Jeugverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

(Oupa Wynand Breytenbach vertel verder oor sy kindertyd)


Perde en muile was ‘n integrale deel van ons alledaagse bestaan in my kinderdae op Scherpenheuvel.

BARKLEY

Ek en Vader was eendag met die perdekar dorp toe. Nadat ons al die benodigdhede, onder andere ‘n sak meel van 200 pond (91 kg) en ‘n sakkie suiker van 100 pond (45,5 kg) gekoop en op die kar gelaai het, het ons die terugtog met die swaar vrag begin.

Dit was gou duidelik dat een van die perde, Nancy, siek was en dat Barkley, die ander perd, die kar alleen sou moes trek. Aanvanklik het Nancy nog saamgedraf, maar sy het stadigaan uitgesak totdat Barkley die bykomende las gehad het om haar ook saam te trek. Teen die hoogtes moes Vader sommer kort-kort stilhou om die moedige Barkley te laat rus. Dan het hy sy kop dadelik laat hang terwyl sy asem vreeslik gejaag het. Om te verhoed dat hy flou word, het ons maar stadig voortgesukkel en laat die aand eers tuisgekom. Barkley was ons held, ‘n staatmaker duisend!

Toe Barkley al oud was, het sy voorbene so styf en seer geword, dat hy nie meer wou draf of galop nie. Hy het toe van genadevoer geleef totdat hy papies gekry en gevrek het.

NUGGET

Nugget was ‘n jong, pikswart hingsperd wat ‘n puik trekperd was en sommer uit die staanspoor wou hardloop. As hy stapwerk móés doen, soos ploegtrek, moes jy hom vooraf ‘n rukkie rondlei om aan die stappery gewoond te raak. Indien jy dit nie gedoen het nie, het hy met die wegtrek probeer hardloop en aangesien hy dit nie met die ploeg kon doen nie, het hy dan moedeloos gaan staan en geweier om weer ‘n poot te versit. Dan was hy daardie hele dag steeks.

Op ons buurplaas het ‘n brandarm bywoner ingetrek. Sy mede-boere het hom met gereedskap gehelp. Vader het Nugget en ‘n wingerdploegie vir hom gegee en hom die versekering gegee dat hy nie ‘n beter perd kan kry nie, mits hy die hings eers vooraf opwarm. ‘Instel’, het Vader gesê.

Nee, dis goed dat Vader hom gewaarsku het, het hy gereageer, want vir ‘n steeks perd moet ‘n man oorgehaal wees. Hy het al baie steeks perde van hul kwaal genees.

Die eerste môre toe hy Nugget, sonder om hom vooaraf op te warm, voor die wingerdploegie span, het sy werksmense later kom vertel, het hy met ‘n houtknuppel skuins agter hom stelling ingeneem. Toe hy op die perd skree, spring hy vorentoe en toe hy voel die ploegie kom nie vinnig genoeg nie, steier hy terug. Dis toe dat die nuwe baas hom met die hout agter die oor slaan. Die waardevolle dier het net daar neergeslaan, morsdood!

BAILEY

Ons kinders het met ‘n treppie skool toe gery. Sodra ou Bailey, die perd, na skool ingespan was, het hy so haastig geword om by die huis te kom, dat hy nie wou wag totdat almal op die kar was nie. Kort-kort het hy vorentoe gestap en dan het broer Naas, die leiselhouer, hom hardhandig teruggerem na sy oorspronklike staanplek toe. Hy het so gewoond geraak aan die tru-staan, dat hy later, wanneer hy beveel was om te loop, eers ‘n ent geretireer het en dan so vinnig vorentoe gespring het, dat hy al ‘n slag die swingelriem gebreek het.

Toe besluit Naas om hom ‘n les te leer. Hy het die agterkant van die treppie teen ‘n boom aangedruk en hom toe beveel om te trek. Natuurlik het hy met mag en mening teruggedwing, maar tevergeefs! Na ‘n paar dae was ou Bailey gerehabiliteer.

SHADOW

Ons het ‘n jong hingsperd gehad met so ‘n dowwe, skaduagtige skimmelkleur met die naam Shadow. Hy is alleen eenkant in ‘n kampie aangehou en dit was my werk om hom saans stal toe te bring en soggens weer terug te neem. Aangesien hy nog nie saalgeleerd was nie, moes ek hom lei.

In die een hoek van die kampie was daar ‘n dammetjie met ‘n groot klip daarin wat bo-kant die wateroppervlak uitgesteek het.

Een aand het ek besluit om die perd te ry, maar aangesien ek bang was dat hy my sou afgooi, het ek hom langs die klip in die water laat staan, sodat ek sag sou val. Die perd het halflyf diep in die water gestaan en ek het op die klip geklim. Rats het ek op sy rug gespring. Hy het groot geskrik en dadelik op loop gegaan sodat die water my papnat gespat het.

Gelukkig het ek vroeër die kamphek oopgelaat en die verbouereerde perd het daardeur koers gekry stal toe. Toe hy voor die staldeur gaan staan, spring ek vinnig af en kalmeer hom. Vader het hom dadelik opgesaal en nadat hy hom ‘n entjie weggelei het, terug gery stal toe.

Hy was ‘n netjiese ryperd.

VONK

Ons het met twee muile die wingerd geghrob. Die kleigrond was droërig en die diere het swaar gekry. Die voormuil, Vonk, was so fluks, dat hy homself ooreis het. Skielik gaan hy staan, plaas sy voorpote wyd uit mekaar, laat sy kop hang en weier om weer te loop. Hy was flou.

Ons het hom net daar uitgespan en met ‘n ander muil vervang. Teen uitspantyd die aand, het hy nog steeds daar gestaan. Eers die volgende oggend het hy gaan wei. Vader het hom ‘n week laat rus voordat hy hom weer gebruik het. Hy het volkome herstel.

MAGGIE

Maggie was ‘n swaar Clydesdale-merrie wat vernoem is na ‘n gesette vrou in die omgewing. As Maggie vir iets geskrik het, het sy dadelik probeer om dit te byt.

Eendag sien ek vir Maggy agter ‘n sandwal langs die Breërivier wei. Saggies bekruip ek haar, spring regop op die wal, swaai my hoed in die lug en skree; “Hei!” Sy ruk haar kop op, trek haar ore plat teen haar kop en met die bek wyd oopgesper, storm sy teen die wal uit. Sy het my vinnig ingehaal, maar gelukkig die agtervolging gou gestaak. Soe! Amper was daar pêre!

DIE VRYSTAATSE PERD

Ek was op hoërskool in Goudini in ‘n koshuis wat aan die skool se sportterrein gegrens het. Saterdae het ons gewoonlik op die rugbyveld gespeel. Soms het van die seuns van nabygeleë plase ook by ons aangesluit.

Een Saterdagmôre het Sakkie, ‘n plaasseun, daar aangery gekom met ‘n perd wat sy pa van die Vrystaat af ingevoer het. Na baie mooipraat, het hy my toegelaat om ‘n draaitjie te ry. Hy het my gewaarsku dat die dier vinnig was en ook baie vinnig gereageer het op bevele.

Tot almal se vermaak, het ek ‘n paar keer vinnig kruis en dwars oor die veld gery. Toe van die onderwysers en koshuismeisies ook naderstaan, en iemand skree: “Laat hom hardloop!” gee ek hom die teuels na die verste punt van die terrein toe. Die perdjie hardloop dat die grond agter my opgeskop word. Voor ‘n mirtelaning aan die end van die terrein maak ek my gereed om regs te draai en druk met my regterhand teen sy nek. Maar hy dink hy moet links gaan en maak ook so. Ek trek sommer reguit lug langs in die heining in.

Ek was so skaam, dat ek sommer anderkant uitgekruip het en eers ‘n rukkie daar buite sig vertoef het! Almal was verlig dat ek nie beseer was nie en het my bedank vir die vermaak wat ek verskaf het!



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

43
Luide applous vir 'n heerlike vertelling! Siestog man, die arme Nugget! Daai knaap moes self knuppel geproe het, blerrie fool!
6 jaar 3 weke 3 dae 17 ure oud


*
Dankie vir die deel hiervan. Het so terugverlang plaas toe! Baie lekker gelees, Elise!
6 jaar 3 weke 3 dae 20 ure oud


***
Baie dankie Elise! Sommer lekker gelees en teruggedink aan my kleintyd op die plaas...
6 jaar 3 weke 4 dae 8 ure oud


Mondstories . .
Weereens 'n wonderlike genieting. 'n Klien deel van my grootword was gekoppel aan soortgelyke ervaring - het selfs op die rug van ou Skimmel gery as hulle die ploeg trek.

Dankie vir die deel.
6 jaar 3 weke 4 dae 14 ure oud


:D
Dit was nou heerlike perde-manewales! En die fluks muil...siestog, het hom skoon oorhoeks gewerk. Dankie vir die deel van hierdie besondere stories. Die humor is raak en ragfyn.
6 jaar 3 weke 5 dae 1 uur oud



RANGEERWERF

deur Johann P. Boshoff

Bundel homofiliese kortkunsprosa.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar