Jeugverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

(‘n Waar verhaal uit oupa Wynand Breytenbach se kinderdae)

Dit was ‘n windstil dag in die hartjie van die somer op ons plaas Scherpenheuvel in Worcester se distrik toe die volgende voorgeval het:

Toe ons die huis na middagete verlaat om in die wingerd te gaan werk, sien ons ‘n blanke man padlangs aangestap kom. Hy het dadelik baie aandag getrek. Alhoewel hy niks ouer as vyftig jaar was nie, was sy hare spierwit grys. Boonop was hy gekleed in ‘n wit safari-pak – klere wat in daardie dae in ons kontrei onbekend was. In sy regterhand (sy linkerarm was af), het hy ‘n kleinerige koffertjie, wat met ‘n yslike slot toegesluit was, gedra. Na ‘n oor en weer groetery het hy homself bekend gestel.

Hy was ‘n vermoënde veeboer van iewers in die Oostelike Provinsie (name het my al ontgaan). Hy het vertel dat hy een dag met sy haelgeweer veld toe gestap het om ‘n wildsbok te gaan skiet. Hy het ‘n paar rooiribbokke gewaar, maar moes deur ‘n draadheining kruip om hulle onder skoot te kry. Hy het eers die gelaaide geweer teen die heining staangemaak, deurgeklim en daarna die geweer aan die loop beetgekry en dit na hom toe getrek tussen die drade deur. In die proses het die geweer se haan aan een van die drade gehaak en toe dit losglip gaan ‘n skoot af. Die bokhael het sy linker elmboog vergruis.

Toe hy sy huis bereik, het ‘n koma hom oorval as gevolg van bloedverlies en pyn. Hy was lank in die hospitaal waar sy arm geamputeer was. Die skok van alles was so erg dat hy oornag grys geword en sy stem verloor het.

Hy het so hees-hees gefluister; ‘n geluid wat my aan ‘n makou laat dink het

Hy was so depressief dat hy nie langer wou lewe nie en het selfmoord oorweeg. Sy dokter het hom aangeraai om vir ten minste ses maande weg te gaan. Hy kon dit bekostig. Aangesien hy in murg en been ‘n boer was en nog altyd in verskillende soorte boerdery geïnteresseerd was, het hy besluit om ‘n staptog deur die Boland te onderneem en ‘n studie van al die boerderymetodes te maak met die oog op die publikasie van ‘n boek.

Hy was vir ‘n maand op ‘n plaas in McGregor se distrik waar hy baie inligting oor druiweverbouing ingewin het. Toe hy ons plaas van die pad af sien, het hy dadelik besef dat dit die beste plaas sou wees om gemengde boerdery te bestudeer. Hy het dus huisvesting vir ‘n maand gesoek op voorwaarde dat hy weekliks daarvoor sou betaal, en sodra die boek gedruk was, sou Vader ‘n kopié daarvan kry. Gratis natuurlik.

Aangesien hy nie inbreuk op ons gesin se privaatheid wou maak nie en self ook ongesteurd wou skryf, is daar vir hom op die waenhuis se solder ‘n tydelike werk- en slaapplek ingerig met al die nodige fasiliteite. Daar was baie ruimte, aangesien daar net ‘n stuk of vyftien sakke koring, twee lang houtbalke en spaar onderdele van implemente, soos ploegskare, gestoor was.

Voormiddae het die skrywer met papier en potlood op die plaas rondgestap en aantekeninge gemaak en namiddae het hy sy informasie verwerk. So het hy gesê. Ek het ‘n paar middae vir hom koffie solder toe geneem waar ek hom elke keer vas aan die slaap op sy bed aangetref het.

Na twee weke het hy verskoning gemaak dat hy nog nie betaal het nie omdat sy tjekboek se blaadjies opgebruik was. Daar is toe gereël dat hy die volgende dag saam met Vader dorp toe sou gaan om sake reg te stel. Die volgende dag kon hy egter weens maagprobleme nie saamgaan nie. Miskien was dit goed dat hy tuis sou bly, want dan kon hy sy vyfde oefeningboek oor gemengde boerdery voltooi, het hy gesê.

Nadat my ouers weg was, het Marrie, die wasvrou, gesê dat sy nie die gas vertrou het nie. Hy het haar gevra om sy klere te was en omdat sy weens doofheid nie sy hees gefluister kon volg nie, het hy normaal gepraat.

My oudste broer, Kerneels, wat lankal reeds hond se gedagtes gehad het, wou al ‘n paar keer sy koffertjie oopmaak wanneer hy buitekant doenig was, maar hy het die sleutel waarskynlik orals saamgedra.

Toe ek later vir die oom koffie neem, was hy besig om ‘n sokkie te stop. Die slot het langs die koffertjie gelê. Kerneels het dadelik besef dat die oomblik van waarheid aangebreek het. Vinnig verduidelik hy sy plan van optrede aan my.

Ek gaan terug solder toe en vra hom om my gou te help om een van die lang balke uit te dra. Hy het sy sokkie op die bed neergesit en hand bygesit. Toe ons buite kom, haal ek hom oor om my te help om dit op ‘n wa daar naby te laai. Toe ek en hy weer in sy ‘bo-vertrek’ kom, wag Kerneels hom daar by sy koffertjie in. In inhoud, bestaande uit ‘n tweede safaripak, ‘n paar sokkies en ‘n groot kakiesakdoek, lê op die tafel uitgekeer. Kerneels wou weet waar sy boeke was, waar sy leë tjekboek was en waarom hy normaal met die wasvrou gepraat het.

Eers toe Kerneels hom met Vader dreig, het hy sy blufspel erken en mooi gesoebat dat Kerneels hom moes laat gaan voordat my ouers opdaag van die dorp af.

Binne minute het die padloper koers gekry, weg van die plaas af.

Ek is tot vandag nog spyt dat Kerneels hom nie gevra het waarom sy linkerarm af was nie, want sy storie daaroor was waarskynlik ook ‘n leuen.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

...
Sjoe...ek wonder darem wie was hy regtig. Het julle nooit uitgevind nie? Dankie weereens vir die lekker storie. :)
7 jaar 2 maande 3 weke 4 dae 7 ure oud


33
Of dalk was dit die enigste waarheid. So slinkse derduiwel. Hierdie was sommer 'n baie leekker-lees.
7 jaar 2 maande 3 weke 4 dae 18 ure oud


skrywer
Ek wonder soms hoeveel van die +-3 500 lede van Woes het ook geen skryfgoed nie -- wonder maar net...

Dankie vir die storie.
7 jaar 2 maande 3 weke 4 dae 22 ure oud


Die leuenaar
Gelukkig is hy so vinnig uitgevang!
7 jaar 2 maande 3 weke 5 dae oud


tikfoute jammer

tefel = tafel

inset: hy het langer as 'n week daar gebly.

sttorie = storie

sklud = skuld
7 jaar 2 maande 3 weke 5 dae 2 ure oud


kansvatters


. . . . jare terug, seker in die 1950's,
kom so groot dik ou by ons aan,
lang storie aan my Ma en meneer sit saam aan tefel,
later nog 'n storie en toe word vir hom 'n bed voorsien,
vir die nag, toe nog 'n storie en so gaan dit aan.

Toe 'tackle' my Pa die vent en wil weet wat is sy sttorie.

Soos jy self kan aflei,
nog voordat iemand weer iets kon vra het die vent verdwyn.

Nou ja, toe konfronteer ek my Pa en Ma,
hoekom hulle sulke wild vreemdes in ons huis toelaat.

Toe kom die antwoord:

Hulle het dit saam bespreek en gewonner:


Vergeet die gasvryheid nie, want daardeur het sommige, sonder om dit te weet, engele as gaste geherberg.
[Hebreërs 13:2]

Maar daar is 'n toets:

Vra of hulle die Gebooie doen?

. . . en sodra hulle antwoord,
sal jy dadelik weet:

Tot die wet [Torah] en tot die getuienis!
As hulle nie spreek volgens hierdie woord nie,
is hulle ‘n volk wat geen dageraad het nie.

[Jesaja 8:20]

Enigiemand, mens of engele, wat teen die Torah, spreek, het nie 'n rein gees nie, en kan nie vertrou word nie, het hulle my breedvoerig ingelig.

Later is uitgevind dat die kerel weggeloop het van sy vrou en kinders omdat hy sklud gehad het, en kon nie betaal nie.
7 jaar 2 maande 3 weke 5 dae 2 ure oud



Die legkaart van ons lewe

deur hopeanointed

Jare se ervarings van diepe seer het ons geleer dat ons lewe ṅ legkaart is in God se hand wat Hy spesiaal uitgesoek het deur Sy liefde en genade om te voltooi. ṅ Legkaart, kosbaar en uniek waarvan elke stukkie sorgvuldig met tyd en geduld uitgesoek word om presies in plek te pas. ṅ Legkaart in bou om aan ṅ gebroke wêreld te wys dat Jesus Leef!



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar