Jeugverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

(Oupa Wynand Breytenbach vertel aan die kleinseuns van twee ontmoetings met hondsdol diere in die dae toe daar nog geen genesing daarvoor of inenting daarteen was nie.)

1936
Ek was in standerd twee toe ek vir die eerste keer ‘n dier wat met hondsdolheid (hidrofobie) besmet was, gesien het.

Ons was een middag besig om asem te skep met koffie en brood op die ploegland, toe ons skielik ‘n geluid soos fyn blaffies hoor.

‘n Bont muishond, ook genoem ‘n stinkmuishond, het oor die land na ons toe aangedraf gekom. Toe Galant, een van die werkers, ’n kluit in sy rigting gooi, het sy liggaamshouding heeltemal verander. Met stert omhoog en al die hare op sy lyf en stert regop gerys, het hy vir Galant bestorm.

“Hy is met hondsdolheid besmet!” het Vader uitgeroep en almal beveel om uit sy pad te bly. Galant het die karwats gegryp en die muishond daarmee toegetakel, maar dit het gelyk asof die houe geen uitwerking op hom gehad het nie, want hy het steeds probeer om die werker aan die bene of voete te byt.

“Ons moet hom weghou van die ploegdiere af!” het Vader weer uitgeroep en die muishond met die graaf van agter af bygedam en doodgeslaan.

Ons het hom net daar in ‘n diep gat toegegooi.

1957
Ek was inwonende hoof van ‘n seunskoshuis op Vryburg en het ‘n mooi groentetuin op die koshuisgronde gehad.

Vroeg een môre het van die prefekte vir my kom sê dat daar ‘n mal hond op die terrein was. Hy het slingerend geloop en van die leerlinge bestorm.

Ek het al die kosgangers beveel om in hul slaaplokale te bly en gewapen met ‘n .22-geweer het ek die dier gaan soek.

Toe ek by die tuin verbystap, het hy dreigend geknor. Hy was net-net sigbaar tussen ‘n paar groot tamatiestoele. Dit was ‘n groot dier en aangesien ek baie versigtig moes optree, wou ek dit nie te naby aan hom waag nie.

Op ‘n afstand van so sewe treë was ‘n gedeelte van sy sy sigbaar. Ek het daarop aangelê en geskiet.

Die dier het hard gegrom en my dadelik bestorm. Sy oë was diep in sy kop en kwyl het by sy bek uitgehang. Hy was so vinnig by my, dat ek nie weer op hom kon aanlê met die geweer nie. Ek het hom met die roertjie se loop se punt van my af weggedruk en kort-kort ‘n skoot in sy nek en borskas geskiet. Dit was ‘n repeteer-geweer en eers na die vyfde skoot het die ondier geval.

Ek het die dooie hond baie diep begrawe.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

32
Jongie dis n liederlike siekte en nou het jy my sommer 'n idee gegee vir my eie storie oor hondsdolheid.
Lekker interessante storie die!
7 jaar 3 maande 2 weke 1 dag 23 ure oud


Mondstories
Baie interessante vertellings hier...lees lekker!
7 jaar 3 maande 2 weke 3 dae 18 ure oud


Hondsdolheid
Angswekkend hoor!
7 jaar 3 maande 2 weke 4 dae 1 uur oud


hongsdolheid


. . . . is 'n probleem hier in SA.

Mense is alreeds daarvan dood.

97 cases of rabies in KZN this year 2012-05-07 13:05
Durban - At least 97 cases of rabies in cats and dogs have been reported in KwaZulu-Natal since the beginning of the year, the provincial rabies project said on Monday.
http://www.news24.com/SouthAfrica/News/97-cases-of-rabies-in-KZN-this-year-20120507
7 jaar 3 maande 2 weke 4 dae 5 ure oud


Jammer...
"Ek" in die tweede laaste sin moes met 'n hoofletter wees. My vinger was te vinnig!
7 jaar 3 maande 2 weke 4 dae 10 ure oud


...
Gelukkig is niemand darem gebyt nie! Die koedoes in Namibië kry so van tyd tot tyd hondsdolheid...maar wag, die storie is te lank vir hier. ek sal hom later vertel. Dankie vir hierdie heerlike stories.
7 jaar 3 maande 2 weke 4 dae 10 ure oud



Gister se Onthou

deur borrels

ek pluk 'n klompie letters van 'n laning woord-bome af dan bou ek 'n vers daarmee die trand daarvan soms bietjie laf maar die woorde van die verse kom diep hier uit my hart dit skets die liefde van die lewe soms met pienk en soms met swart



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar