Jeugverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

(Nog een van die spookstories wat oupa Wynand Breytenbach as kind saans by die vuur langs die houthoop by die oud-transportryer, oom Piet Swanepoel, gehoor het.)

Oom Piet het op ‘n plaas in ‘n vreemde distrik gaan karweiwerk doen.

Een donker nag was hy met sy leë wa en span donkies op pad huis toe van die stasietjie af toe die voordonkies skielik botstil gaan staan. Natuurlik het al die donkies toe gaan staan. Dit het hulle nog nooit vantevore gedoen nie. Oom Piet het dadelik met hulle gepraat en later op hulle geskreeu om aan te loop, maar hulle wou nie ‘n tree vorentoe gee nie. Toe hy met die sweep langs hulle op die grond slaan, het die voordonkies hard gesnork en omgespring. Oom Piet moes vinnig van die wakis afspring om hulle te keer. Met groot moeite het hy hulle terug gelei. En toe sien hy waarvoor hulle so geskrik het. Voor in die pad het ‘n man gesit.

Oom Piet het dadelik nader gegaan en gevra: “Wie is jy? Waarom sit jy hier?”

Die vreemdeling het nie gesê wie hy was nie, maar dat hy daar in die pad ernstig aangerand is. Hy sou baie bly wees as oom Piet hom na sy huis, ongeveer ‘n myl daarvandaan, kon neem.

Toe hulle by die afdraaipad na die huisie toe kom, was die hek so vasgedraai met ou verroeste drade dat dit vir oom Piet gelyk het of dit in geen jare oop was nie. Ook die veldpaadjie was amper onrybaar weens spoelslootjies en los klippe daarin.

By ‘n kleinerige huisie het oom Piet stilgehou en afgeklim. Die beseerde vreemdeling het self sonder hulp van die wa af geklim en deur die voorhekkie gestap sonder om dit oop te maak. Toe hy ook deur die toe voordeur van die huis binnestap, het oom Piet geweet dat hy met ‘n spook te make het en hy het omgespring en wa toe gehardloop. Toe die donkies weer onrustig begin rondtrap, het hy ook geweet dat die spook teruggekom het en iewers in die donker was. Aangesien hy geweet het dat spoke vir lig vlug, het hy haastig met bewende hande die lanterns, wat hy maar altyd op sy nagtogte saamgery het, opgesteek. Met ‘n lantern in die hand, het hy die span donkies teruggelei hoofpad toe.

Die volgende dag het hy by die plaaslike mense gehoor dat hulle van die spokery bewus was. Nie een van hulle sou alleen in die donker op daardie pad gaan nie, want dit was nie ‘n goeie spook nie. Baie jare vantevore is daar ‘n moord gepleeg.

‘n Skaapwagter en sy gesin het in daardie huisie gewoon. Eendag, terwyl die wagter by sy skape in die veld was, het ‘n berugte moordenaar, na wie die polisie al lank gesoek het, by die huisie aangekom. Hy het die vrou katswink geslaan, haar en die kinders vasgebind, al die geld en kos gevat en geloop.

Toe die wagter kort daarna by die huis kom en hoor wat gebeur het, het hy sy honde geroep en die booswig agterna gesit. Toe hulle hom inhaal, het hy ‘n lang mes uitgepluk en op die wagter afgestorm. Gelukkig het die honde hom bespring en sodoende hulle baas ‘n kans gegee om sy aanvaller met sy kierie teen die kop te slaan. Die hou was egter so hard, dat hy gesterf het. Omdat die skaapwagter homself maar net verdedig het, was hy nie aan moord skuldig nie.

Van daardie dag af het die spook geloop. Omdat die moordenaar ander mense nooit met rus gelaat het nie, het sy spook ook nooit rus gekry nie.

“Dit was ‘n swart spook,” sê die verteller.




Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

28
Ja sien jy nou? Dit is waar! Soos jy lewe, so sal jy sterwe. Oe alla ek sou sommer sonder die wa en donkies pad gevat het.Nog 'n lekker lees, baie dankie.
7 jaar 4 dae 22 ure oud


DIE MAN IN DIE PAD
Ja-nee, ek onthou nog die spookstories wat my oupa my vertel het. Maar met deesdae se TV en Internet...

Dankie Elise, dat ek weer kon onthou.
7 jaar 6 dae 17 ure oud


O genade
Rilling op rilling ... Baie goed vertel, dankie Elise!
7 jaar 6 dae 19 ure oud


swart spoke


. . . . die probleem met swart spke in die nag is jy kan hulle nie sien nie,

maar hulle sien jou en dan blaas hulle in jou gesig,
of hulle blaas die lantern of kers dood,

swart spoke kom in baie huise in deur kunswerke,
veral uit die Ooste en ook uit Afrika.

Ek het een aand so 'in swart spook in my suster se huis gesien, en myself amper nat gepis, van die rilling in my nek.

Toe sy inkom en die lig aanskakel,
was daaar niks,
maar toe hoor ek en sy die geklop in 'n ou antieke kas wat sy gekoop het wat blykbaar uit die lokasie gekom het.

Nadat ek by my suster weg is,
het sy ongelooflike ervaring gehad met 'n Persiese Mat en 'n stoom yster, waar die gees haar hand vasvat en weier dat sy die mat stoomskonmaak.

Har dogter het 'n boek by iemand geleen,
wat die snakse patrone op die mat aanwys met die gees se boodskap uit die Ooste.

Haar seun het dire keer probeer om die mat te verbrand.

eers me die derde poging toe hy die mat in petrol laat week het vir 'n paar uur,
kon die mat vlam vat,
en snaks genoeg het 'n ronde potblou balvuur
uit die mat in die lug in gespring en toe verdwyn.


7 jaar 1 week 1 uur oud


Spoke
Elise, ek geniet jou stories baie - doen so voort.
7 jaar 1 week 1 uur oud


...
Die kinders het altyd saans by die koshuis dié soort stories vertel...tot almal sooooo doodbang was. Omdat ek nie bang was nie, moes ek altyd daarna die vensters gaan toemaak. (Dat die spoke nie kan inkom nie. Hie-hie.) Die snikhete Suidwes-aande ten spyt. Ek het dit maar gedoen om hulle te troos. Ék is weer doodbang, vrekbang vir slange, geitjies, paddas en sulke grillerige goed. Dankie, dis baie lekkerlees.
7 jaar 1 week 12 ure oud



Bertha se Stories

deur natasha dutton

"...my issues is maar soos joune, my vrese gegrond op ervarings, dinge waarvoor jy ook bang is. Die enigste verskil is, ek is 'n stort mens, geen badprop wat my geparfumeerde water in toom kan hou nie. Die lewe is nie 'n bad vol foam bath nie, nee jong, so maklik is dit nie. Die poepwalms laat jou verstik, nie eers te praat van die vloeistowwe nie! Maar dis die lewe." Wel, nou weet jy wat om van hierdie boek te verwag...



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar