Jeugverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

(Oupa Wynand Breytenbach vertel sy ondervindings uit sy kleintyd aan sy kleinseuns)

Ek is twaalf jaar oud. Die trop Afrikanerbeeste het op die Karooplaas oorwinter en moet nou teruggaan na somerweiding in die vleie van die Breërivier op ‘n plaas ongeveer veertig kilometer ver. Die plaasmense het die trop in die veld gaan haal en hulle is nou bymekaar in ‘n draadkampie naby die opstal.

Skielik begin een van die koeie aanhoudend bulk en uitkomplek soek

“Sy moes ‘n kalfie in die veld laat agterbly het,” sê Vader. “Kyk net hoe styf is haar uier en hoe skoon gesuig is haar spene. As ons haar nou hier loslaat, sal sy reguit na die versteekte kalfie toe gaan. Maar sy moenie agterkom dat ons haar agtervolg nie, want dan sal sy ons nie na hom toe lei nie. Wynand, gaan jy en Herklaas nou veld toe en lê haar voor. Of liewer, wag haar in daar by Duikerrant, want dis waar ek haar vanoggend gekry het. Loop sommer nou en maak gou, want oor ’n uur maak ek vir haar die hek oop om uit te gaan.”

In die los sand van ‘n droë klofie duskant Duikerrant sien ons kalfspoortjies en ons kruip tussen ‘n paar hoë bosse bo-op ‘n bultjie weg en wag.

Na ‘n ruk kom die koei bulkend in ons rigting aangestap. Kort-kort gaan sy staan en kyk terug huiswaarts net om seker te maak datsy nie agtervolg word nie.

Aan die voet van die bultjie waarop ons is, gaan sy weer staan om die omgewing te bespied. Toe uiter sy ‘n sagte kreungeluid en baie naby aan ons kom ‘n kalfie tussen die bosse uit. Hy begin gulsig aan sy ma suip. Omdat hy nog baie jonk is, besluit ons dat hy nie die huis sal haal as ons hom saam met sy ma aanjaag nie. Omdat mens maar versigtig moet wees vir Afrikanerkoeie met klein kalfies, loop ons agter die bult om terug huis toe sodat sy ons nie moet gewaar nie.

Vader besluit om die koei en kalf die volgende dag te perd aan te keer.

Dis middag en ons kom te voet van die plaasskooltjie af, juis toe vader met die koei en die kalf by ‘n hek in die pad aankom. Die kalfie is moeg en wil nie verder loop nie.

Behendig word die koei met behulp van die hek geskei van haar kalf, wat gevang en vinnig op ‘n perdekar gelaai word, terwyl die outjie benoud bulk. Dit maak sy ma, wat aan ons kant van die hek is, rasend. Sy probeer oor die hek spring, maar kry dit nie reg nie. Meteens sien sy ons, die kinders, sowat tweehonderd treë van haar af padlangs aangestap kom en draf ons vinnig tegemoet.

Vader besef die gevaar vir ons en jaag haar te perd in en skree vir ons om weg te hardloop. Na ‘n paar geniepsige houe met die sambok, draai sy gelukkig om terug hek toe. Toe sy die kalf nie daar gewaar nie, draf sy weer veld in terug Duikerrant toe. Vader beveel dadelik om die kalf weer uit die kar te laai en toe die koei weer sy benoude bulkies hoor, hardloop sy hom tegemoet.
Die twee word rus-rus voor die perd uitgejaag huis toe. Wanneer die kalfie agterbly, bulk hy saggies en dan spring sy ma om en bestorm die perd. Vader retireer dan vinnig tot buite haar bereik.

Toe Vader laat die middag by die huis aankom, was die res van die trop Afrikaners al weg somerveld toe en die Afrikanerkoei moes maar by die plaas se melkkoeie (baster Friese en Jerseys) agterbly. Afrikanerkoeie het nie baie melk nie, maar ‘n bietjie is darem beter as niks.

Dis Saterdag en ek en broer Naas moet die melkkoeie langs ‘n garsland gaan oppas.

“Bly weg van die kalf af,” waarsku Vader, “want die dingetjie is nog klein en die koei sal nie huiwer om te stoot as sy dink dat hy in gevaar is nie.”

Nadat die koeie ‘n ruk gewei het, gaan lê en slaap die kalf in die wintersonnetjie, terwyl sy ma al verder van hom af wei. Naas kan die versoeking nie weerstaan om hom vinnig skrik te maak en weg te hardloop nie. Hy wil sommer net kyk wat gebeur en steur hom nie aan my teëstribbeling nie.

Hande-viervoet bekruip hy die kalf, buk oor hom, druk teen sy blaaie en shree: “Huh!”

Met ‘n benoude brul, spring die diertjie op en hardloop sommer blindelings eenkant toe. Vinniger as wat hy verwag, storm die koei op Naas af wat so vinnig omspring dat sy voete onder hom uitglip. Gelukkig besluit hy om nie te probeer opstaan nie, maar om op sy rug te draai en na die koei se kop te skop. Toe die koei die malende, swaaiende voete hier voor haar sien, steek sy viervoet vas, kyk onbegrypend na die roersels wat soos ‘n windpompwiel draai, en volg toe maar die kalf op ‘n vinnige draf.

Om sesuur jaag ons die koeie kraal toe om gemelk te word.

Een van die plaaswerkers keer die kalf in die kalwerhok in, koppel die koei se kop aan die voerkrip vas en span haar agterbene met ‘n spantou om haar toe kan melk.

Klaar gemelk, maak hy haar los en sy gaan dadelik kalwerhok toe in die hoek van die kraal.

Toe hy die kalf uit die hok haal, storm die koei hom en druk hom teen die omheining vas. Gelukkig beland hy tussen haar horings en word nie beseer nie.

(Naskrif: 'n spantou is 'n riem of tou waarmee 'n koei se agterbene aan mekaar vasgebind word sodat sy nie die melkemmer kan omskop terwyl sy gemelk word nie)



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Plaasstorie
Ai, hoe lekker lus is ek nou vir 'n bekertjie van daardie lekker vars melk wat pas deur die verkoeler (nog die ou soort)geloop het. Ook voel ek nou nog hoe gril ek vir die skurwe tong en die skuim uit die kalfie se bek wanneer hy aan my hand suig. Ons het net Vries-beeste vir die melk-boerdery gehad - waarvan die meeste nogal name gehad het.

Jou stories val heerlik op die oor en sag op die hart!
6 jaar 10 maande oud


39
En so leer ek alte lekker saam met die kinders van die plaas dinge, waarvan ek maar min weet. Sal beslis nie moeg raak vir jou stories nie!
6 jaar 10 maande 19 ure oud


***
Dankie Elise -- jy vat my sommer terug plaas toe. Ek onthou eendag toe my pa oor die kraalheining moes spring om 'n jong bulletjie se horings te ontwyk...

Ja, ek dink jou skrywes word tredeë geniet deur ons ouer garde.
6 jaar 10 maande 1 dag 13 ure oud


plaasstorie
Elise, dit laat my sommer verlang na my oupa se plaas :) Vandag se kinders ken nie hierdie goed nie, dis goed dat jy hieroor skryf :)
6 jaar 10 maande 2 dae 3 ure oud


Amok koei
Vat jy my terug na eendag:
Jan Plofstof ( Afgetrede padmaker wat op die plotte wil kom boer) "Willem soek jy 'n slagding, ek het 'n blinde koei wat nie meer kan kalf nie."
"Sure broer Jan, kraal haar maar ek sal kom laai."
Ek kom die middag en Jan is dood-vlou en klaar en koetjie wei nog:
"Willem, jy sal haar maar hier moet kom skiet, sy is te blind en kan nie die hek sien nie."
"Jan, loop haal daai koue gemmerbier van Gina."
Jan kom terug en ek het die trop in die kraal en koeitjie in die drukgang, reg om te klim, en ek educate vir Jan:
"Die trop Jan, hanteer die trop - jy sal g'n net een bees afgekeer kry nie."
Ses maande later gooi die half-prys-blinde-koeitjie vir my die mooiste bul kalf. Ek het gesien sy is by die lyf en ek kliek sy het maar net die vorige jaar oorgeslaan.
En Jan was toetentaal bekaf en woordloos vir sy eie stupid!

Pragtige stories die - vir die ouer garde wat kliek.
6 jaar 10 maande 2 dae 6 ure oud



Dagboek van die tuinvoëls

deur http://www.woes.co.za/

Spesiale gevalle van interaksie wat tussen die tuinvoëls onderling asook met ander wesens plaasgevind het.



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar