gekry wat soos ‘n perd lyk. “Ha ha ha”, lag hulle hom uit maar donkie laat hom nie afsit nie en gaan voort.
      Hy het by ‘n herbergier in die dorpie genaamd, Bethlehem gebly. Bedags het hy of in die herbergier se tuin geploeg, of as hy die dag af was, kon hy in die veld gaan stap. Snags het hy in ‘n stal agter die herberg geslaap.
      Op ‘n dag was Langoor af en het ‘n bietjie in die veld gaan stap. Daar het hy ‘n jong meisie gesien met die naam van Maria. ‘n Engel het toe voor haar verskyn. Langoor het nader geloop om te hoor waaroor dit gaan. Die engel het vir Maria op haar naam nader geroep en vir haar gese dat sy ‘n baba seuntjie gaan kry en dat sy hom Jesus moet noem. Maria was eers baie ongelukkig omdat sy nog nie getroud was nie en net verloof aan Josef, haar aanstaande man.
      ‘n Hele ruk later een aand was die dorpie vol van besoekers, want die koning wou al die mense laat tel. Maria en Josef het ook in die dorpie opgedaag en kon nêrens ‘n slaapplek kry nie. Skielik was daar ‘n klop aan Langoor se staldeur en toe kom daar ‘n vrou en man ingestap en hulle vra of hulle maar in sy stal kan slaap, want daar was geen ander beskikbare blyplek in die dorp nie. Langoor nooi hulle in en sê dat hulle enige tyd sy stal met hom kan deel, want hy herken dadelik die vrou as die einste Maria wat hy daar by die engel gesien het in die veld.
     
      Daardie aand word Langoor wakker en tot sy verbasing hoor hy skielik die geluid van ‘n klein babatjie in sy stal. Dit is toe dat hy besef dat die vrou, Maria geboorte gegee het aan ‘n baba seuntjie met die naam Jesus. Daardie nag het Langoor nie ‘n oog toegemaak nie. Daar het skaapwagters aangekom wat sê dat ‘n engel aan hulle verskyn het en verduidelik waar die seuntjie is sodat hulle hulde aan hom kan bring. Daar het wyse manne uit die ooste aangekom wat ‘n ster gevolg het om geskenke vir die Jesus kind te bring. Vaaltyn maak sy keel skoon en Heee Haww eers ‘n paar maal en dra toe vir hulle die volgende gedig voor wat hy iewers geleer het.
       
SKYN SOOS DIE BETHLEHEM STER

Dis Kersfees, ‘n tyd van verlange.
Vir mooi tye en dinge van vergange.
Oor wat reeds lank gelede verby is.
Wat ek nie uit my gewete kan uitwis.
Daar is niks wat dit kan wegneem.
Of enige van my gedagtes vervreem.

Elke Kersfees wil ek voor en nuut begin.
Die tyd oor alles in my lewe her besin.
Wil ek graag oor my nuwe lewe wonder.
Veral oor die Christus kind in besonder.
Watter invloed Hy oor my nuwe lewe het.
Dit is Hy wat uit sondige verlede kom red.

Dit is Hy wat ‘n nuwe toekoms kom gee.
‘n Engel het met Maria ‘n verdrag gesmee.
Die Bethlehem ster het sy geboorte ingewy
Wyse manne het eer aan Christus gewy.
Skaapwagters het by Sy krip kom kniel.
Hulle het verryk geword in hulle siel.

Help my om ook soos hulle te voel.
Dat Hy sal skep in my lewe ‘n nuwe doel.
Ek kyk met nuwe moed na die hemel.
Ek is op soek na die Bethlehem ster.
Sodat ek soos hy kan skyn oor mense.
En help vervul hul grootste wense.

Kersfees, Christus geboorte tyd.
Wanneer mense kom van ver en wyd.
Om saam sy geboorte te herdenk.
Die grootse lewende Kersgeskenk.
Wat God die Vader aan mense bring.
Laat ons halleluja tot sy eer bly sing.

Help dat ek soos die Bethlehem ster.
Die Christus kind sal sien van ver.
Hom sal volg waar Hy ookal gaan.
En aan die mensdom laat verstaan

Dat Hy gekom het om ons te verlos
Van sondes en vir ons gee nuwe kos.

      Het julle diere hier geweet dat dit is hoekom mense steeds kersfees hou en geskenke uitdeel om die geboorte van die Jesus kind te herdenk?
      Ek kan sien julle het my vorige gedig so geniet het dat ek vir julle ook die gedig oor Kersfees gaan opse wat ‘n Man my eenkeer geleer het toe ek sy donkiekar dorp toe moes trek om sy kers inkopies te gaan doen.
     
      KERSFEES
Dis Kersfees, Kersfees, dis gewyde tyd.
Mense reis van oral oor, van ver en wyd.
Dis ‘n tyd van groot blydskap, heiligheid.
Die Christus kind se geboorte word herdenk.
Wyse manne het lank gelede gegee ‘n wenk.
Hulde aan die Christus kind, met ‘n geskenk.

Dis Kersfees, Kersfees, dis familie tyd.
Kinders, familie kom tuis van ver en wyd.
Almal kom geskenke gee en kerskoek byt.
Die kersboom word uitgesoek en afgekap.
Opgemaak met liggies, versierings, stap vir stap.
Dit gee die familie groot plesier en blydskap.

Dis Kersfees, Kersfees, dis gewyde tyd.
Dis Kersfees, Kersfees dis familie tyd.
Ons vier die Jesus geboorte en Christenheid.

      Wel weet julle diere wat het die volgende dag gebeur? My grootvader Langoor het in die straat afgeloop om te gaan wei in die veld toe hoor hy die verskriklike tyding dat koning Herodus se soldate alle klein kinders moet doodmaak omdat hy verstaan dat daar ‘n koning gebore is en hy so jaloers was, omdat hy alleen koning wil wees. Langoor het dadelik teruggekeer na die stal en vir Josef vertel. Hy sê toe vir Josef om Maria op sy rug te sit en dat sy die Jesus baba onder haar mantel moet versteek. Hy ken al die agterstraatjies en stegies en sal hulle veilig uit die dorpie uitlei sonder dat hulle nie in die soldate vasloop nie. Daardie nag vlug Josef, Maria en die Jesus kind uit Bethlehem op Langoor se rug.
      Nadat Langoor hulle weggeneem het na ‘n veilige plek keer hy toe weer terug na sy ou baas. Lank daarna loop hy toe in die veld en sien ‘n menigte mense wat na iemand luister wat stories vertel. Hy loop nader en hoor dat die storieverteller laat soek of daar iemand is met kos want die mense is honger. Daar kom toe net ‘n seuntjie met een broodjie en vyf vissies. Die man begin toe die vissies en brood te breek en dit word al meer en meeeer en meeeeer en dit gee toe kos vir al die mense. Langoor vind toe uit dit is niemand anders as die einste Jesus wat die wonderwerk gedoen het om al daardie menigte mense kos te gee. Sy bors het sommer met trots geswel, want dit is mos hy wat die einste kindjie gered het van die wrede koning Herodus.
      Jesus het ook vir Langoor gesien en hom kom streel en Langoor se ore het regop gestaan soos ‘n perd syne en sy vel en hare was net soos ‘n perd syne. Hy het ook gerunnik net soos ‘n perd van skone plesier.
      Eendag kom Jesus by Langoor se stal en vra of hy nie die volgende dag op sy rug kan ry nie. Langoor willig onmiddelik in en Jesus borsel sy hare en ore vir hom uit dankbaarheid. Die volgende dag kom haal Jesus hom en hulle ry die stad Jerusalem binne en mense is so bly om Jesus te sien en uit dankbaarheid vir al die siekes wat Hy gesond gemaak, dooies wat hy opgewek, blindes wat hy laat sien het en duiwels wat Hy uitgedryf het pluk hulle palmtakke en sit dit op die grond neer voor die voete van Langoor neer met Jesus op sy rug. Langoor sê dat dit die mooiste, gelukkigste en belangrikste dag in sy hele lewe was.
      ‘n Rukkie daarna loop Langoor weer en wei in die veld en sien dat daar ‘n man met ‘n swaar kruis oor sy skouer loop. Bloed stroom uit sy rug soos hy geslaan is met ‘n gesel en bloed uit sy kop waar daar ‘n doring kroon op sy kop gedruk is. Soldate slaan hom as Hy val en jaag hom aan na ‘n koppie met die naam Golgotha. Hy weet dit is die koppie waar die Romynse soldate die mense kruisig. Langoor herken Hom dadelik as Jesus, die baba seuntjie wat hy gered het, die man wat die brode en die vissies vermeerder het om die menigte te voed en die man wat op sy rug gery het Jerusalem in. Hy sien hoe die soldate Jesus kruisig en yster penne deur sy gewrigte slaan en ‘n yster pen deur sy twee voete en Langoor begin huil. So ‘n aaklige treurige gebalk. Hy sien hoe Jesus aan die kruis sterf. En nou gaan ek vir julle iets opse wat deur ou grrrroooot vader Langoor geskryf was en deur die eeue van geslag na geslag oorgedra was.
       

      HOUTKRUIS

      Houtkruis, Jesus kruis.
      Hang hier in my huis.
      Herinner aan jou aandeel.
      Die dag toe Hy verwerp, bespot en veroordeel is tot Christendom se voordeel.
      Is yster pen gedryf deur Sy hand en in jou grein het die bloed beland
      Ewige lewe te skenk in ons hand en Hy Sy lewe vir ons verpand
      Deur bloed gestort in jou hout
      Penne is deur Sy voet gedryf
      Sy vlees in jou vesel gevryf
      Jou grein versadig van Sy bloed
      As getuie van Sy helde moed
      Sodat ons skoon gewas kan wees
      Ons vervul kan word van Gees
      Toe Vader en almal Hom verlaat
      Was jy daar teen Sy ruggraat.
      Doring kroon teen jou gedruk
      Toe vernedering hom bedruk
      Was jy daar in sy sterwens uur
      Sy liggaam gebrand soos vuur
      Van pyn en lyding verduur
      Al verligting was asyn suur
      Totdat Hy Sy asem uitblaas
      Was jy daar getuie helaas
      Herinner my dat jy as getuie
      ‘n boodskap uitdra deur die eeue
      Houtkruis Jesus kruis
      Bly hang hier in my huis
      Dit is waar jy hoort
      Jy is enig van jou soort
     
      Totdat Hy Sy asem uitblaas
      Was jy getuie, helaas.

Daar het ‘n kruis op alle donkies se rug verskyn, ligter hare tussen sy donker vaal hare.       

      Hy gaan na die ashoop en rol en rol in die as totdat hy asvaal is en sy mooi perdehare en stert het daarna vir goed verander en so ook alle donkies se hare in die eue daarna. Sy ore het gehang en sy stem het verander na ‘n gehuil soos ook alle donkies in die eue daarna. Sy ore het gehang soos ook alle donkies se ore in die eue daarna. Daarom rol donkies steeds in die stof en as tot vandag toe.

      Toe Vaaltyn sy storie klaar vertel het is daar so ‘n gesnik en gehuilery van ieder en elk in die stal dat Vaaltyn nie kan help om te vra, maar wat is fout. Skamerig kom die antwoord in huilerige stemme soos ‘n koor na hom. Ons is verskriklik, baie jammer Vaaltyn dat ons jou so laag geag het. Jy moet eintlik die koning van al die diere wees. Hier op hierdie plaas sal jy van nouaf ons koning wees omdat ons nooit geweet het jou groot voorvader Langoor was so ‘n belangrike gesiene persoon, ag, ons bedoel donkie gewees nie.
      Ma Voorbok verduidelik aan die diere dat diere nooit ‘n ander dier mag minag oor hoe hy lyk, of hoe hy praat nie, of wat hy eet nie, want daar is altyd ‘n goeie rede hoekom dit so gedoen word. Mens, ag ek bedoel mense en dier kyk somtyds na ‘n ander en dink hy of sy is meerderwaardig, maar dan word bewys dat dit somtyds die nederigste een is wat baie meer belangrik is.
     
           



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Donkie
Dankie vir die deel en voorwaar goeie vergelykings getref met die menslike.
6 jaar 2 weke 3 dae 15 ure oud


Donkie
Schatz.. wat n pragtige manier om hierdie wonderlike Bybelverhaal weer nuut te kom maak .. dit was nou regtig lekker om te lees.. sit sommer met n knop in my keel. Puik gedoen
6 jaar 2 weke 4 dae 3 ure oud



Die Ander Vrou

deur http://www.woes.co.za/

Die boek belig 'n wereld oue situasie uit die perspektief van die "ander vrou"- soos deur die vroue self vertel Die boek sluit ook perspektiewe deur 'n maatskaplike werker en 'n predikant in.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar