Jeugverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

(Soos vertel deur Wynand Breytenbach)

Ek is 11 jaar oud. Vrydag, skemeroggend, ry ek en broer Kerneels met die perdekar na die veepos toe wat naby die verste grens van die plaas geleë is. Ons moet vroeg daar aankom terwyl die skape nog in die kraal is, want Kerneels moet ‘n slagding saambring huis toe.

Aangesien dit vakansie is, wil ek die dag saam met Karools, die wagter, in die veld deurbring en dus neem ek ‘n ryperd ook saam. Dié is sommer agter aan die kar se karet vasgemaak.

Die veepos bestaan uit ‘n een-vertrek-sinkdakhuisie. Sowat drie meter van die huisie af is daar ‘n kookskerm van pale wat bo-oor en aan drie kante met takke dig toegepak is. Die skaapkraal is net ‘n entjie verder teen ‘n skuinste gebou sodat reënwater kan wegvloei voordat die honderde skaapkloutjies die kraalvloer tot ‘n modderpappery kan trap.

Toe ons die veepos nader, kom drie honde ons blaffend tegemoet gehardloop. Vooraan is Boesman, die kortbeen keffertjie. Kort op sy hakke volg Boepens, die steekhaarbrak en dan Follies, die windhondreun.

Karools staan by die kraalhek met ‘n bladsak wat teen sy linkersy hang en met ‘n gevlegte karwats in sy regterhand. Hy dra selfgemaakte velskoene sonder sokkies en kamaste, ook van vel gemaak. Die kamaste verhoed dat sy langbroek se pype deur die bosse uitgerafel word en beskerm sy bene ook teen slangbyt, sou hy in ruie gras per ongeluk op ‘n slang trap.

“Môre, Karools,” groet Kerneels en verneem: “Hoe staan sake hier?”
Met ‘n baie tevrede uitdrukking op sy gesig sê Karools: “Nee, dit gaan geil. Die weiding is volop en die skape vreet volbek; nie net ‘n happie hier en ‘n happie daar nie. Die brommers pla ‘n bietjie, maar het nog nie skade gemaak nie. Ek ondersoek die natterige wol om en onder die sterte gereeld vir brommereiers en maaiers en ander onsuiwer. ‘n Man moet hulle vernietig voor hulle sere maak."

Terwyl Kerneels die trop deurkyk, sê hy: “Ek sien die lammeroes kom aan.”
“Baie mooi,” sê Karools en gaan leun met sy voorarms op die kraalhek. “Ek kan nie te ver van die pos af laat wei nie, want op party dae lam die ooie so druk dat ek nie al die swak lammertjies voor donker in die kraal kan kry nie en dan vang die jakkalse hulle.” Karools oorhandig ‘n lang kierie wat by die kraalhek gestaan het aan Kerneels, wat die aantal kepies wat daarop uitgekerf is, tel. “Tweehonderd vyf-en-twintig lammers,” sê hy. ‘n Kepie vir elke lam.

Met sy oë stip op ‘n ooi gevestig wat in die hoek van die kraal met ‘n riem om die nek aan ‘n paal vasgemaak is, sê Karools: “Nog net daardie ooi daar het haar pasgebore lam net so gelos. Ek dink dis omdat dit haar eerste lam is, want haar kondisie is goed genoeg om vir die kêreltjie te sorg. Oorgenoeg melk. Ek het haar gisteraand vasgemaak en die lam laat suip aan haar. Nou sien ek sy laat hom toe om self die speen te vat.”

Kerneels raak haastig en sê: “Karools, ek het vir jou ‘n bietjie proviand gebring: koffie, meel, stampmielies, suiker, tabak, vuurhoutjies, seep, pampoene en patats. Vang gou vir my ‘n vet skaap om te slag.”

Karools stap voetjie vir voetjie tussen die skape deur wat ook voetjie vir voetjie vir hom padgee. Skielik gryp hy ‘n ou ooi vas, voel-voel met sy vingerpunte oor haar kruis en ribbe en sê: “Goeie kondisie.” Nou knyp hy haar nek tussen sy bene vas, kyk na haar tande en sê: “Ja, net soos ek gedink het. Die tande is al so geslyt dat sy nie nog ‘n lam sal kan grootmaak of ‘n droogte oorlewe nie.”

Die ooi, in ‘n streepsak toegebind sodat net haar kop uitsteek, word op die kar se karet vasgemaak.

Terwyl Kerneels terugry huis toe, maak Karools die kraalhek oop en die trop sprei dadelik die veld in. Ek en Karools gaan sit op die hoogste bult agter hulle waarvandaan hy hulle onverpoosd dophou. Toe ‘n paar skape afdwaal, wys hy met ‘n uitgestrekte arm na hulle en beveel: “Boepens, Boesman, keer hulle!” Die twee honde draf met ‘n wye draai voor die skape in en toe hulle verskrik omspring, gee Karools ‘n harde klap met die karwats wat die honde in hulle spore laat omdraai en terugkom.

Terwyl ons na ‘n volgende hoë bult versit, wys Karools vir my ‘n kambro- en ‘n baroeplant. Met ‘n dikkerige olienhoutboomstok grawe ek die ondergrondse knolle uit. Die melkerige kambro, wat lyk soos ‘n groot patat, smaak soet, maar die baroe, wat so aartappelgrootte is, smaak nie vir my so lekker nie.

Intussen het Karools aan ‘n duikervelletjie begin brei. Hy smeer telkens vet aan die onthaarde velletjie en brei dit met sy hande om die velletjie sag te maak. Hy sal dit later aan Vader verkoop vir die maak van voorslae, skoenveters en riempies om skoene en tuie mee heel te maak.

Ongeveer om twaalfuur laat Karools die trop terugdraai huis se kant toe. Uit sy bladsak haal hy ‘n paar askoeke en nadat hy vir die honde elkeen sy porsie gegee het, eet hy syne saam met koue swart koffie uit ‘n gewone wynbottel. Ek het so baie veldvrugte, waaronder ook wilde vinkel, geëet dat ek nie honger is nie.

Nou haal Karools ‘n halfpad gevlegte karwats ook uit sy bladsak, haak die voltooide punt om die neus van sy een skoen en vleg die twaalf los repe gebreide vel behendig tot ‘n egalige ronde eenheid wat geleidelik dunner word na die punt toe.

Skielik vestig Karools my aandag op ‘n skaap wat heen en weer tussen die bosse loop asof sy na iets soek. “Wil lam,” sê hy asof hy met homself praat. Na ‘n ruk stap ons daarheen en kry die ooi wat ‘n tweeling soog.

Terwyl ek by die trop agterbly, tel Karools die lammers aan hul voorpote op en begin stap in die rigting van die veepos. Die ooi draf blêr-blêr agterna. Skielik spring sy om en hardloop blêrend terug na die geboorteplek toe. Karools sit die kleingoed dadelik neer en aap die geblêr van ‘n lam na. Die moeder reageer onmiddellik deur terug te draai. Nadat die lammers so effentjies gedrink het, word die proses herhaal.

Karools kom terug en sê dat hy die lammers en hul ma so ‘n kilometer van die kraal af by ‘n dammetjie gelaat het.

Later het daar nog twee lammers aangekom, maar dié dra ons met ons saam agter die trop aan. Toe die kraal laat namiddag in sig kom, draai ons om na die dammetjie om die ooi en haar tweeling te gaan haal. Vanaf die naaste bult sien ons tot ons ontsteltenis dat die skapies in groot gevaar verkeer. Die tweeling lê teen ‘n bos en die ooi staan voor hulle en kyk dreigend na ‘n jakkals wat haar stip dophou. Skielik storm Vossie vorentoe, maar toe die ooi hom met kop omlaag inwag en na hom mik, swenk die lafhartige roofdier na regs en hardloop in ‘n al nouer wordende kring om haar. “Sy plan is om haar weg te lok of bang te maak en soos ek ‘n skaap ken, gaan sy nou-nou weghardloop,” sê Karools.

Hy tel die windhond op en wys die ooi vir hom. Aanvanklik kan die hond die skaap nie raaksien nie, maar skielik sien hy die jakkals, spring uit Karools se arms en pyl met mening op die ondier af terwyl Boepens en Boesman so al wat hul kan probeer om hom in te haal. Toe die jakkals hom kom kry, is die windhond feitlik op hom. Tog kry hy dit reg om hom aanhoudend te ontwyk met kort jakkalsdraaie. Ongelukkig vir hom beland hy tussen Boesman en Boepens en terwyl hy hulle ook probeer ontwyk, vang die vinnige windhond hom en saam-saam byt die drie honde hom dood.

Karools sny die jakkals se ore en stert af, want die Afdelingsraad, wat jakkalse uitgeroei wil hê, betaal goed vir daardie bewyse.

By die kraal gaan staan Karools in die hek en tel die skape wat een-een, twee-twee en selfs drie-drie by hom verby na binne loop.

Terwyl die skape hulle lê kry, stap Karools kookskerm toe om te gaan kosmaak en ek ry te perd huis toe.



(karet : bagasierak agter op die perdekar)

(voorslag : ‘n dun saggebreide riempie wat voor aan ‘n sweep se punt vasgemaak word. ‘n Sweep kan nie klap sonder ‘n voorslag nie. Die klapgeluid is as gevolg van die voorslag wat deur die klankgrens breek)



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

37
Alla magtie, het ek nou lekker saam in die veld loop kuier. Dis so goed gesê:
“Nee, dit gaan geil. Die weiding is volop en die skape vreet volbek;
7 jaar 3 maande 3 weke 2 dae 14 ure oud


Skaapwagter
Dankie, Elise. Dis heerlik dat jy die ou, vergete dinge weer so lewendig maak.
7 jaar 3 maande 3 weke 5 dae 19 ure oud


Skaapwagter
Ag dis so 'n lekker wegvat-storie hierdie. Mens ruik die plaas in die woorde.
7 jaar 4 maande 5 dae 21 ure oud


Skaapwagter
Dankiie Elise, lekker gelees hieraan, bly om te sien daar is nog iemand wat hierdie stukkie erfenis aan ons kinders kan agterlaat.
7 jaar 4 maande 6 dae 16 ure oud


Skaapwagter
Dankie Elise, vir hierdie verrykende stukkie -- ek het dit baie geniet. Stem ook saam met ander kommentators.

Groete, Vic
7 jaar 4 maande 1 week 12 ure oud


Skaapwagter
Baie dankie vir nog 'n waasdevolle 'erfenis' met ons gedeel.
7 jaar 4 maande 1 week 1 dag 1 uur oud


Carol
ek maak ook baie tikfoute

vorige jeugverhaal is omgeruil,
hier onder
7 jaar 4 maande 1 week 2 dae 4 ure oud


ek stem saam
met sneeuwolf:

Hierdie is 'n Taal en Volk en Boerkleinood.

Tegnologie sal nie op die Nuwe Aarde wees nie,
maar kennis van die veld en diere en natuur en weer.

Dankie Elise,
ons almal hier op woes,
behoort hierdie volksgeskiedenisverhaal,
epos aan al ons vriende en familie,
om dit weer vir die kleinspan te vertel,
om te bewaar.
7 jaar 4 maande 1 week 2 dae 4 ure oud


Juwele
Waaragtig juwele.
Bekyk ek die "kompetisie" uitslae en sien hoe politiek stadig maar seker die Afrikaanse Kultuur insypel.
"Wenners" het almal kleur simpatie / gevoelige aanslag.
Watch my volgende bydrae!
7 jaar 4 maande 1 week 2 dae 8 ure oud



Stromateia: 'n Lappieskombers van Gedigte

deur Vesting

Op aandrang is die gedigte van Vesting wat op Woes gepubliseer is, in boekvorm uitgegee (A5, slapband, 28 pp). Navrae: 072 4078561



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar