Jeugverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

(Oupa Wynand Breytenbach het graag aan sy kleinseuns van ondevindings vertel wat hy as jong seuntjie saam met die transportryer, oom Piet Swanepoel, wat by hulle ingewoon het, opgedoen het.)

Een Saterdagoggend het oom Piet Swanepoel veld toe gestap om te gaan vasstel of dit goed gaan met sy donkies. Ek, toe tien jaar oud, het hom vergesel. Drie van sy donkies, ‘n reun met die naam Donker, en ‘n merrie met ‘n opgeskote vul was weg.

Ons het hulle naby ‘n boomryke kloof, waar dit uit die berg gekom het, aangetref.

Toe Donker ons gewaar, het hy met ‘n fiere houding en ore na vore gespits staan-staan en proes-proes na ons toe aangekom. Vir my het dit gelyk asof hy ons wou bestorm en as ek alleen gewees het, sou ek weggehardloop het. Oom het my egter gerusgestel en gesê dat reundonkies so optree wanneer hulle nuuskierig is.

Toe ons die drie donkies nader, sien ons dat die vul lelike krapmerke op sy rug en ‘n diep wond aan sy keel het.

“’n Luiperd het hom aangeval,” het oom Piet gesê. Hy was daarvan seker dat Donker tot die vul se redding gekom het, want hy was gewoond daaraan om honde, wat nie naby hulle base was nie, te jaag.

Hoër op in die kloof was ‘n standhoudende fonteintjie en ons het daarheen gestap. Daar kry ons sommer baie luiperdspore in die nat sand by die water.

Ons het die drie donkies na ‘n veiliger plek gejaag en vinnig huis toe gestap om van ons ontdekking te vertel.

Maandagmôre is vyf boere die veld per vragmotor in, saam met die jakkalsjagter en ses jakkalshonde. By die kloof aangekom, het vier van die gewapende boere aan weerskante van die kloof ‘n entjie teen die berghang uitgeklim en die luiperd voorgesit. Die vyfde, ‘n jongman van agtien jaar, het erken dat hy bang was en het met sy haelgeweer sommer naby die ingang van die kloof ‘n entjie teen die berghang uitgeklim en op ‘n hoë rots gaan sit. Hy was seker dat die luiperd nie daarlangs sou kom nie. En as hy dit sou doen, sou hy wat Hendrik Eksteen was, daar hoog op die rots buite sy bereik wees.

Toe alles en almal gereed was, het Groenewald, die jakkalsjagter, die honde losgelaat. Hulle het onmiddellik die ondier se reuk gekry en kef-kef tussen die bome deur kloof-op gehardloop.

Groenewald, wat gewoond daaraan was dat roofdiere soms onvoorspelbaar optree, het die berghang dopgehou. Dit was ook maar goed, want nadat die honde tussen die bome verdwyn het, het hy gesien hoe die luiperd sommer hier naby hom teen die berghang uithardloop, reguit na Hendrik toe. Laasgenoemde was onbewus daarvan, want hy het die honde daar onder in die kloof dopgehou. Eers toe Groenewald met sy karwats begin klap om die honde terug te roep en Hendrik se aandag te trek, het die jongman omgekyk en die luiperd gesien. Die dier was ongeveer twintig treë van hom af toe hy hom doodskiet. Die haelkorrels het sy voorkop binnegedring.

Intussen het ons kinders voor die huis rondgedraai om te sien wanneer die jagters terugkom. Die lorrie was nog ver van ons af toe ons die luiperd, oor die enjinkap gedrapeer, sien.

Hendrik het die luiperdvel gekry.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

ai
die arme dooie luiperd
7 jaar 5 maande 1 dag 18 ure oud


Luiperd
Ja, dit was 'n ander tyd nè? Dankie vir die storie.

Ons het ook maar baie geskiet, maar as ek nou terugdink hinder dit my, vernaamlik 'n baie groot arend wat die hoenders sou vang. My ma het dikwels vir my gesê: Ouboet gaan skiet vir ons 'n paar duiwe vir sop -- dan was dit nie lank nie dan het ons genoeg vir sop gehad.
7 jaar 5 maande 2 dae 13 ure oud


35
En voorwaar verdien! As ek Hendrik was sou ek moes huistoe stap want ek sou te sleg geruik het om in die voertuig te ry.
7 jaar 5 maande 2 dae 19 ure oud


Luiperd
Voorwaar 'n noue ontkoming vir Hendrik,
7 jaar 5 maande 3 dae 3 ure oud


...
Dankie Elise, dit was weer 'n lekker storie. :) Deesdae wil die bewaringsmense mos nie hê mens moet skiet nie. Liewer vang in vanghokke, maar ek onthou, tydens ons kinderdae was daar net een oplossing vir roofdiere. Mens kan dit ook verstaan. In ons omgewing was daar baie boere wat nog gereeld leeus gaan jag het. (Ons plaas was naby die Etosha wildtuin.)
7 jaar 5 maande 3 dae 9 ure oud



vir koeitjies en kalfies

deur Doret Johnstone-Robertson

'n Lekkerleesboek met kort stories vol liefde, spesiaal vir vrouens en kinders.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar