Jeugverhale

Bladsye:
Premium+ Lid Premium+ Lid
Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

Laura glimlag net skalks en sê: ‘ek het op die harde manier geleer, maar ek is so dankbaar dat alles nie maar net in my skoot geval het nie.’

Talana weet nie wat sy bedoel nie. Sy wou weet hoe Laura nou kan bekostig om vir haar ’n splinternuwe motor te koop. ‘Hoe het jy geleer?’ wil sy weet.

Laura se pa het in haar standerd nege jaar sy werk verloor. Ma en Pa het die kinders bymekaargeroep vir ’n gesinsvergadering. Hulle het aan Laura en haar broer verduidelik wat die stand van sake was.
‘Ons wil oop kaarte met julle speel,’ het haar pa gesê voor hy vertel het dat hulle die gordel styf sal moet trek en uitgawes probeer beperk.

‘Dis nou die tyd om voluit te glo en saam te staan,’ was sy raad.

Laura en haar broer Martin, het benoud na hom geluister. Dit was beter dat hulle weet wat die omstandighede is, as om versoeke en eise na hul ouers te bring vir dinge waarvoor daar nie geld was nie. Om te verstaan hoekom hulle nie alles kan hê wat die maters het nie.

Terwyl pa gesoek het na werk het die spaargeld min geraak. Ma het naaldwerk vir die welaf mense gedoen. Sy het hulle nuwe rokke, broeke en baadjies korter gemaak. Klere wat te klein geword het omdat hulle so gereeld kon uiteet, vir hulle verstel. Pa het gereken daar word van haar verwag om te toor.

‘Dis ons brood en melk geld wat ek so uit toor,’ het ma met dankbaarheid in haar stem gesê.

Later het sy bondels wasgoed ingeneem om te was en stryk. Soggens as Laura opstaan het die eerste bondel wasgoed al op die waslyn gewapper en die Singer het gesing onder ma se voet. Al was ma soms wasbleek van pure moegheid, het sy noot gekla nie. Laura het baie maal gehoop dat sy ook so sterk vrou soos ma sou wees as sy eendag groot is.

Pa het hier en daar vir kort tydjies aan kontrakte gewerk, maar tussentyds het hy papier en karton bymekaargemaak en aan die herwinning maatskappy gaan verkoop. Dit was nodig om vriende en kennisse te vra om hulle afval vir hom te bêre. Soms het hy skaam gekry om dit te doen, maar dan weer besef dat dit eerlike werk was. Dit het brandstof geld vir die motor voorsien. Laura het geleer dat geen werk benede hom was nie.

Intussen het sy haar heel beste gegee in haar skoolwerk. Soms, as die ander vriende gaan fliek het, moes sy tuisbly omdat daar nie geld was om saam te gaan nie. Dan het sy haar besig gehou met studie en navorsing vir take.

Ander kere het sy en ma saam-saam naaldwerk gedoen om vir haar ’n rokkie aanmekaar te slaan vir ’n geleentheid wat voorlê.
Sy het baie gewonder hoe dit moet voel om vir elke geleentheid ’n nuwe uitrusting te gaan koop. Soos haar maats kon.

Die matriekafskeid het voorgelê en ma het in ’n botteltjie afknyp geld gebêre vir materiaal om Laura se droomrok te maak.

Laura het self ook naweke by ’n koffie-winkel op die dorp gewerk. Al moes die meeste van haar verdienste vir belangrike sport- en skoolbenodigdhede gaan, kon sy ook ’n paar sente hier en daar in die botteltjie gooi. Sy moes darem seker ’n nuwe paar sandale by haar rok hê.

Ma het met haar suster gereël om die materiaal by ’n groothandel materiaalwinkel te gaan koop en vir haar te pos. Dit was soveel goedkoper as by die plaaslike winkel, selfs met die posgeld ingesluit. Laura het gevra dat haar rok die kleur van ’n glas Cabernet moet wees. En dit moes glimmer soos wanneer daar ’n kers agter die glas gehou word.

Laura was beïndruk deur ma se manier van spaar en bespaar. Sy het geleer om bewus te wees van prys verskille. Om ’n bietjie rond te soek en te vergelyk. Dat tien rand in haar sak beter was as in die winkeleienaar se kasregister.

Sy het soos ’n prinses gelyk en voel in haar wynrooi rok, hoë silwer sandale en die geleende granaat hangertjie van tannie Esmé. Net so mooi soos die vriendinne wat ontwerpersuitrustings van derduisende rande gedra het.

Die vele ure met haar neus in die boeke het vrug gedra. Laura het keuring ontvang vir die graadkursus in verpleging. Haar hart was seer omdat dit nie vir medies was, wat haar eerste keuse was nie. Sy was egter terdeë bewus dat daar nie geld was om daarvoor te betaal nie, terwyl die verpleging rigting ’n beurs ingesluit het. Die Here se plan is altyd beter.

Op universiteit het Laura weer bevriend geraak met rykmanskinders, want al het hulle nie oorvloedig geld gehad nie, het sy nooit tekort aan selfversekering gehad nie. Sy was oortuig dat rykdom of armoede niemand ’n beter of slegter mens gemaak het nie.

Die effe geroeste ou blou Peugeot, wat pa al gekoop het voor sy twee jaar oud was, was nou haar ‘nuwe’ studente motor. Sy het hom Diamant gedoop en altyd gesorg dat hy blink. Sy het uit die staanspoor geleer hoe om wiele om te ruil, sodat sy nie vir ’n pap band in iemand anders se oë hoef te kyk nie. Haar Diamant het op dieselfde paaie as al die nuwer motors van haar pelle gery.

Vir die eerste koshuis dans het ma vir haar ’n baie eenvoudige maar deftige lang swart aandrok gemaak. Laura het geweet dat dit meet en pas gekos het, om vir die materiaal te betaal en tyd in te ruim om dit te maak. Weer het sy nie ’n duit teruggestaan vir enige meisie nie.

Omdat Laura by ma leer naaldwerk doen het, het sy self ’n plan gemaak vir die volgende opskop. En vele kere daarna ook. Dieselfde swart aandrok was oor en oor verander om elke keer soos ’n vars nuwe uitrusting te lyk.

Een keer met krale borduur. Later in twee gesny om ’n romp en toppie te raak. Nog later die agterkant van die top oopgesny en toegeryg met veter-bandjies. Dieselfde gedoen met die wynrooi afskeid rok. Alles teen die prys van ’n pakkie kraaltjies of lint en garing.

Laura het verlede jaar Desember haar graad behaal en vir haar ’n werk by die Panorama medi-kliniek losgeslaan. Sy deel ’n huis met ’n paar ander jongmense. Sommige studente en ander groentjies in die arbeidsmark, soos syself.

Sy het met die eienaar van die huis ’n ooreenkoms gesluit. Sy sal almal se huur invorder en aan hom oorbetaal. Verder spring sy dan-en-wan met ’n snoeiskêr in die tuin in sodat die leeus hulle nie sal vang nie. Sy rapporteer ook enige probleme aan hom sou iets opduik. Maar sy doen dit nie verniet nie. Inruil kry sy afslag op haar huurgeld en mag sy die garage vir haar nuwe motor gebruik.

Talana en Ilse wat saam met Laura studeer het en ook in die huis woon, is spyt dat een van hulle nie aan só plan gedink het nie.

‘Die afslag kon my studielening se terugbetaling gedek het,’ het Ilse moedeloos gesê.

‘Nou praat jy,’ beaam Talana, ‘dit wil my voorkom asof ek nou minder geld het as toe ons studente was.’

‘Waarvoor het julle studielenings gehad, as die beurse vir alles betaal het?’ het Laura verbaas gevra.

‘Duh…….want my pa het geen benul gehad wat klere kos nie en sy toelaag was net genoeg vir my skoene.’ het Talana uitgespel, terwyl Ilse haar kop skud in erkenning.

‘Hoe het jý dan vir jou klere betaal?’ wil albei weet.

‘Ek het nie altyd nuwe klere gekoop nie. Ek het al my klere meer as eenmaal gedra. Om die waarheid te sê sommer baie maal’ het Laura gesê.

Sy het haar nuwe Diamant in die garage gaan trek en saggies oor sy dak gestreel. In haar hart het sy geweet dat die swaarkry haar kosbare lesse geleer het.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Titel: Meer as eenmaal.
Lekker gelees, baie dankie!
6 jaar 8 maande 2 weke 5 ure oud


Diamant
Werklik nog 'n diamant uit jou pen ...
6 jaar 8 maande 2 weke 8 ure oud


SWAARKRY
Corina het die spyker op die kop geslaan. swaarkry maak jou selfstandig en kreatief.

Die verhaal baie geniet.
6 jaar 8 maande 2 weke 1 dag 5 ure oud


***
Kiekies, dit moet die ouderdom wees, want hier raak ek skoon bewoë met 'n blink wang.

Dis so 'n mooi storie/boodskap -- ek's terug in my jeug se jare...

Ek en 'n vriend het met leerwerk [wat ons in die laerskool geleer het] in ons vrye tyd op hoërskool artikels gemaak en verkwansel en sodoende geld bymekaar gemaak vir universiteit.
6 jaar 8 maande 2 weke 1 dag 9 ure oud


Net so!
Onder swaarkry blom kreatiwiteit. Dankie weereens vir 'n heerlike storie. Soos net jy kan vertel!
6 jaar 8 maande 2 weke 1 dag 17 ure oud


Meer as eenmaal
Daar was 'n tyd toe die waardes gegeld het.
Nou is plestiek geld die in ding en die kinders word so groot.
"Swipe!"
Mooi Storie hoor!
6 jaar 8 maande 2 weke 2 dae oud



Nuutste werk ingestuur binne die afgelope 7 dae


    Geborg deur :

    Van ons ander lede

    Sielswoorde

    deur Driekie Grobler

    Voedsel vir siel - 20 Christelik-geinspireerde gedigte voorgedra deur Jana Swart.



    picture

    Kompetisies

    Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

    picture

    Nuusbriewe

    Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

    picture

    Winkel

    Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar