Jeugverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

(Nog 'n vertelling van oupa Wynand Breytenbach aan sy kleinkinders oor sy kleintyd op die plaas)

Ek is elf jaar oud. ‘n Groukat het die steier waarop die werfhoenders snags geslaap het, ontdek en daarvan sy spens gemaak. Hy het elke nag vir hom ‘n lê-hen kom vang. Sy spore het sy identiteit verraai.

“Ou man”, het my ma gesê, “jy moet ‘n plan met die wildekat maak, want as hy so aangaan, het ek een van die dae nie genoeg lê-henne of slaghoenders nie.”

En wat was lekkerder as ‘n vet werfhoender! Hoender in daardie dae was meer gesog as keur skaap- of beesvleis. Veral Sondae. Dit het heel anders gesmaak as vandag se battery-hoenders.

Die kwaaddoener het elke nag dieselfde paadjie gebruik na die hoenders toe. Versigtig is ‘n slagyster in die paadjie gestel en onsigbaar gemaak onder sand en blaartjies.

Die volgende oggend was die hoenderdiefie in die slagyster. Ja, ek sê diefie, want dit was ‘n jong, opgeskote groukatwyfietjie. Ek het die katjie onder ‘n streepsak vasgedruk sodat sy my nie kon krap of byt nie en ‘n tou om haar nek gebind. Sy was nie erg beseer nie en ek wou haar mak maak.

Tuis het ek haar aan ‘n boomstam vasgemaak en ‘n paraffienkis binne haar bereik geplaas om in te skuil.

Aanvanklik was sy so sku, dat jy haar nooit buitekant die skuiling gekry het nie. Ons het vir haar vleis en melk in pierinkies voor die kas neergesit, maar sy het bedags nie daaraan geraak nie. Tog kon ons soggens sien dat die pierings leër was.

Mettertyd het ou Blesman, die huiskat, in Groukat se pierinkies kos gaan soek en eerlank was hulle maats.

Later was die nou volgroeide wildekat so gewoond aan die mense, dat ek haar nie meer vasgemaak het nie. Sy het gekom en gegaan soos sy wou.

Toe raak die pragtige groukatwyfie weg. Niemand wis wat van haar geword het nie en Vader het gesê dat sy heel waarskynlik rondgeloop het en deur die arbeiders se honde doodgebyt is.

‘n Hele ruk daarna, toe ons een môre by die hoenders kom, sien ons ‘n mooi hen daar doodlê. Dit was vir almal duidelik dat dit Groukat se werk was.

Dit was maar die eerste van baie skades wat die kat in die toekoms sou aanrig. Sy het die werf geken en die honde het haar geken; dus was sy veilig. Alles wat vroeër buite gelaat was, is nou agter toe deure gehou. Sy het selfs op die tenk waarin reënwater opgevang is, geklim en skade aangerig aan die room wat gedurende die nag daarop geplaas is om af te koel sodat dit in die môre afgekarring kon word. Indien iemand ‘n venster te wyd oop laat staan het, het sy daardeur geklim en in die huis skade aangerig.

Eendag, terwyl Vader deur die lusernland stap, kom hy op Groukat af waar sy in die son lê en ‘n kleintjie laat drink. Vader haak af met ‘n klip en gooi haar teen die kop. Dit was ‘n doodskoot.

Voordat Vader nog die kleintjie, wat na Blesman gelyk het, kon red, het Ouboet, sy Foksterriër, hom ingehaal en doodgebyt.

“Ook miskien maar beter so dat hy dood is,” het Vader gesê, “want hy het klaar geleer om menssku te wees en sou, wanneer hy groot was, ook soos sy ma weer skelm word.”



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Heerlik, die mondstorie!
Maar dit het ook vir my 'n dieper les in: Moenie met die vyand maats maak nie!

Dankie Elise. :)
6 jaar 10 maande 2 dae 7 ure oud


***
Goed dat sulke stories bewaar bly -- dit vat mens terug na 'n ander tyd van die lewe. Dankie daarvoor.
6 jaar 10 maande 2 dae 19 ure oud


Mondstories . .
Weer 'n bêre juweeltjie.
Thanks
6 jaar 10 maande 2 dae 23 ure oud



Gister se Onthou

deur borrels

ek pluk 'n klompie letters van 'n laning woord-bome af dan bou ek 'n vers daarmee die trand daarvan soms bietjie laf maar die woorde van die verse kom diep hier uit my hart dit skets die liefde van die lewe soms met pienk en soms met swart



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar