Jeugverhale

Deel hierdie werkstuk met jou Facebook vriende

(Op Scherpenheuvel was volop slange. Oupa Wynand Breytenbach vertel verder)

Na aanleiding van Genisis 3:14&15, was slange doodmaak vir plaasmense ‘n móét; ‘n Bybelse voorskrif. Hulle sou selfs dringende werk dadelik staak om ‘n slang ‘n hele ent daarvandaan te gaan doodmaak.

Die dooie reptiel is dan tot as verbrand sodat sy maat (wyfie of mannetjie) dan nie sy oorblyfsels sal kry en sy dood wreek nie. Die giftige grate, wat glo ongeneeslike verswerings veroorsaak wanneer dit in ‘n mens se voet steek, moes ook tot as verbrand word.

Almal was vas daarvan oortuig dat ‘n slang se kop vermorsel moes word, want dit gaan nie saam met die verminkte lyf dood nie. Indien ‘n slang se kop afgesteek word en dit kom weg, sal die kop die persoon wat dit gedoen het stilletjies agtervolg en ongemerk in een van sy skoene kruip om hom ‘n dodelike byt te gee wanneer hy die skoen aantrek.

Op ons waterryke plaas was daar ‘n groot verskeidenheid slange, waaronder kapelle, boomslange, kousbandjies, skaapstekers en adders. Ek vertel van drie ondervindings wat ek goed kan onthou. Ek kan nie die presiese datums onthou nie, maar dit moes ongeveer 1939 en vroeër plaasgevind het.

‘N TOUTREKKERY

Gemaklik trek die ses muile die snyende lusernmasjien op die land.

Skielik kom ‘n knewel van ‘n bruinkapel voor die haaragtermuil regop, byt hom aan die bek en verdwyn in die ruie lusern. Verbouereerd steier die ongelukkige trekdier, breek los en beland op die masjien. Hy word so erg beseer, dat Vader verplig is om hom dood te skiet.

Die lusern is weggery om by die plaashuis in bale gepers te word en die melkkoeie loop nou op die land om die afgesnyde stingels wat per abuis agtergebly het, te benut.

Ek en broer Naas is op pad om die koeie kraal toe te gaan haal om gemelk te word. Ons loop op die plek langs waar die slang die muil gepik het, hopende om hom vroeër of later op die lyf te loop, want reptiele boer lank in een omgewing.

Terwyl ek nog so soekende loop, gewaar ek ‘n groot bruinkapel wat aangeseil kom met sy kop sowat dertig sentimeter bokant die grond en met ‘n muis in die bek. Hy het die diertjie, waarvan die lewelose lyf en stert slap afhang grond toe, aan die kop beet. Sonder om te aarsel, storm ek met my kierie omhoog gehou op hom af, maar hy slaan dadelik op die vlug en verdwyn in ‘n muistonnel in.

By nadere ondersoek, blyk dit dat die tonnel twee openinge het en net ongeveer vyf meter lank is. Dit behoort dus moontlik te wees om die reptiel uit te dryf. Terwyl ek in die een bek van die tonnel met my kierie karring, staan Naas by die ander opening gereed om die slang se kop met ‘n mikstok teen die grond vas te druk as hy dit net ver genoeg sal uitsteek.

Na ‘n rukkie sien hy jou werklikwaar die ondier se kop aan die binnekant van die opening. Geduldig wag hy terwyl die slang stadig, baie stadig, vorentoe beweeg. Skielik druk Naas met die mikstok, maar pen net die muis vas. Die slang los dit dadelik en retireer weer na binne.

Nadat verskeie pogings om die slang weer uit te dryf nie slaag nie, neem ek ‘n baie dwase besluit. Ek vat die muis aan sy boudjies en druk hom stadig, kop eerste, in die donker tonnel af tot by my elmboog en wag… Na ‘n rukkie voel ek hoedat die slang aan die muis trek. Hy het waarlik waar die muis weer aan die kop beetgekry. Stadig trek ek die muis terug en die slang kom ook so rem-rem saam. Net toe hy amper ver genoeg gekom het om vasgedruk te word, los hy sy prooi en trek hom weer in die donkerte terug.

Ons herhaal die proses verskeie kere, want ons glo ons moet die muilmoordenaar doodkry. Slaag ons daarin, is al ons sondes vergewe. So glo die plaasarbeiders, maar indien nie, sal dit net nog ‘n onvergeeflike sonde wees.

Gelukkig kom Vader, wat daar naby aan’t waterlei was, op ons af en dit is so hittete of ons kry sommer net daar op die plek ‘n loesing.

Aangesien dit al amper sononder is, word die slang nie verder gemolesteer nie.

Vandag nog gril ek as ek daaraan dink dat ek en die slang as’t ware tougetrek het met die muis.

‘N SLANG AAN DIE STERT BEET

Terwyl ek en Tokkies, ‘n bruin seun wat by ons gewoon het, een aand die skape gaan aankeer kraal toe, kom ons op ‘n dooie skaap af. Die dier se kop en bek is monsteragtig groot geswel en aan die bolip is die onmiskenbare bytplek van ‘n slang.

Gewapen met karwatse, besluit ons daar en dan om na die duiwelskind te soek.

Meteens gewaar ons ‘n lang spikkelkapel wat al op die rand van ‘n watervoortjie aangeseil kom. Kort-kort lê hy doodstil, lig sy kop en kyk tussen die gras in terwyl sy tong vinnig by sy bek uit- en terugflits. Roerloos wag ons hom agter ‘n renosterbos in.

Toe die kapel se kop skuins by my verby is, slaan ek na hom, maar is so oorhaastig en skrikkerig dat ek hom net skrams tref. Die slang het baie groot geskrik en vlug in aller yl in ‘n gat in. Toe hy halflyf in die gat is, gryp ek hom an die stert met die bedoeling om hom vinnig terug te ruk en van die skuilplek af weg te slinger en dan dood te slaan.

Dit was egter neusie verby, want die slang sit onbeweegbaar vas in die gat. Nog ‘n keer span ek al my kragte in om hom uit te kry, maar tevergeefs. In die proses moes ek sy rug beseer het, want groot knoppe en swelsels word daarop gevorm. Ek dog sy agterlyf is verlam, omdat hy nie probeer om verder in die gat in te seil nie.

Oom Piet, wat ‘n entjie van ons af besig was om water te lei, het gesien wat ek aanvang en terwyl hy vinnig aangedraf kom, skree hy vir my om nie weer aan die reptiel te raak nie.

“Kyk,” sê hy, “sodra ‘n slang nie diep genoeg in ‘n gat kan ingaan nie, draai hy sy kop terug, gereed om te pik.”

Hy steek die ingang van die gat met sy graaf oop en sowaar, die slang skiet sy kop blitsvinnig uit en byt aan die graaf se punt.

Wat ‘n noue ontkoming!

‘N MISVERSTAND

Een middag vertel Tokkies vir my dat die werksmense daardie môre terwyl ek in die skool was, ‘n erdslangetjie in die tuin oopgespit het.

“Hoe lyk ‘n erdslangetjie?” vra ek nuuskierig en spyt dat ek dit nie ook gesien het nie.
“Hy is kleiner as ‘n groot slang, effens gelerig van kleur en kan nie byt nie,” lig hy my in.

Dis Saterdagmôre en dis my taak om die troppie slagskape veld toe te neem en daar op te pas.

Terwyl die diere rustig wei, het ek genoeg tyd om veldkos te soek. Toe ek die rankies van ‘n kambro gewaar, besluit ek om die patatagtige, melkerige vrug met ‘n stok uit te grawe en te eet, want dis ‘n lekkerny uit die boonste rakke.

Langs die plant ontdek ek ‘n gaatjie in die grond. Ek wonder hoe diep dit is en druk die stok daarin. Toe ek dit uittrek, peul daar ‘n klein gelerige slangetjie uit wat vinnig koers kry, weg van my af. Menende dat dit ‘n onskadelike erdslangetjie is wat nie kan byt nie, gryp ek hom aan die nek en hou hom so vas. Hy draai sy lyfie om my arm en probeer om my hand raak te byt, maar omdat ek hom so na aan die kop beet het, is sy nekkie te kort om dit ver genoeg oor te buig. Intussen gaan die gesplete tongetjie soos weerligstraaltjies in die lug te kere. Toe ek my loshand se wysvinger nader bring om aan sy tongetjie te voel, trek hy sy koppie eers effens terug en pik toe na my vinger se punt. Gelukkig was my vinger nog nie binne trefafstand nie, maar ek het my boeglam geskrik toe ek sien dat hy kan byt.

Ek verstewig my greep op sy nek, druk sy kop op ‘n plat klip vas en vermorsel dit met ‘n ander klip – presies soos in die Bybel voorgeskryf word. Daarna hardloop ek met die dooie diertjie huis toe.

Nadat ek verneem het dat dit ‘n giftige geelslangetjie was, ondersoek ek my hand noukeurig vir bytplekke. Net om seker te maak dat ek nie ‘n skrams byt gekry het nie en dat daar nie gif aan my hand kleef nie, het ek my hande oor en oor in ‘n permanganaatoplossing gewas.

As Tokkies net gesê het dat die erdslang nie ‘n sigbare bek het nie, sou ek my nie met die geelslang misgis het nie.



Spaar Geld op Versekering

Lucky Lottos

Kommentaar

Slange
Baie dankie, Elise...baie interessante leesstof...ek het ook heelwat indervindings met die gevaartes gehad.
6 jaar 9 maande 3 weke 3 dae 21 ure oud


41
Ek sou darem wat wou gee om hierdie slangstories vir my pa te kon voorlees, hy het ook altyd met slange gekarring. Heerlike leesstof, dankie.
6 jaar 9 maande 3 weke 6 dae 15 ure oud


Goeiste!
Elise, nou klop my hart in my keel vir Oupa se part. Dankie vir die heerlike storie!
6 jaar 9 maande 4 weke 1 dag 9 ure oud


***
Sjoe -- dis maar 'n grillerige affêrre, maar dankie vir die storie...
6 jaar 9 maande 4 weke 1 dag 14 ure oud



Vergete Pioniers

deur neels claasen

n spoorwegroman uit die sestigerjare



picture

Kompetisies

Kyk watse opwindende kompetisies tans beskikbaar is

picture

Nuusbriewe

Registreer nou om nuusbriewe van Woes te ontvang

picture

Winkel

Woes skrywers wat self publiseer se boeke is in die winkel beskikbaar